"Asof die heelal geskreeu het skryf nou die boek!"

  • 0

.....

“Om te weet my bloedsweet ... en trane was nie verniet nie. Die boek word opgedra aan almal met krake.”

.....

Cecilia Steyn gesels oor wat dit geverg het van haar as moeder en skrywer om haar jongste tienerverhaal, Die vlerke van naaldekokers, te skep.

Foto: verskaf

Wat het jou geïnspireer om hierdie boek te skryf?

So ’n jaar of twee voordat ek die verhaal begin skryf het, het my man op ’n ongeluk afgekom. Ek onthou nog hoe ontsteld hy was omdat die jong vrou se hand apart van haar lyf op die teer gelê het. Sy het ongelukkig op die toneel gesterf. En in 2016 is die gemeenskap van Klerksdorp ook geruk toe ’n skooldogter in ’n motorongeluk op pad skool toe gesterf het. As ouer raak so iets aan ’n mens.

Ek het net geweet ek wil graag ’n reisverhaal skryf oor ’n meisie met ’n amputasie wat haar sus ook verloor het, van daar het sinkronisiteit oorgeneem. Ek het net meer en meer jongmense begin sien met amputasies. Asof die heelal geskreeu het skryf nou die boek!

Wat was die grootste struikelblokke en/of hoogtepunte wat jy ervaar het tydens die skryf van die die boek?

Die vrees dat een van my kinders ook so iets kan oorkom, was vir my ’n groot struikelblok en het my by tye baie ondergekry. Ek het gaan kyk – ek het die eerste hoofstuk in 2016 geskryf, daarna weer in 2017 ’n bietjie daaraan gewerk, maar dit elke keer gelos. In 2018 en 2019 het ek dit voltooi. Die navorsing was ook harde werk.

Die hoogtepunt was dat my uitgewer gaande daaroor was. Om te weet my bloedsweet ... en trane was nie verniet nie. Die boek word opgedra aan almal met krake. En my wens is dat hierdie boek mense hoop sal gee, maak nie saak wat hul krake veroorsaak het nie.

Die vlerke van naaldekokers spreek ’n baie traumatiese ervaring aan. Wat is die voordele en nadele om so ’n moeilike tema aan te pak?

Die voordeel van so ’n verhaal skryf, is dat mens jouself ’n bietjie kan leeg skryf van alles wat al vir jou moeilik was in jou lewe. Dit gee mens ook meer empatie met mense wat deur so iets gaan.

Die nadeel, soos ek reeds genoem het, is dat dit mens se gemoed geweldig aantas, want jy plaas jouself deurgaans in die karakters se skoene, en dis nie altyd ’n maklike plek om te wees nie.

Speel die verwagtinge van lesers, veral in ’n kinderboek, ooit ’n rol in jou skryfwerk?

Kinders wil verras en vermaak word, daarom het al my vorige boeke ligter temas. Ek gee my leser ook altyd ’n gelukkige einde, want ek glo dis wat kinders en tieners wil hê. Die wete dat dinge tog goed kan uitwerk is ook ’n manier om vir hulle hoop vir hierdie wêreld te gee.

Wat was vir jou die aanmoediging om te begin skryf? Wou jy altyd ’n skrywer wees?

Leënessindroom het my na ’n ander tydverdryf laat gryp en my ook laat nadink oor wat my nalatenskap in hierdie wêreld nou eintlik is. In my wildste drome sou ek egter nie kon gedink het dat ek ’n boek sou kon skryf nie. Maar met die hulp van my broer en mentor Fanie Viljoen het die skryfgogga my ook gebyt, al was dit eers laat in my lewe. En wat ’n voorreg is dit om die eerste vrou in my familie te wees wat haar op hierdie platform kan uitdruk.

Werk jy tans aan ’n nuwe boek? Wat is volgende vir jou?

Daar is altyd ’n storie of drie wat in my kop maal. Die moeilikste is om te besluit watter een kry eerste my volle aandag!

Wat is jou wenke vir voornemende jeugverhaalskrywers?

Skryf elke dag. Lees die tipe verhale wat jy wil skryf en moet nooit opgee nie.

.....

Titel: Die vlerke van naaldekokers
Skrywer: Cecilia Steyn
Uitgewer: NB Uitgewers

ISBN: 9780798180252

Die ongeluk het Kylie se lewe uitmekaargeruk. Sy het haar linkerhand verloor en haar jonger sussie, Lieke, is vir altyd weg.

’n Onbeplande road trip saam met haar eksentrieke oupa en sy jong assistent is Kylie se kans om te ontsnap. En miskien is dit haar geleentheid om iets vir Lieke te doen; om ’n paar goed op haar sussie se bucket list af te merk.

Dit word ’n vakansie wat Kylie nooit sal vergeet nie. ’n Reis terug na haarself, na heelword.

  • Beskikbaar: 20 April 2020

.....

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top