As drome waar word: ’n onderhoud met die skrywer en illustreerder

  • 0

Titel: As drome waar word
Skrywer: Jeanéll Coetzer
Illustreerder: Erna van der Merwe
Prys: R240,00
ISBN: 978-1-991256-48-5
Uitgewer: Naledi, September 2023

’n Insiggewende kinderboek As drome waar word deur Jeanéll Coetzer het by Naledi verskyn en handel oor Aliska wat te vroeg gebore is en ná ’n beroerte serebraal verlam is. Dit word op ’n eenvoudige manier aan kinders verduidelik: “Haar brein weet dus nie hoe om vir haar bene te sê om te beweeg nie.”

’n Operasie kan dalk alles vir haar verander en sy mag net dalkies haar droom bewaar om ’n ballerina te word. Met haar ouers se gebede en ’n spesiale maatjie, Fiefie, kan haar toekoms blink wees.

Ek lees in die publisiteitsdokument die skrywer is op 25 weke as mikropreemie-baba gebore. Sy het ’n beroerte gekry wat serebrale verlamming veroorsaak het. As kind het sy verskeie operasies ondergaan en vir jare lank terapie gekry, voordat sy uiteindelik kon loop. Hierdie boek is haar verhaal van oorwinning. “Dit is haar passie om kinders aan te moedig om in hul drome te glo.”

Die pragtige waterverftekeninge in die boek is deur Erna van der Merwe wat al verskeie kinderboeke geïllustreer het.

Die redigering is deur Louise Viljoen, ’n kinderboeklegende, gedoen. Sy vertel: “Ek dink dis bewonderenswaardig dat sy haar storie op so ’n unieke wyse met die wêreld deel en kinders bewus maak van gestremde maats se uitdagings. Deur die hoofkarakter se belewenis maak lesertjies kennis met die wêreld van kinders wat liggaamlike gebreke het.

“Ek dink die boek doen baanbrekerswerk.”

Maryke Roberts het met Jeanéll Coetzer en Erna van der Merwe gesels.

***

In gesprek met Jeanéll Coetzer

Die Suid-Afrikaanse boekemark is bitter klein en vir kinderboeke dalk nog kleiner. Wat het jou motiveer om die reusetaak aan te pak om ’n kinderboek te skryf oor gestremdheid, met hierdie wete?

Met my ervaring as kind en nou as volwassene, het ek besef dat daar baie mense is wat min inligting het oor gestremdhede, as gevolg daarvan is kinders en volwassenes onseker hoe om op te tree as hulle gekonfronteer word met gestremde mense. Nie almal is gelukkig genoeg om mense te hê wat hulle kan help in só ’n geval nie. Omdat ouers onkundig is, is die kinders ook. Ek wou die boek skryf juis om die misverstand tussen gestremdes en ander mense af te breek, sodat kinders nooit weer onkundig hoef te wees nie, en wanneer hulle vrae het, die regte antwoorde kan kry.

Hoeveel druk plaas politieke korrektheid op jou wanneer jy ’n kinderboek skryf oor ’n gestremde dogtertjie?

Politieke korrektheid het nie ’n rol in die boek vir my gespeel nie, want ek het uit my hart en ervaring geskryf.

Hierdie storie is eintlik jou verhaal. Hoe lank het jy met die idee gespeel voor jy besluit het om tot aksie oor te gaan?

Die idee lê al van jongs af in my kop, maar ek het eers as volwassene besef dat daar in boeke baie min verteenwoordiging van gestremdheid is. Veral by kinders. En só het die idee in 2022 gevorm om die emosionele raad en ondersteuning wat ek gehad het, in ’n kinderboek om te sit. Dit het eers in 2023 ’n realiteit geword, toe ek my eerste boek vashou.

Was dit moeilik om ’n uitgewer te kry?

Ek is so geseënd om Naledi se wonderlike span agter my te hê, wat my kan lei en ondersteun. Ek is geseënd om iemand soos Christelle Cronje te ken, wat my in verbinding kon sit met Naledi Uitgewers.

Vertel my van die feetjie met hangvlerkies en het jy ’n verbeeldingsmaatjie gehad toe jy ’n kind was? Wat is die noodsaaklikheid van ’n verbeeldingsmaatjie in ’n kind se lewe?

Sy het nie begin as ’n feetjie met hangvlerkies nie, ek wou deur haar rokkie se spesifieke kleur uitbeeld wat ’n verskil sy in die dogtertjie se lewe kon maak. My navorsing is dat ’n kleur ’n emosie verteenwoordig. Ek wou daardeur wys wat sy geleer het. Toe ek later daaroor dink en met Louise gesels, besef ons dat die feetjie en dogtertjie ’n spieëlbeeld van mekaar is, die feetjie se persoonlikheid wys hoe die dogtertjie wens sy kon na haar gestremdheid kyk, maar hoe sy fisies nie op daardie vlak is nie. Die feetjie met haar hangvlerkies wys vir die dogtertjie dat hulle fisiese probleme hulle nie hoef terug te hou nie.

Ja, ek het self ’n geheime maatjie gehad. Ek het die feetjie ’n groot rol gegee as gevolg van die emosionele hulp en ondersteuning wat ek as kind ontvang het. Ek wou dit uitbeeld oor daar min emosionele hulp is vir só ’n kind. Al is die fisiese hulp vir gestremdes baie belangrik, is die emosionele aspekte net so noodsaaklik. ’n Kind weet nie hoe om hul emosies te hanteer nie, voeg daarby gestremdheid wat in baie gevalle permanent is en jy kry een deurmekaar kind. Die feetjie is daar om die kind emosioneel te help ontdek wat hy of sy oor die gestremdheid voel en ook hoe om dit te verwerk, terwyl die res van die mense fokus op die fisiese probleem.

’n Verbeeldingsmaatjie help om ’n kind te leer kreatief wees, dit help hulle om situasies van alle kante te bekyk en leer hulle van verskeie probleemoplossings. Dit kan hulle in die toekoms help met skool en werk, en wie weet, dalk ontdek hulle talente wat hulle nooit geweet het hulle het nie.

Wat het jou destyds hoop gegee in hierdie moeilike proses waardeur jy is?

God, my familie en vriende. Ek is geseën met mense in my lewe wat my nooit as abnormaal behandel nie. Die feit dat almal in my lewe – selfs my dokter en fisioterapeut – geglo het dat ek sal kan loop, het my laat aanhou baklei. My ouers het my nooit laat opgee nie, hulle het my laat deurdruk deur swaar tye en dit het my uithouvermoë geleer.

Watter heling het hierdie boekskryfproses vir jou gebring?

Dit het my verhouding met God versterk. Ek is bly dat my boek nie net nog een van baie is nie; dat ek weet dit maak ’n verskil in mense se lewens, is vir my dank genoeg. Ek het geleer van so baie verskillende grade van my eie gestremdheid en ook besef hoe my storie ander kan help op hulle eie pad. Ek het geleer hoe God my wil gebruik en hoe Hy my pad oopgemaak het, want dit was Sy plan.

Wat is jou algehele boodskap met hierdie boek?

Jy kan enigiets doen as jy regtig hard werk. Jy moet nooit opgee nie, enige iemand kan ’n verskil maak. Lewe saam met jou gestremdheid; nie daarvoor nie.

Watter ouderdom is jou teikenmark?

Enige iets vanaf voorskool tot graad 4.

As jy een ding vir ouers van gestremde kinders/vroeggebore babas met komplikasies kan vertel, wat sal dit wees?

Ek is jammer, maar jou kind gaan moontlik nooit normaal funksioneer nie. Mammas, jou babatjie is ’n fighter. Hy of sy sal in jou glo as jy in hom of haar glo. Hou aan bid. Daar is professionele dokters en fisioterapeute wat kan help om jou kind se lewe te verbeter.

Wat hoop jy verrig hierdie boek?

Ek hoop mense verstaan en sien gestremdhede en gestremde mense anders ná die boek. Ek hoop kinders maak maatjies met die een maatjie wat anders lyk of loop. Ek hoop dit gee gestremde mense ’n stem om hul stories te deel. Om anders na hulle omstandighede te kyk; dit as iets positiefs te sien, eerder as iets om agter weg te kruip of wat jou terughou.

Het jy insae gehad in die keuse van ’n illustreerder en hoe die proses verloop?

Ja, ek was bevoorreg om my insae en opinies te kon gee oor die karakters se klere, die agtergrond waarin die storie gebeur, ensovoorts. Erna – soos ek – wou die storie só akkuraat weergee as moontlik. Sy het dus vrae gehad en ek kon foto’s stuur om seker te maak ons gee die regte weerspieëling van die ware storie.

Wat geniet jy aan Erna se illustrasies vir jou storie?

Dit was wonderlik en baie interessant dat die uniekheid wat sy na die karakters gebring het, op die ou einde gemaak dat ek net meer versot op die karakters geword het.

***

In gesprek met Erna van der Merwe

Erna, hoe verskil jou aanslag met illustrasies vir ’n gestremde dogtertjie versus ander kinderboeke?

Met hierdie boek was dit vir my belangrik dat die illustrasies so na as moontlik aan die werklikheid moes wees. Eenvoudig genoeg vir kleiner kinders om te verstaan en terselfdertyd realisties genoeg vir die kinders wat in daardie wêreld leef, om daarmee te kan vereenselwig.

Hoe doen jy navorsing om te verseker die illustrasies is polities en sosiaal korrek – of is tegniese korrektheid nie noodsaaklik met kinderboeke nie?

Ek kry soms ’n voorstel van hoe die illustrasie moet lyk en probeer dan daarrondom werk en beplan. Ek het in hierdie omstandighede baie opgelees oor die verskillende aspekte, met Jeanéll gepraat en baie foto’s by haar gekry. Ek sit dan al die verwysingsmateriaal bymekaar en kyk hoe en wat ek gaan gebruik en wat nie. Ek maak daaruit ’n voorstelskets waarvandaan ons begin werk.

Ek dink tegniese korrektheid was tog hier meer belangrik, omdat jy ’n wêreld wat baie kinders nie ken nie, aan hulle wil voorstel.

Maar dit is definitief nie nodig in alle kinderboeke nie.

Vertel my bietjie van jou kreatiewe proses, hoe begin jy as iemand jou nader vir illustrasies vir kinderboeke?

Dit is so lekker om ’n nuwe skrywer te ontmoet, hulle visie vir die boek te kan deel en saam te bou daaraan. Ek het nodig om te weet watter ouderdom die teikenmark sal wees, hoeveel illustrasies benodig word, die formaat waarin dit moet wees en die medium waarin dit gedoen moet word.

Soms doen ek ’n proefskets sodat die skrywer kan seker wees my styl en die medium is waarna hulle soek.

Meestal kry ek ’n voorstel vir elke illustrasie of ek verkies dat die skrywer die prentjie wat in hulle kop is, vir my kan beskryf; dan het ek iets om mee te werk. As ek dan die teks lees, kan ek die prentjie in my kop by die prentjie van die skrywer uitbring, en só word die regte illustrasie gebore.

Ek doen ’n potloodskets waaraan ons saam skaaf en skuur.

Daarna doen ek die finale skets en as alles reg is, werk ek die kleure by.

Vir Jeanéll, byvoorbeeld, was die kleure en die verskillende betekenisse daarvan belangrik, daarom het ek probeer om dit so na as moontlik te hou aan wat sy gevra het.

As ek voel dat iets nie gaan werk nie, sal ek iets anders voorstel waarmee ons eerder kan werk.

Dit is die wonderlikste gevoel om ná al die weke se harde werk en ’n hoop los illustrasies op my tafel, die voltooide boek in my hande te kan hou; om te sien hoe almal se harde werk bymekaar kom om so ’n spesiale boek te kan word.

Hoe ’n belangrike deel van die sukses van kinderboeke kan aan die kwaliteit van die illustrasies toegeskryf word?

Ek dink die illustrasies in ’n boek speel ’n baie, baie belangrike rol, veral as dit vir klein kinders is wat nog nie kan lees nie.

Die voorblad veral moet ’n kind laat besluit of hulle graag die storie wil hoor!

Dit is só lekker om foto’s te sien van kinders met die boek voor hulle, wat die illustrasies geniet. Om iets blywends te kon skep wat kinders kan leer en inspireer.

Het jou uitkyk of ingesteldheid jeens gestremde kinders verander tydens hierdie projek?

Ek het nog altyd bewondering gehad vir mense, en veral kinders, wat voluit lewe ongeag hulle omstandighede en tekortkominge. Mense wat blom hoe en waar hulle geplant is.

Hierdie is ’n wonderlike geleentheid om kinders ook aan die wêreld van die gestremde bloot te stel. My kleindogter, Ava (3), wil net weer die storie “lees” van die dogtertjie wie se beentjies nie wou werk nie. So leer sy empatie, van looprame, rolstoele en hospitale, dat al jou maatjies se omstandighede en uitdagings verskil en dat as ’n mens hard werk, jou drome kan waar word. Sy leer dat almal nie dieselfde is nie, maar dat daar ’n plekkie vir almal in die wêreld is.

Is al die illustrasies waterverfwerke wat geraam iewers hang?

Dit is almal waterverfwerke, maar dit is in ’n lêer in my liasseerkabinet gebêre.

***

Die laaste woord is eintlik die skrywer se boodskap heel voor in die boek: “Hierdie boek word opgedra aan elke kind wat liggaamlike uitdagings het. Jy is uniek en kosbaar nes jy is. Moet nooit aan jouself twyfel nie. Drome kán waar word!”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top