
Foto geneem deur en verskyn met toestemming van ©Chelsea-Lei Daniels, 2026.
Daar is ’n verskil tussen ’n sanger wat ’n stel liedjies op ’n verhoog sing en ’n kunstenaar wat voor ’n gehoor begin wys wie hy werklik is. By die bekendstelling van sy debuut-EP Meer as jy het die 22-jarige Mark Pekeur Vrydagaand 28 Augustus by die Daisy Jones Teater op Summerhill-landgoed buite Stellenbosch gewys dat hy besig is om daardie tweede soort kunstenaar te word.
Voor ’n vol gehoor het die ATKV-Crescendo-opnamekunstenaar ’n vertoning gelewer wat nie bloot om vyf nuwe liedjies gedraai het nie, maar om sy groei as liedjieskrywer, musikant en verhoogkunstenaar.
Met liedjies soos “Wie is ek?”, “Meer as jy”, “Gedra” en die intieme, akoestiese “My vingers en die snare” het Pekeur gewys dat sy grootste krag in sy eerlikheid lê. Sy musiek kyk na binne en ondersoek identiteit, geloof, onsekerheid en selfontdekking sonder om groter te probeer wees as die jong man wat dit sing.
Veral met “Wie is ek?” was dit duidelik dat Pekeur met ’n spreekwoordelike spieël na homself skryf. Die resultaat is musiek wat persoonlik voel, maar waarin die gehoor terselfdertyd hul eie ervarings kan herken.
Wat die vertoning egter besonders gemaak het, was dat Pekeur nooit alleen op die verhoog hoef te staan nie.
Omdat hy drie jaar lank lid van die Suid-Afrikaanse Jeugkoor was, het ATKV-Crescendo besluit om sy agtergrond in ensemble-sang deel van die bekendstelling te maak. Waar opnamekunstenaars normaalweg ’n gaskunstenaar kry, is ’n volledige musikale wêreld rondom Pekeur gebou met ’n koor, Crescendo-alumni en mentors.
Die ATKV-Crescendo-koor, bestaande uit soprane Erica Mehl, Janine van Huyssteen en Carmen Enslin; alte Olga Leonard, Grethe van der Merwe en Jacobi de Villiers; en mansstemme Selby Williams en Marinus Pawson, het deurgaans hulle stemme laat geld.
Op liedjies soos “Prayed for you”, “Die wêreld binne my”, “Staan vas”, “Ek sal sing”, “Blame” en “Beautiful crazy” het Pekeur gewys waarom koorsang so ’n groot deel van sy musikale vorming is. Hy sing nie teen ’n koor nie, maar binne-in die klank daarvan en kom helder uit oor dit. Hy luister, harmonieer en weet wanneer om terug te staan.
Dit het veral na vore gekom in sy duette.
Saam met Olga Leonard, van Bo-produksies en ’n voormalige Crescendo-finalis, het hy met “Liefde soos dié” een van die aand se warmste oomblikke geskep. Hulle stemme het natuurlik saamgewerk en Pekeur het gewys dat hy sensitief genoeg sing om nie bloot langs ’n ander kunstenaar te staan nie, maar werklik met haar te musiseer.
Sy optrede saam met Selby Williams, ook ’n Crescendo-finalis, met “Dalk” het nog ’n dimensie van sy musikaliteit gewys. Die twee se stemme het gemaklik ineengevloei en Pekeur het bewys dat harmonie en musikale luister net so deel van sy sterk punte is as sy solo-werk.
Gracia Louw, wat die aand as seremoniemeester opgetree het, het die narratief van die vertoning gelei en die gehoor van een hoofstuk in Pekeur se verhaal na die volgende geneem. As mentor en een van Pekeur se belangrike ondersteuners binne Crescendo, het haar teenwoordigheid ook aan hom sigbare rustigheid op die verhoog gegee. Dis die rustigheid tussendeur die puik Crescendo-orkes onder William Jacobs se speelgierigheid.
Pekeur erken dat hy aanvanklik senuagtig was.
“Op ’n stadium het dit begin voel asof ek hier behoort. Die koor het my so gemaklik laat voel. In die repetisies het hulle my heeltyd laat voel: Ons is hier; ons het jou. Moenie oor enigiets bekommer nie. Gaan uit, fokus en doen jou beste.”
Volgens hom het Louw ook deurgaans gehelp wanneer die senuwees begin knaag het.
Hierdie gevoel van ondersteuning was een van die sterkste elemente van die vertoning. Crescendo het die konsert doelbewus rondom Pekeur gebou as ’n ruimte waarin hy veilig genoeg kon voel om homself ten volle uit te leef. Mentors en mede-kunstenaars het as’t ware ’n laer rondom hom getrek sonder om ooit die kollig van hom weg te neem.
Volgens Morné Ayeni, ATKV-Crescendo-projekorganiseerder, was dit ook een van die duidelikste tekens van Pekeur se groei sedert die mentorskapprogram in 2025.
“Mark is baie talentvol, maar hierdie vertoning het vir ons gewys hoeveel hy gegroei het, nie net in sy musikaliteit nie, maar as kunstenaar en as mens. Die selfvertroue en charisma waarmee hy op die verhoog was en hoe gemaklik hy met homself, sy musiek en die gehoor geraak het, is presies waaroor Crescendo gaan.”
Die emosionele hoogtepunt het egter aan die einde gekom toe Whaden Johannes, akteur, musikant en voormalige Crescendo-finalis, Pekeur verras het met Koos du Plessis se “Gebed”.
Die oomblik is vooraf deur die Crescendo-span voorberei sonder dat Pekeur daarvan geweet het. Johannes het die lied nie bloot as nog ’n item op die program gesing nie, maar as ’n seëngebed oor Pekeur se musiekloopbaan.
Pekeur beskryf Louw en Johannes as sy “Crescendo-ouers”.
“Whaden se ‘Gebed’ wat hy oor my musiekpad gesing het, was ongelooflik spesiaal. Hy en Gracia is my Crescendo-ouers wat my nou op my pad gestuur het. Daarvoor sal ek altyd dankbaar wees,” sê Pekeur. Johannes voeg by: “Mark het meer as net ’n show opgesit. Persoonlik, het hy my verbaas en ek is super trots op hom.”
Dit was ’n gepaste slot vir ’n aand wat uiteindelik oor veel meer as die bekendstelling van ’n EP gegaan het. Dit was ’n bevestiging van wat die Crescendo-familie verteenwoordig: om jong kunstenaars raak te sien, hulle te help groei en hulle dan met vertroue die musiekpad af te stuur. ’n Pad wat uitdagings sal bring, maar ook die wete dat die mense wat saam met hom gestap het, steeds daar sal wees om hom te dra, aan te moedig en te herinner waar hy vandaan kom.
Lees ook:
Persverklaring: ATKV-Crescendo Goud vier die divas van Afrikaanse musiek

