Die tragiese saak van Pamina Vermaak deur Annie Klopper: ’n (musikale) onderhoud

  • 0

Die tragiese saak van Pamina Vermaak
Annie Klopper
Kwela
ISBN: 9780795708701

Annie Klopper gesels met Naomi Meyer oor Die tragiese saak van Pamina Vermaak

Annie, baie geluk met die verskyning van Die tragiese saak van Pamina Vermaak by Kwela! Jy is lief vir musiek, en jy weet ook baie daarvan. Wil jy eers hiervan vertel en daarmee saam: hoe het hierdie musiek jou storie beïnvloed?

Ek beweeg maar nog altyd binne die magneetveld van musiek. Ek het op die ouderdom van vyf geleer hoe om my ouers se platespeler te gebruik, hulle vinyls voos geluister. Ek onthou op tien het ek eenkeer van die skool af gedros om Los Lobos se cover van Ritchie Valens se “La Bamba” op repeat te kan gaan luister, nadat ek dit die vorige dag ontdek het ... van alle liedjies! Later, as tiener, het ek my eie vinyls begin versamel, veral classic rock.

In my twintigs het ek as musiekjoernalis oor die plaaslike musiekbedryf geskryf, saam met bands getoer en foto’s geneem. Die kulminasie daarvan was my eerste boek, Fokofpolisiekar se amptelike biografie, wat ook gevolg het op my meestersgraadstudie oor die literêre meriete van lirieke, met Fokof as gevallestudie. Ek dink nie ek sou so ver gestudeer het as dit nie vir my fassinasie was met die holy trinity van musiek-liriek-samelewing nie. Laasjaar het ek ’n PhD-studie oor Afrikaanse rap voltooi.

Dit sou dus seker bitter weird gewees het as musiek nie ʼn sentrale rol in my eerste roman gespeel het nie. Daarom is my een karakter, Wolf de Jager, ʼn musikant wat sukkel om ná ʼn one-hit-wonder en ʼn vernederende liefdesteleurstelling ’n nuwe tune te skryf. En die hoofkarakter, Pamina Vermaak, deel my obsessie met musiek – en my vinylversameling – ofskoon sy soms die lirieke van liedjies bietjie verkeerd saamsing.

Is die storie waarheid of fiksie? Wat is waar, wat het regtig gebeur?

Die gebeure is suiwer fiksie, maar ek het heelwat uit my ervaringsveld uit geneem wat die ruimtes betref. Van my studentedae op Stellenbosch, die lewe van my portuurgroep in Kaapstad – spesifiek die musiek- en mediawêreld – en van die Weskus, waarvandaan my familie is.

En jou karakters? Lewe hulle? Is hulle name dieselfde as in jou storie?

Pamina en Wolf is fiktief, en so ook hulle familie, aanhangsels en die meeste van hulle vriende. Maar ʼn paar van my tjommies uit die musiekbedryf was vriendelik genoeg om toe te stem dat ek hulle as karakters mag gebruik wat kameeverskynings in die boek kom maak, amper soos bekendes wat cameos in films doen. So jy sal fiktiewe rolle van ʼn paar lede van Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties raaklees, en nog ʼn paar vriende uit daardie milieu. Ek het ook name en sêgoed aan my Weskus-familie ontleen.

Op Facebook het jy 'n foto geplaas van hoe jy die storie geskryf het, meestal met 'n uitsig by die see. Het jy 'n klankbaan gehad terwyl jy die storie geskryf het? Wil jy van die liedjies deel?

Daar is ʼn “Pamina-playlist” wat die boek vergesel [sien heel onder] – dis musiek waarna ek geluister het terwyl ek geskryf het, of wat ʼn spesiale betekenis vir my het – darem nie “La Bamba” nie! Soos ek geskryf het, het liedjies waarna ek geluister het, sommer deel geword van die gebeure in die boek. Soos wanneer die een karakter beweer dat mens nie in ʼn slegte bui kan wees as jy luister na Paul Simon se “Call me Al” nie ... dis natuurlik my eie opinie.

Of wanneer Die Heuwels Fantasties se “Vinger alleen” vir Pamina ʼn geheel en al nuwe, besondere betekenis aanneem ...

Pamina en Wolf se paaie kruis as gevolg van musiek, op baie vlakke, en so word musiek intertekste in die boek. Die idee is dat jy ook daardie liedjies gaan opsoek en luister terwyl jy lees, en saam met die karakters daarna luister. Soos wanneer hulle ou rock ʼn roll-plate luister:

.

Hierdie liedjie van Nazareth, ʼn cover van ʼn Joni Mitchell-song, word ook dan ʼn interteks in Wolf se eie skryfwerk. Want, spoiler alert, Wolf skryf deur die loop van die boek ʼn nuwe liedjie, en lesers kan selfs ook dáárna luister. Dis nou op alle digitale musiekplatforms beskikbaar en is geskep deur Hunter Kennedy (Fokofpolisiekar, Die Heuwels Fantasties), Fred den Hartog (Die Heuwels) en Laudo Liebenberg (aKING) wat ʼn ongelooflike vertolking van Wolf in die liedjie doen. Wolf kry dus lewe in musiek, fiksie word feit! Dis dan ook die temalied van Die tragiese saak van Pamina Vermaak en is getitel “Tyd om eerlik te wees”, waarvan die woorde nuwe betekenis sal kry as jy die boek lees. "Tyd om eerlik te wees" is beskikbaar op Apple Music en iTunes. Klik hier om na ’n greep te luister.

Is die storie wat gaan verskyn die storie wat in jou kop was, of hoe het dit verander toe jy daaraan gewerk het? Wat was eenders, wat was anders?

Ek het altyd gedink skrywers praat stront as hulle sê karakters kry ʼn lewe van hul eie, maar ek het nou geleer dat dit waar is. Pamina en Wolf, en hulle basiese storielyn, het lank by my gespook, maar toe ek begin skryf, het die dinge om hulle vorm begin aanneem, wat ek nie noodwendig vooraf al in my kop gehad het nie. Soms het hulle my verras.

Om tussen my vriende en familie te sit en skryf, en idees rond te bons, het baie gehelp. Hulle was vir my goeie klankborde. Ek glo mens moet jou idees toets, simbiotiese kreatiewe konneksies koester, nie slegs in isolasie sit en tjommel nie. Veral wanneer jy in die dal van doodskaduwee kom wat jou kreatiwiteit betref. En ons almal bevind ons van tyd tot tyd daar.

Wie is jou ideale leser – hét jy so iemand?

Ek wou die tipe boek skryf wat ek en my vriende sal kan geniet. Ek is mal oor liefdesverhale, maar daar is dinge wat my hinder in sommige meer tradisionele Afrikaanse liefdesromans. Soos dat die hoofkarakters meestal net wit en straight is. Of dat die vroue se krisisse altyd veroorsaak – en opgelos word – deur mans, eerder as deur hulleself. Dat karakters nie imperfeksies het of vloek nie, maar slegs “binnensmonds swets”. Of dat die vrou altyd die een is wat verlei word, eerder as om seksuele agentskap te hê.

So my ideale lesers is oopkop, maar hulle moet ook lekker wil ontspan. Ek het hierdie boek geskryf as die ultimate summer-read, ʼn lê-op-die-strand-en-ontspan-boek; of ten minste hoop ek dit laat jou so voel.

Foto: Wouter du Toit

Jy het in Parys gaan trou – wil jy iets hiervan vertel?

In Mei het ek en my grootste romantiese held elope, ja. ʼn Paar weke voor ons vertrek na Europa het ek uitgevind ek is swanger. Omdat ons die troue grootliks ʼn geheim gehou het, lyk dit nou na behoorlik ʼn shotgun-wedding! Maar die waarheid is, ons wou net in mekaar se oë kyk en ons beloftes maak; ek is nie ʼn walk-down-the-aisle-voor-almal-tipe nie. My pa, ʼn predikant, het ons wel na die tyd wettig in die eg verbind met ons gesinne as getuies.

Jy het onlangs jou doktorsgraad gekry. Is daar enige oorvleueling tussen die doktorsgraad se uitkomste en die boek?

Die temas het niks met mekaar te make nie, maar ek het begin dink en timmer aan Pamina Vermaak toe ek besig was met my PhD-studie, as afwisseling van die ernstige akademiese skryfwerk. In daardie sin vul my akademiese en kreatiewe lewens mekaar aan. My kreatiewe werk word somehow aangewakker deur my akademiese navorsing, omdat ek dit so stimulerend vind. Dis immers navorsing oor hoogs kreatiewe mense in die musiekwêreld; dit inspireer my. Maar ek moet die akademie afwissel met ontspanning – soos Bittereinder rap oor die balans tussen dink en dans: “die masjien wil dans.”

Wat is jou gunstelingmusiek? Of waarvan hou jy niks nie?

Ek hou van musiek wat jou iets laat voel sonder dat jy eens regtig hoef te weet wat gesing word. En as die woorde jou selfs meer laat voel, as jy daarmee kan identifiseer, as die kunstenaar dit regkry om iets te sê wat jy voel, maar jy nie self kan artikuleer nie, is dit ʼn bonus.

Ek hou niks van jazz nie. Ek kan nie daarop inskakel nie, too much going on at once. Dis vir my soos ʼn storie sonder ʼn duidelike storielyn.

Wat is volgende – skryf jy aan nog iets?

Ek begin hopelik eersdaags met nog ʼn akademiese studie, oor rap op die platteland, en dan werk ek ook tans aan ʼn niefiksieboek, maar ek kan voel my volgende romantiese komedie begin al in my agterkop broei. Ek hoop maar daardie nuwe karakters kom ook met hulle eie tassies gevul met lekker juicy details.

Die volledige “Pamina-playlist”:

  Vinger alleen – Die Heuwels Fantasties
  Hemel op die platteland – Fokofpolisiekar
  Witchy woman – Eagles
  This flight tonight – Nazareth
  Walk of life – Dire Straits
  You can call me Al – Paul Simon
  Go Your Own Way – Fleetwood Mac
  Love me two times – The Doors
  Tyd om eerlik te wees – Wolf de Jager

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top