Voëls van onheil

  • 0

(soos vertel deur Diä!kwain)

1. Die Bokmakierie

Mamma was die een wat my vertel:
Die bokmakierie, die !koroken!koroken
koggel jy nié. Dié voël wéét te veel.
Hy weet hoeka wat dóér gunter gebeur!

En hy weet watter Boesmans steel
vee op 'n ander plek. Hy kom vreet
nie net, hy kom deel jou mee
alle slegte goed wat hy weet.

As hy dink jy verstaan hom nie –
jy snap nie die boodskap uit sy bek –
dan kom hy weer, 'n tweede keer
na waar jy rus daar by jou plek.

Maar as jy die klanke uit sy bek
bly hoon, na-aap of bespotlik maak
dan sal hy kom en onder jou toon
pik-pik-pik ... 'n gaatjie in jou slaap.

2. Die swaeltjie

Ons moeders wou weet: Het julle klomp
dan nie gesien wat het met Kki-a-//ken gebeur?
Hy wou hom aan ons vermanings nie steur,
het net aangehou met sy wrede manier

om skerp klippe na swaeltjies te gooi.
Amper, as gevolg daarvan, is hy toe dood.
Terwyl hy nog eendag so klippe smyt
het hy flou geval. Die kluts skoon kwyt.

Mense was dit wat hom kom weghaal
het, weg van daardie onheilsoord –
die plek waar hy en sy maats die swael
met klippe bestook. Sy moeder

se mense het hul gekwel – nie geweet
of hy óóit weer sou herstel. Kki-a-//ken
sou die stryd verloor, het hul voorspel;
méér as net die swael het hom getoor:

'n Bose gees het uit die swael gekom
en in hom in gesweef. Eers het dit gelyk
asof Kki-a-//ken dit kon oorleef. Tevergeefs.
Nimmer wou die gees weer wyk.

3. Die hamerkop

Die hamerkop tree só op:
As iemand se ster geval het, kom fladder
hy oor ons kop en skree: Kok-kok-kok!
Dan vra die mense: hoor jy nie die hamerkop?

Hy kom om ons te vertel dat iemand dood is.
En die mense praat. Hulle sê die hamerkop
is nie 'n voël wat lieg en bedrieg
as hy só oor ons koppe vlieg.

Daarom het moeder en die ander gesê
as die hamerkop só oor ons koppe kring:
“Gaan, hamerkop, gaan plons in die water in,
ons ken die soort nuus wat jy ons bring!

Daar waar die sterre in die water staan,
dáár moet jou ou stories ingaan!
Ons wil jou storie sowaar nie hoor;
in die water kan jy jou stories stoor!”

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top