
Titel: Waar oos en wes ontmoet
Skrywer: Carla van der Spuy
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781067234409
Carla van der Spuy is reeds ’n gevestigde naam in die joernalistieke wêreld, met ’n loopbaan wat oor 50 jaar strek. Sy is bekend vir haar nie-fiksieskryfwerk en het reeds agt boeke gepubliseer, waarvan sommiges topverkopers was.
Haar jongste boek, Waar oos en wes ontmoet, is ’n emosionele en kragtige verhaal oor liefde, kultuurverskille en volharding te midde van uitdagings.
Die boek vertel die verhaal van Dina Tseng en haar Taiwannese man, Tommy, wat mekaar gedurende die apartheidsera, ’n tydperk van politieke en kulturele ongeregtigheid, in Suid-Afrika gevind het en teen alle verwagtinge van ons samelewing ’n lewe saam opgebou het.
Hulle moes nie net rassevooroordeel en diskriminasie trotseer nie, maar ook enorme persoonlike en finansiële uitdagings oorkom. En tog, na meer as drie dekades is hulle huwelik steeds ’n toonbeeld van lojaliteit en liefde.
In hierdie onderhoud het Carla ’n paar persoonlike gedagtes gedeel oor die skryfproses, die boek se kernboodskappe en die realiteit van skryf as haar beroepskeuse.
Liefde wat nie verbleik nie
In ’n wêreld waar verhoudings al meer dikwels tydelik en broos is, is Dina en Tommy se verhaal van saamwees ’n voorbeeld van ’n huwelik wat die toets van tyd en die struikelblokke van ons hedendaagse tyd deurstaan het. Carla is diep geraak deur Tommy se aanhoudende bewondering vir sy vrou.
“Die feit dat hy na 33 jaar steeds die grond aanbid waarop Dina loop, is verstommend,” sê sy. “Ons weet nou al hoeveel huwelike in die skeihof eindig en hoeveel mense geriefshuwelike het en weens ekonomiese redes bymekaar bly. Maar hier sien ons ’n liefde wat nie net oorleef het nie, dit het mettertyd selfs sterker geword.”
Hierdie element van die verhaal gee ’n nostalgiese gevoel van ’n era waar liefde as ’n verbintenis gesien is, eerder as net ’n emosionele toestand wat kom en gaan. Dit bring ’n belangrike vraag na vore: Het ons in die moderne samelewing ’n “weggooi”-mentaliteit ontwikkel wanneer dit by verhoudings kom?
Vir Dina en Tommy was hul huwelik nooit net ’n romantiese verbintenis nie, maar ’n samewerkingsooreenkoms, ’n vennootskap gebou op wederkerige respek en harde werk. Hulle moes nie net teen sosiale en kulturele vooroordele baklei nie, maar het ook letterlik van niks af ’n sakeryk opgebou. Dit is hierdie element van hulle storie wat Carla die meeste getref het: Hoe hulle, ondanks al die uitdagings wat hul beleef het, steeds ’n lewe van oorvloed en sukses kon skep.
’n Lewensverhaal wat soos ’n drama voel
Vir Carla het Dina se lewe soos ’n sepie gevoel – “soos ’n telenovela,” sê sy. “Ek kan nie glo dat soveel dinge met een mens kan gebeur nie.” Dit is een van daardie verhale wat amper té buitengewoon klink om waar te wees, maar die realiteit is dat Dina se lewe regtig ’n reeks ongelooflike gebeure was – van diep hartseer en verlies tot groot oorwinnings. Van ’n liefdesteleurstelling waarvoor sy rampspoedige skokterapie ondergaan het, talle rampe wat hul ondernemings vernietig het, ’n vierde kankerstryd en om haar drie Taiwannese stiefseuns soos haar eie groot te maak en lief te hê.
Maar anders as fiksie, is hierdie storie gegrond in die werklikheid. Dit is ’n verhaal van harde werk en uithouvermoë ten spyte van en te midde van al die moeilike tye en hartseer. “Tommy en Dina se sukses het nie in hul skote geval nie; hulle het verskriklik hard daarvoor gewerk,” sê Carla.
Dit is juis hierdie element van menslikheid wat Carla in die boek goed beklemtoon het. Vir haar was dit belangrik om nie net die dramatiese oomblikke uit te lig nie, maar om die menslikheid van Dina en Tommy se reis vas te vang – hul vreugdes, hul stryd, hul drome en dan ook hul seer.
Die fyn lyn tussen storievertelling en waarheid
As ’n gesoute joernalis het Carla oor die jare ’n sterk gevoel van etiek en akkuraatheid ontwikkel. Sy glo vas dat wanneer mens ware lewensverhale skryf, daar geen plek is vir verdraaiing of fiktiewe feite nie.
“Wanneer mens ware lewensverhale skryf, is die gebruik en hou by feite ononderhandelbaar,” sê sy. Dit is iets wat haar skryfwerk sterk maak – die feit dat sy nie net ’n storie aanbied nie, maar ’n getroue dokument van mense se ervarings.
Hierdie verbintenis tot waarheid kan ’n uitdaging wees, veral in verhale waar emosie ’n groot rol speel. Hoe skryf mens oor pyn en trauma sonder om dit uit te buit? Hoe balanseer mens ’n goeie storie met respek vir die werklike mense waaroor dit gaan? Dit is vrae waarmee Carla voortdurend werk, en dit is juis hierdie benadering wat haar boeke ’n gewig en lewe gee wat min skrywers kan naboots.
Die realiteit van diversiteit
Waar oos en wes ontmoet dwing die leser om na te dink oor hoe ons in Suid-Afrika steeds met diversiteit worstel. Alhoewel ons ver gevorder het sedert die dae van rassebeperkings en vooroordele, is daar steeds grense wat nie maklik oorbrug word nie.
“Hoeveel vriende het jy van ander rasse?” vra Carla. “Net omdat jy in jou eie kringe beweeg, sluit jy dalk die hele wêreld buite toe.”
Sy vertel hoe sy tydens die skryf van haar boek Gangster op die Kaapse Vlakte met verskeie mense van ander kulture, rasse en agtergronde kennis gemaak het. “Ek het vir Stanley Jacobs ontmoet, ’n gemeenskapsleier en skrywer. Hy het my soveel fassinerende inligting gegee. Dit was vir my ’n insiggewende ervaring om met mense van ander kulture te gesels en hul lewens te leer ken.”
Hierdie perspektief is ’n belangrike een. Alhoewel ons in ’n diverse land leef, beweeg baie mense steeds hoofsaaklik in hul eie sosiale en kulturele kringe en borrels. Carla se boek bring ’n perspektief wat herinner aan die positiwiteit van verskillende ervarings en hoe ons mekaar beter kan leer ken.
’n Huwelik met iemand van ’n ander kultuur kan jou wêreld groter maak en jou lewe verryk.
Die skryfproses – ’n lewe van woorde
Na 50 jaar in die joernalistiek het Carla ’n sekere robuustheid ontwikkel. “Ek is al so lank in die bedryf dat ek makliker deur onderwerpe soos hierdie skryf,” sê sy. Dit beteken egter nie dat sy nie steeds krities is oor haar eie werk nie.
“Ek dink altyd ek kon beter gevaar het,” sê sy. “Partykeer skryf ek te lank, ander kere te kort. En soms besef ek net: Nou is dit tyd om die laaste punt daaragter te sit.”
Maar selfs met haar ondervinding, bly een aspek van skryf vir haar ’n uitdaging: om haar passie vir stories te balanseer met die realiteit van ’n inkomste. “Die skryf self is nie vir my moeilik nie, maar om boekskryf en vryskutwerk vir publikasies te balanseer om aan die einde van die maand die rekeninge te betaal is ’n ander storie.”
’n Verhaal wat ’n merk laat
Met Waar oos en wes ontmoet bring Carla van der Spuy ’n storie van geloof, hoop en deursettingsvermoë na die leser. Dit is ’n boek wat nie net ’n liefdesverhaal vertel nie, maar ’n dieper kyk na aspekte bied op menswees – op die drome, verlies en oorwinnings wat ons vorm. Want in die einde, soos Carla self sê, is dit die menswees wat saak maak.


Kommentaar
Dankie Carla en Dina vir die boek. Ek kan nie wag om hierdie interessante en grensverskuiwende ware verhaal te lees nie.
Waar Oos en Wes ontmoet is nou eerste op my lysie.