Arbeidsgenot se miniboekefees

  • 0

CJ Langenhoven sou geglimlag het as hy op 28 Februarie 2026 weer in die tuin van Arbeidsgenot kon rondloop, of vanuit die ruimte daarna sou kon afkyk. Daar was mense wat onder bome op stoele gesit en lees het en talle ander wat tou gestaan het om kaartjies te koop vir die KKNK wat op 28 Maart 2026 begin.

Sou Neelsie ’n rukkie langer kon rondgehang het, sou hy ook lekker kon geluister het na tien Oudtshoorn-skrywers wat voorgelees het uit eie werk.

Boeke, lesers en skrywers vul weer Arbeidsgenot se erf

Om agtuur daardie oggend het ’n aantal boekliefhebbers in Arbeidsgenot se tuin gesit en lees. Die idee agter dié tuinsittery-met-boeke is nie toevallig nie.

Dit koppel Arbeidsgenot met die idee van ’n Silent book club, ’n beweging wat reeds in meer as 60 lande aktief is. Hannes Visser, die voorsitter van Oudtshoorn se Arbeidsgenot-komitee, wil Arbeidsgenot se tuin ’n plek maak waar mense gereeld so op ’n bepaalde uur op ’n bepaalde dag sal bymekaarkom om te lees.

Die lesery daardie oggend was hopelik die begin van groter dinge.

Om nege-uur daardie oggend is die Algemene Jaarvergadering van die Langenhoven Gedenkfonds in die Neelsie-teater gehou, waarna tien skrywers oor hul eie boeke kon gesels en daaruit kon voorlees. Die teater word deur Kunste Onbeperk, die maatskappy aan die stuur van die KKNK, bestuur.

Eunice Strydom, Andries Marais, Maretha van der Westhuysen, Susan Ongansie, Charmaine Beneke, Maritha Lamprecht, Stephan Henrico, Leon Coetzee, Kobus Minnie en Marcus Saayman was die tien skrywers wat opgetree het. Hannes Visser, wat alles gereël het, staan agter die skrywers.

In die teater is tafels staangemaak waarop die skrywers hul boeke kon uitstal. Boeke is ook te koop aangebied.

Hannes Visser, ’n skrywer uit eie reg, het die geleentheid gelei, maar het nie self oor sy boeke gesels nie.

Stephan Henrico was eerste aan die woord. Hy is ’n beroepsoldaat en het staaltjies uit sy lewe en sy loopbaan geboekstaaf. Hy is ’n goeie spreker en is ook baie lief vir CJ Langenhoven se werk.

Susan Ongansie het haar ondervinding in die klaskamer gebruik om haar eerste boek, Kattekwaad, te skryf. Dit is ’n kinderboek wat gerig is op jong lesers wat nie kon aanklank vind by ingevoerde kinderboeke nie. Haar tweede boek, Kruispad, is ’n roman vir volwassenes.

Marcus Saayman het self jare se ondervinding in die onderwys. Bruinmenskind is ’n verhaal oor donkerder tye in ons land se geskiedenis. Tog, sê hy, is dit ’n brugbouboek, nie een wat bloot konfronteer nie.

Charmaine Beneke is ontsettend lief vir kinders. Toe haar seun sukkel om te lees en te leer, het sy verskillende stories uitgedink om hom te inspireer om moeilike begrippe te kon verstaan. Daardie stories wat sy aan haar seun vertel het, sou uiteindelik die basis vorm van ’n reeks kinderboeke wat sy nou die lig laat sien het.

Leon Coetzee het eers op ’n laat ouderdom vir die eerste keer motorfiets gery, maar nou is daar geen keer meer aan hom nie. Hy het eendag van Deon Meyer se motorfietsstories aan sy vriende voorgelees. Hulle het dit waardeer, maar vra hom toe om ook van sy eie staaltjies te boekstaaf. So het hy sy eie wedervaringe begin opteken. Op dié wyse het Modder, klei en water ontstaan.

Maretha van der Westhuysen is lief vir die kortkuns en het al ’n aantal boeke geskryf. Haar kortverhale word gereeld op RSG voorgelees.

Andries Marais is ’n polisieman. Die groot vraag wat in sy boek bespreek word, is: Wanneer het iemand genoeg gedoen vir die gemeenskap?

Eunice Strydom is nie bloot ’n skrywer nie, sy is ook deel van ’n groep storiemakers wat gereeld bymekaar kom en mekaar in hul werk ondersteun. Sy is boonop ’n maatskaplike werker wat baie gesien en beleef het. Weens ’n vertrouenseed wat sy afgelê het, mag sy nie haar kliënte se stories met die publiek deel nie, maar sy kan karakters baseer op stories wat sy oor die jare gehoor het. Dit is hoe Só loop die storie gebore is.

Kobus Minnie is ’n fyn waarnemer wat gewone, alledaagse dinge met fyn humor beskryf.

Maritha Lamprecht is in België opgelei in die maak van sjokolade en het ’n sjokoladewinkel in Oudtshoorn bedryf. My affair met sjokolade, memoir van ’n chocolatier bied staaltjies uit haar ondervindings in die bedryf.

Kontakbesonderhede

Sewe van die tien skrywers wat opgetree het, is deur Turksvy uitgegee. Kontak gerus vir Marlene Malan by Turksvy om hierdie boeke in die hande te kry. Belangstellendes kan die webwerf besoek, of ’n e-pos stuur aan Marlene by marlene.turksvypublikasies@gmail.com.

Vir algemene navrae oor die werk van die Arbeidsgenotkomitee, kontak gerus vir Hannes Visser by info@kersligmedia.co.za.

Om meer te wete te kom oor Arbeidsgenot of die Langenhoven Gedenkfonds, kan belangstellendes die LGF se webwerf besoek: https://cjlangenhoven.co.za/.

Meer oor Arbeidsgenot, die Langenhoven Gedenkfonds en die Arbeidsgenot-komitee

Om die geleentheid aan die einde van Februarie te verstaan, moet ons terugloop in die tyd.

Vroutjie, CJ Langenhoven se weduwee, wat in 1950 oorlede is, het Arbeidsgenot aan “die volk” nagelaat in haar se testament. Die dilemma is dat “die volk” nie ’n regspersoon is nie. Wie is “die volk”? Om hierdie probleem op te los, is ’n maatskappy sonder winsbejag, bekend as die Langenhoven Gedenkfonds, of dan die LGF, gestig.

Die LGF se primêre doel is om Arbeidsgenot vir almal in Suid-Afrika in stand te hou.

Om fondse vir so ’n projek te in is altyd moeilik en uiteindelik het die direksie besluit om die teater wat op Arbeidsgenot se erf gebou is, te verhuur aan Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKNK bestuur.

Dit is ’n baie goeie, simbiotiese vennootskap.

Die LGF is ’n geregistreerde maatskappy en moet daarom aan sekere wetlike vereistes voldoen. Direksievergaderings en die hou van ’n AJV tel daaronder. Die lede van die direksie woon in verskillende dele van die land, en sommige reis ook gereeld oorsee vir werk. Gelukkig is die internet deesdae ’n manier om mense byeen te bring. Lede van die direksie kan dus inskakel en deelneem aan die vergaderings, al is almal nie in dieselfde vertrek of in dieselfde dorp nie.

Die LGF het ook verlede jaar met ’n aantal inwoners van Oudtshoorn samesprekings gevoer en ’n komitee is op die been te bring om Arbeidsgenot vars en relevant te hou vir die inwoners van die Klein Karoo. Onder leiding van die skrywer, koerantman, uitgewer en manuskripontwikkelaar Hannes Visser gedy die Arbeidsgenot-komitee.

Die LGF het dus gekies om hulle AJV deel te maak van die minileesfees wat die Arbeidsgenot-komitee op 28 Februarie 2026 gehou het. Die vergadering is in Oudtshoorn gehou, met van die direkteure wat aanlyn deel van die vergadering was.

Lees ook:

Afrikaans se amptelike status in Oudtshoorn gevier

Die veelrassige storie van Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top