Andries Coetzee, akademikus met ’n voet in Afrika en die Amerikas

  • 7

Foto van Andries Coetzee: verskaf

..........
Die eerste indruk wat mens van Andries Coetzee kry, is een van saggesproke  nederigheid en beskeidenheid, totdat jy dieper kyk en die onnutsige vonkeling in sy oë herken. Hy’s ʼn klong van Suid-Afrika, al maak hy nou reeds geruime tyd die VSA sy tuiste.
............

Die eerste indruk wat mens van Andries Coetzee kry, is een van saggesproke  nederigheid en beskeidenheid, totdat jy dieper kyk en die onnutsige vonkeling in sy oë herken. Hy’s ʼn klong van Suid-Afrika, al maak hy nou reeds geruime tyd die VSA sy tuiste.

My eerste ondervinding van hom in werksopset was toe hy ʼn paneelbespreking waaraan ek deelgeneem het, moes fasiliteer. Hy is ʼn droomfasiliteerder met wie ek onmiddelik kon veilig voel. Hy is rustig, gelykmatig, stilweg kompetent, die soort fasiliteerder (en mens) wat sal kophou wanneer die wiele afkom – en wanneer daar ʼn internasionale Zoom-komponent aan die bespreking is, word die kanse dat elektroniese wiele sal afkom, net soveel groter. Die wiele hét ook effens afgekom,  hy hét kopgehou, en in die proses my oneindige bewondering afgedwing.

Sy linguistieke werk word internasionaal erken, maar in Suid-Afrika is hy waarskynlik veral bekend vir die navorsing wat hy met Afrikaanse Patagoniërs gedoen het. Ek het hom ’n bietjie uitgevra daaroor toe ons een aand oor die lekkerste tuisgemaakte pizza gekuier het. Hy het sigbaar bewoë geraak, veral toe hy vertel hoedat die ouer mense glad nie meer met hul kinders in Afrikaans kan kommunikeer nie.

Ek het hom onlangs weer per e-pos genader. Die inhoud van ons onderhoud volg hierby.

Jy is veral bekend in Suid-Afrika vir jou insiggewende studie oor die Afrikaanse Patagoniërs. Hoe het jy van hulle te wete gekom?

Ek dink baie mense in Suid-Afrika weet van die gemeenskap. Oor die jare was daar van tyd tot tyd beriggies oor die gemeenskap in Afrikaanse koerante en tydskrifte, op Afrikaanse radio en televisie, ens. Dit voel vir my of ek reeds my hele lewe van die gemeenskap bewus was. Dit was egter eers so ongeveer 10 jaar gelede dat ek begin dink het aan die moontlikheid om die gemeenskap ’n deel van my navorsingsfokus te maak.

Dit was kort nadat ek “tenure” gekry het by die Universiteit van Michigan. In die Amerikaanse universiteitsisteem is tenure ’n belangrike moment. Dit kom gewoonlik ses of sewe jaar nadat jou eerste aanstelling begin het, en behels ’n groot evaluering van jou bydraes in navorsing, onderrig, en wat die Amerikaners “service” noem. As jy die “tenure review” slaag, word jou aanstelling uiteindelik permanent, en dit gee jou dus baie meer vryheid om kanse te vat in jou navorsing en nuwe projekte aan te pak.

............
Voor tenure was my navorsing baie meer gefokus op formele, teoretiese fonologie, en om ’n nuwe projek aan te durf wat fokus op dokumentering van ’n taalvariëteit, wat ’n baie meer sosiolinguistiese en selfs antropologiese fokus het, was dus ’n bietjie riskant. Dit het ook nie gehelp dat ek nie ’n woord Spaans verstaan nie, wat dit natuurlik sou moelik maak om ’n projek te doen in ’n gemeenskap waar die meeste mense net Spaans praat.
..............

Voor tenure was my navorsing baie meer gefokus op formele, teoretiese fonologie, en om ’n nuwe projek aan te durf wat fokus op dokumentering van ’n taalvariëteit, wat ’n baie meer sosiolinguistiese en selfs antropologiese fokus het, was dus ’n bietjie riskant. Dit het ook nie gehelp dat ek nie ’n woord Spaans verstaan nie, wat dit natuurlik sou moelik maak om ’n projek te doen in ’n gemeenskap waar die meeste mense net Spaans praat. Ek het egter twee uitstekende kollegas en vriende hier by Michigan-universiteit (Nicholas Henriksen en Lorenzo García-Amaya) van die Romance Languages and Literature Department wat Spaanse navorsers is, en die hele projek het meer haalbaar gevoel nadat Nick en Lorenzo aan boord gekom het.

Vertel van jou ervaringe tydens die onderhoude wat jy daar gevoer het?

Dis nou ’n lekker vraag wat my terugneem op ’n nostalgiese toer in die verlede in! Die ding wat die meeste uitstaan vir my, is hoe emosioneel die ervaring was. Ek was gewoond aan taamlik kliniese navorsing in die fonetieklaboratorium, en hierdie ervaring met die Patagoniese gemeenskap was definitief nie klinies nie!

Vir soveel lede van die gemeenskap was dit die eerste keer in jare dat hulle kans gehad het om ’n uitgebreide gesprek in Afrikaans te voer (die meeste lede van die gemeenskap is getroud met iemand wat net Spaans praat, hulle kinders praat meestal net Spaans, ens). Dit was dus vir die gemeenskapslede soms ’n baie emosionele ervaring. Die kans om weer Afrikaans te praat, neem hulle terug na hulle kinderjare 50 of 60 jaar gelede. Dit bring weer die onthou terug oor Oupa en Ouma, oor die plaas, oor koffie en beskuit om die kombuistafel. Dit was ’n ervaring van terugdink aan die goeie ou dae, maar ook ’n ervaring van hartseer oor die dinge wat verby is. En as iemand wat aan myself dink as ’n taamlik rasionele mens, was ek verbaas oor hoeveel ek gedeel het in hulle ervarings, in hulle hartseer en in hulle vreugde.

Wat ook opvallend was, is hoeveel my Afrikaans en hulle Afrikaans ooreengestem het. Na 120 jaar se skeiding was daar sekerlik verskille, maar die ooreenkomste was meer. Ons kon lekker gesels oor amper elke onderwerp onder die son, en dit was net so hier en daar dat ons moes stop om te praat oor wat ’n spesifieke woord nou beteken. Ek dink dit beteken dat Afrikaans teen 1900 reeds taamlik goed gevestig was en taamlik naby was aan die Afrikaans wat vandag in Suid-Afrika gepraat word.

Wat ook soms baie hartseer was, was die gesprekke wat ons gehad het met lede van die gemeenskap wat so bitter graag wou voel dat hulle die konneksie met die taal behou het, maar wie se Afrikaanse taalvaardigheid te beperk was om werklik ’n gesprek te kon voer. Dit was soms hartverskeurend om te sien hoe mense wat so graag wil Afrikaans praat, tot die besef kom dat hulle Afrikaanse kennis net nie genoeg is om regtig ’n gesprek te kan voer nie. Terselfdertyd het dit my ook laat besef dat alhoewel taal ’n belangrike deel van identiteit is, dit nie alles is nie. Daar is baie lede van die Patagoniese gemeenskap wat sterk identifiseer as Afrikaans, alhoewel hulle nie die taal magtig is nie. Taal is deel van identiteit, maar taal is nie die begin en einde van identiteit nie.

Watter lesse, indien enige, kan Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners leer van die Argentynse voorbeeld?

Die Afrikaanse gemeenskap in Patagonië floreer, alhoewel hulle in ’n konteks bestaan waar Afrikaans geen amptelike status het nie en waar waarskynlik minder as een persent van die ander mense in die gemeenskap Afrikaans verstaan. Alhoewel dit sekerlik makliker is vir ’n taal- en kultuurgemeenskap om te floreer as die getalle sprekers meer is en as die taal een of ander amptelike status het, is hierdie dinge nie noodsaaklik nie. Wat nodig is, is ’n gemeenskap wat die taal en kultuur waardeer en wat daarmee omgaan.

Dit is vir my opvallend hoe die Patagoniese Afrikaanse gemeenskap heeltemal ook deel is van die breër Argentynse gemeenskap. Daar is nie ’n “eenkant hou”-geneigdheid nie. Hulle is heeltemal Argentyne, trots daarop, en hulle deel ten volle in die Argentynse lewe op kulturele en politieke gebied. En hulle is ook terselfdertyd ten volle lede van die Afrikaanse gemeenskap. Identiteit kan veelkantig wees. Ons kan meer as een identiteit hê sonder dat dit beteken dat een prysgegee moet word of dat die twee identiteite teen mekaar hoef te werk. Om meer as een identiteit te hê is verrykend eerder as verarmend.

Is jy bewus daarvan dat jou werk onder Patagoniërs vir baie Afrikaanssprekendes ʼn inspuiting en inspirasie was om harder te werk om Afrikaans in Suid-Afrika te bevorder? Hoe voel jy daaroor?

Elke gemeenskap (en inderdaad elke individuele lid van ’n gemeenskap) moet die vryheid hê om te besluit watter rol hulle taal moet speel in die lewe van die gemeenskap. As ’n taalkundige is dit nie my plek om vir mense voor te sê of dit belangrik is om hulle taal te bevorder of nie. Individue en gemeenskappe maak keuses op grond van hulle omstandighede en gebaseer op wat hulle dink die beste is vir die gemeenskap en lede van die gemeenskap.

.............
Elke gemeenskap (en inderdaad elke individuele lid van ’n gemeenskap) moet die vryheid hê om te besluit watter rol hulle taal moet speel in die lewe van die gemeenskap. As ’n taalkundige is dit nie my plek om vir mense voor te sê of dit belangrik is om hulle taal te bevorder of nie. Individue en gemeenskappe maak keuses op grond van hulle omstandighede en gebaseer op wat hulle dink die beste is vir die gemeenskap en lede van die gemeenskap.
................

Ek sou ongemaklik voel as my werk as ’n taalkundige te veel invloed het op hoe ’n taalgemeenskap voel oor hulle taal. Ek sou eerder ’n waarnemer wil wees as ’n deelnemer. Terselfdertyd besef ek dat dit nooit moontlik is om ten volle objektief te wees nie.

Afrikaans is die taal waarmee ek grootgeword het. Alhoewel ek reeds amper 25 jaar in die VSA woon en hier uitsluitlik in Engels leef (beide by die huis en by die werk), is Afrikaans steeds ’n integrale deel van my identiteit. As iemand wat leef in ’n wêreld waar my taal (Afrikaans) ’n minderheid is, vind ek ook aanklank by sommige van die ervarings van die Patagoniërs. Ek mag dalk verkies dat my navorsing nie ’n impak op die Patagoniese gemeenskap het nie (en ook nie op die Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika nie). Maar dit is nie realisties nie. Ek kan egter hoop dat enige invloed positief eerder as negatief is.

Jy is die afgelope aantal jare verbonde aan die Universiteit van Michigan, soos jy reeds vertel het. Vertel van jou werk daar, as direkteur van die Instituut vir Afrika-studies? Hoe lyk ʼn tipiese werksdag, as daar so iets is?

Ek is reeds sedert 2004 verbonde aan die Universiteit van Michigan (of sommer net “Michigan” soos ons na die universiteit verwys). Michigan is ’n groot, wêreldklas universiteit. Ons het uitstekende studente van oor die hele wêreld (maar nie genoeg van Afrika af nie!), en ek werk saam met uitstekende kolleges van oor die hele wêreld. My departement (Linguistics) het beide ’n voorgraadse program en ’n PhD-program. Ons het gewoonlik so iewers tussen 50 en 100 voorgraadse “majors” elke jaar, en tussen 25 en 30 studente in ons PhD-program. ’n Groot deel van my werk bestaan dus uit interaksie met beide voorgraadse en PhD-studente in die klaskamer, en dan ook natuurlik met studiebegeleiding vir PhD-studente. Michigan is ook ’n sogenaamde navorsingsintensiewe universiteit, en daar is dus ’n verwagting dat ons almal taamlik aktief sal wees in navorsing. ’n Groot deel van my dag gaan dus ook in etlike navorsingsprojekte in.

Oor die laaste dekade of wat het ek ook begin om meer van my tyd te gee aam “service assignments”. Ek was etlike jare Director of Graduate Studies van my departement, wat beteken dat ek oorsig gehad het oor die hele PhD-program, die werwing en toelating van nuwe studente, seker maak dat studente befondsing het, en so meer.

En ja, ek was ook vir vier jaar direkteur van ons African Studies Center (ASC); my termyn het op 30 Junie van hierdie jaar geëindig. Dit was ’n absoluut fassinerende ervaring gewees. Die missie van ons ASC is tweedelig: om Afrika meer sigbaar te maak op ons kampus, en om dit makliker te maak vir ons studente en personeel om in Afrika te werk. Dit het my dus ’n kans gegee om soveel meer te leer oor Afrika, van Suid-Afrika tot Ghana, Kenia, Ethiopië, en meer. Ek het ook die geleentheid gehad om groot dele van die kontinent te besoek, en om leiers in die hoër onderwys van oor die hele kontinent te ontmoet. Afrika het ’n sterk en groeiende hoëronderwyssisteem, en ek het soveel meer waardering daarvoor ontwikkel. Dit was ook ’n regte voorreg om die kans te kry om soveel lede van die Michigan-gemeenskap meer blootstelling te gee aan Afrika. Dit was belangrik vir my om die idee te verander van Afrika as ’n plek waaroor kennis gegenereer word tot ’n plek waar kennis gegegeneeer word – en ek dink ons het daarin sukses gehad met die blootstelling aan navorsers en navorsing uit Afrika wat ons aan die Michigan-gemeenskap gegee het.

Jy het aan Noordwes-Universiteit studeer – in jou studentejare seker nog bekend as die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Nou is jy buitengewone professor by jou alma mater. Was dit deel van jou toekomsvisie as student?

Ek sou nooit kon gedink het dat dit die paadjie is wat ek sou loop nie! Toe ek universiteit toe is in 1990, het ek gedink dat ek ’n graad in teologie sou behaal, en dan ’n dominee sou word. Daardie paadjie het ek egter vroeg-vroeg in my tyd op Potchefstroom agterlaat. Ek het uiteindelik ’n MA behaal in Semitiese Tale by Potchefstroom en toe daar ’n aanstelling gehad as lektor in Hebreeus. En so stadig-stadig het my belangstelling geskuif van Hebreeuse grammatika na algemene taalwetenskap oftewel linguistiek. Dit was hierdie belangstelling wat my uiteindelik VSA toe gebring het. Aanvanklik het gedink dat dit die einde van my verbondenheid met Potchefstroom en NWU sou beteken. Ek was egter baie bly toe ek die kans gegun is om weer ’n amptelike verbintenis te hê, as buitengewone professor by NWU. Ek doen ook oor die laaste dekade gereeld navorsing saam met kollegas van NWU, en my konneksie daar word dus net sterker. So alhoewel dit nie deel van die plan was nie, is dit iets waaroor ek baie bly is en wat vir my baie beteken.

Hoe het jy aanvanklik in die VSA beland? Was dit as student of het jy vir werk soontoe getrek?

Ek het in 1999 VSA toe gekom as ’n PhD-student in linguistiek aan die Universiteit Massachusetts. Ek het my PhD in 2004 voltooi, en is sedertdien ’n professor by Michigan.

Verskil die struktuur van Amerikaanse en Suid-Afrikaanse universiteite baie? Indien wel, in watter opsigte?

Op baie maniere is die twee sisteme verskillend, maar ek dink soms dat hierdie verskille meer oppervlakkig is. Op die ou end is ’n universiteit ’n universiteit, of dit nou in Ann Arbor is of in Potchefstroom. Ons almal is toegewyd daaraan om jongmense voor te berei om aktiewe deelnemers van hulle gemeenskappe te wees, en ons almal is toegewyd daaraan om nuwe kennis te genereer en om hierdie kennis met die wêreld te deel. Die strukture waarin ons dit doen, verskil, maar die werk is basies dieselfde.

Sommige van die verskille wat vir my uitstaan, sluit die volgende in: (i) Amerikaanse hoër onderwys is minder hiërargies. Die sosiale afstand tussen ’n professor en ’n PhD-student, en selfs ’n voorgraadse student, is baie kleiner in die VSA as in Suid-Afrika. Ons gebruik almal voorname. Dit beteken dat dit soms voel asof ons meer van ’n gemeenskap is wat saam werk vir dieselfde doel hier in die VSA. (ii) Die tipiese Amerikaanse progressie is ’n 4-jaar BA-graad gevolg deur ’n 5-jaar-PhD. Ons het nie honneursgrade hier nie, en MA-grade is taamlik ongewoon (behalwe op die beroepsgebiede soos verpleging, onderwys, ens). Die BA-graad in die VSA is ook baie wyer. Al die studente neem klasse in die geesteswetenskappe, sosiale wetenskappe en STEM-dissiplines (Science, Technology, Engineering, Mathematics) in hulle eerste en tweede jaar. Dit is gewoonlik eers in die derde en vierde jaar dat hulle begin om te spesialiseer. Ek wens soms dat ek die kans gehad het om so ’n breë voorgraadse ervaring te kon hê! (iii) Die meeste PhD-studie in die VSA is ten volle befonds. Dit beteken dat jy ’n 5-jaar-PhD kan doen sonder om enige van jou eie geld te spandeer. Ek dink baie min mense in Suid-Afrika besef dit. Die probleem is dat kompetisie baie straf is. In my departement kry ons jaarlikse soveel as 120 nuwe PhD-aansoeke vir die vier of vyf posisies wat ons het.

Jy besoek Suid-Afrika uiteraard nog gereeld. Wat is jou gunstelingplek in die land, en hoekom?

Ek het die verre noorde van Limpopo grootgeword (in die Thabazimbi-omgewing), en die Bosveld is nog ’n plek wat na aan my hart is. Ek is egter heeltemal bekoor deur die Kaap! Dit was nie ’n deel van Suid-Afrika wat ek geken het toe ek nog in die land gewoon het nie. Dit is egter waar ek en my Amerikaanse man in 2009 getroud is (net buite Houtbaai), en is ’n plek wat ek nou elke keer besoek as ek in Suid-Afrika uitkom. Die berg, die see, die mense, die wyn – dis alles dinge wat die Kaap spesiaal maak. En ook die mengelmoes van kulture. Ek voel tuis as ek in die straat loop in die Kaap en ek hoor etlike verskillende vorme van Afrikaans en Engels, Xhosa en Maleis. So ’n ryk en diverse plek.

Jy is gewild en gerespekteer onder jou kollegas, medewerkers en studente. Waaraan skryf jy dit toe?

Wie weet? Vra hulle hoekom hulle my respekteer! Ek dink dit is belangrik om eers ’n mens te wees, en tweedens ’n akademikus. Die akademiese wêreld is baie meer “cut-throat” as wat nodig is, en ons kan soveel meer regkry as ons altyd eerste die mens sien, en dan die student of medewerker. Soos wat ek ouer word, word ek ook hopelik wyser. Dit is meer en meer belangrik vir my om die deur oop te maak en oop te hou vir ander, en nie om altyd eerste deur die deur te loop nie.

Een gewese kollega vertel ʼn staaltjie van watter moeite sy moes doen om uit te vind wanneer jou verjaarsdag is. Moedswillige vraag, dus: Wanneer verjaar jy?

Ha! Ek gee nie om om te sê nie. Ek is gebore op 21 September 1971. Ek is dus nou 51 jaar oud.

Jy reis gereeld. Watter land, behalwe Suid-Afrika, is jou gunsteling om te besoek en hoekom?

Ja, ek het geleentheid gehad om wyd deur die wêreld te reis, wat dit moeilik maak om een gunstelingland te kies. Ek dink egter dit sal Portugal wees, en spesifiek Lissabon. Dit is so ’n mistieke stad met ’n baie lang geskiedenis. Maar dit is ook ’n plek waar Europa naby is aan Afrika, en dus waar kulture reeds vir baie eeue in kontak was. Dit het dus ooreenkomste met die Kaap, op baie maniere. Ek hou ook daarvan dat (anders as stede verder noord in Europa) Lissabon chaoties kan wees. Ek vind dat ek makliker ontspan in so ’n situasie as in ’n plek waar alles georganiseer is, waar alles perfek werk, en op tyd is.

Jy’s ʼn vegetariër. Hoe vegetariër-vriendelik is Suid-Afrikaanse eetplekke en mense in vergelyking met Ann Arbor byvoorbeeld?

Ja, ek is reeds amper 20 jaar lank ’n vegetariër. Dit is nooit ’n probleem in Ann Arbor nie. Omdat dit ’n internasionale universiteitsdorp is, is die gemeenskap hier georiënteer om ontvaklik te wees vir baie verskillende kulture, en dit beteken dat elke restaurant baie vegetariese opsies het. Ons het selfs etlike vegetariese restaurante, van “fast food” tot “fine dining”. Om hier vegetaries te eet is nie iets vreemds nie.

Dis minder maklik in Suid-Afrika, en soms as ek daar besoek aflê, bestaan my dieet hoofsaaklik uit brood, kaas en tamaties – veral as ek in Limpopo by my familie kuier! Dit het egter merkbaar makliker geword oor die jare in groter stede.

Een plek waar ek wel nog ’n groot verskil sien: As jy na enige universiteitsfunksie toe gaan hier in Ann Arbor, dan kan jy verwag dat die vegetaries opsies baie en interessant sal wees. In ’n plek soos Potchefstroom is sulke funksies gereeld nie baie vegetaries georiënteerd nie.

Na watter musiek luister jy vir ontspanning?

Niks met dromme of elektiese kitaar nie! My eerste liefde sal altyd klassieke musiek wees, met ’n besondere liefde vir die stem (opera, koormusiek, ens). Ek luister egter ook gereeld na jazz, en soms die “golden oldies”. Ek het onlangs ook weer begin luister na die Afrikaanse musiek van my hoërskool- en universiteitsjare: Laurika Rauch, Annelie van Rooyen, Coenie de Villiers, Johannes Kerkorrel. Dit is so lekker om te kan saamsing met hierdie kunstenaars!

Gunstelingleesstof?

Ek lees vir my werk, en dit is meestal dinge wat fokus op linguistiek of deesdae ook op opvoedkundige beleid. Soms voel dit asof ek nie ook dan nog kan lees vir ontspanning nie, en dan kyk ek eerder Netflix! Wanneer ek ’n langer breek kry (vakansie), dan hou ek egter van ’n goeie storieboek. Sommige van my gunstelingouteurs is Salman Rushdie (Midnight’s children is seker my gunstelingboek ooit), Gabriel García Márquez (One hundred years of solitude is ’n ander gunsteling), Isabel Allende, JM Coetzee (nie altyd ontspannend nie, maar nietemin goed), José Saramago. Ek sien nou dat daar geen Afrikaanse skrywers op die lys is nie. Dalk moet ek biejtie advies vra by my Afrikaanse vriende oor watter Afrikaanse skrywers ek moet lees.

As jy een boek kan uitsonder wat jou lewensuitkyk verander het?

Seker The selfish gene deur Richard Dawkins. Dit het vir my ’n ander uitkyk gegee op wat dit beteken om ’n gemeenskap te wees, hoekom ons saamwerk (of nie saamwerk nie) met ander mense.

...........
Seker The selfish gene deur Richard Dawkins. Dit het vir my ’n ander uitkyk gegee op wat dit beteken om ’n gemeenskap te wees, hoekom ons saamwerk (of nie saamwerk nie) met ander mense.
..............

Dit is nie dat ek saamstem met alles wat Dawkins sê nie (inteendeel, ek verskil met baie wat hy sê). Die boek het my egter gehelp om meer krities te kyk na dinge wat ek altyd onkrities aanvaar het as noodwendig waar.

As jy vir een dag president van ’n land kon wees, watter land sou jy kies en wat is die eerste drie goed wat jy sou verander?

Aangesien ek reeds die afgelope 25 jaar in die VSA woon (amper die helfte van my lewe) en seker ook die res van my lewe hier sal deurbring, sal ek seker sê die VSA. En ek sal die volgende doen: (i) Hoër belasting op die top verdieners sodat ons dinge soos “Social security” en “Medicare” beter kan befonds. (ii) Mediese sorg sal geklasifiseer word as basiese mensereg sodat niemand bankrot hoef te word om basiese mediese sorg te kry nie, en sodat niemand in ’n situasie geplaas word waar hulle moet kies tussen mediese sorg en ander noodsaaklikhede nie. (iii) Ek sal die organisasie van die Supreme Court verander sodat aanstellings vir 10 jaar is eerder as lewenslank, en sodat daar meer lede van die hof is. Die huidige stand van sake beteken dat die hof te polities is, en te min “accountability” het. En hopelik, met hierdie veranderinge, kan ons weer dinge soos die reg op “reproductive healthcare” bevestig.

13) Die Oprah-vraag: Wat weet jy vir seker?

Ek weet dat ek nie die wêreld kan verander nie, maar dat my dade en woorde iemand se wêreld kan verander. Dit is belangrik om te fokus op die hier en nou, op die mense (en diere) wat nou rondom jou is. Wat jy nou doen, kan hulle wêreld verander, in ’n positiewe of ’n negatiewe rigting.

Andries leef ubuntu en outydse Afrikaanse gasvryheid uit, selfs in die verre vreemde.

Lees ook:

Taal en migrasie: ’n onderhoud met Andries Coetzee

Revisiting the end of the world: an interview on language identity and displacement

kykNET Silwerskermfees 2015: Boers at the End of the World | Boere op die aardsdrempel

Boer-tyne: 'n Familiefotoalbum uit Argentinië

 

 

 

 

 

  • 7

Kommentaar

  • Linda Roothman

    Andries, indien jy Márquez en Allende geniet, is Etienne van Heerden waarskynlik die Afrikaanse skrywer wat jou belangstelling sal prikkel. Al hierdie skrywers het die magiese realisme in gemeen. 'n Buiteperd soos Alexander Strachen se "Dwaalpoort" sal my altyd na aan die hart lê, omdat dit as inspirasie vir my MA gedien het, terwyl dit ook by die magiese realisme aansny.

  • Albertje Fouche

    Lekker om weer van Andries te lees. Ek het hom leer ken as die stil student in die studentehuis langs ons in Tomstraat 12, Potchefstroom.

  • Andries Coetzee

    Hallo, Albertje! Hoeveel baie jare laat jy my nou terugdink. Groete aan jou en al jou mense.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top