#altydbreyten 23 Februarie 2025, Breytenbachsentrum, Wellington – ’n fotobeeld

  • 1

Die Suid-Afrikaanse viering van die lewe en werk van Breyten Breytenbach rondom die tema #altydbreyten is op 23 Februarie 2025 by die Breytenbachsentrum op Wellington gehou. Die geleentheid is deur sowat 350 mense bygewoon, onder wie familielede en nabye vriende.

Laai die volledige program hier af.

Breytenbach is op 24 November 2024 in Parys, Frankryk op die ouderdom van 85 jaar oorlede, en is daarna in die Père-Lachaise-begraafplaas in Parys ter ruste gelê.

Engela Duvenage het hierdie fotobeeld saamgestel, met foto’s ook deur Gerrit Rautenbach, wat namens die Breytenbachsentrum foto’s van die geleentheid geneem het.

“Welkom by die viering van ons vriend die digter, skrywer, kunstenaar, geliefde, liefdesmaat, pa, oupa, broer, aktivis vir Afrikaans en menseregte.” Hierdie woorde het die program ingelei vir die #altydbreyten-viering. Foto: Engela Duvenage

’n Groepuitstalling waaraan 18 kunstenaars meegewerk het, het in die Breytenbach Galery geopen. Die werke is elkeen deur Breytenbach se skryf- of skilderkuns geïnspireer. Op hierdie foto verskyn werke of foto’s deur Bibi Slippers, Willem Mulder, Hendré Retief en Amor Roelofse. Ander kunstenaars wie se werk nog vir die volgende paar weke in Wellington te sien sal wees, is Christiaan Diedericks, Louis Janse van Vuuren, Sandra Hanekom, Michele Nigrini, Marinda du Toit, Daniël du Plessis, Anna Davel, Kobus Coetzee, Martli Slabber, Gustav Bester, Theresa Jo, Gerhard van Eck, Gert Bezuidenhout en Elsibe McGuffog. Foto: Engela Duvenage

Gaste kon reeds vanaf vroegmiddag op die Sentrum se gronde saamkuier en versnaperinge geniet. Gaillin Ruiters, ’n BA-student aan die Universiteit van Wes-Kaapland, was deel van die ondersteuningspan wat agter die skerms die geleentheid help glad verloop het. Foto: Engela Duvenage

Die koor van Hugenote Hoërskool op Wellington, waar Breytenbach in 1957 hoofseun was, het vir die eerste keer ’n nuwe toonsetting van “ek sal sterf en na my vader gaan” as deel van die voorprogram uitgevoer. Dit is spesiaal vir die koor getoonset deur Anton Esterhuyse. Die koor staan onder leiding van Hugenote Hoërskool-personeellede Johann Enslin en Marvin Booysen. Curtus van Kerwel, ’n musiekonderwyser by die Breytenbachsentrum, het ook vooraf vir die gaste kitaar gespeel. Foto: Engela Duvenage

Curtus van Kerwel, ’n musiekonderwyser by die Breytenbachsentrum, het ook vooraf vir die gaste kitaar gespeel. Hier is hy saam met Blaine Arendse.  Foto: Naomi Bruwer


Anne-Ghrett Erasmus, kurator van die Breytenbach Galery, het Breytenbach se weduwee, Yolande, by die geleentheid verwelkom. Foto: Engela Duvenage

Sy dogter Daphnée Breytenbach (middel), ’n joernalis in Frankryk, is by die Breytenbachsentrum verwelkom deur Daniël Lötter (direksielid) en Louis Duvenage (voorsitter) van die Breytenbachsentrum-direksie. Hulle staan voor The Book Traders-boekwinkel, waar Breyten dikwels ingeloer het wanneer hy op besoek aan dié kultuursentrum was. Foto: Engela Duvenage

Radioman Johan Rademan het die program gelei, en het ook gereeld staaltjies vertel oor sy belewing van Breytenbach. Foto: Gerrit Rautenbach

Breyten en Yolande Breytenbach is in 1962 getroud en het ’n huwelik van 62 jaar gedeel. Breytenbach het twee jaar na hul troue sy eerste bundel Die ysterkoei moet sweet gepubliseer. Foto: Gerrit Rautenbach

Daphnée Breytenbach het in haar vertellings oor haar pa onder meer ’n surrealistiese prentjie geskep waarin sy vertel hoe hy in die vorm van ’n neushoringvoël by hul woonstel kom aanklop het op die oggend van sy begrafnis by Parys se bekende Père-Lachaise-begraafplaas. Foto: Gerrit Rautenbach

Daphnée Breytenbach en Yolande Breytenbach het uit Frankryk gereis om die geleentheid by te woon. Foto: Gerrit Rautenbach

Akteur Gérard Rudolf vertoef ’n wyle in die Breytenbachsentrum se Digterstuin. Die tuin, waarin verskeie Afrikaanse gedigte gebruik word, was die breinkind van een van die Sentrum se stigterslede Johan Conradie. Dit was voorheen ’n parkeerterrein. Tans hou Lorraine Kuun en Amanda Swart, twee lede van die Breytenbachsentrum Trust, ’n oog daaroor. Foto: Engela Duvenage

Baskitaarspeler Schalk Joubert saam met Yolande Breytenbach en Anna Breytenbach, dogter van wyle Cloete Breytenbach. Foto: Gerrit Rautenbach

Bernard Odendaal, voorsitter van Pen Afrikaans se bestuur, en sy vrou Hanli. Foto: Engela Duvenage

Paarliete Jeff Erasmus, ’n kultuuraktivis, en Harlan Cloete, ’n navorsingsgenoot van die Universiteit van die Vrystaat en voorsitter van Radio KC 107.7. Foto: Engela Duvenage

Onder die gaste teenwoordig was akteur en SA Akademie-wenner Chris van Niekerk en Conrad Steenkamp, hoofuitvoerende beampte van die Afrikaanse Taalraad. Foto: Engela Duvenage

Breytenbach se Franse vertaler Georges Lory (wat ook ’n spreekbeurt gehad het) groet vir oudregter Albie Sachs (met hoed). Foto: Engela Duvenage

Yolande Breytenbach en Caro Wiese luister aandagtig na die aanbiedings. Foto: Gerrit Rautenbach

Francis Galloway het ’n breedvoerige oorsig oor Breyten Breytenbach se literêre werk en invloed gegee. Galloway is onder meer skrywer van die monografie Breyten Breytenbach as openbare figuur en redakteur van die Breytenbach-huldigingsbundel Woordenaar woordnar. Foto: Engela Duvenage

Anne-Ghrett Erasmus het meer vertel oor haar man, wyle Ampie Coetzee, se jarelange vriendskap met Breytenbach, en ook oor die totstandkoming van die Breytenbachsentrum. Foto: Engela Duvenage


Laurinda Hofmeyr (middel), wat oor die jare talle Breytenbach-gedigte getoonset het, is bygestaan deur Schalk Joubert op baskitaar. Hulle het dikwels saam met Breytenbach opgetree wanneer hy van sy gedigte voorgelees het. Foto: Gerrit Rautenbach

Digter Antjie Krog het van Breytenbach se gedigte voorgelees. Foto: Gerrit Rautenbach

Skrywer John Miles (naasregs) bespreek die afloop van die verrigtinge te midde van beurtkrag met (links) Breytenbach se Franse vertaler Georges Lory (wat ook deel van die program was) en Kerneels Breytenbach. Foto: Engela Duvenage

Die #altydbreyten-program is namens die familie en die Breytenbachsentrum saamgestel deur Francois Lötter. Hier is hy in die Cloete-gemeenskapsgalery (vernoem na fotograaf Cloete Breytenbach) waar werke van kunstenaars soos Marinta Skupin en Desireé Malan tans hang. Pampoene was ’n gereelde simbool in Breytenbach se werk, en is daarom gebruik as deel van die dekor. Lötter het oor die afgelope jare ook die program vir die Breytenbachsentrum se Tuin van Digtersfees byeengebring. Dit word jaarliks in middel-September op Wellington aangebied, rondom Breyten Breytenbach se verjaarsdag op 16 September. Foto: Louis Duvenage

Die #altydbreyten-geleentheid is deur die Breytenbachsentrum met goedkeuring van Breytenbach se familie gereël, en is danksy skenkings befonds. Jessica Ruiters, kantoorbeampte van die Sentrum, het gehelp dat verrigtinge glad verloop. Foto: Engela Duvenage

Wellingtonners Tanja Erasmus (ook van die band Orwellington) en Ampie de Vries, saam met digter Jolyn Phillips. Foto: Engela Duvenage

Desireé Malan, wat ’n kunsstudio by die Breytenbachsentrum bedryf, saam met Olivia Ockhuis, Trudy van Rensburg en Marinda du Toit wat almal jarelange bande met die Sentrum het. Foto: Engela Duvenage

Bundels en boeke was te koop. Die stalletjie is beman deur Narriman Nackerdein en Adéle Olivier van Bargain Books in die Paarl. Foto: Engela Duvenage

Om ook na die geleentheid te kyk, besoek die Breytenbachsentrum se YouTube-kanaal of kliek hier.

Lees ook:

Breytenbach notitie#25: “Is de dood niet slechts een enjambement van de versregel?” Graf van de Onbekende Dichter

Breytenbach notitie#23: "Vandag is ek Belg / môre is ek ’n engel in die hemel" – in memoriam Breyten Breytenbach

Om Breyten te begrawe

Herinneringe aan my oom Breyten

  • 1

Kommentaar

  • Lezettevan Jaarsveld

    Dankie vir die opregte huldiging, asook besonderse huldiging van 'n unieke persoon wat sy volharding saam met homself gedra het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top