Andries Gouws: Wat jou ook dadelik van Andries sou tref, is sy Afrikaans

  • 6

In die venster van die skildersateljee in Molyvos (Foto: Frederik de Jager)

Jy sou Andries Gouws met die eerste oogopslag kon onderskat, maar jou fout sou jy gou insien. Ingrid Winterbach, sy vrou, het vertel hy was ’n “natty dresser” toe hulle jonger selwe mekaar ontmoet het, en mens kan jou die magnetisme voorstel van die aantreklike, skraal, slim man met die donker oë. Teen die tyd dat ek hom geleer ken het in 2018, was dit kortbroeke en T-hemde. Maar dit was weliswaar in die Griekse nasomer, en dit was ’n eiland. Die T-hemde het egter altyd ’n vars, pittige spreuk of prent op gehad.

Praat jy met hom, tref die rustigheid jou, die onvertonerige intelligensie, die teruggetrokke goedigheid, en die droë sin vir humor. Andries was lief vir dad-grappies. Jy kan ook sê simpel grappies van die soort wat jou goed laat voel omdat hulle so onopgesmuk land en niks meer van jou vra as om net ’n gewone, geamuseerde mens te wees nie. Hy het altyd een van dié gereed gehad.

Wat jou ook dadelik van Andries sou tref, is sy Afrikaans. ’n Formele, byna outydse soort Afrikaans het hy gepraat. Ek het min twyfel dat sy jare as student en later filosofiedosent in Nederlands sy Afrikaans sou help kleur en invul met woorde wat by ons in al onbruik verval het. Maar belangriker nog is die presisie van segging wat dit hom gegee het. Andries het niks gesê nie of hy het dit stadig en met opset gesê. Toe ek hoor hy is op sy laaste, skryf ek aan hom en Ingrid. Hy antwoord: “Ons is al twee ook geweldig op julle twee gesteld.” Dit is nie taal wat jy elke dag meer hoor nie, en dit spreek ’n spesifieke soort affiniteit uit wat al uitgewas is uit die oorwerkte ander terme van vertedering wat mens elke dag hoor.

Maar Andries was ook buitengewoon wel ter tale, met die klem op die meervoud. Ek het hom nie beleef in die ander tale wat hy kon praat nie, maar sy Grieks was indrukwekkend. Toe hy en Ingrid in 2018 by my en my eggenoot, Douw Steyn, op Lesbos aankom, was ons al byna drie jaar daar, waartydens ek my ingespan het om die taal te leer praat. Terwyl my Grieks nog hortend was, het Andries vlot gesprekke met mense gevoer. Hy was ’n filhelleen wat tydens sy jare in Nederland so dikwels hy kon na Griekeland gegaan het. Ek sou later ook by hom hoor dat hy tuis na Griekse voorleesboeke geluister het terwyl hy skilder. Die laaste hiervan was dikke Harry Potters in Griekse vertaling.

Dit klop dat sy voorkeur juis uitgegaan het na Grieks, daardie taal van soveel skoonheid en die klassieke presisie van uitdrukking. Beide hierdie eienskappe – skoonheid en presisie, kan jy op sy skilderkuns toepas.

Andries kyk uit oor die baai vanaf ons terras in die dorp Molyvos op die eiland Lesbos. (Foto: Douw Steyn)

Ek en Douw het vir ’n klompie jare gasheer gespeel vir skeppende werkswinkels van allerlei aard in die hawedorpie Molyvos op die eiland Lesbos. Andries het aangebied om vir ons iets in kuns te doen. Dit was nie moeilik om hierdie aanbod te aanvaar nie, en dit was uit die staanspoor ’n sukses. Ons was gelukkig genoeg om as ateljee die gebruik te kry van die volle boonste verdieping van die ou hawegebou. Dit was ruim, met hoë plafonne, groot regop vensters en oorstelpende uitsigte oor die see en die skilderagtige hawe onder om ons.

Toe Andries die eerste keer by die ateljee instap, sê hy: “This is as good as it gets.” Dié woorde haal die titel van ’n film met Jack Nicholson en Helen Hunt aan, maar met ’n beduidende verskil. Terwyl die grimmige, skeptiese karakter van Nicholson daarmee bedoel die lewe is miserabel en dit gaan nie beter word nie, het ek van Andries se woorde verstaan: Só goed gaan jy nie weer kry nie. Andries se inkarnasie van dieselfde woorde bly my meer by as Jack s’n.

Gereed vir nog ’n skilderswerkswinkel, Andries in ons ateljee (Foto: Frederik de Jager)

En daardie werkswinkels was iets om te beleef. Drie van hulle in Griekeland en een in Stilbaai. Talentvolle mense van verskillende lande neem deel. Hy gee my ook ’n bord en kwaste. Hy begin met kleur, hoe jy ’n hele palet met net drie primêre kleure kan meng, mits jy fyn, fyn oplet na elke graad van tint, warmte en versadiging in die voorwerp. En is jy tevrede, sal Andries by jou kom staan, lank na jou werk kyk en dan op die geringste aksent wys, die vervlugtigste afskynsel van iets anders in die omgewing.

4. Die geduldige leermeester (Foto: Frederik de Jager)

Hy was die geduldigste leermeester, en die mins intimiderende. In sy ouderwetse Afrikaans het ek hom hoeveel keer hoor sê: “As ek iets aan die hand mag doen”; of: “Jy sou dit miskien wou oorweeg om …” Gerusstellend en nooit kragdadig nie, maar tog altyd beslis en oortuigend, tot dit reg is. Die les was nooit: “Só skilder mens” nie. Dit was: “Só kyk mens.” En as jy miskien nie kan skilder nie, kan jy wel leer kyk, en deur te kyk, skilder.

As sy klasse jou leer sien, doen sy skilderye dit in die oortreffende trap. Hulle haal op oënskynlik lukrake wyse voorwerpe uit hul anonimiteit na vore en laat hulle gesien word in die glorie van stipte aandag: ’n rak in die huis, iemand se voete, ’n toiletrol. Tydens sy verblyf in die Suid-Afrikaanse skilderswoonstel in Parys skilder hy nie die estetiese oorvloed van daardie stad nie, maar die kelderverdieping met pype, wasmasjiene in die skemer lig. Noem dit ’n demokratisering van fisiese dinge. Sy werk wys elke voorwerp wat hy skilder, tot die nederigste, in die volle genade van lig en kleur en vorm. Hier is metafisika. Die toeskouer beleef elke ding in sy eie absolute integriteit. Só kom dit dat ’n blote rol toiletpapier jou onbegryplik kan ontroer – laasgenoemde vir my nog een van sy mooiste skilderye.

Dié soort geskenk aan ’n mens is blywend. Jy vergeet nie iemand soos Andries Gouws nie – nie sy kennis en wysheid, belangstelling, sy beskeie omgang nie. Ook nie die humor, of die vrygewigheid in vriendskap, of die kwaliteit van sy leermeesterskap nie. Maar sy werk, en wat hy jou leer van sien, word deel van mens self. Dis swaar om Andries te groet, maar nie swaar om hom te hou nie.

Lees ook:

Dominion: ’n Boek wat sê waar en wat ons is, hoe ons hier gekom het

Frustrate the expectations of the public! – Ingrid Winterbach as a writer and artist

  • 6

Kommentaar

  • Fanie Olivier

    Baie dankie, Frederik, vir jou gedagtes oor en rondom Andries. Oor sy ryk en ryp Afrikaans, inderdaad, met sy wortels geil in Nederlands. En sy gul opdringerige medemenssaamheid. 'n Mens was bevoorreg om hom te kon ken en elkeen van sy klein en helder skilderye sal hom laat lewe.

  • Zachie le Roux

    Ek het die man nooit van geweet nie. Dis goed om so op 'n Maandagoggend insae in sy lewe te kry.

  • Frederik, jy beskryf die man en sy kuns ewe raak. Baie dankie. En ek dink aan Ingrid in hierdie tyd.

  • Joan Hambidge

    'n Uitmuntende huldeblyk van 'n belangrike kunstenaar.
    Iemand wat so uit die hoek van sy oog iets kon raakvat.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top