Kunstekaap uitvoerende hoof Marlene le Roux internasionaal vereer vir bydrae tot kunste

  • 0

Kunstekaap uitvoerende hoof Marlene le Roux is internasionaal vereer is vir haar bydrae tot transformasie in die kunste.

“Ons uitdaging is befondsing en nog steeds het ek die visie van Kunstekaap as ’n plek waar ons as Suid-Afrikaners, as mense bymekaar kan uitkom en mekaar se stories kan opvoer, hoor en respekteer.”

Dít is die woorde van Kunstekaap uitvoerende hoof Marlene le Roux wie onlangs internasionaal vereer is vir haar bydrae tot transformasie in die kunste.

Tesame met die Kunstekaap het sy die Fair Saturday Foundation-toekenning in Spanje ontvang. Volgens die Fair Saturdaytoekenningskomitee is Marlene en die Kunstekaap vereer vir ondermeer die verbintenis tot die bevordering van noodsaaklike waardes deur die Kunstekaap se wye verskeidenheid van diverse en toeganklike programme. Die toekenning gee veral ook erkenning aan Marlene vir haar moed en vasberadenheid as ’n advokaat vir menseregte en as maatskaplike leier in die ondersteuning van die regte van minderheidsgroepe en kwesbare groepe, insluitend gestremdes. Marlene is ook bekend vir haar rol daarin om sosiale geregtigheid deur kultuur te bevorder.

“Ek het hierdie toekenning aanvaar namens alle gemarginaliseerde individue, die stemlose en veral mense met gestremdhede, wat steeds sonder hulpbronne is en onsigbaar vir die wêreld bly,” het sy beklemtoon in haar aanvaardingstoespraak.

Marlene vertel meer.

Marlene, jy het onlangs ’n internasionale toekenning, die Fair Saturday Foundation-toekenning, in die Guggenheim-museum in Bilbao, Spanje, ontvang vir jou aandeel in die transformasie deur die kunste. Hoe voel jy daaroor om op internasionale vlak vereer te word?

Die Fair Saturday-toekenning is op ’n kulturele vlak wat die Laures-toekenning vir sport is. So, dit beteken vir my en vir Kunstekaap geweldig baie om vir ons werk vereer te word. Kunstekaap word binnekort 50 jaar oud, en die reis van die Nico Malan Teater wat in 1971 geopen is tot Artscape, is ’n reis om ’n ruimte te skep waar almal tuishoort, ongeag van waar jy kom en hoe jy lyk — ’n kreatiewe ruimte waar almal kan asemhaal.

Marlene le Roux by die Fair Saturday Foundation-geleentheid wat in die Guggenheim-museum in Bilbao, Spanje gehou is.

Jy is ook die eerste Suid-Afrikaner en eerste persoon met ’n gestremdheid wat die toekenning ontvang. Wat beteken dit vir jou?

Aan die begin van die toekenningseremonie het hul so ’n kort video oor my lewe en Kunstekaap gewys, en ek was in trane. Dis die eerste keer dat ’n Suid-Afrikaner met ’n gestremdheid so sigbaar op ’n internasionale verhoog vereer word vir ’n bydrae tot die uitvoerende kunste en my werk as aktivis vir die regte vir vroue en mense met getremdhede — dat iemand so sigbaar gemaak word. Dit is ’n ander voorstelling van mense met getremdhede wat as ’n las beskou word, iemand wat altyd mediese hulp nodig het en welsyn. Dis ’n prentjie van mense met gestremdhede wat ekonomies, sosiaal en kultureel ’n volledige bydrae kan maak.

Die toekenning vereer jou ondermeer vir jou toewyding tot die bevordering van menseregte en jou ondersteuning van die regte van minderheidsgroepe en kwesbare groepe in die samelewing. Waarom is dit vir jou belangrik om juis hierdie kwessies aan te spreek?

Omdat ek self uit so ’n kwesbare gemeenskap kom, en daar is baie sulke gemeenskappe wat nog steeds baie kwesbaar is. Suid-Afrika word gesien as ’n middelklasland, maar mense besef nie altyd dat daar baie gemeenskappe en instansies is wat nog steeds befondsing nodig het nie. Ons is ’n jong demokrasie, en die nalatenskap van Apartheid sal nog vir generasies by ons bly.

Waarom is jy passievol oor die uitvoerende kunste, waar kom jou liefde vir die kunste vandaan?

Ek het in Wellington grootgeword met kerkkore, Eisteddfod-kompetisies en die klopse gemeenskap. Ek het grootgeword met mense wat ’n musiekinstrument kon speel en dit van generasie tot generasie oordra. Ek het sulke talentvolle musikante en akteurs geken, wat op ’n verkeerde plek en tyd geleef het en wat nie die geleenthede gehad het om hul talent te ontwikkel en te vertoon op ’n verhoog in die stede en internasionaal nie. Ek het ’n passie vir musiek en ek het ’n passie vir mense.

Marlene le Roux

Wat is jou trotste oomblik tot dusver as uitvoerende hoof van die Kunstekaap?

Daar is so baie. Sekerlik is dit om die gebou toeganklik te kon maak vir mense met gestremdhede, ’n opknappingsproses wat verlede jaar plaasgevind het. Ek was ook betrokke om ’n sustersmaatskappy op die been te bring, Unmute Dansteater, wat produksies opvoer met kunstenaars wat gestremd is. Ons het ook hierdie jaar by Kunstekaap vakleerlinge ingeneem met verskillende gestremdhede wat orals in die gebou werk, ook sigbaar by ons kaartjiekantoor. Dan sou ek sê die produksie van Ouma Katrina: Die dansende taal, gekonseptualiseer deur Coenie de Villiers en die danser-choreagraaf Kirvan Fortuin, ’n produksie waar die wêrelde van diverse mense ontmoet het — ’n storie ook van Suid-Afrika. Ons het ook die internasionaal bekende Libanees-Sweedse sanger Maher Zain (met 1.2 miljard volgelinge) hier gehad, en hy het vir die eerste keer met ’n simfonieorkes opgetree, en dit was met die Kaapse Simfonieorkes. Dit was vir my aangrypend hoe almal eers uitgegaan het vir gebed op die piazza met hul gebedsmatjies, en dan terugkom na die konsert.

Dink jy teater word genoeg bevorder en ondersteun in Suid-Afrika?

Teater gaan nooit weer soos in die verlede deur die staat befonds word nie. Dit help nie om te kla nie. Wat min mense besef is dat die staat net die gebou befonds. Die res, en ook produksies moet onsself befonds en dit beteken dat ons buite die boks moet dink, deur die verhuring vir kommersiële produksies ensovoorts. Hierdie produksies befonds dan weer die programme wat ons dan doen vir die ontwikkeling van kunstenaars en die opvoering van gemeenskappe se stories wat voorheen gemarginaliseer was, en nog steeds ekonomies gemarginaliseer is. Ons werk ook nou saam met vriende en vennote van Kunstekaap om bv die Women’s & Humanities festival aan te bied, met gratis produksies, boekvoorlesings, paneelbesprekings, gesondheids- en regsadvies, en dan ook teaterproduksies soos die briljante Kamphoer en The Widow.

 Wat is jou mening oor die toekoms van teater in Suid-Afrika?

Teaterwese het ’n blink toekoms. Ons het soveel talent in hierdie land wat net ontwikkel moet word.

Marlene, behalwe vir alles wat jy reeds vermag het as uitvoerende hoof van die Kunstekaap, wat hou die toekoms in? Wat is jou visie vir die Kunstekaap vorentoe?

Ons uitdaging is befondsing en nog steeds het ek die visie van Kunstekaap as ’n plek waar ons as Suid-Afrikaners, as mense bymekaar kan uitkom en mekaar se stories kan opvoer, hoor en respekteer.


Fair Saturday is ’n globale mobilisering wat daarop gemik is om elke laaste Saterdag van November ’n positiewe sosiale impak te skep, die dag na Black Friday, die grootste uitdrukking van verbruikerswese. Kunstenaars en kulturele organisasies van regoor die wêreld kom bymekaar in ’n wêreldwye fees na aanleiding van net een vereiste: om ’n sosiale saak van hul keuse te ondersteun deur die kunste as middel te gebruik.

Lees Marlene se volledige aanvaardingstoespraak hier.

  • Foto’s: verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top