Haikoe-kompetisie: 14 Haikoes deur Pieter Strauss

  • 0

haikoe 11

kettie in my hand
tuimel troupant, hang
`n leeftyd aan my verstand
              

haikoe 12

druppels teen my ruit
Mozart nooi my uit
klawesimbel en `n fluit
                    

haikoe 13

kort by Onseepkans
staan kokerboom en halfmens
binneboud en dans
                       

haikoe 14

skemer span haar boog
uit haar koker vlym
liefdespyle én venyn
                

haikoe 15

kiewietkuikens vlug
in kierangskadu’s terug
nag het haar vlerk gelig


haikoe 16

tarentaal rumoer 
die nag het haar kroos
een-een vir die kat gevoer

 

haikoe 17

van Rooiberg se rant
trippel vaal fisant
reënspore oor Boesmanland

haikoe 18

voos vadoek wapper
aan ons wasgoeddraad 
wil-wil soms in tale praat


haikoe 19

son het haar naels
vroemôre gemanikuur  
klouter oor my muur

 

haikoe 20

wit duif op die nok
sprei jou vlerke, los
homo sapiens in sy hok

haikoe 21

agter elke donker rant
wag wegholwoorde
op `n herdershand

haikoe 22

die wyfiebobbejaan
koester-streel haar kind
bang Darwin sal hom vind

haikoe 23

windhond doen sy plig
oewerkonyn tol in die lug
die aarde sug

haikoe 24

noodbrief uit die grond
vonkpos na die godedom
kamiesberggousblom

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top