Agterstories: Om ’n kaart in die donker te teken

  • 0
  • Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.

Om ’n boek te skryf hou mens nederig.

Daar het etlike foutjies ingesluip in my eerste Tafelberg-uitgawe van Our long walk to economic freedom (2021), foute wat ek maar net te bly was om reg te stel in my tweede Cambridge University Press-uitgawe (2022). Dit was een of twee tikfoute, maar ek het veral ’n paar verwysings oorgesien, uitlatings wat die goeie mense van Cambridge vinnig uitgewys het. Die deeglikheid van daardie redigeringsproses het my egter oortuig dat die tweede uitgawe so na as moontlik aan ’n perfekte produk was.

Maar soos enige skrywer sal weet, is daar altyd iets wat kan verbeter. Oor die laaste paar maande werk ek aan die hersiene weergawe vir Tafelberg, beskikbaar in Januarie 2025. En wraggies waar, daar vind ek wel ’n direkte aanhaling waar ek die bron nie aangehaal het nie! Hoe die Cambridge-span dit nie opgetel het nie, weet ek nie, maar ek was ten minste bly ek kon dit regstel vir die derde uitgawe, en so het ek gaan soek na die oorspronklike aanhaling.

Hierdie is ’n storie oor die soektog na ’n enkele verwysing.

Die verwysing was na een van die mees bekende aanhalings in Afrika-geskiedenis. By die Berlynse Kongres van 1884/1885, die vergaderings waar Afrika tussen Europese moondhede verdeel is as koloniale besittings, het Lord Salisbury skynbaar gesê:

We have been engaged in drawing lines upon maps where no white man’s foot ever trod; we have been giving away mountains and rivers and lakes to each other, only hindered by the small impediment that we never knew exactly where the mountains and rivers and lakes were.

Die maklikste manier om die oorsprong van ’n aanhaling to vind, is om dit te google. Ek het verskeie skakels gevind. Ek het die eerste een ondersoek, in ’n artikel deur ’n bekende historikus van Afrika het ek ’n skakel na JC Anene se verhandeling in 1970 gevind. Ek kon nie ’n digitale kopie aanlyn vind nie.

Dis toe dat ek die tweede skakel probeer het. Hierdie keer was die verwysing na ’n ander Afrika-historikus, ewe bekend. Maar hy het dieselfde fout as ek gemaak en nie na ’n bron verwys nie.

En so het dit aangehou. Ná ’n uur van soek het ek uiteindelik by wat gelyk het soos die oorspronklike verwysing uitgekom: die Geographical Journal van Maart 1914! Dank die Vader.

Maar – daar was geen bladsynommers. Ek moes deur die hele uitgawe gaan soek. Gelukkig het JSTOR volledige digitale toegang, maar met eerste oogopslag is daar niks wat relevant lyk nie. Ek soek deur elkeen van die artikels, van verslae oor gebeure in Senegal en Niger tot ’n berig oor die “Thonga tribe” van Suid-Afrika, van ’n argeologiese steekproef van Nubië tot die Tripoli-inisiatief in Noord-Afrika. Niks.

Soos ’n goeie akademikus het ek opgegee en een van my briljante studente ge-e-pos met ’n versoek: Vind asseblief die verdomde verwysing.

’n Paar uur later het Kelsey Lemon geantwoord met die blye tyding dat sy die oorsprong wel gevind het. Maar hier was die verrassing: Die aanhaling was beduidend anders as die een wat ek en byna elke ander skrywer gebruik het. Ek laat Kelsey verduidelik:

Ek het die aanhaling gegoogle en elke beskikbare skakel oopgemaak. Die hartseer waarheid is dat ’n LibQuotes-bladsy die sleutel was. Onder die (verkeerde) aanhaling was ’n verwysing na die ware oorsprong: ’n toespraak by Mansion House in Augustus 1890. Na ek verskeie weergawes van “drawing lines upon maps” + “Mansion House” + “Salisbury 1890” gegoogle het, het ek uiteindelik by AL Kennedy se Portrait of a statesman uitgekom. Daar gee Kennedy die korrekte aanhaling en noem dat die oorsprong The Times-koerant was. Maar gegewe die verskil tussen hierdie en die ander weergawes van die aanhaling, moes ek die oorspronklike Times-berig gaan vind. Na ’n nuwe Times-subskripsie en £1 armer het ek die oorspronklike een binne ’n see van teks gevind:

We have been engaged in what, perhaps, to a satirist may seem the somewhat unprofitable task of drawing lines upon maps where no human foot has ever trod. We have been giving away mountains and rivers and lakes to each other, but we have only been hindered by the small impediment that we never knew exactly where those mountains and rivers and lakes were.

Die oorspronklike Times-berig (klik hier vir ’n groter weergawe)

Dis die moeite werd om te kyk hoe gereeld die oorspronklike aanhaling verkeerd aangehaal is. As mens soek vir die korrekte weergawe, vind jy ’n bespreking deur Lyons en Jolley (2018) in die Handbook of African Development, wat die aanhaling karakteriseer as “oorvertaal, swak aangehaal en ongemaklik herinterpreteer”. Van die meer as 30 publikasies wat ek gevind het wat Lord Salisbury se toespraak aanhaal, het twee die toespraak korrek weergegee. Een daarvan is Lyons en Jolley se hoofstuk wat dit spesifiek aanhaal om die eeue-lange fout reg te stel, en die ander is Kennedy se Portrait of a statesman uit 1953.

’n Mens kan dit natuurlik nie net daar los nie. Wat is die oorsprong van hierdie fout, wonder ek.

Die eerste weergawe van die misaanhaling wat ek kon vind, was Salisbury se eie dogter – Lady Gwendolen Cecil – wie ’n vier-volume boek oor haar pa gepubliseer het: Life of Robert, Marquis of Salisbury. JC Anene se 1970-verhandeling – “The international boundaries of Nigeria 1885-1960” – het hierdie weergawe aangehaal en was die oorsprong vir die inkorrekte weergawe wat akademici daarna sou gebruik. Hier is Kelsey se skema wat die aanhalings en hul bronverwysings uitbeeld:

Kelsey se skema wat die aanhalings en hul bronverwysings uitbeeld (klik hier vir ’n groter weergawe)

Dit reflekteer beslis nie goed op historici (en sosiaal-wetenskaplikes) hoe hierdie aanhaling deur ’n proses van akademiese telefoontjie vervorm is nie. Die Geographical Journal se verwysing – die Romeinse syfer XXCIII – is ’n getal wat nie bestaan nie. Twee artikels wat ek kon vind, gebruik dieselfde aanhaling twee keer, maar verskaf verskillende bronne vir elk. Etlike skrywers het die oorspronklike Times-artikel korrek aangehaal, maar die verkeerde aanhaling gebruik. ’n Ander historikus het die verkeerde aanhaling gebruik, maar ook ’n tikfout ingesluit, met die woord “trod” as “tord”, ’n weergawe wat ook deur ander gebruik is, tikfout en al. ’n Vierde weergawe sluit ’n fout in die tweede deel van die aanhaling in: “[...] God will we have been giving away mountains, rivers and lakes to each other.”

Maar die mees algemene verskil tussen die oorspronklike en verkeerde weergawe is die vervanging van “human foot” met “white man’s foot”. Ek is onseker waarom: Wat my betref, is die oorspronklike aanhaling kragtiger as die verkeerde weergawe wanneer dit kom by die veroordeling van die gevoelloosheid van kolonialisme.

’n Element van die oorspronklike aanhaling wat heeltemal uitgelaat word, is die deel: “...what, perhaps, to a satirist may seem the somewhat unprofitable task…” Historici wat oor die Berlynse Kongres skryf, verwys dikwels na Salisbury se sardoniese humor en sy vermoë vir “Britse onderbeklemtoning”. Tog is dit presies hierdie selfbewustheid wat oor die hoof gesien word. Soos Kelsey vir my skryf, deur hierdie deel van die aanhaling uit te laat, ontneem die skrywers Salisbury die geleentheid om homself in die oog te steek. Die oorspronklike aanhaling is ’n kragtig genoeg aanklag teen die man en die stelsel wat hy verteenwoordig.

Dit is verbysterend hoe baie prominente historici, ekonome en ander sosiale wetenskaplikes dit verkeerd gehad het. Maar ek moet nie te afwysend wees nie – ek het ook, twee keer. Danksy Kelsey, wanneer Our long walk to economic freedom in Januarie verskyn, sal dit slegs die derde gepubliseerde werk wees wat die korrekte aanhaling en bronverwysing gebruik. Só vorder die wetenskap, soms frustrerend stadig, baie soos om ’n kaart in die donker te teken.

Kyk en lees ook:

SteedsDink met LitNet Akademies: Johan Fourie

Suid-Afrika se lang tog na ekonomiese vryheid: ’n Persoonlike reis

Suidoosterfees 2021: ’n onderhoud met Johan Fourie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top