#ANC54: Cyril Ramaphosa en die top-6

  • 0

Cyril Ramaphosa se verkiesing as president van die ANC was eers (net vir ’n paar minute) goeie nuus voor dit skielik versuur het toe dit duidelik word dat hy verswak is deur die verkiesing van drie Zuma-makkers tot die top ses posisies van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK).

Die benoemings vir die 80 addisionele lede vir die NUK is ook gisteraand op die nasionale kongres gefinaliseer. Met die skryf van dié artikel gisteraand het afvaardigers vir dié posisies gestem. Die name van die suksesvolle kandidate word na alle waarskynlikheid vandag bekend gemaak. Tragies vir Ramaphosa is die lys met Zuma-makkers gelaai wat na alle waarskynlikheid tot die NUK verkies gaan word en sy posisie as ANC-president verder gaan verswak. Niks kan so erg wees vir Ramaphosa as om onderdane in die NUK te hê wat hom gaan ondermyn nie. Dit blyk na alle waarskynlikheid die geval te wees.

Ekonome en die mark het egter baie goed op die verkiesing van Ramaphosa gereageer. Sy verkiesing kan in die algemeen as ’n “blaaskans” vir die ekonomie gesien word omdat die rand na die aankondiging met ’n paar sent versterk het tot net onder R12.60 teenoor die dollar.

So om en by 13h00 gistermiddag het ’n bron van my wat die ANC se nasionale konferensie in Johannesburg bywoon my laat weet die top ses se name word om 15h00 bekend gemaak. Dit het my genoop om voor 15h00 die kantoor te verlaat om voor die TV te kom.

Net na 18h00 het nuus die rondte gedoen dat al die stemme of miskien net die stemme vir die verkiesing van die adjunkpresident oorgetel gaan word. Die oponthoud van dié aankondiging en die singery wat aan die einde deur President Jacob Zuma gelei is, het die gerugte van ’n oortellery gerugsteun.

Ramaphosa het op die oog af glimlaggend voorgekom. Lindiwe Sisulu het met ’n stram gesig haar (rooi) oë oor die singende en dansende afgevaardigdes gegooi. Onbevestigde gerugte dat sy en Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, hulle oë rooi gehuil het, het op sosiale media traksie gekry. Na bewering het Sisulu die nuus dat sy deur David Mabuza vir die pos van adjunkpresident verslaan is, nie goed hanteer nie.

Die onbevoegde minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini, wat berug is daarvoor dat sy haar onsamehangend in die openbaar artikuleer, het na bewering haar in ’n kamer toegesluit en onbedaard begin huil. Dlamini, ook president van die ANC-vroueliga, kon die nuus dat Nkosazana Dlamini-Zuma deur Ramaphosa verslaan is, nie hanteer nie.

En toe is dit 19h20.

Die aankondiging op nasionale TV was soos volg: Ramaphosa 2 440 stemme en Dlamini-Zuma 2 261 stemme. Die blydskap en gegil het deur die saal weergalm.

Dit was op dié oomblik dat baie nugterdenkende Suid-Afrikaners gedink het Ramaphosa se “slate” (die Afrikaans is “spanlys”) het gewen. Verkeerd.

Menigte mense wat gehoop het Ramaphosa se “spanlys” neem al ses die posisies was geskok.  

Toe verslaan Mabuza (2 583) vir Sisulu (2 159). So ook die omstrede Ace Magashule (2 360) vir Senzo Mchunu (2 336) as sekretaris-generaal. Jesse Duarte (2 474) het die jonge Zwingiswa Losi (2 213) oortuigend as adjunk sekretaris-generaal verslaan en sodoende haar posisie behou.

Die gewilde Paul Mashatile (2 517), wat ook ANC-voorsitter in Gauteng is, het die ongebevoegde minister van internasionale betrekkinge en Zuma-lakei, Maite Nkoane-Mashabane (2 178) oortuigend verslaan.

Ramaphosa se verkiesing is oor die algemeen goeie nuus vir die ANC en veral vir Suid-Afrika. Dit beteken hy het die geleentheid om die ANC en Suid-Afrika se beeld te verander deur staatkorrupsie te beveg en uit te roei asook om buitelandse beleggings na Suid-Afrika te lok. Dit kan op sigself werksgeleenthede skep, die ekonomie laat groei en sodoende dienslewering ’n nodige hupstoot gee. Dit gaan outomaties die ANC se kanse vergroot om verlore steun te herwin en sodoende die algemene verkiesing in 2019 te wen.

Ramaphosa sit egter met ’n helse probleem; hy sit met drie Zuma-laksmanne in die top ses van die ANC. Hulle is Zuma-makkers wat roekelose radikale ekonomiese transformasie, die plundering van die staatskas en algemene korrupsie voorstaan.

Hulle is Mabuza, Magashule en Duarte. En die moontlikheid dat die meerderheid van die 80 addisionele lede van die NUK ook Zuma-makkers kan wees, is nog meer kommerwekkend. Indien dit materialiseer, beteken dit dat die NUK al Ramaphosa se hervormingsplanne vir beide die staat en die ANC in die wiele kan ry. Dit kan hom ’n oneffektiewe president maak wat by die volgende nasionale kongres in 2022 uitgestem kan word. Net 3 jaar nadat hy president van die Suid-Afrika geword het; mits die ANC die algemene verkiesing in 2019 wen.

Dit beteken dit gaan moeilik wees vir Ramaphosa om besluite te neem omdat die Zuma-makkers so fundamenteel verwyderd van hom is. Dit is in terme van die hernuwing van die ANC en ook om ’n werkbare ekonomiese plan vir Suid-Afrika te ontwikkel. Wel, ons het reeds die Nasionale Ontwikkelingsplan, maar dit is net ’n visie sonder ’n implementeringsplan en ’n tasbare begroting.

’n Oorweldigende Zuma-faksie binne die NUK sal beteken dat staatskaping moeilik ondersoek gaan word. Dat die onbekostigbare gratis hoër onderwys wat Zuma eensydig en op ’n opportunistiese manier aangekondig het, moeilik gestop gaan word. Indien dit nie gestop word nie, het dit die potensiaal om hoër onderwys en die land se ekonomie te vernietig.

Die ander belangriker aspek, naamlik om Zuma voor die 2019-verkiesing te herroep as staatshoof sal ook nie deurgevoer kan word nie. Dit hou natuurlik dramatiese gevolge vir Ramaphosa se politieke loopbaan in. Met Zuma in die Uniegebou staan die ANC ’n groter kans om die 2019-verkiesing te verloor. Dié verloor sal egter op Ramaphosa se brood gesmeer word.

Indien Zuma herroep word beteken dit baie slegte nuus vir opposisie partye soos die DA, EFF en selfs vir Makhosi Khoza se nuwe party, African Democratic Change (ADC). Onthou, Ramaphosa se verkiesing as ANC-president het klaar die ANC se aansien aansienlik by die kiesers verhoog. Onlangse wetenskaplike navorsing het getoon dat ANC-kiesers wat veral tydens die munisipale verkiesings verlede jaar nie gaan stem het nie, wel vir die ANC sal stem indien Ramaphosa ANC-leier sou word. Wel, hy het nou leier geword en as hy boonop vir Zuma herroep as staatshoof sal die ANC se aansien die hoogte inskiet. Slegte nuus vir opposisiepartye.

Dit sal veral vir Khoza en haar party, die ADC vernietig en op die politieke rommelhoop laat beland. Khoza is soos Rhoda Kadalie. Hulle bring die grootste deel van hulle lewe deur om ergerlik te voel en dan teiken hulle mense op wie hulle hul gramskap kan uithaal.

Khoza se party is geen alternatief nie, maar bloot gebou op haar persoonlike frustrasies met Zuma en die ANC. Dit gaan alles oor haar alter-ego en die stigting van die ADC is niks anders as om haar as ’n beroepspolitikus met min of niks steun soos Bantu Holomisa en Kenneth Meshoe te vestig nie.

Die feit dat daar net een vrou in die top ses dien het ontleders aan die praat gehad. Voor gister se verkiesing van die top ses, het Mbete as nasionale voorsitter en Duarte as adjunk sekretaris-generaal gedien. Duarte is herkies en dus die enigste vrou, maar beklee ook die mees junior posisie van die top ses.

Dit reflekteer glad nie goed op die ANC en veral nie op Dlamini en die ANC-vroueliga nie. Internasionaal is vroue-issues hoog op die agenda, maar die ANC-vroueliga het geen bewese beleid of identiteit van hoe om vrouesake te bevorder nie. Inteendeel, dit is die Vroueliga wat vroue in die ANC en in Suid-Afrika in die steek laat omdat hulle tot op hede geen duidelike beleid het van hoe om vroue-issues te bevorder nie.

Die Vroueliga het liewer opportunistiese politiek bedryf deur Dlamini-Zuma te misbruik as ANC-presidentskandidaat net om Zuma en die Gupta’s se staatskaping in plek te hou. Toe verloor Dlamini-Zuma teen Ramaphosa wat in elk geval ’n beter kandidaat is om die ANC en die land te lei. Die Vroueliga speel nou die emosionele kaart deur die min vroue op die top ses uit te wys. Dit is hulle verdiende loon, want hulle is agterbakse politici wat net Dlamini-Zuma wou hê omdat sy ’n vrou was; nie omdat sy die beste kandidaat vir die ANC of Suid-Afrika is nie. Die ANC se Vroueliga het roemloos die aftog geblaas omdat hulle opportunistiese politiek soos Zuma bedryf.

Die ander kwessie wat ook aandag moet kry is die ANC-regering se bevordering van meestal onbevoegde vroue in die staatsdiens. Dit verlam die staat se vermoë om dienste aan armes te lewer. Dit verhoog die kanse van korrupsie omdat dié vroue op ’n emosionele en vernietigende manier net voortploeter sonder enige gevolge.

Ironies genoeg is dit Duarte wat die kwessie van nie-rassigheid in die ANC in die aanloop tot die nasionale konferensie aangeroer het. Sy het op nasionale TV gesê sy is altyd die enigste minority by die ANC se vergaderings. Sy is reg; die ANC het die nie-rassige narratief verwaarloos en is totaal arrogant en bejeën die kwessies wat minderhede ten nouste raak met absolute argwaan.

Baie van die ANC se kaders verstaan nie eens wat nie-rassigheid beteken nie. Dit is vir hulle ’n fancy slagspreuk om net af te show waaraan hulle geen behoefte het om inhoud te verskaf nie, of miskien onbevoeg is om inhoud te verskaf. 

Suid-Afrikaners wat die land wil laat werk is almal bly dat Ramaphosa uiteindelik die kans gaan hê om in 2019 president te word; mits die ANC die verkiesing gaan wen. Sy kans om staatshoof te word kan moontlik deur twyfelagtige en lamsakkige figure soos veral Magashule in die wiele gery kan word. Magashule is die grootste en gevaarlikste invloed in die top ses.

Die minister van polisie, Fikile Mbalula het reeds lankal die moontlik uitgespreek dat Magashule, indien hy sekretaris-generaal sou word, die ANC kan vernietig. Indien Ramaphosa hom nie in toom gaan of kan hou nie sal hy na alle waarskynlikheid die ANC in die afgrond saam met hom neem. As voorsitter van die ANC vir meer as 20 jaar in die Vrystaat en ook as Premier regeer hy daar met ’n ysterhand en vernietig hy enige persoon wat weerstand bied. Hy is arrogant en weet alles en het R20 miljoen gemors op die Vrystaatse se provinsiale regering se webwerf. Hy moet ook nog ondersoek word en moontlik vervolg word omdat hy by die uitgelekte Gupta-e-pos betrek word.

Dit is skrikwekkend om te dink dat Ramaphosa omring word deur twyfelagtige figure soos Magashule, Mabuza en Duarte wat in diens staan van Zuma en die Guptas. Die opposisie het dus tot ’n sekere mate die arsenaal in die hand omdat hulle kan terugkap en sê die helfte van die ANC se top ses leiers is bevlek met Zuma en die Guptas.

Ramaphosa skop dus sy ANC-presidentskap af met ’n verdeelde leierskap waarvan die helfte net daarop uit is om die staatskas te vernietig, maar hy is ’n slim en bewese leier wat die vermoë het om alles wat negatief is om te draai tot voordeel van die ANC en van die land en al sy mense.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top