ATKV-taalerfenissimposium: Djy makie reg’ie

  • 4

Shirmoney Rhode | Foto: Izak de Vries

Wat die pad vorentoe behels vir Standaardafrikaans en sy stiefbroers en -susters, die omgansvariëteite van Afrikaans, is Vrydag 14 September 2018 deur ’n handjie vol taalliefhebbers op UWK bespreek. Die simposium het deel gevorm van die ATKV se reeks programme ter viering van Erfenismaand.

Die opkoms van die simposium was uiters swak, die atmosfeer voor sy begin dus plek-plek ongemaklik soos almal heeltyd omkyk en wag vir meer mense om aan te sluit. Ek wonder by myself aan wie die simposium bemark was, want indien studente geweet het van die lekker verversings wat bedien was, sou hulle dit enige tyd bo 2-minuut-noodles verkies het.

Die aanloklike program en besprekingspunte wat handel oor die verhouding tussen Standaardafrikaans en die omgangsvariëteite, die herstandaardisering van Afrikaans en die Khoi en San se bydrae tot taalerfenis behoort te vergoed. Meer gaste of nie, die saak moes aangaan, en toe Karien Brits, bestuurder van taal by ATKV, sowel as die gesoute paneelsprekers Frank Hendricks, Gerda Odendaal en Willa Boezak hul plekke inneem, was die gehoor gereed om te ontvang.

“Die kuns lê nie daarin om die foute van die verlede te vind nie – dis maklik. Die kuns lê daarin om die foute van vandag raak te sien, en dit is waarom gesprekke soos hierdie so belangrik is.” Dit was die woorde van Karien Brits in haar openingstoespraak, waarin sy dit duidelik stel waarom dit vir die ATKV belangrik is om hierdie tipe gesprekke te voer en waarom dit nodig is vir die Afrikaanse taalgemeenskap om te besin oor die toekoms en vooruitgang van ’n Afrikaans wat aan al sy sprekers behoort en waarmee almal dus behoort te kan identifiseer. Sy stel dit so mooi toe sy sê: “Hierdie gesprekke dien as die soeklig in ons taalwêreld om die regte pad na versoening en nasiebou te soek.” Karien is van mening dat indien ons die foute van vandag wat Afrikaans betref kan identifiseer en daaroor kan praat, ons dan eers kan poog om die foute reg te stel.

Frank Hendricks | Foto: Izak de Vries

Die aand begin met die eerste paneelspreker, Frank Hendricks, wat in sy lesing gefokus het op die verhouding tussen Standaardafrikaans en die verskillende omgangsvariëteite. Hy het die veelsoortigheid van Afrikaans heel duidelik gestel toe hy die verskillende dialekbundels van Afrikaans en vermaaklike leksikale voorbeelde vanuit Noordwestelike Afrikaans genoem het. Alhoewel Standaardafrikaans nog hoofsaaklik in die formele/openbare sfeer gebruik word en die omgangsvariëteite meestal in die informele/ private sfeer gebruik word, meen hy dat die omgangsvariëteite nie “beperk moet word tot informele ruimtes nie”. Hy gebruik die voorbeeld van Kaapse Afrikaans wat nie bloot gepraat word nie, maar ook geskryf word, en dus nie beperk word tot die informele sfeer nie.

Oor die verhouding tussen Standaardafrikaans en Omgangsafrikaans sê hy: “Standaardafrikaans en Omgangsafrikaans staan nie los van mekaar nie, maar vorm saam deel van die Afrikaanse taal. Standaardafrikaans en elke omgangsvariëteit van Afrikaans is volwaardig en eg Afrikaans.” Hy plaas dus klem op die gelyke vlak waarop Standaardafrikaans en die omgangsvariëteite behoort te berus. Verder noem hy dat “Standaardafrikaans uit Omgangsafrikaans ontwikkel het, en nie andersom nie” en daarom behoort die omgangsvariëteite van Afrikaans as taalerfenis beskou te word. Ook moet Omgangsafrikaanssprekers hul plek begin volstaan onder die Afrikaanse sambreel en hulself losmaak van die stigma wat aan hul variëteite kleef. Hy sê dat Standaardafrikaans en Omgangsafrikaans mekaar “voortdurend moet voed en verryk” sodat Afrikaans toeganklik gemaak kan word vir al sy sprekers en sodat daar voortdurende groei en verandering in die taal kan wees.

Oor die verskillende perspektiewe waaruit Standaardafrikaans en Omgangsafrikaans gesien kan word, naamlik ’n hiërargiese perspektief en gelykevlak-perspektief, sê hy dat die hiërargiese perspektief die standaardvariëteit as ’n prestigevariëteit beskou en dus aanneem dat “slegs die standaardvariëteit vir hoër funksies en formele kontekste geskik sou wees, en dat omgangsvariëteite net geldigheid in informele kontekste sou hê”. Verder sê hy dat die hiërargiese perspektief ook in besonder die gebruik van Oostelike Afrikaans, wat hoofsaaklik deur wit sprekers gepraat word, identifiseer as basis vir Standaardafrikaans en daarom is die “kleurvariëteite van Afrikaans vanuit die Standaard gestigmatiseer en gemarginaliseer”. Daarteenoor staan wat Hendricks noem die gelykevlak-perspektief, waarvolgens geglo word dat alle variëteite “prinsipieel gelykwaardige kommunikasiekodes is en bejeën behoort te word as entiteite op gelyke vlak”. Die omgangsvariëteite word hier beskou as “legitieme kommunikasiekodes nie onderkant of in die skaduwee van Standaardafrikaans nie, maar langsaan” en word dus nie as onafrikaans of minder Afrikaans gesien nie.

Soos vroeg reeds in sy toespraak belowe, maak hy melding van die veranderinge en veranderde sienswyses wat reeds in die standaardiseringsgeskiedenis van Afrikaans posgevat het. Hy maak melding van verskeie leksikale items vanuit Kaapse Afrikaans sowel as Oranjerivierafrikaans wat in die 10de en 11de uitgawe van die AWS opgeneem is en ook sekere leksikale items wat in die 6de uitgawe van die HAT opgeneem is. Hendricks sê dat dit vir hom “’n belangrike mylpaal in die standaardiseringsgeskiedenis van die Afrikaanse taal verteenwoordig”, want deur die opneem van hierdie leksikale items word hulle “van die juk van stigma bevry” en kry hulle dan nou toegang tot die formele sfeer waar dit hoort.

In sy praatjie laat Hendricks my hoopvol uitsien na die toekoms van ’n Afrikaans wat “inklusief is” en ’n taal word waarmee “al sy sprekers hulself kan vereenselwig”. Hy sluit af met sy “klip in die bos” en vra-sê half aan die gehoor dat ons dalk op die drumpel van ’n vernuwende konsep van Standaardafrikaans staan omdat die “verskrifteliking van ’n taal in die vak literatuur beskou word as ’n kardinale kenmerk van ’n standaard taal”. In sy lesing slaag hy daarin om die belangrikheid van alle variëteite en alle Afrikaansesprekendes se bydraes tot die groei van die taal te benadruk en ek hoor hoe die handeklap wat op sy praatjie volg, eintlik ’n klomp amens is.

Gerda Odendaal | Foto: Izak de Vries

Die tweede spreker, Gerda Odendaal, het in haar lesing op die herstandaardisering van Afrikaans gefokus. Sy begin deur te beaam dat “Afrikaans die besit van ’n wye verskeidenheid mense is” omdat die taal uit ’n multikulturele konteks gebore is. Sy fokus eerstens op die geskiedenis van ons Standaardafrikaans se erfenis en hoe daar selektief te werk gegaan was deur agt mans 143 jaar gelede toe hulle die proses van standaardisering begin het deur veral gebruik te maak van Oosgrens/Oostelike Afrikaans, wat hoofsaaklik deur wit sprekers gepraat was en daarom die “besluitnemingsprosesse rakende Standaardafrikaans beperk [het] tot die taal van veral wit Afrikaanssprekendes en hulle kultuurliggame”. Sy noem dat die ander variëteite van Afrikaans, wat hoofsaaklik met bruin Afrikaanssprekendes geassosieer was, “dus ’n ondergeskikte posisie in die standaardiseringsproses ingeneem het”. Sy gee ’n lys van leksikale items wat reeds so vroeg as 1844 skriftelik voorkom, maar uit die normeringsbronne gelaat is omdat diegene wat verantwoordelik was vir die standaardisering van Afrikaans die taal so ver moontlik probeer “reinig het van sy slawewoorde” en om dit “van sy kreoolse aard te suiwer”.

Daarna hoor ons wat die implikasies en nagevolge hiervan vir omgangsprekers ingehou het. Eerstens maak sy melding van die stigma waarmee omgangsvariëteitsprekers saamleef en dan praat sy oor die “vervreemdende effek” wat Standaardafrikaans op sommige omgangsprekers het. Maar wat vir my veral uitstaan, is toe sy sê: “Standaardafrikaans voldoen byna net aan die helfte van sy sprekers se behoeftes op onderwysgebied. Die verskille tussen Standaardafrikaans en ander variëteite van Afrikaans het veral daartoe gelei dat ’n groot groep Afrikaanssprekende leerders agtergekom het dat hulle ’n ander taal moet leer waarin hulle taalvaardighede onder andere gemeet word.” Sy sê dat navorsers waarsku dat leerders heel moontlik kan misluk op skoolvlak indien hulle ’n variëteit moet gebruik anders as die variëteit waarmee hulle grootgeword het omdat dit taalonsekerheid, gebrek aan selfvertroue en ’n lae selfbeeld by hulle skep indien hulle nie in die voorgeskrewe variëteit kan presteer nie. Verder lê sy klem daarop dat dit belangrik is dat leerders daarvan bewus gemaak moet word dat “alle variëteite van Afrikaans gelykwaardig is en dat alle sprekers ’n onmiskenbare aandeel in die ontstaan en voortbestaan van Afrikaans gehad het en steeds het.” Dit sal natuurlik ook beteken dat die leerders hulself en hul variant moet begin identifiseer in hul leermateriaal en dat opvoeders meer verdraagsaam moet wees.

Oor herstandaardisering sê sy: “As die gevolg van standaardisering van Afrikaans was om sekere groepe mense uit te sluit, het herstandaardisering juis die teenoorgestelde ten doel, naamlik om die perke van aanvaarbaarheid te verbreed. Die persepsie van wat aanvaarbare taalgebruik is, moet dus verbreed word om ook ander variëteite in te sluit as slegs die eng-gedefinieerde standaardvorm.”

Sy praat ook van ’n standaard wat meer inklusief moet wees en sluit aan by Hendricks se gelykevlak-benadering. Om dit te bewerkstellig stel sy voor dat die omgangsvariëteite dus “in openbare domeine aangewend moet word om die status van hierdie variëteite te verhoog sodat dit as ’n waardevolle hulpbron gesien kan word in die moderne, demokratiese samelewing” waarin ons leef. Sy meld dat daar reeds vordering gemaak is in die koerantwese en tydskrifte en op radio en televisie, maar dat dit steeds nie genoeg is nie. Vir haar is die haalbaarste manier waarop ons Afrikaans kan herstandaardiseer, nie om die hele taal te wil verander of oor te maak nie, maar om die standaard wat reeds daar is, met die omgangsvariëteite te voed en verbreed. Sy sê: “Taalkundiges moet probeer om die standaard te verbreed deur die invoeging van die kenmerke uit ander variëteite” en indien dit gedoen word, sal dit die “verskille tussen die variëteite al kleiner maak”. Ook sy slaag daarin om my hoopvol te maak oor Afrikaans en sy toekoms en ek smile nou al vir die nuusaanbieder wat hopelik eendag meer Kaapse woorde in ’n berig sal gebruik.

Uit die gehoor het ons ook heelwat menings en vrae gekry, maar die een wat veral sterk deurgekom het, is waarom onderwysers, wat wel mag het oor wat in die klaskamer toegelaat word (maar min mag het wat die kurrikulum betref), altyd na gekyk word om veranderinge te bewerkstellig, maar diegene wie aan die stuur van sake by top Afrikaanse organisasies en instansies is, nie betrokke raak by wat in Afrikaanse klasse as talig korrek beskou word nie. Net omdat leksikale items in die nuwe AWS verskyn het, beteken dit nie noodwendig dat hierdie items aanvaar sal word in byvoorbeeld leerders se skryfwerk of mondelinge toetse nie. Wie is die hekwagters in die onderwysstelsel wat keer dat daar op grassroots-vlak reeds vernuwing kom en waarom word hulle nie deur Afrikaanse organisasies en instansies aanspreeklik gehou nie? Daar moet sekerlik daar bo (daar bo, want hulle is nie aldag bewus van wat regtig onder aangaan nie) by die onderwysdepartemente mense wees wat lede van Afrikaanse organisasies of instansies is en wat heel moontlik tred hou met wat besig is om in die Afrikaanse taallandskap te gebeur. Hoekom staan die veranderinge wat wel plaasvind, los van wat nog in Afrikaanse klasse aangaan?

Willa Boezak | Foto: Izak de Vries

Die laaste spreker, Willa Boezak, het die aand vir ons afgesluit op ’n manier wat net hy kan. Vermaaklik het hy die titels van boeke wat hy “saam hom hemel toe gaan vat” vir ons genoem en plek-plek uit van hulle gelees. Hy het ons op ’n verbeeldingsvlug geneem waar hy gebruik maak van navorsing wat heel moontlik bewys dat Khoi-Afrikaans so vroeg as 1559 reeds begin ontwikkel het toe Khoi- en San-mense met reisigers begin ruilhandel het en nie later, soos wat baie taalkundiges meen nie. Hy spreek hom ook sterk uit teen die gebruik van die term Oranjerivierafrikaans, omdat die naam van die rivier verander was van Garieprivier en daar dus selfs in die naam Oranjerivierafrikaans onreg gedoen word aan ’n baie belangrike groep wat deel uitmaak van die Afrikaanse taalgemeenskap. Ek twyfel ná sy bydrae nie enigsins dat die Khoi- en San-groepe ’n volwaardige en blywende bydrae tot Afrikaans gelewer het nie.

Die lesings het my regtig diep laat dink en besin oor Afrikaans en die toekoms daarvan, en dit veral omdat ek as onderwyseres van eerste addisionele taal my eintlik bevind in ’n taaldepressie omdat ek eerstehands sien wat besig is om op skoolvlak met Afrikaans te gebeur. Dis egter vir my regtig ’n jammerte dat die opkoms so swak was en dat die bemarking van die simposium dalk nie gerig was aan die regte mense wat teenwoordig moes wees nie? Ek dink die gesprekke sou soveel meer vrugbaar gewees het indien die regte belanghebbendes daar was. Die ATKV moet nie bang wees om simposiums soos hierdie veral op sosiale media te adverteer nie, want dit is waar die ding ruk.

Kyk die video's van die toesprake hier:

ATKV-taalerfenissimposium: Frank Hendricks – Standaardafrikaans en omgangsvariëteite van Afrikaans

ATKV-taalerfenissimposium: Gerda Odendaal oor die herstandaardisering van Afrikaans

ATKV-taalerfenissimposium: Willa Boezak oor die Khoisan se bydrae tot die Afrikaanse taalerfenis

  • 4

Kommentaar

  • Johnnes Comestor

    'n Kernsaak wat van dringende belang vir die voortbestaan van Afrikaans is, is volgens hierdie artikel nie (direk) aangespreek nie. As ons wil hê dat Afrikaans as 'n eiesoortige taal naas Engels oorleef, moet daar met 'n veldtog begin word om Afrikaans sover moontlik van Engelse invloed te suiwer. Waarom word hierdie kernsaak byeenkoms na byeenkoms vermy deur instansies wat voorgee dat hulle die heil van Afrikaans bevorder?

  • Danie van Wyk

    Die swak bywoning van die byeenkoms moet aan die organiseerders se deur gelê word. Plaaslike organisasies binne die Afrikaanse gemeenskap was nie geken in die beplanning van hierdie belangrike geleentheid nie.Ek hoop die ATKV het hul les gekeer.

  • Monn-lee Geduld

    Wow, wat 'n artikel. Ek het so baie geleer, ek het hierdie debat al so lank met Afrikaanse bruin onderwysers.

  • Rehana Mohamed

    Baie goeie artikel Shirmoney, myns insiens. Net jammer dat die opkoms swak was ... ek sou wat wou gee om by so 'n simposium te kon wees! As Afr onnie hier in die Oos-Kaap in die Afr klas, EAT ... Duur die stryd ook voort ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top