|
Die week in woorde |
Voëls wil my net nie uitlos nie. Eers skryf Carina Stander vir my ’n e-pos en sê haar speltoetser verander my naam na ibis. Dis die voorteken.
Die volgende naweek fluit die eerste voëltjie: my klasmaat in kreatiewe skryfkunde, Fanie Naudé, se voëlboek het die rakke getref.
(Dis nie hierdie tipe voëlboek nie. Dis ’n kortverhaalbundel met die titel Die alfabet van die voëls. Lees die goeie resensies daarvan hier en hier. Jy kan die boek hier bestel by Kalahari.com.)
Volgens André P Brink se blurb op die voorblad is Naudé se verhale "onder die beste in Afrikaans".

Ek was nog besig om te wens hy't sommer gesê wie die ander bestes is, toe werk ek dit self uit, met ’n bietjie hulp van die toevalligheid. Maandag by die werk land die volgende boek op die weggee-boekrak langs my lessenaar:

Die voëltjies se ABC deur Piet Grobler. Ek val omtrent op my rug. Nog ’n boek oor die voëls se alfabet? Dis reg. Twee voëls van verskillende vere - maar met effens eenderse titels. (Grobler s’n het wel meer prentjies in ...)
Maar nog is ’t einde niet. Dinsdag, my afdag/werk-aan-’n-tesis-dag, lees ek Ivan Vladislavic se jongste boek, The Loss Library. Niks op die voorblad (die verskriklike mooi voorblad ...) waarsku mens dat dit ’n voëlboek is nie. Maar blaai tot op bladsy 77 en daar sit hulle op ’n streep: "Dictionary Birds". Nie net ’n ABC nie, ’n hele woordeboek vol voëls. Vergesel van ’n kort greep uit Vladislavic se notaboek: "Build an aviary for the dictionary birds."
’n Timely reminder om terug te keer na my eie notaboek, deurtrek van die voëls wat ek so graag wil laat nesskrop in my letters. Ek wonder of al hierdie voëls net fluit om my te herinner dat ’n boek nie vanself geskryf kom nie?


Vir julle inspirasie (en my eie) ’n voëlgedig deur Ted Hughes uit my notaboek.
|
"Two legends" |
|
I Black was the without eye II Black is the wet otter's head, lifted. Black is the earth-globe, one inch under, To hatch a crow, a black rainbow But flying. Uit: Crow (from the life and songs of the crow) |
En tien voëlgedigte uit die LitNet-argief.
![]() |
Die Afrikaanse digkuns se voëlmeester aan die woord |
Afrikaanse haikoes |
|
| Die ander kant van die voëlgedig |
duiwedrek |
||
| Valkkuns |
Hawking |
||
| Broodkrummels vir klein voëltjies | red-winged starlings Toast Coetzer |
||
| As jy jou ontologie met jou ornitologie verwar, mag jy dalk dink dat die een oor voëls gaan | Ontologieles Loftus Marais |
||
| Wat die voëls voorspel | Voëls van onheil Pieter Strauss |
||
| Een oor die uil-vrou | Helen Martins Marius Crous |
||
| ’n Gedig uit ’n vlerkbundel | nóg vis, nóg vlees Carina Stander |
||
| Europese duiwe in ’n Suid-Afrikaanse gedig | Nat duiwe op ou grys geboue Johann de Jager |
Daar is vandeesweek twee nuwe verse in die poësienes:
![]() |
Sel(f)portret op 55, ’n meditasie Mobius-strip |
|
Wen! |
Ek het een kopie van elke Die voëltjies se ABC deur Piet Grobler om weg te gee, met komplimente van Protea. Stuur ’n e-pos aan wen@litnet.co.za met die woorde ABC en die naam van enige voël. Sluit jou naam en kontakbesonderhede in. Die kompetisie sluit 20 November.
Terwyl ons nou oor voëls praat: LitNet is op Twitter. Kom kwetter saam! Volg ons by @mylitnet.
Fluit-fluit tot volgende week.
Bibi



