Aktiewe demokrasie in die kunste

  • 0

Bettina Wyngaard en Marlene le Roux, uitvoeroende hoof van die Kunstekaap, waar Mamma Mia! se speelvak verlede week afgeskop het. Foto met toestemming geplaas.

Ek kan nie juis sing nie, maar ek geniet musiek in al sy vorme, en ek sal ver ry vir ’n goeie musiekblyspel.

Mamma Mia, wie se speelvak verlede week in die Kunstekaap afgeskop het, val baie beslis in daai kategorie. Dit het al die elemente van ’n feelgood verhaal: opgewekte bekende liedjies, talentvolle sanger/akteurs, dramatiese mooi kostuums en ’n gelukkige einde. Ilse Klink veral het verras met haar sang. Ek het nie geweet sy kan sing nie!

Voordat die vertoning afgeskop het, het Marlene le Roux ’n toespraak gelewer oor onder andere aktiewe demokrasie. Marlene glo dat kuns toeganklik vir almal moet wees, en daarom maak sy met elke nuwe show een aand gratis kaartjies beskikbaar vir mense wat dit andersins nie sou kon bekostig om vertonings by te woon nie. Dis gewoonlik aktiviste in verskillende dissiplines wat net vir een aand kan skoene uitskop en die geleentheid kan geniet. Maar dis veel meer as dit. Die Kunstekaap het byvoorbeeld nuwe klanktegnologie wat sg wit ruis uitsny sodat mense met gehoorapparate die vertoning kan geniet sonder die probleme wat klanktoerusting soms veroorsaak. Marlene is baie bewus van die uitdagings wat gestremdes in die gesig staar wanneer hulle maar net wil deelneem aan gewone aktiwiteite in die samelewing, en sy setel haar aktivisme daarrondom.

........
Marlene is baie bewus van die uitdagings wat gestremdes in die gesig staar wanneer hulle maar net wil deelneem aan gewone aktiwiteite in die samelewing, en sy setel haar aktivisme daarrondom.
........

Die skare se entoesiasme het die show soveel meer genotvol gemaak. Ek het in die sesde ry van voor gesit, en die normale prys van daai kaartjie sou my vier maal laat dink het voor ek dit kon koop. Gewoonlik sit ek maar baie verder agtertoe. Ek het ’n paar keer omgekyk na die volgepakte teater en ek kon nie anders as om dit te vergelyk met my heel eerste keer toe ek ’n vertoning in die destydse Nico Malan bygewoon het nie. Dit was ’n ballet, en behalwe my en my ma was almal in die teater wit. Ek het dit nie toe besef nie, maar waarskynlik moes daar spesiale toestemming gekry word vir ons om die vertoning by te woon. Of dalk nie – dalk was teater toe gaan daai tyd net iets wat onbekostigbaar was vir die meeste mense. Die prys het dalk toe, soos nou, gemaak dat net sekere mense dit kon bywoon.

Maar nie met hierdie vertoning van Mamma Mia nie. Twee rye voor my het twee mense gepraat: een in gebaretaal, die ander een duidelik besig om lippe te lees en soms met gebare aan te vul. Daar was mense met beweeglikheidsuitdagings. In haar toespraak het Marlene verwys na mense wat in 1985 nie hulle matriekeindeksamen kon skryf nie, en dat Mamma Mia vir daai spesiaal genooide groep as ’n tipe matriekafskeid moes dien.

Wat ’n skouspel! Met pouse het die ry mense wat voor die poster in die foyer wou foto’s neem, net al langer geword. Ek het my eerste foto’s reeds voor die vertoning geneem, want ek het geweet wat kom. En toe Marlene haar draai kom maak, het mense omtrént tekere gegaan. Dit was soos om die charisma van ’n Hollywood-ster in aksie te sien.

........
Uiteindelik gaan dit nie om een tipe gehoor teen ’n ander nie. Dit gaan daaroor dat kuns ’n gelykmaker is, en dat alle soorte kuns toeganklik moet wees vir alle tipes gehore.
........

Ek het die skare dopgehou. Die kleredrag, die persoonlikhede, die uitbundigheid, die absolute vreugde om daar te wees en die show te geniet was aansteeklik. Ek kon nie anders as om dit te vergelyk met die terughoudendheid, die klem op hoe dinge gedoen behoort te word, wat die gehore by soveel ander vertonings ten toon stel nie.

Uiteindelik gaan dit nie om een tipe gehoor teen ’n ander nie. Dit gaan daaroor dat kuns ’n gelykmaker is, en dat alle soorte kuns toeganklik moet wees vir alle tipes gehore. Marlene le Roux werk hard daaraan om daai drumpelvrees by teatergangers te help oorkom.

Dis aktiewe demokrasie in aksie.

Lees ook:

Kunstekaap uitvoerende hoof Marlene le Roux internasionaal vereer vir bydrae tot kunste

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top