Die tragiese saak van Pamina Vermaak
Annie Klopper
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795708701
Tydens ’n middaguurgesprek, aangebied deur die Vereniging vir Afrikaansstudente (VER[r]AS) aan die Universiteit Stellenbosch, gesels Annie Klopper met Ryan Pedro oor haar debuutroman, Die tragiese saak van Pamina Vermaak. Sy vertel van die keer toe sy haar in die Afrikaanse afdeling van Wordsworth in Seepunt gevind het, en alhoewel sy boeke kon kry waarmee sy haar kon vereenselwig, was daar niks wat spesifiek op haar (en haar portuurgroep) gemik was nie. Dit was buitendien ’n baie smal rakkie: Annie Klopper is die Afrikaanse afdeling van die Wordsworth in Seepunt. Dis toe dat sy besef dat daar ’n leemte in die mark vir ’n lekkerlees-liefdesroman bestaan waarin sy en haar portuurgroep sal tuis voel.
Dit is hoekom niemand in hierdie roman “binnensmonds” swets nie. Die karakters sê “fok” wanneer hulle “fok” wil sê, want “gedoriewaar” het net nie dieselfde effek nie. Dis ’n vermenging van waarheid en fiksie, met rockmusiek en stereotipes wat vernuwende gevolge vir die romantiese komedie in Afrikaans het. Die roman benut die speelruimte wat bestaan binne die perke van die leser se vooropgestelde idees met die oog op die uitdaging van daardie idees. Oor die naam van haar hoofkarakter spot sy dat sy nog altyd gewens het dat haar van eintlik Vermaak was. Pamina Vermaak wyk af van die blonde-poppie-perfeksie wat so gereeld voorgeskryf word, en as karakter word sy gevorm deur omstandighede buite die cliché “white picket fence”. Pamina se eweknie, Wolf de Jager, spruit uit Annie se musiekverwysingsraamwerk (sy het Fokofpolisiekar se biografie, Biografie van ’n bende, geskryf).
Dit is interessant hoe daar wedersydse ontlening bestaan tussen waarheid en fiksie: die lede van Die Heuwels Fantasties en Fokofpolisiekar, wat kameerolle in die roman vertolk, het self kreatief bygedra tot die verloop van die verhaal. Hulle was, soos Annie hulle beskryf, haar klankbord met betrekking tot die eerlike uitdrukking van hulle fiktiewe handelinge. Hulle het nietemin belangrike bydraes gemaak in verband met die skets van ’n realistiese rocksterlewe.
Die grens tussen feit en fiksie word verder opgehef deur die multimodale aard van die roman. Ryan Pedro het opgemerk hoe hy onmiddellik die boek neergesit het om Wolf se liedjie, "Tyd om eerlik te wees", te soek wat op die meeste digitale musiekplatforms beskikbaar is. Die tragiese saak van Pamina Vermaak leef dus verder as die papier waarop dit gedruk is. Die konstante interaksie tussen feit en fiksie plaas weer eens klem op die outentieke aard van die roman, iets wat Annie, met verwysing na hip-hop, beskryf as “keeping it real”. Daarom “sing sy soos sy gebek is” en bied ’n eerlike uitdrukking van ’n verhaal wat sy met haarself as teikenleser geskryf het, en waarin lesers kan identifiseer met karakters wat praat soos haar portuurgroep, sukkel soos hulle, lief het soos hulle, en uiteindelik vrede maak met hulself en besef dat mens nie altyd so perfek hoef te wees soos wat hulle in die romcoms sê nie.
Kyk hier na ’n opname van die gesprek:
Lees ook:
Die tragiese saak van Pamina Vermaak deur Annie Klopper: ’n (musikale) onderhoud