- Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.
Vir sommige vrae is daar nie ’n regte antwoord nie. Vrae soos: Wat is die definisie van sukses? Hoe meet mens geluk? Wat is die betekenis van die lewe?
Maar die mees uitdagende een is natuurlik as jou vrou in die oggend met betrekking tot haar uitrusting vir jou vra: “Werk dit?”
Dis soms ’n keuse tussen reg wees en gelukkig wees.
Daar is natuurlik ’n dieper waarheid wat hierdie eenvoudige vraag onderlê. Ons kies ons dagdrag binne ’n spesifieke konteks. Stylkeuses suggereer iets van ons sosiale status, ons prestige. Dis ’n ou idee in die sosiale wetenskappe. In sy 1989-boek The theory of the leisure class skryf Thorsten Veblen dat die welgesteldes klere kies wat dit vir hulle moeilik maak om te werk. Die punt is juis om te demonstreer hoe onproduktief hulle is:
The dress of women goes even farther than that of men in the way of demonstrating the wearer’s abstinence from productive employment. It needs no argument to enforce the generalization that the more elegant styles of feminine bonnets go even farther towards making work impossible than does the man’s high hat.
Om daardie rede was styl nog altyd ’n ernstige saak – en is daar baie moeite gedoen om dit te reguleer. Die prag-en-praal-wette van die 18de eeu het heftige boetes uitgedeel aan dié wat bo hul status aantrek. Verskillende geloofsgroepe het verskillende reëls, reëls wat natuurlik ook oor tyd aanpas: Moet vroue hul hare bedek? Mag hulle ’n hoed in die kerk dra?
Veral haarkapsels kan sommige die harnas injaag. Soms word sekere haarstyle gebruik om sekere groepe te isoleer: gevangenes (en eerstejaars, destyds) se hare word afgeskeer; of dink maar aan die tonsuur van ’n monnik. Selfs in die meer liberale samelewings van vandag reguleer sosiale norme en konvensies wat ons byvoorbeeld met ons hare kan en nie kan doen nie. Ek onthou nog goed my hoof se reaksie toe ek na ’n kriekettoer met geperoxidede hare by die skool opgedaag het. Dink maar ook aan die gereelde konflik in skole waar swart studente voel dat ou konvensies rondom haarstyle nie op hulle van toepassing kan wees nie.
Maar hier is my hipotese: Ons (haar)style raak al hoe minder uitsonderlik. Society has cramped our style.
Dit het begin as ’n waarneming. Ek stap nou al 25 jaar op ’n universiteitskampus. Ek onthou uiteenlopende uitrustings, van kaalvoetstudente tot Y2K-style, van goths tot grunge, emo tot punk, en jocks met rugbytruie. Stap vandag op kampus en almal lyk soos tech nerds.
Maar een waarneming is nie genoeg om ’n hipotese te bewys nie. So hoe klink 14 miljoen? Dit is die aantal foto’s wat twee ekonome, Hans-Joachim Voth en David Yanagizawa-Drott, gebruik het in hul nuutste studie om die verandering in styl (of voorkoms) in Amerika te meet. Hulle het gebruik gemaak van 112 000 hoërskooljaarboeke tussen 1930 en 2010 om ’n diepneurale netwerk op te lei en sodoende stylkenmerke soos haarlengte, haarstyl, die gebruik van halssnoere, die dra van dasse, of die diepte van halslyne van tieners te identifiseer. Dit stel hulle in staat om drie sleutelmaatstawwe te bereken: individualisme, standvastigheid en vernuwing.
Wat vind hulle?
Miskien is dit nodig om net eers te verduidelik wat hierdie maatstawwe beteken. Individualisme meet of mense toegelaat word om keuses te maak wat van dié van hul portuurgroep verskil. Die afwesigheid van individualisme – noem dit konformisme – is ’n teken dat die koste van afwyking hoog is. Dit is ook ’n teken dat die samelewing minder vernuwend sal wees, juis omdat individualisme en kreatiwiteit – ’n bousteen van vernuwing – nóú verweef is. (Sien byvoorbeeld hoofstuk twee van Skatryk.)
Hul tweede maatstaf, standvastigheid, meet hoe soortgelyk stylkeuses binne ’n gegewe groep is wanneer daardie groep vergelyk word met studente by dieselfde hoërskool ’n generasie vroeër. Hulle vergelyk groepe studente 20 jaar uit mekaar. ’n Kultuur met hoë standvastigheid beteken eenderse style oor tyd – finalejaarstudente van die betrokke jaar sal gemiddeld dieselfde lyk as dié wat 20 jaar vroeër daar gegradueer het. Lae standvastigheid beteken natuurlik kultuur verander vinnig.
Die derde maatstaf is vernuwing. Dit meet stylkombinasies wat voorheen nie bestaan het nie. Studente kan nie net afwyk van vorige generasies in dieselfde skool (standvastigheid) of van hul portuurgroep nie (individualisme) nie, maar hulle kan dalk ’n heeltemal nuwe styl hê wat nog nie voorheen waargeneem is nie. Vernuwing is ’n sterker weergawe van individualisme, ’n teken dat iemand durf om anders te wees.
Die resultate is fassinerend, juis omdat dit so verskil vir mans en vroue.
Tot die 1960’s was kultuur soos weerspieël in Amerikaanse hoërskoolfoto’s merkwaardig stabiel. Mans het byna uitsluitlik kort hare gehad en donker pakke met dasse gedra. Hemde het krae gehad. Daar was geen teken van snorre of baarde nie. In kort: Individualisme vir mans was laag, en standvastigheid hoog. Vroue was die teenoorgestelde: hoë individualisme en lae standvastigheid. Hoewel vernuwing effe hoër was onder vroue, was dit betreklik laag onder albei groepe, en stabiel tot 1965.
Toe kom counter-culture. Of om meer presies te wees, Woodstock. Voth en Yanagizawa-Drott verduidelik: Mans het toenemend afgewyk van die voorkoms van die ouer generasie. Maar dit was nie net ’n eenvormige verskuiwing na ’n nuwe eendersheid nie; die samehorigheid tussen portuurgroepe – studente in verskillende skole – het ook skerp afgeneem. Dit het beteken dat die gaping tussen die individualisme en standvastigheid van mans en vroue verdwyn het; teen die 1990’s was dit basies dieselfde.
Daarmee saam het die tempo van vernuwing versnel; nuwe style het na vore gekom wat nog nooit voorheen in hoërskoolfoto’s gesien is nie. Teen die middel van die 1970’s was die waarskynlikheid drie keer groter dat iemand ’n heeltemal nuwe styl sou hê as net ’n dekade tevore. En terwyl individualisme effe getaan het en standvastigheid sedertdien effe toegeneem het, het stylvernuwing bly toeneem: Teen 2010, die laaste jaar van die ontleding, is stylvernuwing op ’n hoogtepunt.
Daar is nog baie meer interessante resultate in die studie. Veral streeksverskille is interessant. Die skrywers bevind byvoorbeeld dat hoewel daar aanvanklik min verskille tussen plekke soos New York en Alabama was, daar vandag groot verskille in die tendense van individualisme en standvastigheid is. Dit, skryf hulle, “vorm deel van ’n breër patroon van polarisasie van die Amerikaanse samelewing sedert die 1970’s”.
Het hierdie stylveranderinge ’n sosio-ekonomiese oorsprong? Inderdaad. Wanneer hulle bloot na korrelasies kyk, vind Voth en Yanagizawa-Drott dat hoërinkomstegroepe geassosieer word met groter individualisme en stylvernuwing. Dit is natuurlik nie kousaal nie; daar is baie ander onsigbare faktore wat ’n rol kan speel. Inderdaad, wanneer hulle vir streekseffekte kontroleer, raak die verwantskap negatief. Wat wel interessant is, is dat ras nie werklik ’n rol speel nie; dis eerder sosio-ekonomiese klas wat saak maak.
Die interessantste resultaat van die studie is egter die effek van stylvernuwing op werklike tegnologiese vernuwing, gemeet aan nuwe patente. Die skrywers vind dat dié in gebiede wat baie nuwe style skep, ook meer patentaanvaardings indien en meer patente toegeken word. Terwyl individualisme en volharding nie sterk tegnologiese vernuwing voorspel nie, voorspel stylvernuwing dit wel. Dit beteken natuurlik nie dat die blote dra van unieke klere tot meer patente lei nie. Dit dui eerder daarop dat hoërskoolomgewings met ’n liberale kultuur wat studente toelaat (of dalk selfs aanmoedig) om uit te staan, ook die tuiste is van studente wat later in hul lewe nuwe oplossings en produkte uitvind.
Is my hipotese dat individualisme vandag laer as in die 2000’s is, dus verkeerd? Soort van. Mans is beslis meer kreatief in hul dagdrag as wat hulle voor die 1960’s was. Maar Voth en Yanangizawa-Drott se studie eindig in 2010. Mens sou graag wou weet wat sedertdien gebeur het, en of my hipotese inderdaad korrek is. Mens wonder ook hoe ’n land soos Suid-Afrika, wat afgesny was van die buitewêreld (maar ook nie heeltemal nie), en toe oopgemaak is, ’n land met enorme sosio-ekonomiese verskille en diverse kulture, in só ’n studie sou vertoon.
Een ding is egter duidelik: As ek net my sosio-ekonomiese prestige in ag moes neem, sou die regte antwoord op my vrou se “Werk dit?” elke keer wees: “Gaan bos!” Gelukkig is sy altyd reg.
Lees ook:
Skatryk: leef ons wérklik beter? ’n Onderhoud met Johan Fourie