Jakes se geheim: ’n onderhoud met Francine Beaton

  • 0

Titel: Jakes se geheim
Reeks: Pad na glorie
Skrywer en uitgewer: Francine Beaton
ASIN: B08CRX3ZJT

Wat weeg die sterkste? Liefde of lojaliteit?

“Fokus! Hou jou oog op die bal en bly weg van vroumense.” As ’n professionele rugbyspeler het Jakes du Plessis se mantra nog altyd goed gewerk. Tydens ’n besoek aan Denver vir terapie ontmoet Jakes egter vir Angie Summers wat dreig om sy planne omver te gooi. Spoke uit sy verlede herinner hom hoekom hy nie uitgeknip is vir ’n verhouding nie en hy vlug terug na Suid-Afrika.

Toe Angie vir Jakes ontmoet, was sy verbaas deur die emosies wat die groot Suid-Afrikaner ontlok, veral omdat sy nog ’n ander man se ring dra.

Die noodlot het egter ander planne. Vlug het Jakes nie gehelp nie, aangesien Angie in Suid-Afrika opdaag, oënskynlik om haar broer te help, maar ook in die hoop om Jakes te oorreed om hulle ’n kans te gee.

Kan Jakes sy verlede begrawe en Angie ’n tweede kans gee? Kan Angie daarin slaag om Jakes te oortuig dat liefde alles kan oorwin?

Cliffordene Norton gesels met Francine Beaton oor haar passie vir sportromanses, hoe haar skryfloopbaan begin het en haar loopbaan as ’n tweetalige skrywer.

Foto: verskaf

Hoe het jy begin skryf? Was hierdie altyd jou passie?

Om eerlik te wees? Ek het nooit daaraan gedink om self te skryf nie, dus het hierdie passie my net so onverhoeds betrap as vir my familie. Ek het op skool daarvan gehou om opstelle te skryf, maar dis waar dit gebly het tot in Julie 2016. Ons was in New York met vakansie en op die lang vlug terug na Suid-Afrika het ek ’n rugbyroman op my tablet gelees wat uiters onrealisties was. Ek het gedink dat ek dit wraggies beter kon doen.

Ek het sommer net daar begin om ’n storie te beplan wat teen die einde van die vlug sommer ’n hele reeks van vyf boeke geword het. Natuurlik was my eerste probeerslag net so power soos daardie boek wat ek nie sal noem nie, maar ek het deurgedruk en teen die tyd dat ek Sarah Bullen se Romance Masterclasss vroeg in 2017 bygewoon het, het ek seker al so sewe, agt boeke geskryf gehad.

Ek het hulle saamgeneem na wat my heel eerste skryfkursus sou wees wat ek ooit bygewoon het. In daardie stadium was Jakes en Eye on the ball nog vars in my geheue, en het ek besluit om aan daardie storie te werk. Dis hoe Jakes my debuutroman geword het, al was hy nie eens deel van daardie eerste beplanningsessie op die vliegtuig nie.

Eye on the ball het in 2018 verskyn. Sedertdien het daar tien titels gevolg. Wat motiveer jou om te skryf?

Die stemme in my kop! Dit klink seker erg, maar ek word gereeld wakker in die vroeë oggendure met karakters wat dinge met mekaar uitsorteer. As dit die derde oggend gebeur, dan weet ek sommer daar is ’n storie, dan moet ek dit maar neerskryf. Partymaal, soos met Eye on the ball, het Jakes my regtig nie veel gegee om mee te werk nie. Ek het nie geweet wat sy storie is tot heel aan die einde nie!

Soos jy sê, het daar nog tien titels in Engels verskyn en vier van hulle het ek dan ook in Afrikaans herskryf. Jakes se geheim is die eerste van die rugbyboeke, wat op 30 Julie 2020 gepubliseer gaan word en is die Afrikaanse weergawe van Eye on the ball.

Wat is jou skryfproses as tweetalige skrywer? Hoe kies jy in watter taal ’n spesifieke verhaal geskryf moet word?

Die karakters laat my duidelik verstaan watter taal hulle praat. Ek het tot onlangs al my boeke eers in Engels geskryf en gepubliseer en dit dan in Afrikaans herskryf. Ek het egter ’n Man soos Pierre, wat deel gaan wees van die Pad na glorie-reeks, in Afrikaans geskryf.

Ek werk ook aan ’n ander reeks, Roep van die Manghele, waarvan die eerste boek ook in Afrikaans geskryf is. Die reeks was oorspronklik vir die Engelse mark bedoel, maar die karakters wat eerste tot my gespreek het, is so Afrikaans as wat kan kom, toe skryf ek maar in Afrikaans.

Die meeste van jou verhale is sportromanses. Waarom hierdie subgenre? Watter boek het jou tot hierdie genre bekeer?

Ek sou nie sê dis ’n spesifieke boek wat my daartoe “bekeer” het nie. Ek is gek oor rugby en ’n groot Blou Bulle / Bulls-ondersteuner. Dit kan seker nie anders nie, want my pa was fanaties oor rugby en ek het drie broers gehad wat almal rugby gespeel het en so ook al my vriende. Ek was dus altyd blootgestel aan rugby. Dis miskien hoekom ek altyd rugbyromanses gesoek het om te lees. My gunstelinge is Rosalind James se Escape to New Zealand-reeks en Amy Andrews se Sydney Smoke-reeks. Ek het gedink aangesien die All Blacks en Aussies klaar verteenwoordig is, kon Suid-Afrika nie terugstaan nie en dis hoe die Buffels hul plek gekry het.

Beplan jy jaarliks hoeveel boeke jy gaan publiseer of laat jy jou loopbaan meer organies ontvou?

Ek het in die verlede beplan dat ek hierdie jaar soveel boeke gaan publiseer en volgende jaar soveel, maar ek het myself onder soveel druk geplaas dat ek half uitgebrand gevoel het. My reisplanne sedert September 2019 en die inperking as gevolg van COVID, waarvan ek vier maande in die Oos-Kaap vasgekeer was, het my ook anders laat dink oor my loopbaan.

..............

“Dit klink seker erg, maar ek word gereeld wakker in die vroeë oggendure met karakters wat dinge met mekaar uitsorteer. As dit die derde oggend gebeur, dan weet ek sommer daar is ’n storie, dan moet ek dit maar neerskryf.”

..............

Ek neem dit nou boek vir boek. As dit reg voel, dan sal ek dit publiseer, anders wag ek nog. Ek het wel ’n beplanningslys van watter boeke ek nog gaan publiseer en ongeveer wanneer, as gevolg van die tydlyn in elke reeks. Aangesien ek reekse skryf, probeer ek om elke jaar minstens een in elke reeks uit te gee.

Wat is die boek(e) wat jou anders oor fiksie laat dink het?

Dis nogal moeilik om te sê. Ek was van kleins af mal oor lees – en niks te hoogdrawend nie. Ek lees genoeg niefiksie en biografieë vir navorsing. As ek lees vir ontspanning, dan moet dit ontspannend wees. Ek het vroeg reeds verlief geraak op romanses, en die een boek wat my nog al die jare bygebly het, is Susanna M Lingua se Volmaan oor die Tiber. O ja, en Ettie Bierman en haar lugwaardinboeke het my gereeld op ver reise geneem.

Jy het onlangs begin om jou boeke self uit te gee. Wat behels hierdie proses?

Ek het reeds vroeg in my skrywersloopbaan besef dat ek verkies om self my boeke uit te gee. Tradisionele publikasie vat vir my baie lank. Ek is so bang ek gaan dood voor ek al my boeke gepubliseer het!

My uitgewer het my eerste drie boeke goedgekeur, naamlik Eye on the ball, Obstruction en Making the right call. Ek het nog voor Eye on the ball verskyn het, ook Taste for coffee, Leading from the front en Summertime blue gereed gehad. Dat Making the right call se publikasiedatum meer as ’n jaar na Eye on the ball sou wees, het my laat besef dat ek nie so lank wou wag nie. Ek het toe Taste for coffee self gepubliseer.

Ek het van die proses gehou, asook die feit dat ek self in beheer is van my voorblad en skedule. Skrywers is deesdae in elk geval verantwoordelik vir hulle eie bemarking, tensy jy een van die groot name is.

Ek skryf eers my boek klaar en gaan deur die eerste redigeringsprosesse, stuur dit na my alfalesers vir terugvoer en redigeer dit weer voordat ek dit na my redigeerder stuur. Terwyl hy besig is met die redigering sal ek begin om die voorblad te ontwerp en ander grafika te doen.

Voorheen het ek die grafika na ’n grafiese kunstenaar gestuur, maar het besluit dat ek soveel boeke het wat ek gaan publiseer dat dit my ’n fortuin gaan kos. Gelukkig is daar programme soos Bookbrush wat dit makliker maak vir platsak skrywers.

Na die finale proef moet ek die boek in die regte formaat kry – vir my is dit drie formate, naamlik vir Amazon, D2D (vir Kobo, Apple en ander platforms), en vir die gedrukte weergawes.

Dan begin die bemarkingsproses wat eerstens baie gatkruip by jou familie en vriende behels om jou nuwe publikasie te deel! Sosiale media vorm deesdae ’n belangrike deel van ’n skrywer se bemarkingsportefeulje, asook nuusbriewe, advertensies vir Facebook, Amazon en BookBub, en dan laastens hoop jy om hier en daar in die media ’n gaatjie te kry. En dan doen jy alles weer van vooraf vir die volgende boek.

Wat is die voordele en nadele van selfpublikasie?

Selfpublikasie verg baie dissipline, harde werk en geld, ongelukkig. In die begin het ek groot dele van die proses uitgegee vir professionele insette, maar na veertien boeke het ek heelwat geleer en hanteer die meeste aspekte self. Vir my is die grootste voordeel dat ek nie twee jaar hoef te wag voor my boek op die mark is nie. Ek hou ook daarvan om in beheer te wees van alles, van kies van voorblad tot waar ek dit wil publiseer en bemark.

Glo jy in skrywersblok en indien wel, hoe beveg jy dit?

Ek kry nie gewoonlik skrywersblok nie, aangesien ek aan soveel verskillende boeke gelyk werk. As een karakter nie met my wil praat nie, sal ’n ander een dit dalk doen. Ek het egter ’n eenvoudige manier om oor skrywersblok te kom. Dit help nie altyd met ’n spesifieke storie nie, maar dit laat die kreatiewe proses vloei en dis wat die belangrikste is.

Ek hou gewoonlik daarvan om in my studeerkamer in stilte te werk. As dit voel asof niks wil reg loop nie, dan verwyder ek myself van my gewone skryfomgewing en -proses. Partymaal sal ek net in die tuin gaan sit, of dalk in ’n koffiewinkel of ’n park of soms selfs by ’n mark waar daar tafels is. Ek gebruik die eenvoudige metode om my vyf sintuie in te span om dinge om my te beskryf en doen dit op die outydse manier: met die hand.

Al het wat ek geskryf het dalk nie vir daardie spesifieke manuskrip gewerk nie, kan ek tog van hierdie tonele in ander boeke gebruik, of wat ek geskryf het, het my inspirasie gegee vir tonele in ’n ander boek. Een so ’n toneel het sommer ’n hele nuwe boek tot gevolg gehad en die ander een die Taste for love-reeks. Ek hou ook daarvan om wanneer daar byvoorbeeld ’n donderstorm is, dieselfde metode te gebruik, of partymaal doen ek dit met my gunstelingdis of -resep.

Fotografie het my geleer om die wêreld om my anders te beskou. Skryf het dit weer gedoen. Dis asof mens net meer attent is op alles rondom jou sodat jy nie dalk iets misloop wat jy in ’n storie kan gebruik nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top