Almal harmonieus saam onder die Suiderkruis

  • 0

Hallo Rika, dankie vir die geleentheid tot gesprek. Ek lees in die Woordfeesprogram omtrent die uiteenlopende kunstenaars wat in Suiderkruis Mis optree: “Met Francois van Coke en Leroi Nel as die twee rocksoliste, Annalie Herbst, Ellenoré van As, en Riaan Hunter as die klassieke soliste, die Klein Libertas Teater Koor, ‘n strykkwartet en rock-band met oa Basson Laubscher, Beitel van der Merwe, perkussie deur Pierre Theron en ‘n Praise-singer, beloof hierdie werk ‘n buitengewone ervaring vir die gehoor.” Vertel vir ons hoe het die gedagte aan hierdie item ontstaan – waar het alles begin?

Ek werk al vir sowat vyf jaar saam met die komponis André Strijdom, meestal met sy literêre kabarette. Ons is verlede jaar gevra om André se liedsiklus In Taal Getatoeëer (toonsettings van TT Cloete se gedigte) by die Woordfees uit te voer, by die profiel oor TT Cloete. Die reaksie daarop was fenomenaal, selfs van die aartssinis Joan Hambidge (kenner van TT Cloete se werk), sowel as TT Cloete self, wat “blown away” was en dit in die mooiste bedankingsbriewe aan ons gesê het. In dié tyd het ek meer van André se klassieke en liturgiese komposisies ontdek en het hy my die Suiderkruis Mis gewys. Hy het dit reeds ’n paar jaar gelede gekomponeer, en dit in die kas gebêre. Ek het oombliklik besef watter uitsonderlike gebeurtenis die opvoering van so ’n werk kan wees, en dit vir die Woordfees 2012 ingeskryf. (André is die eerste komponis wat op één fees drie van sy werke gaan opvoer. Die ander is in die Woordmusiek-program: Die Grammatika van Liefhê, ’n kabaret-kantate, en ’n woordkunsprogram met slegs André se komposisies, My Hart Blom Wit.) Intussen het ons versigtig voelers begin uitsteek na soliste wat moontlik sou belangstel: ons het Francois van Coke bygedam oor ’n bier by Klein Libertas ná ’n Fokofpolisiekar-gig, wat ek André heen gesleep het om Francois se performance en stem te hoor en sien, want ek het geweet dat Francois beslis die een rockstem sou wees wat goed sal werk vir Suiderkruis Mis. Hy het ingestem. So was dit ook met al die ander soliste.

“... dit neem Suid-Afrika se beste klassieke musici, gooi dit saam met die voorste rocksangers in ons land, geur dit met dromme en perkussie, en messel alles mooi saam vas met ‘n isiXhosa Praise singer en ‘n koor ...” Is dit die eerste keer dat die kunstenaars saam optree? Sien jy ‘n langtermyn-samewerking, waar almal mekaar se werk kruisbestuif?

André Strijdom

Ja, inderdaad is dit die eerste keer wat dié kunstenaars saam optree. Selfs gedurende repetisies werk Suiderkruis Mis sy magic: die boodskap van die Mis is dat ons almal, ten spyte van verskille, tog harmonieus saam kan leef onder die Suiderkruis. André wys dit deur musiek. In repetisie is dit interessant om te sien hoedat die rockers met die klassieke musici kombineer: daar is ’n aanvanklike ongemak en vrees – die rockers voel geïntimideer deur die klassieke mense wat opgelei is in musiek en meesters is van hul kuns, terwyl die klassieke mense weer geïntimideer voel deur die “wilde” rockers, maar sodra die musiek begin, en almal hul deel sing, hoor hulle, en voel hulle, dat dit alles saam baie mooi is en baie opwindend is. Daar is baie laggende oomblikke, baie pret en ’n amazing bonding in gemeenskap wat gebeur en wonderlik is om te aanskou. Annalie Herbst, die mezzosopraan, gaan staan toe so langs Francois gedurende ’n smoke break, Francois raak vreeslik skaam, en Annalie sê toe ewe droogweg vir hom sy dink hy sing baie mooi. Hy lag te lekker en sê "Jissie, nee jong, jý sing my bang!” “Nee wat,” sê Annalie, “ek sing my sing en jy sing jóú sing, en saam sing ons mooi!” Dis die ubuntu wat die Suiderkruis vergestalt.

Ek sien beslis dat die werk “voete kry” – ek wil dit landwyd neem en aan die hele Suid-Afrika wys! Die boodskap is presies wat Suid-Afrika nóú nodig het – alle ore vind aanklank daarby, en alle harte klop saam wanneer hulle dit hoor. Dit waarborg ek, want ek sien dit gebeur by elke repetisie met die mense wat deelneem, en ook waar daar soms publiek insit en luister. 

Na watter items sien jy spesifiek uit om self by te woon by die Woordfees?

Ek sien baie uit na Amanda S se shows, Elsabé Daneel se stuk, “Ou Blare”, Rocco se show, en ou vriendin Ziets se show.

 

Sanlam Musiekfees: Kontemporêr 

Japie Krige Ouditorium
Suiderkruis Mis

’n Maniac Music-produksie. Deur André Strijdom. Met Francois van Coke, Leroi Nel, Annalie Herbst, Klein Libertas Teater Koor en ander Gebaseer op die tradisionele vyf dele van die Katolieke Mis, gebruik Strijdom herkenbare en geliefde musiekstyle om ’n feestelike werk te skep waarin Suid-Afrikaanse kulture ’n mosaïek vorm. Rock, luister- en FAK-liedjies saam met township-jive en mbaquanga, neem die gehoor mee op ’n ware Ubuntu-reis.
6 Maart 18:00 | Japie Krige | 90min | R90 (R60 studente)

Klik hier vir die volledige Woordfees-program.

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top