Andries van Aarde, voorheen professor in Nuwe Testament aan die Universiteit van Pretoria, het so pas 70 geword. Hy het ook onlangs twee lywige boeke van 865 bladsye by Cambridge Scholars Publishing gepubliseer waarin hy sy lewenswerk verwerk het: Jesus, Paul and Matthew (deel 1 en 2). Pieter GR de Villiers het ter viering van hierdie mylpale met hom gesels, en ook na aanleiding van Pieter M Venter se LitNet Akademies-artikel, “Wat hou dit in dat die Bybel ’n kanon is?”

Andries van Aarde (Foto: verskaf)
Spiritualiteit
My spirituele lewensreis het nie momentum begin kry op grond van ’n “bekering” in die sin dat daar ’n dag was dat ek Jesus as my saligmaker aangeneem het wat my koers in kerk en teologie wesenlik bepaal het nie.
Jy het jare lange ervaring as Bybelwetenskaplike wat studente aan die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria opgelei het. Vele van jou studente en kollegas het agting vir jou akademiese werk, wat ook by tye aandag van die algemene publiek getrek het. Jy is verder die redakteur van die teologiese tydskrif HTS (Hervormde Teologiese Studies) wat jy uitgebou het tot een van die invloedrykste wetenskaplike tydskrifte in ons land. ’n Belangrike mylpaal in en hoogtepunt van jou loopbaan is nou die onlangse verskyning van jou twee boeke by Cambridge Scholars Publishing met die titel Jesus, Paul and Matthew (deel 1 en 2). Hierdie boeke van 865 bladsye weerspieël jou dekades lange navorsing oor die Bybel. Vir jou deel die verskillende Bybelboeke die sleutelmotiewe van wysheid, geregtigheid en ontferming.
Kan jy elkeen van hierdie motiewe kortliks verduidelik en dan uitlê hoe Matteus en Paulus die motiewe elkeen op hul manier uitwerk? Waarom is dit belangrik om hierdie eie sieninge van Jesus se boodskap in gedagte te hou? Kan jy kortliks aan die begin van ons gesprek meer oor die boeke vertel en dan breedweg die inhoud op ’n toeganklike manier vir ons lesers saamvat?
Cambridge Scholars Publishing (CSP) het my versoek om in boekformaat aan te toon hoe my lewensreis my siening van God, Jesus en die Bybel mekaar beïnvloed het. CSP het die oorgang vanaf ’n prekritiese, meer fundamentalistiese siening na ’n wetenskaplike en kritiese teologie in gedagte gehad. Fundamentalisme was egter nooit deel van my lewe nie.
Ek onthou hoe ek as kerkjeugleier in my matriekjaar vir my maats in die kerklike jeugvereniging Karl Barth se Skrifbeskouing probeer verduidelik het. Hierdie insig was die gevolg van my lees van artikels in die Hervormde Kerk se nuusblad, Die Hervormer. Die Bybel is nie sommerso gelyk te stel aan “God se Woord” nie. My eerste formele BD-tesis in die teologiese studiejare het gehandel oor watter saligsprekinge in die Bergrede na Jesus teruggaan en watter waarskynlik nie. Hierdie tipe kritiese uitleg was deel van my mondering.
My spirituele lewensreis het nie momentum begin kry op grond van ’n “bekering” in die sin dat daar ’n dag was dat ek Jesus as my saligmaker aangeneem het wat my koers in kerk en teologie wesenlik bepaal het nie. Dit is eerder my konstante kritiese teologie wat ’n eksistensiële effek op my lewe in die kerk gehad het.

Andries van Aarde se boeke wat onlangs deur Cambridge Scholars Publishing gepubliseer is. (Foto: Nederduitch Hervormde Kerk van Afrika)
Wat die twee CPS-boeke betref, het ek besluit om omtrent 60 relevante publikasies uit my wetenskaplike oeuvre te verwerk en by te werk. Hierdie seleksie is gepubliseer in twee omvattende volumes van meer as 400 bladsye elk: Jesus, Paul and Matthew, Volume 1: Discontinuity in content, Continuity in substance en Jesus, Paul and Matthew, Volume 2: To and from Jerusalem.
Die eerste volume val breedweg in vier dele uiteen: my hermeneutiese lens, my konstruksie van die historiese Jesus, my verstaan van Paulus en my interpretasie van Matteus. In die tweede volume bied ek bepaalde perspektiewe wat uiteen val in sketse wat parallelle trek tussen Jesus die Galileër en die vaderlose mitiese held Perseus, die seun van Zeus volgens die Griekse skrywer Ovidius; tussen die apostel Paulus en die Latynse skrywer Seneca oor God se aanneming van kinders sonder dat biologiese herkoms ’n rol speel; tussen rabbi Matteus en die Stoïsyn Plutarchus oor deernis vir die armes wat nie weet waar hulle hulle kop in die aand sal kan neerlê en rus nie.
Hoofstuk 5 van die tweede volume fokus op die relevansie daarvan dat die gemeenskap van Jesus-volgelinge nie deur biologiese belange beheers word nie. Ten slotte volg ek die goue draad vanaf Jesus na Paulus na Matteus, en daarvandaan na die gemeenskap van Jesus-volgelinge. Die kern is die teologiese motief teosis wat verwys na ’n bepaalde spiritualiteit: Jesus en Jesus-volgelinge se diep bewussyn dat God binne-in die broos en verganklike menslike bestaan teenwoordig is. Toe ek agt jaar oud was, het ek op kinderlike wyse hiervan bewus geraak en ek is nou op 70 steeds diep daarvan bewus.
My lewensverhaal vorm die laaste hoofstuk van die tweede volume. Ek beskryf my lewensverhaal in terme van Jesus se reis van Galilea na Jerusalem, soos die Duitse teoloog Michael Wolter dit voorstel. Jesus is nie “op pad” soos die rigting wat ’n GPS aandui nie. Jesus se reis is “kruis en dwars” – na en vanuit alle windrigtings in Galilea. Dit eindig op Golgota. In Duits, irgendwohin unterwegs, op weg na êrens. Dit is hoe die Gees van God werk. Die wind waai waar die wind wil.
Die tweede volume se subtitel, “Na en vanaf Jerusalem”, word in outobiografiese notas “the road from Pretoria to Emmaus passing by Jerusalem”. Ek noem dit ’n “journey on a surpassing road”.
Emmaus verteenwoordig die gemeenskap van vrou en man met die opgestane Jesus wat terselfdertyd die gekruisigde Jesus is. Op die buiteblad van volume 1 is die Spaanse kunstenaar El Greco se skildery van die kruisiging wat ekstase te midde van lyding uitbeeld. Volume 2 se buiteblad is die Spaanse kunstenaar Maximino Cereso Barredo se maaltyd in Emmaus van drie reisigers van Jerusalem. Die onbekende vrou is aan Jesus se regterkant en die man, Kleopas, aan sy linkerkant.
Benewens die reis Jerusalem–Emmaus–Jerusalem het ek met die uitdrukking surpassing road ook Paulus se drie pilare van spiritualiteit in 1 Korintiërs 13 in gedagte: Geloof, Hoop, Liefde. Ek ruil dit uit met die pilare Wysheid, Geregtigheid, Deernis. Die publikasie van hierdie twee onlangse boeke vorm deel van die oortreffende, verwonderingwekkende reis.
Albei volumes beeld die veelkleurigheid en veelvormigheid van die vroeë Christendom uit. Ek wys op die rol wat die Gnostiek en die Ebioniete gespeel het. Die eerste groep het op grond van “biopolitiek” beswaar gehad teen ’n godsdienstigheid waar die eenheid God-en-mens in aardsheid en wêreldsheid verwesenlik word – dat God in en deur Jesus van Nasaret mens soos ander mense geword het. Hulle antwoord is eerder om aan die wêreld te ontsnap. Die Ebioniete het weer juis geglo dat egte godsdienstigheid slegs binne die biologiese verwantskappe van wêreldlinge sinvol kan wees.
Beide hierdie geloofsoortuigings het vroeg in die kerkgeskiedenis verdwyn, maar elemente daarvan kom tog later onverwags na vore. Huidige tendense van interreligiositeit kweek “gnostiese” affiniteit. Die opkoms van die “nasiestaat” in die 18–19de eeu en die huidige tydsgees van populisme dra daartoe by dat nasionalismes, rassisme en geweld teen minderhede, vroue en kinders in “biopolitiek” herlewe.
Volgens antropoloë het die evolusie van die bewussyn van goddelikheid 50 000 tot 10 000 jaar gelede met die sogenoemde kulturele big bang begin. Ek verwys hierna as die “tweede oerknal”. Homo sapiens het in Euro-Asië, Australië, Siberië, Japan en die Amerikas gevestig. In 2017 is spore hiervan by homo naledi in die “begraafplaas” in die Dinaledi- en Seledi-grotstelsel suidwes van Swartkrans in die omgewing van die “Wieg van die mensdom” gevind. Met die “tweede oerknal” begin die ontwikkeling van menslike bewussyn, rasionele intelligensie, kreatiewe, artistieke en religieuse simboliek. Dit gebeur deur middel van entoptiese (van Grieks ἐντός, "binne", en ὀπτικός, "visueel") verbeelding en taligheid. Die eerste oerknal was 13,8 miljard jaar gelede. Paleonteologie, die studie van prehistoriese en hominiede spesies, bring die spiritualiteit waarby ek aanklank vind, in skerp reliëf – sowel wat tyd as ruimte betref.
My bewussyn van die goddelike is op die Nuwe Testament gegrond. Dit is ’n spiritualiteit wat moeilik in rasionele terme met taal beskryf kan word. Dit is ’n soort hoop op “oneindigheid” wat nie vervul word nie. Hierdie aanhoudende verlange help om sin te maak van ’n lewe vasgevang in tydelikheid en ruimtelikheid, ’n lewe waar blydskap deur seerkry verdof en elke trauma ’n skadukol is van die onontwykbare dood wat die lewe finaal sonder ’n hiernamaals beëindig.
Kom my siening op “naturalisme” neer? Ek moet erken ja. Maar “antimetafisika” is dit nie! Die voortdurende herinnering aan die dood en lewe van Jesus van Nasaret maak dat die gekruisigde Jesus vir my terselfdertyd ook die opgestane Here is, soos uitgebeeld in El Greco se ekstase te midde van lyding. Die volgorde dood en dan lewe is intensioneel. Sterwe om te lewe. Jesus het gesê dat die mens wat bereid is om ter wille van Jesus en sy evangelie te sterf, sal lewe.
In my poging om op die voetspore van Jesus te loop, is ek konstant bewus van God in my lewe, in ander se lewens, asook in die natuur. Dit is ’n diep en innige afhanklikheidsgevoel. Dit spoor my aan om bepaalde morele keuses te maak en hoopvol te lewe en lief te hê binne-in ’n werklikheid wat dikwels deur meer hartseer as vreugde gekenmerk word. Om Jesus te volg bring mee dat ek ook my eie immoraliteit raaksien en skaam is daaroor. Jesus is vir my die Urbild en die Vorbild van my lewe.
Van al die baie spiritualiteite spreek dié van Jesus in die Nuwe Testament en dié in vroegkerklike ortodoksie en ekumeniese belydenisse my die meeste aan. Ek verwys na hierdie stroming as die Nuwe Testamentiese Christenheid. Dit vertoon ’n groot verskeidenheid. “Registers van herinneringe” en mondelinge oorlewerings vind skriftelik uitdrukking. Die geskrifte het evolusionêr van mekaar, in mekaar en los van mekaar ontwikkel. Van hulle het deel van verskillende kanonlyste geword. Te midde van dit alles het die kern dieselfde gebly. Die kern vorm ’n ellips met twee brandpunte. Die een pool is die rol wat die kruisiging en opstanding van Jesus vervul het. Die ander pool is die getuienis dat Jesus “een in wese” met God is in die sin dat die goddelike wysheid die historiese Jesus deurdring het soos hitte deur ʼn rooiwarm stuk yster gloei. Die Jesus-volgeling deel hierdie bewussyn van God. Die goddelike word in die menslike geabsorbeer totdat wat menslik is, doodgaan.
In Jesus se lewe het hierdie “wysheid” in goedheid en deernis uitdrukking gevind. Dieselfde wysheid lei Jesus-volgelinge tot vandag toe tot ’n lewe van radikale inklusiwiteit. Hierdie etos is gegrond in God se geregtigheid, veral teenoor die gemarginaliseerdes in die samelewing. Jesus se koninkryksetiek getuig daarvan. Paulus se “nuwe skepping”-teologie en Matteus se Immanuel-motief getuig daarvan. In Athanasius se “ortodokse” leer in die vroeë kerk vind dit uitdrukking in die “een in wese Triniteit”.
In my Cambridge-boeke verwys ek daarna dat reeds vroeg in die geskiedenis van die teologie die Nederlander Willem van Manen en sy volgelinge die bestaan van ’n historiese figuur soos Jesus van Nasaret ontken het. Volgens hulle was Paulus die “stigter” van die Christelike kerk. Saam met teoloë soos Friedrich Schleiermacher en Rudolf Bultmann aanvaar ek dat die wysheid van God ’n historiese feitelikheid as basis het. Jesus van Nasaret was werklik ’n historiese figuur. Hy is op grond van sy subversiewe verkondiging en koninkryksetiek gekruisig. Friedrich Nietzsche en Sigmund Freud, onder andere, het van die Christendom afskeid geneem omdat die skerp verskille in die Nuwe Testament, veral tussen die “onskuldige” Jesus en die “skuldige” Paulus, volgens hulle die geloofwaardigheid van Christene se spiritualiteit ondermyn. Matteus staan weer vierkantig teenoor Paulus se “wetvrye” verkondiging en eis gehoorsaamheid aan Israel se wette tot selfs elke jota en tittel.
Jesus was wel nie self die “stigter” van die “kerk” nie. Hy het eerder die waardes van God se koninkryk vergestalt. Die begrip koninkryk is ook nie deur Jesus self “uitgedink” nie. Dit is ’n erfenis van veral die Stoïsynse filosoof Epictetus. Hy was ’n gestremde wat eers ’n slaaf in keiser Nero se huishouding was. Epictetus het die idee van sy mentor, Musonius Rufus, bekend as die “Romeinse Sokrates”, oorgeneem. Die begrip koninkryk van God was ’n alternatief op Aristoteles se stadstaatideologie wat gebaseer was op hiërargie, arrogansie en die verdrukking van die geringes van die samelewing.
Die etiek van God se koninkryk sluit kinders, slawe, vroue, verarmdes en nederiges nie uit nie, maar skep juis ruimte vir hulle. Jesus se etos beliggaam hierdie etiek. Dit staan by Paulus en Matteus bekend as “God se geregtigheid”. Matteus verwys na Jesus as “wysheid” en sy deernis as “werke van geregtigheid”. Paulus sê God se wysheid is dwaasheid vir die wêreld. Dit is die kerk se roeping om die etos van Jesus uit te lewe. Die kerk vorm ʼn familie in metaforiese sin. In God se huishouding is biopolitiek onbelangrik. Almal, sonder aansien des persoons, ongeag herkoms, geslagtelikheid of ouderdom, het direkte toegang tot God.
Pauliniese navorsing voor en ná die16de-eeuse kerkhervorming het “die geregtigheid van God” beskou as die kern van Paulus se denke. Ek meen dat Martin Luther se klem op geregtigheid eintlik ’n etiese oortuiging is. Paulus behoort so verstaan te word dat die mens wat “geregverdig” is, lewe op grond van God se geregtigheid. Die uitleef van hierdie wysheid van God het Jesus lynreg teenoor die konvensionele leer van die Jerusalemse tempelowerhede en teenoor die Romeinse imperiale mag (gebaseer op die hiërargiese stadstaatideologie) te staan gebring. Hiervoor is Jesus op brutale wyse gekruisig. Sy dood getuig egter van sy lewe op grond van God se geregtigheid.
Paulus se teologie is gebou op die kruisiging en opstanding van Jesus. Dit vra van die mens om die “ou lewe” af te sterf en as ’n “nuwe skepsel” saam met Jesus “op te staan” en te lewe asof daar geen hegemonie en hiërargie bestaan nie, byvoorbeeld ten opsigte van mense van ’n ander nasionaliteit of geslagtelikheid. Ook hierdie radikale inklusiwiteit is gegrond in Stoïsynse filosofie. Die kern daarvan word teruggevind in Matteus se deernisvolle gesindheid teenoor geringes, biologiese minderhede, kinders en armes. Matteus is derhalwe nie die een wat verskil of afwyk van Paulus se verkondiging oor God se geregtigheid nie – dit is daardie (deutero-Pauliniese) skrywers in die Nuwe Testament wat opportunisties Paulus se naam gebruik. Met hulle konvensionele kodes – ontleen aan die heteronormatiewe konvensies van die hiërargiese samelewing – baan hulle die weg vir nuwe norme wat opnuut die onderdanigheid van vroue en slawe aan sogenaamde “meesters” vereis.
Hierdie afwyking en vervreemding van die historiese Jesus se koninkryksetiek vind vandag opnuut weer ’n bedding om in te groei en uitwasse in voort te bring. Dit word gesien in nasionalismes wat wêreldwyd herontwaak en in eksklusivistiese populisme in politiek en kerk – verberg agter elitisme, manlike dominansie en hegemoniese diktatuur. In die twee volumes wou ek met ’n wye verskeidenheid temas die klem terugbring na God se wysheid, geregtigheid en liefde. Ek vind hierdie wysheid in die lewe van die historiese Jesus, die apostel Paulus en die rabbi Matteus. My lewensbydrae word afgesluit met my persoonlike reis in die kerk waarin ek vertel van die pyn en vreugde wat die vashou aan hierdie goddelike wysheid meebring.
Skrifbeskouing
Wat nodig is, is ’n hermeneutiek van suspisie. Dit is soms nodig om teen die grein van die Bybel te lees en ook op die kansel die kerk en Bybel met behulp van die “relevante” dele in die Bybel te dekonstrueer.
Jy skryf aan die slot van hierdie boek dat jy ’n multidimensionele benadering tot die Bybel het. Vir jou is die Bybel die meditatiewe boek van gelowiges, die gesaghebbende boek vir die Christelike geloofsgemeenskap en die boek wat deur teoloë nagevors word. Hierdie drie oorvleuel met mekaar, maar is duidelik ook verskillend van mekaar. Maar al drie hierdie benaderings roep vrae op oor die rol van die Bybel daarin. Die gelowige wat oor die Bybel mymer en die geloofsgemeenskap wat hul op die Bybel beroep, stuit dikwels teen sekere dele van die Bybel. Hoe byvoorbeeld moet ’n mens die “gesag” van die Bybel verstaan in die lig van sy donker kante? Deur die eeue heen het kerke Bybelverse gebruik om met gesag onder andere slawerny te regverdig (Filemon), die evolusieleer te bestry (Genesis 1–2), vroue uit die amp te hou en egskeiding te veroordeel. Omdat hierdie siening vir vele vreemd was, het dit nie net hulle siening van die gesag van die Bybel ondermyn nie, maar dit het ook die gesag van die kerklike leiding bevraagteken.
In sy onlangse artikel in LitNet Akademies bespreek Pieter Venter hierdie bekende beskrywing van die Bybel as “kanon”. Uit navorsing oor die Bybel as kanon word dit duidelik dat kerke oor die wêreld heen verskil oor watter boeke in die Bybel hoort. Die meeste Protestante hou vas aan 69 boeke, maar sommige kerke, soos die Rooms-Katolieke kerk, voeg “apokriewe” boeke (deuterokanonieke boeke) by. Maar voorts word sommige boeke in die Bybel minder geag of selde uitgelê, ook onder Protestantse geloofsgemeenskappe. Dit sluit boeke in soos Openbaring met sy donker taal, Ester wat nie een keer God noem nie, en Jakobus wat ’n werkheiligheid sou leer, soos die Reformatore gedink het.
En, ook belangrik: Deesdae vra mense al hoe meer vrae oor die inhoud van die Bybel wat die gesag daarvan grondiglik bevraagteken. Verlede week lees ek oor iemand wat skryf dat sy nie meer die Ou Testament vir haar kinders lees nie omdat daar soveel geweld in is, oa hoe volke deur Israel bloediglik uitgeroei is. Ek self het verlede week nog teruggeskrik van die verhaal in Numeri 15:32–36 oor die Here wat die volk beveel het om ’n man dood te maak omdat hy die Sabbatgebod oortree het toe hy stokkies opgetel het en nie gerus het nie. Ek is self terdeë bewus van hoe uiters gewelddadig die boek Openbaring is waarin oortreders met die verskriklikste strawwe van die hel gedreig word. En wie ken nie die berugte Psalm 137 met die opmerking: “Gelukkig is hy wat jou babatjies gryp en teen ’n klip verbrysel” nie.
Hoe beïnvloed sulke gewelddadige dele ’n mens se siening oor die “gesag” van die Bybel? Hoe “mediteer” kerkmense oor die Bybel se gewelddadige dele, om jou een siening oor die rol van die Bybel te noem? Hoe kan ’n mens die Bybel as gesaghebbend beskou terwyl dit soveel willekeurige geweld bevat? Dit word veral ’n akute vraag omdat ons leef in ’n maatskappy wat toenemend gewelddadige outoritêre gesagsdenke dekonstrueer. En uiteindelik is teoloë vandag eerlik genoeg om nie net die Bybel se goeie boodskap te ondersoek nie, maar ook die harde kante daarvan uit te wys en krities te ontleed.
Tydens my loopbaan het ek in twee artikels oor die gesag van die kanon geskryf: in 2001 in die huldigingsbundel aan professor Gert Pelser en in 2017 in die huldigingsbundel aan professor Pieter Venter. Die Cambridge-boeke gee weer daaraan aandag. In volume 1 verwys ek na Paul Tillich se 1996-boek The relevance and irrelevance of the Christian message.
Ek is dit eens met sy waardering vir die “profetiese skerpheid” van die appèl van die evangelie. Hy sien die Bybel egter nie as “klippe wat vanuit die hemel op ons neerreën” nie. Bybelse uitsprake wat mense in hulle stryd om te oorleef, lief te hê en te droom in ’n wêreld wat vir hulle sinvol is, seermaak, is eenvoudig irrelevant. In volume 2 verwys ek na Tillich se 1987-boek The courage to be. Weer eens kom my standpunt met syne ooreen. Die “moed van die protestant” is om nie te huiwer om van kerk en Bybel te verskil wanneer die kerk met behulp van die Bybel die liefde van Jesus teëspreek nie. Beteken dit dat die “irrelevante” dele uit die Bybel uitgehaal moet word? Beteken dit dat die kerk as instituut gegroet en agtergelaat moet word?
Nee. Wat nodig is, is ’n hermeneutiek van suspisie. Dit is soms nodig om teen die grein van die Bybel te lees en ook op die kansel die kerk en Bybel met behulp van die “relevante” dele in die Bybel te dekonstrueer. Dit is jammer dat hierdie dekonstruksie dikwels meer in publieke teologie as in kerklike teologie aangetref word. Die evangelie word soms meer in films gesien as wat dit op die kansel gehoor word. Dit bevestig my oortuiging dat die kerk nie alleenreg op die evangelie het nie.
Maar dit is nie net die kerk as instelling wat die Bybel se gesag met skadelike gebruik ongeldig kan maak nie. Ook die publiek kan dit doen. Die mens op straat wat met ’n naïewe meditatiewe spiritualiteit die Bybel soos ’n magiese “toorboek” gebruik of as ’n stok om ander mee te slaan, kan dit doen. Ons glo nie in die Bybel nie. Ons glo in God. Daarom kan kerk en publiek baat by ’n teologie wat die Bybel met wetenskaplike verantwoordbaarheid gebruik. My pleidooi is dat ’n meerdimensionele Bybelbeskouing individuele spiritualiteit, kerklik-kollektiewe spiritualiteit en rasionele spiritualiteit, gekenmerk deur ’n “tweede naïwiteit”, mekaar sal aanvul.
Kanon agter kanon
Die Jesus-saak is vir my die kanon agter die kanon. Die bestaan van ’n verskeidenheid van óf Jesus-profiele óf evangelievertellings maak nie hierdie benadering ongeldig nie.
Die gesag van die Bybel is ’n moeilike kwessie omdat dit ’n boek met ’n antieke geskiedenis is. Een van die gewilde uitsprake by kritici van die Bybel is dat dit ’n boek vol stories, sprokies en legendes uit ’n premoderne tyd is en as outydse boek nie in ’n moderne tyd gesag kan hê nie. Jy het in jou loopbaan belangrike ontwikkelinge in ons verstaan van die Bybelse verhale meegemaak. Daar was in die afgelope dekades al hoe meer aandag vir die historiese, sosiopolitieke konteks van die Bybel, veral omdat dit ’n mens se verstaan van die Bybel ingrypend bepaal. Dit het duidelik geword dat ’n mens nie sommer die Bybel sonder konteks kan uitlê soos dit vir lank gedoen is nie.
Jou werk oor die historiese Jesus is ’n goeie voorbeeld van hierdie benadering. Dit het ook in afgelope tye deur hierdie ondersoek duideliker as ooit geword waarom daar soveel verskillende Bybelboeke, soos vier evangelies, is. Hulle het duidelik elkeen ’n eie siening van wie Jesus was, afhangende van die konteks waarin die boeke ontstaan en geskryf is. In jou boeke wys jy byvoorbeeld op hoe Bybelskrywers soos Matteus en Paulus van mekaar verskil en elkeen op hulle manier ’n eie boodskap het. Soos Albert Schweitzer in sy oorsig oor die Jesus-navorsing uitgespel het, word die toneel boonop verder komplekser omdat latere lesers van die Bybel soveel verskillende sienings het van hoe Jesus in die Bybel verstaan word. Die historiese ondersoek van die Bybel het hierdie verskille tussen lesers van die Bybel duideliker as ooit gemaak.
Hoe kan ’n “gewone” leser van die Bybel nou sin van al hierdie verskillende Jesus-beelde en interpretasies van die Bybel maak? Is dit moontlik om die verskillende interpretasies in en van die Bybel as iets positief te sien?
Daar is mense, ook Bybelwetenskaplikes, wat die veelheid van Jesus-profiele soos deur historiese-Jesus-navorsers gekonstrueer, as ’n “wetenskaplike swakheid” beskou. Dikwels kan hierdie selfde mense wel die veelkleurigheid van die verskeidenheid interpretasies van die evangelies as positief waardeer. Ek sien nie waarom die een tipe verskeidenheid as ’n “swakheid” en die ander tipe as “rykdom” getipeer sou word nie. Ek is nie ten gunste daarvan om die evangelievertellings te probeer harmonieer of om ’n bepaalde Jesus-profiel te verkleineer nie.
In die boeke gee ek ’n oorsig oor die verskillende Jesus-profiele. Ek wys ook op die verskillende kanons in die Christelike kerk. Ek wou die “monokulturele” perspektief deurbreek en aantoon dat daar buite Wes-Europa ander kanonvoorkeure en Jesus-profiele bestaan. In die boeke demonstreer ek dat hoewel daar ’n inhoudelike diskontinuïteit tussen Jesus, Paulus en Matteus is, daar tog ’n saaklike kontinuïteit tussen hulle bestaan. Dit is soortgelyk met die verskeidenheid Jesus-profiele. Ek toon ’n minimum konsensus, ’n saaklike kontinuïteit, tussen historiese Jesus-navorsers aan. Dieselfde geld vir die verskeidenheid kanons.
Ek sluit aan by die Duitse Nuwe Testamentikus Willi Marxsen, wat weer by Martin Luther aanknoping vind. Om te kies vir sekere dele in die Bybel, is om die kanon te reduseer met ’n “kanon in die kanon”. Ek verkies ’n “kanon agter die kanon”-benadering. Die Jesus-saak is vir my die kanon agter die kanon. Die bestaan van ’n verskeidenheid van óf Jesus-profiele óf evangelievertellings maak nie hierdie benadering ongeldig nie. Die Jesus-narratief bevat die blye tyding van God se wysheid, geregtigheid en deernis. Die Jesus-narratief, oftewel die Jesus-saak (in Marxsen se Duits die Sache Jesu), het vir my goddelike gesag, waar dit ook al voorkom (die “Sache Jesu geht weiter”): in die Ou Testament, in die Nuwe Testament, in kerklike belydenisskrifte, in niekanonieke geskrifte, in beeldende kuns, film, letterkunde, in watter kerklike denominasie, godsdiens of spiritualiteit ook al. Solank ons die moed sal hê om die “irrelevante” van die “relevante” te onderskei.
Historiese Jesus
Ek vind nie by die Ratzingerskool aansluiting nie vanweë ’n té onkritiese kanonbeskouing. Dit geld egter nie van ander ontwikkelings nie.
Jy is tot nou toe veral bekend vir jou boek Fatherless in Galilee, wat in 2001 verskyn het. Jy het toe ’n besondere belangstelling in die historiese-Jesus-navorsing gehad. Dit was in die tyd van die Jesus Seminar wat opspraak verwek het en twyfel by sommige mense oor die betroubaarheid van die Bybel geskep het.
Waar het hierdie belangstelling vandaan gekom en kan jy kortliks verduidelik hoe jy die historiese Jesus verstaan? Hoe het jou werk oor Jesus se “vaderloosheid” jou geloof en jou uitleg van die Bybel bepaal? En, ten slotte, het jou siening oor die historiese Jesus na die skryf van daardie boek in 2001 verder ontwikkel?

Andries van Aarde se Fatherless in Galilee (Foto: verskaf)
In my loopbaan as eksegeet het ek verskillende uitlegmetodes toegepas. My belangstelling in struktuuranalise het tereg gekom in my MA-studie in Aramees en ander Semitiese tale. Narratiewe kritiek (poststrukturalistiese narratologie) in eksegese het uitgemond in my DD-proefskrif. My belangstelling in antieke kultuurgeskiedenis het uitgeloop op ’n PhD-graad. Met behulp van sosiologiese en sosiopsigologiese modelle het ek ’n mite-teorie ontwerp. My jare lange belangstelling in antieke Grieks het uitgeloop op ’n DLitt-graad waarin ek die mite-teorie toegepas het. Die produk was my vertaling en eksegetiese kommentaar op geskrifte oor die Tomas-tradisie.
Historiese kritiek was deurlopend vanaf my teologiese vormingsjare deel van my benadering. Vanaf my eerste jaar as dosent in die Nuwe Testamentiese Wetenskap in 1979 het ek aandag gegee aan die verskillende eksegetiese metodes van die historiese kritiek. As dosent in Grieks was tekskritiek, een van die histories-kritiese metodes wat die evolusie van manuskripoorlewering bestudeer, deel van my taak. Histories-kritiese eksegese van die Nuwe Testament fokus op die evolusionêre wording van strata van tradisie soos deur die volgelinge van Jesus oorgelewer. Só ’n fokus sal noodwendig erns maak met die eerste stratum wat teruggaan na die historiese Jesus en dit onderskei van die strata wat daarna ontwikkel het.
Op internasionale terrein was en is dit nie net die Jesus Seminar wat op historiese-Jesus-navorsing fokus nie. Die elite-vakvereniging Studiorum Novum Testamenti Societas (SNTS) sowel as die Society of Biblical Literature (SBL) het historiese-Jesus-seminaarstudiegroepe. Hoewel ek reeds sedert die 1980’s aktief by hierdie vakverenigings betrokke was, was my Matteus-navorsing spesifiek by die SNTS en SBL in die fokus. In die kring van die Jesus Seminar en die Context Group het ek oor twee dekades enorm baie van hoogaanstaande Bybelwetenskaplikes geleer. Met die finansiële hulp van die Nasionale Navorsingstigting (NRF) kon bekende wetenskaplikes uit die geledere van die Jesus Seminar en die Context Group Suid-Afrika besoek: Marcus Borg, John Dominic Crossan, Carolyn Osiek, Glenna Jackson, Bruce Malina, John Elliott, Jerome Neyrey, John Pilch en Dennis Duling.
Fatherless in Galilee is in 2001 gepubliseer. Sedertdien het Joseph Ratzinger, ook bekend as pous Benedictus XVI, tussen 2005 en 2013 aan Jesus-studies aandag gegee. Ek vind nie by die Ratzingerskool aansluiting nie vanweë ’n té onkritiese kanonbeskouing. Dit geld egter nie van ander ontwikkelings nie. Verskerpte fokus op die rol van “registers van historiese herinneringe”, asook die sosiologiese rol van “transformasie-agente” in Jesus-tradisie-oorlewering en die sosiopsigologiese ondersoeke na historiese persoonlikhede soos Jesus van Nasaret en die verskynsel van “vaderloosheid” in die antieke wêreld, is van die aangeleenthede wat in die navorsing aandag kry.
My eie fokus, die raakpunte tussen Jesus en Jesus-volgelinge wat die Jesus-tradisie op skrif gestel het, het in die twee Cambridge-boeke uitgemond. Ek meen ek het die insigte vanuit die ontwikkelings ná 2001 in dié boeke verreken.
Politiek
My deelname aan die Jesus Seminar was in Suid-Afrika een van die redes dat ek van kettery beskuldig is.
’n Mens kan die gesag van die Bybel ook vanuit ’n politieke hoek bekyk: Gewoonlik word gesê dat die Hervormde Kerk teologies progressief was, maar polities konserwatief. Die klousule van die kerk wat lidmaatskap tot blankes beperk het, word as sprekende voorbeeld genoem.
Dit is egter boeiend dat van die kerk se mees begaafde teoloë as kritici van rassisme uitgestaan het. Ek dink aan mense soos Albert Geyser, Jimmie Loader, Ernest van Eck en jy self. Tog was hulle omstrede en is soms heftig aangeval en selfs vervolg. Dit is uiteraard ’n vraag hoe die Bybel gesag kan hê as daar in ’n betreklik klein kerk sulke duidelike verskille in die verstaan van die Bybel is. Dit is natuurlik ook waar van ander kerke en kwessies, soos bewys word met kerke se sienings oor die vrou in die amp en minderheidsgroepe soos die LBQTG-gemeenskappe.
Watter rol dink jy het die Bybel as gesaghebbende boek van geloofsgemeenskappe in hierdie sake gespeel? Hoe dink jy behoort ons vandag in ons anti-outoritêre tye oor gesag te dink?
Vir bykans 30 jaar word my denke soos dit neerslag gevind het in talryke publikasies, in sommige kringe in Suid-Afrika as omstrede gebrandmerk. My “sosiale teologie” en Bybelverstaan is vir sommige te onortodoks en vir ander selfs dwaalleer. Ek het egter nog altyd volgehou dat ek nie van die kern van die “ortodoksie” afwyk nie. Die tweede laaste hoofstuk van volume 2 sentreer rondom my siening van die ortodokse belydenis en hoe dit by die Bybel aansluit.
My kritiese teologie het wel die openheid om ryklik te put uit insigte van enersyds nie-Bybelse getuienis en andersyds aweregse geloofsoortuigings. Ek bly ook van oortuiging dat die teenstand teen my nie in die eerste plek op teologiese gronde berus nie, maar soos in geval van Albert Geyser in die sestigerjare, eerder polities gedrewe is. Ek kan feitlik die dag, datum en geleentheid aandui toe die “regses” met hulle aanslag begin het. Dit het ’n aanloop gehad. In 1993 het ek na Suid-Afrika teruggekeer van ’n jaar lange studieverblyf by die Rooms-Katolieke St John’s Universiteit in Minnesota. By die Collegeville Ekumeniese Instituut vir Kulturele en Teologiese Studies het ek aan twee boeke gewerk wat beide in 1994 gepubliseer is. Die een boek fokus op die motief God-met-ons (Immanuel) wat ek meen die dominante tema in die Evangelie van Matteus is. Die ander boek handel oor die eerste-eeuse sosiale en politieke agtergrond van die Nuwe Testament.
Gedurende hierdie tyd het ek intiem betrokke geraak by twee internasionale navorsingsgroepe wat in die VSA gesentreer is. Aanvanklik was twee fokusareas by een instelling gevestig, naamlik die Westar Institute in Santa Rosa, Kalifornië. As gevolg van botsende persoonlikhede onder die leiers het twee groepe daaruit ontstaan. Ek het by albei betrokke gebly. Die een is die reeds genoemde Context Group wat in 2016 hulle 30-jaar-reünie in Portland, Oregon gevier het. My voordrag by hierdie geleentheid is in volume 1 van my CSP-boeke verwerk.
Die ander was die Jesus Seminar en ons het in 2010 ons 25-jaar-reünie in Santa Rosa in die Sonoma-wyndistrik gevier. Tydens my deelname aan die Jesus Seminar was ek ook by ander internasionale vakverenigings in ’n leierskapshoedanigheid by Matteus-navorsing betrokke. Daartoe is ek deur ewekniegeleerdes verkies. My deelname aan die Jesus Seminar was in Suid-Afrika een van die redes dat ek van kettery beskuldig is. Dit hou dus verband met my navorsing oor die historiese Jesus wat in die 1990’s begin het.
In die 1990’s in Suid-Afrika het die debat oor postmoderniteit begin. My positiewe waardering van hierdie vernuwende denke was reeds bekend. Reekse van vraag-en-antwoord-artikels hieroor is deur die redakteur van Die Hervormer geïnisieer. Op my uitgebreide antwoorde oor die rol van geloof en teologie in die 21ste eeu het die redakteur self en verskeie teoloë gereageer, dikwels met skerp bewoording. Ek wonder nou of dit wys was om so sentraal by die debat betrokke te gewees het. Maar dit sou seker nie anders kon nie. Uit die ervaring van my hoërskooljare en my vader se botsing met die nasionalisties-gedrewe Broederbond-dominee-moderator kon ek nie anders as om, sedert die stigting van die Herstigte Nasionale Party, teen hierdie politieke ideologie, gemeng met teologiese en kerklike motiewe, standpunt in te neem nie – sekerlik soms te kragtig. Ek sien myself egter nie as ’n politieke aktivis nie. ’n Aktivis vir geregtigheid, ja!
Dit is dus in die 1990’s dat die persepsie dat ek ’n liberale teoloog is, versterk is. Die aanslag het in ’n gesprek tussen die kerkleiding en die dosente van die Hervormde afdeling van UP se Fakulteit Teologie begin. Die doel van die gesprek was die voorbereiding van ’n voortgesette teologiese opleidingskursus vir diensdoende predikante. By die geleentheid het ek my oortuiging uiteengesit dat die historiese Jesus ’n radikale inklusiwiteit van ouderdom, gender en etnisiteit geleef en verkondig het. In die Kuratorium moes ek verdedig waarom ek bevrydingsteologie en feministiese kritiek in my hermeneutieklesings behandel het. Heelwat kerklui was vasgevang in die stuiptrekkinge van magtelose verkramptheid wat wal teen die oorgang na ’n demokratiese Suid-Afrika probeer gooi het. Verligte denke was vir hulle ’n ernstige probleem. Laer trek was die antwoord.
’n Emosionele en ideologiese kaping van die kerk het plaasgevind. Dit was ’n herlewing van die sestigerjare se nasionalistiese, anti-ekumeniese weerstand teen teoloë wat republikeinse nasionalisme en apartheid teengestaan het. Die herinnering aan die protes van Albert Geyser en Beyers Naudé teen apartheid was weer sterk. In 1987 het die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) van die NG Kerk afgestig. In 1995 het dit in die Hervormde Kerk gelei tot die “vurk in die pad”-manifes. In ’n buitengewone nasionale predikantevergadering moes ek in ’n voordrag my oortuiging van die begrip versoenende verskeidenheid (reeds in ’n 1987-artikel geformuleer) en my oortuiging dat die siening van die kerk as “volkskerk” ’n “onvolwasse” teologie verteenwoordig (in ’n 1995-artikel geformuleer) verduidelik.
Op grond van my siening van die historiese Jesus (wat in 2020 in die Cambridge-boeke steeds so beskryf word) verwys ek na eksklusivisme as ’n “politiek van heiligheid”. Jesus se radikale inklusiwiteit verteenwoordig ’n “politiek van deernis”. Uitsluiting is die na binne gekeerde ideologie om “heiliges” van die “onheiliges” af te grens – die andersoortiges, die andersgelowiges, ander-gender, ander-ras, ens. ’n Mens moet maar self oordeel hoeveel “politiek” en hoeveel teologie in hierdie debat aanwesig is. Vir my het die konflik tot pynlike marginalisering gelei.
Die felheid van die aanslag teen my as persoon in die konteks van ’n “klein kerk” kan teoreties deur ’n “sosiologie van geweld” verklaar word. Hoe kleiner die kring, hoe heftiger die botsing en hoe feller die poging om te marginaliseer. In die praktyk was my oortuiging van “radikale inklusiwiteit” kritiek op Afrikaner-nasionalisme, manlike dominansie, kerklik-institusionele magsug, homofobie jeens seksuele minderhede, die onderwaardering van kinders met behulp van kerklike sanksie, rassisme, en populistiese selfhandhawing met die gepaardgaande louheid jeens die ekumene.
Verdraagsaamheid
Sulke verdraagsaamheid beteken nie dat magsug, homofobie, rassisme en die skade wat heteronormatiwiteit veroorsaak, nie steeds met oortuiging en krag uitgewys behoort te word nie.
Hoe hanteer ’n mens verskille, veral waar mense mekaar verwerp en selfs vervolg as hulle meningsverskille het en waar mense verskille as ’n bedreiging sien, as ondermyning van die Bybel se gesag, eerder as ’n verryking? In volume 2 van jou onlangse boek sluit jy met ’n outobiografiese deel af (316–37). Jy vertel daarin van jou erg benadeelde agtergrond en persoonlike terugslae met ’n ernstige kroniese siekte wat jou nog steeds affekteer. En tog het jy bo alles uitgestyg en ’n suksesvolle loopbaan gehad.
Ten spyte en te midde hiervan is jy, soos jy reeds genoem het, deur sommige groepe in die Hervormde Kerk herhaaldelik van dwaalleer aangekla en dit oor kwessies wat jy dink deur ’n politieke agenda gedryf is. Wat moeilik verklaarbaar is, is waarom die aanslag teen jou so fel was, veral omdat dit gekom het van jou eie kerk se lidmate. Die felheid van die teenkanting is egter nie uniek nie. Ek dink aan bekende teoloë soos die reeds genoemde Beyers Naudé en Albert Geyser, en ook Ferdinand Deist, wat almal van kettery beskuldig is en wat heftige teenstand ervaar het, maar vandag uiteindelik vereer word as mense wat die gewete van die kerk was. Die kerk het waarlik ’n slegte reputasie deur die eeue oor sy venynigheid en haat – en dit teenoor mense in eie kring. Dink maar aan die verskriklike ketteryvervolgings in die Middeleeue.
Waaraan skryf jy dié onverdraagsaamheid toe? En hoe kan die kerk sterker leiding gee in die manier waarop mense van mekaar behoort te verskil? Hoe voel jy oor ’n saak soos tugoptredes in kerklike geledere teenoor mense met ’n afwykende mening?
In die laat 1980’s en vroeë 1990’s het ek artikels geskryf oor kerklike eenheid en verskeidenheid. Omdat die kerk menslik is, sal daar altyd verskeidenheid wees. Die eis van die evangelie is versoenende verskeidenheid.
Byna 40 jaar later lewer ek, in my Cambridge-boeke, steeds die pleidooi dat ons van binêre denke afstand behoort te doen. Dit is nie net ’n kwessie van óf ortodoksie óf heterodoksie nie. Die Griekse term vir kettery, soos deur Paulus gebruik, het die betekenis van om ’n beslissing te neem. Ander “beslissings” behoort nie as bedreigings gesien en met ekskommunikasie – uitbanning – bestry te word nie. Dit is nie ’n kwessie van óf “reg” óf “verkeerd”, van “ons” téénoor “julle” nie. My keuse is ’n beslissing vir “gemeenskap binne gemeenskappe”. En as iemand ’n “politiek van heiligheid” (eksklusivisme) bó ’n politiek van deernis kies, behoort ek met my keuse van wat ek meen reg is, in staat te wees om só lief te hê dat die ander wat van my verskil, uitgenooi word om ook in die warmte van my gemeenskap tuis te kom.
Ek hoop dat hierdie persoonlike etos ook die etos van kerkleiers sal kan wees en kerkbeslissings sal kan beïnvloed. Sulke verdraagsaamheid beteken nie dat magsug, homofobie, rassisme en die skade wat heteronormatiwiteit veroorsaak, nie steeds met oortuiging en krag uitgewys behoort te word nie.
Rassisme
Die gevolge van my vader se konflik met die institusionele kerk en sy afskeid van die kerk wat kant gekies het vír die apartheidsideoloë van die sestigerjare, is sedert my skooljare in my ingegraveer.
Hoe het jou eie denke oor rasseverhoudinge ontwikkel? Jy het byvoorbeeld onlangs ’n groot rol gespeel om die nalatenskap van die begaafde Albert Geyser in ere te herstel, wat wys hoe belangrik dit vir jou is om die verset teen rassisme steeds in gedagte te hou. Geyser was bekend as een van die mees konsekwente kritici van apartheid en een van die weinige Afrikaanse kerkleiers wat onbevrees stelling ingeneem het teen rassisme. Hoe het jou eie denke oor rassisme en die apartheidsideologie sedert jou jeugjare ontwikkel? Wat het jou denke daaroor getransformeer?
My “kleurblindheid” in die alledaagse omgang is waarskynlik deel van die gene. In my ouerhuis was daar nooit “bediendes”, oftewel “mense van kleur” soos in die meer welgestelde middelklas Suid-Afrikaanse huishoudings die geval was nie. My vader was ongeskool en het saam met ander ongeskooldes, onder wie “mense van kleur”, vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë gewerk. Hulle was sy vriende.
Uiteraard was ek bewus van apartheid. Ek is ook as kind van my tyd binne die Suid-Afrikaanse konteks gesosialiseer. Soos ek in my outobiografiese notas skryf: dit is ons “collective family history – the shame and the glory are tangled, and this ‘mess of pottage’ is our precious heritage”.
Die gevolge van my vader se konflik met die institusionele kerk en sy afskeid van die kerk wat kant gekies het vír die apartheidsideoloë van die sestigerjare, is sedert my skooljare in my ingegraveer. My vader se “anger” jeens my wat willens en wetens predikant wou word, het vir my tot “vaderloosheid” gelei. Dit het ’n merk gelaat. Ek kon nie anders as om die protes van Albert Geyser teen apartheid in herinnering te roep nie.
My mentor, Jimmie Loader, het die eerste AS Geyser Gedenklesing gehou. Jy, Pieter de Villiers, die tweede. Dit verbly my dat die Hervormde Kerk amptelik in skrywe deur middel van die huidige moderator, André Ungerer, en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering formeel verskoning teenoor Albert Geyser en die medeverwondes aangeteken het. Ek sal aanvaar dat dit ’n opregte gebaar was indien die huidige kerkleiers bereid sou wees om hierdie skrywe as sinodale besluit voor te lê. Dit sal ook eers werklik persoonlike waarde vir my kan kry wanneer die kerkleiding die politieke dryfveer agter die ketterjag teen my kan ontmasker en met hart en mond en hand die keuse vir die goddelike wysheid, geregtigheid en deernis uitoefen.
Teoloog in gemeente en samelewing
Waarom het ek hierby betrokke gebly terwyl die ketterjag teen my so fel was? Miskien was dit die gevolg van die bewustheid van die goddelike te midde van ’n korrupterende wêreld.
Dit het my altyd beïndruk dat jy so betrokke was as predikant in die kerk in ’n gemeente tot op ’n baie laat stadium van jou loopbaan en terwyl jy ’n hoogleraar in teologie was, veral omdat jy dit in ’n moeilike kerklike konteks gedoen het. Hoe het jy dit ervaar?
Jy het duidelik ook ’n passie vir sosiale geregtigheid. Vertel ook van jou betrokkenheid by opheffingswerk. Waarom was dit vir jou nodig en belangrik om op so ’n praktiese manier by ’n kerklike en breër gemeenskap betrokke te wees?
In beide Cambridge-boeke betuig ek my dank aan die Hervormde Gemeente Wapadrant in Pretoria vir die tuiste wat vanaf die geboorte van die gemeente vir my gebied is – te midde van en ten spyte van die konstante ketteraanklagte teen my. Vir meer as drie dekades het ek gereeld daar gepreek, en weeklikse Bybelstudies en kwartaallikse Bybelskole aangebied. Hier het ek die hartklop van gelowig-wees ervaar.
By die kerkregering was ek vir meer as drie dekades op die rooi tapyt. My ervaring van medesoekers na goddelike teenwoordigheid in die lewe het my in die boesem van die kerk gehou – terwyl ek weet dat die kerk as instelling besig is om dood te gaan. Vyftien jaar lank het ek Vrydae voldag in Limpopo, 67 km uit Pretoria, vir jong vroue en mans, meesal uit die townships en van so ver as KwaZulu-Natal, wat graag predikant wou word, Grieks geleer, sodat hulle aan die universiteitstoelatingsvereistes kon voldoen. Van hulle het nagraadse kwalifikasies behaal en sommige het professore geword.
Hierdie jaar nog, te midde van die inperkings, het van die professore wat by Unisa aangestel is, my by die huis kom besoek. Ons werk aan ’n publikasie om die 100-jarige bestaan van die Maranatha Kerk (wat uit die Hervormde Kerk se sendingwerk tot stand gekom het) te vier.
Nege jaar lank was ek voorsitter van die uitvoerende direksie van die nieregeringsorganisasie To care for vulnerable people, wat armoedeverligting ten doel het. My lewensprogram was inderdaad vol en die kerklike en politieke konteks moeilik. Waarom het ek hierby betrokke gebly terwyl die ketterjag teen my so fel was? Miskien was dit die gevolg van die bewustheid van die goddelike te midde van ’n korrupterende wêreld. Want bekering en transformasie is keerkante van dieselfde saak.
Lees Pieter M Venter se LitNet Akademies-artikel, “Wat hou dit in dat die Bybel ’n kanon is?”:
Kommentaar
Net hiervoor kan 'n mens aanhou om LitNet te lees.
Andries van Aarde word nie deur Suid-Afrika na reg gerespekteer vir sy grootse bydrae tot teologiese navorsing nie. Omdat hy sy groot liefde vir prediking steeds uitgeleef het te midde van sy akademiese verpligtinge, is sy publikasies van so 'n aard dat mense wat nie teologiese opleiding gehad het nie, soos ek, dit kan verstaan. Tog so jammer dat die aanslag van die party politieke regsgesindes hom daarvan weerhou het om meer mense as leermeester te bereik.
Dit was 'n ongelooflike ervaring om die gesprek met Andries van Aarde te lees. Sy lewe bewys onteenseglik dat Jesus van Nasaret se boodskap van liefde Andries se lewe deurdring het. Hy is werklik een van Suid Afrika se grootste en nederigste teoloë. Dit behoort seker 'n ongelooflike ervaring wees om Andries se nuwe boeke te lees. Baie dankie vir die gesprek wat die diepe wysheid en kennis van Prof. Andries van Aarde op so 'n toeganklike manier bekend stel.
Andries, wat `n gelooflike reis. "Ongelooflik" sal sekerlik onvanpas wees in die konteks van hierdie artikel. Groete.