Pieter Strauss

Pieter Strauss is op 8 November 1960 op Kenhardt gebore, ’n dorpie in die hart van die Boesmanland waar sy familie reeds geslagte lank woon.

Nadat hy daar aan die plaaslike hoërskool gematrikuleer het, studeer hy verder aan die Universiteit van Stellenbosch en verwerf die grade BA en BA Honneurs in Afrikaans en Nederlands. Gedurende sy honneursjaar word hy opgeneem in DJ Opperman se Letterkundige Laboratorium onder leiding van prof Lina Spies.

Hy maak sy debuut as digter in 1997 met Dubbelloop, ’n reeks gedigte in Nuwe stemme 1, gepubliseer deur Tafelberg Uitgewers. Drie van sy gedigte word deur André P Brink opgeneem in Groot Verseboek 2000 en gedurende 2008 ook in die geblikte weergawe daarvan.

Sy debuutbundel kontreiverhale Fluitwiel! Ware lag- en liegstories uit my dóúrie wêreld is in 2003 deur Lapa-Uitgewers gepubliseer. Tussen kokerboom en kaiingklip het in 2006 gevolg, en Bitterboela en soetgousblom in 2008.

Twee van Pieter se stories is opgeneem in die bloemlesing Alles goed en wel – saamgestel deur Abraham H de Vries – wat gedurende 2007 verskyn het. Twee ander stories is weer opgeneem in die bloemlesing Spekskiet!, saamgestel deur Dineke Volschenk, wat in 2008 verskyn het.

Pieter is tans medesamesteller van Versspel,’n nuwe poësie-bloemlesing gemik op die skolemark, wat in Augustus 2009 by VIA AFRIKA sal verskyn.

’n CD-opname van hom en sy orkes Tokkel los! waarop hy van sy eie komposisies en toonsettings sing, is gedurende 2005 – 2006  deur Lapa-Uitgewers bemark en versprei.

Pieter is die afgelope 19 jaar ’n onderwyser aan die Hoërskool  Stellenberg in Bellville waar hy Afrikaans doseer. Hy is getroud met Johanna en het twee woelwater seuns, Petri (17) en Dian (13).




Opgedateer/Updated: 2009-06-10
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za 
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

Haikoe-kompetisie: 14 Haikoes deur Pieter Strauss

Pieter Strauss 2012-11-20 14 Haikoes deur Pieter Strauss

Haikoe-kompetisie: Eerste 10 Haikoes deur Pieter Strauss

Pieter Strauss 2012-11-14 Pieter Strauss se eerste 10 inskrywings vir ons haikoe-kompetisie

Voëls van onheil

Pieter Strauss 2009-08-20 (soos vertel deur Diä!kwain) 1. Die Bokmakierie Mamma was die een wat my vertel: Die bokmakierie, die !koroken!koroken koggel jy nié. Dié voël wéét te veel. Hy weet hoeka wat dóér gunter ...
Top