As ek kon kies: ’n Kortprent oor die kruispad van keuses, ’n onderhoud met Beáta Bena Green

  • 0

...
“Die idee van om te moet kies tussen wat van jou verwag word en wat jou hart vir jou sê, is iets waarmee baie mense op verskillende maniere kan identifiseer. Ons almal ervaar op een of ander stadium die spanning tussen die lewe wat ander mense vir ons voorstel en die lewe waarna ons self verlang.”
...

As ek kon kies is deel van Silwerskerm 2026 se gevestigde filmmakers – kortfilm-kategorie. Dis die derde rolprent wat die Unusual Bones-span (Emilie Badenhorst en Kanya Viljoen) al by die fees doen. Hul vorige twee kortfilms Ekstasis (2021) en ’n Doop om stilte (2023) is albei met lof ontvang. Wat uitstaan van die duo, is hul atmosferiese, gestroopte benadering tot stories. Een wat instinktief, tog droomagtig voel.

Hierdie jaar is As ek kon kies hul nuutste oplewering. En boonop span die twee kamera-kweens kragte saam met die gevierde aktrise Beáta Bena Green, wat ook ’n mede-skrywer en uitvoerende vervaardiger op die kortprent is.

Ek het bietjie met haar ge-xhorro oor die proses.

Beáta, baie geluk met die vertoning van julle prent. Dit moet seker soos ’n katarsis voel om iets waaraan daar so lank/hard gewerk is, uiteindelik vir kykers te kan wys. Hoe voel jy na die vertoning?

Baie dankie. Ek dink ek het nog nie heeltemal tyd gehad om alles te verwerk nie. Daar is iets besonders daaraan om ’n storie waaraan jy vir so lank saam met ander mense gewerk het, uiteindelik voor ’n gehoor te sien.

Vir my was die vertoning ook ’n oomblik van groot dankbaarheid. Ek is trots op wat ons as span geskep het, en veral op die storie wat uiteindelik op die skerm beland het. Jy raak so naby aan ’n projek tydens die proses dat jy later nie meer heeltemal weet hoe iemand anders dit gaan ervaar nie, so dit was besonders om uiteindelik saam met ’n gehoor daarna te kyk.

Dan ook geluk met jou benoeming vir beste aktrise (saam met Anoechka Kruger). Dit is die tweede keer dat jy benoem is by die Silwerskermfees, voorheen vir Wyfie as beste aktrise in ’n telenovela. Wat beteken pryse vir jou?

Baie dankie. ’n Benoeming beteken vir my in die eerste plek dat die werk raakgesien is. Dit is natuurlik ongelooflik spesiaal, maar ek probeer om nie my verhouding met die werk van pryse afhanklik te maak nie.

Ek is veral dankbaar vir hierdie benoeming, omdat As ek kon kies vir my so ’n persoonlike en gesamentlike proses was. Om ’n karakter te speel is reeds iets waarvoor ek baie dankbaar is, maar om ook deel te wees van die skryf- en vervaardigingsproses en dan erkenning daarvoor te kry, beteken vir my baie.

Emilie Badenhorst en Kanya Viljoen het ’n unieke, maar ook kenmerkende benadering tot rolprente. Wat was dit aan die twee wat jou aangetrek het om saam met hulle te werk?

Ek dink daar is iets baie besonders aan die wêreld wat Emilie en Kanya skep. Hulle het ’n sterk gevoel vir atmosfeer en hulle vertel stories op ’n manier wat ruimte laat vir die gehoor om self iets te voel en te ontdek.

Ek was ook aangetrokke tot die soort storie wat hulle wou vertel. Dit het vir my gevoel soos ’n klein, intieme verhaal wat eintlik groter vrae oor mense en die keuses wat ons maak, vra.

Dit was vir my interessant om hulle proses van nader te leer ken en om deel te wees van ’n projek wat oor ’n langer tyd ontwikkel het. Ek dink daar was baie gesprekke en idees wat uiteindelik gehelp het om die film te vorm wat ons by Silwerskerm kon wys.

Vertel my van die proses. Jy is een van die skrywers ook. Saamskryf kom met baie skoonheid, maar ook uitdagings. Kan jy een van elk noem wat jy ervaar het tydens die skep van die stuk?

Die mooi van saamskryf is vir my dat ’n storie nooit heeltemal bly soos jy dit aanvanklik in jou kop gesien het nie. Jy begin met een idee en deur gesprekke, herskryfwerk en verskillende perspektiewe ontdek jy nuwe lae in die karakters en die storie.

Die uitdaging is dat jy ook moet leer wanneer om aan ’n idee vas te hou en wanneer om ruimte te maak vir iets anders. Daar was beslis oomblikke waar ons verskillende idees gehad het oor die storie en hoe sekere dinge moes werk, maar ek dink dit is deel van enige kreatiewe proses.

Uiteindelik is ek dankbaar vir wat ek uit die ervaring geleer het, veral oor hoe ’n mens na ’n storie moet bly luister terwyl dit ontwikkel.

LGBTQIA+-stories begin al meer die lig sien in Afrikaans. Nie meer net holruggeryde argetipes van ons gemeenskap nie, maar veelvlakkige en eg menslike benaderings, soos met julle film ook. Was dit ook vir jou belangrik om ’n dieper queer-ervaring uit te beeld?

Ja. Ek dink vir ons was dit belangrik om die mense in die storie eerste te sien. Die queer-ervaring vorm natuurlik ’n belangrike deel van die verhaal, maar vir my lê daar ook iets universeels onder dit.

Die idee van om te moet kies tussen wat van jou verwag word en wat jou hart vir jou sê, is iets waarmee baie mense op verskillende maniere kan identifiseer. Ons almal ervaar op een of ander stadium die spanning tussen die lewe wat ander mense vir ons voorstel en die lewe waarna ons self verlang.

Vir my was die queer-element dus ook ’n manier om daardie groter emosionele vraag te ondersoek. Dit is ’n spesifieke ervaring, maar die gevoel daaronder is menslik. Ek dink dit is deel van wat vir my interessant was aan die storie.

Wat is dit aan die medium van TV en film waarvan jy die meeste hou, en het jy enige planne om ’n verhoogdebuut te maak?

Ek hou daarvan dat film en televisie jou baie naby aan ’n mens se innerlike wêreld kan bring. ’n Klein kyk, ’n stilte of ’n verandering in iemand se asemhaling kan soms net soveel vertel soos ’n hele gesprek.

Ek het ook baie respek vir teater en sal graag eendag op die verhoog wil werk. Ek dink daar is iets besonders uitdagends daaraan om ’n storie lewendig te hou in dieselfde ruimte as jou gehoor. Ek sal graag daardie wêreld ook wil ervaar wanneer die regte geleentheid oor my pad kom.

Wat is die pad vorentoe vir As ek kon kies? Realisties gesproke, maar ook jou ideaal.

Realisties gesproke hoop ek die film kry die geleentheid om verder te reis en nog gehore te bereik. Ek dink kortfilms het dikwels ’n langer lewe as net die fees waarvoor hulle gemaak is, en ek sal graag wil sien waarheen hierdie een kan gaan.

My ideaal is dat die film by mense bly nadat hulle dit gekyk het. As iemand ’n karakter onthou, ’n gesprek verder voer of vir ’n oomblik oor iets nadink wat die film by hulle wakker gemaak het, voel ek ons het iets bereik.

Advies aan struggling, opkomende filmmakers?

Hou aan om werk te maak, selfs wanneer jy nog nie al die perfekte omstandighede het nie. Jy leer ongelooflik baie deur iets klaar te maak.

En probeer om mense rondom jou te hê met wie jy eerlik kan praat. Die regte medewerkers maak ’n groot verskil. As ek iets uit hierdie proses geleer het, is dit dat elke persoon iets anders na ’n projek bring, en dat ’n storie dikwels deur daardie verskillende perspektiewe groei.

Wie inspireer jou?

Ek word deur baie verskillende mense geïnspireer, maar veral deur kunstenaars wat met groot eerlikheid werk en nie probeer om iets te wees wat hulle dink ander mense van hulle verwag nie.

Ek word ook baie geïnspireer deur die mense saam met wie ek werk. Hierdie film was vir my ’n herinnering daaraan dat daar soveel waarde in ’n groep mense se verskillende perspektiewe, vaardighede en ervarings lê.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top