ATKV-Crescendo op 50: ’n onderhoud met ’n vorige naaswenner

  • 0

Pauli en Pierre van Niekerk (foto: verskaf)

ATKV-Crescendo is reeds 50 jaar lank ’n talentontwikkelingsprojek vir opkomende liedjieskrywers en het kunstenaars soos Anneli van Rooyen, Karin Hougaard, Jodi Jantjies en Selby Williams se loopbane afgeskop.

Hier is nog agtergrondinligting oor ATKV-Crescendo.

Om die 50ste verjaardag van die projek te vier is ’n vieringsgeleentheid op Vrydagaand 29 November 2024 by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch aangebied. Rouel Beukes was een van die kunstenaars wat daardie aand opgetree het.

Rouel was een van die wenners van 1974 se ATKV-Crescendo-liedjieskryfprojek. Hy het die prys met Eoudia de Kock gedeel. Daar het onlangs ’n onderhoud met hom op LitNet verskyn.

Toevallig was Pierre van Niekerk, fotograaf van die vieringsgeleentheid by die Daisy Jones Bar, een van die vorige naaswenners van die kompetisie. (Hy en sy vrou, Pauli, was in 2002 gesamentlik naaswenners.)

Hy praat met Naomi Meyer oor wat hy van die geleentheid onthou, en wat die projek vir hom en sy loopbaan beteken het.

Jy en Pauli was naaswenners tydens die Crescendo-projek ‘n paar jaar gelede. Wat onthou julle daarvan?

Ek en Pauli beantwoord hierdie vrae gesamentlik, al is ek die een wat vir jou skryf, Naomi.

In 2002 het ons met ons liedjie “Toema man” vir Crescendo ingeskryf. Ons was opgewonde oor wat Crescendo bied. Ons het die ongelooflike voorreg gehad om saam met legendariese musikante soos Lulu van der Walt te werk, en die hele ervaring was vir ons ’n hoogtepunt. Tydens die projek het ons waardevolle vriendskappe gesmee, onder andere met Jak de Priester en verskeie ander kunstenaars. Hoewel ons as naaswenners geëindig het, is ons talent raakgesien, en ons is uitgenooi om in Nederland op te tree – een van die grootste hoogtepunte van ons loopbaan.

Pauli en Pierre van Niekerk tydens 'n Valentynskonsert (foto: verskaf)

Wie was jy/julle destyds en het jy/julle van 'n jong ouderdom af graag gesing of liedjies geskryf?

Pauli het reeds op skool wenliedjies geskryf, onder andere “Tokkel jou kitaar”, wat sy vir Carika Keuzenkamp geskryf het. Van jongs af al het sy haar as ’n sangeres met ’n sterk stem laat hoor en met haar unieke styl dra sy verhale deur musiek oor.

Ek het ook van kindsbeen af gesing en het waardevolle ervaring in die koorwêreld opgedoen. Ek het aan verskeie teaterproduksies deelgeneem, insluitend The Wizard of Oz en La Bohème, by die destydse Sukovs en Truk. My koorloopbaan het my ook oorsee laat toer.

Pierre en Pauli van Niekerk by die Kalfiefees in Hermanus (foto: verskaf)

Toe ons mekaar ontmoet het, het ons saam Pierre en Pauli Produksies in 1992 gestig. Keur-tydskrif het ons as die duo van die dekade in die Afrikaanse musiekbedryf aangewys. Nadat ons ouers geword het, het ons ’n opleidingsentrum en koorakademies gestig om jong talent te ontwikkel.

Vandag is ek bekend vir my sukses as sangafrigter en vir die produksies wat ek saamstel, terwyl Pauli haar passie uitleef deur haar sprekersvaardighede-afrigtingsentrum. Verskeie van haar studente het al nasionale en internasionale toekennings ontvang.

Ons albei is ook liedjieskrywers, en van ons werk is op digitale platforms beskikbaar.

Pierre van Niekerk is ook ’n fotograaf (foto: verskaf)

Wat het die Crescendo-projek vir julle musiekloopbaan beteken?

Crescendo is die dryfkrag agter jou vuurpyl en die glans van sterstatus is die spreekwoordelike towerstof wat mens in die bedryf nodig het. Dit maak nie net dat jy deel word van die legendariese kunstenaarsfamilie nie, maar gee jou ook die trots om deel te wees van die Afrikaanse erfenis. Die passie vir ons taal en kultuur klop sterk by Crescendo, en dit is hierdie hartklop wat ons inspireer om ’n nalatenskap vir die nageslag in Afrikaans te bou.

Vir meer inligting, besoek Pierre en Pauli Produksies op Facebook; Pierre Photography Passion (Pierre se fotografieblad op Facebook); en Gladde Bekke (Pauli se sprekersvaardighede-afrigtingsentrum) op Facebook.

Lees ook:

ATKV-Crescendo op 50: ’n onderhoud met die heel eerste wenner

ATKV-Crescendo-feesviering: foto’s en video’s van dié goue geleentheid

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top