
Fotobron: Canva
Ons is terug by die standbeelde. Wêreldwyd beland slawedrywers in visdamme en koloniale leiers op die ashope van ’n geskiedenis wat talle mense, om uiteenlopende redes, al lankal wou vergeet. ’n Begripsmatige onderskeid tussen die strewe na ruimtelike geregtigheid (waar openbare ruimtes inklusief gemaak word) en die goeie ou damnatio memoriae (oftewel “uitwissing uit die kollektiewe geheue”) van die Romeinse Empaaier is baie dun.
Standbeelde is nie al verpersoonliking van die bevraagtekende vroeg-moderne menslike kultuur wat by die agterdeur uitgevee word nie. Maatskappye het veral die voortou geneem met films, musiek, produkte, advertensies en arbeiders wat nie die polities- bemarkbare mas opkom nie.
’n Mens sou verwag dat hierdie dae die goue dae sou wees vir diegene wat met die nuanses en standpunte van die ideologiekritiek bekend is. Veral denkers wat hierdie dae as die aanbreek van die Hegeliaanse Totale, of die Marxistiese eindstuwing van die geskiedenis beskou het (in die rigting van die ten volle gemeganiseerde, inklusiewe en utopies-kommunistiese “ubermensch”) sal tog sekerlik die globale voetsoolvlak-ontevredenhede as volmaakte praksis beskou?
Dit is egter net hier waar die nimmereindigende kompleksiteit van die mensdom, vasgevang op “hul” besoedelde stofkorrel in ’n agterjaart van die Melkweg, ’n stopteken voorhou vir alle koorsdrome oor eenvoudige utopiese antwoorde en ideologiese kitsoplossings.
Sowat ’n week of wat gelede het ek geskryf oor hoe die nuutste ideologiekritiese moment, na afloop van George Floyd as sneller, kenmerkende vlakke van welwillendheid toon teenoor die algemene publiek se onkunde oor kultuurkritiese posisies in die feminisme, kritiese rasseteorie en dekolonialiseringsteorie. Iemand wat veral in die Rhodes Must Fall-protesaksie bekend was, deel byvoorbeeld anderdag ’n meem wat hierdie gevoel uitbeeld: ’n Verwarrende, deurmekaar karakter uit die gewilde komediereeks Parks and recreation se dringende samesweringsteoriestyl-gebrabbel word gelykgestel aan aktiviste se pogings om die anti-Rhodes-standpunt in 2015 aan die publiek te regverdig. Die res van die meem behels ’n vername ou professor se verduidelikings aan belangstellende studente, wat weer gelykgestel word aan dieselfde antistandbeeld-aandrang in 2020. Die gevolgtrekking is dat diegene wat sigbare verandering teweeg wil bring, sover ons samelewing sigself vereenselwig met bose historiese figure, met die tyd “ouer en wyser” geword het.
Na my stuk het ek my afgevra of ek nie maar my woorde moes gesluk het nie. Ander mense het ook daarop gewys dat die vriendeliker gees van samewerking en oortuiging wat baie aktiviste aangewend het, in skrille kontras staan met die geweldpleging by sommige betogings, die impulsiewe aanval op al wat openbare kultuurhistoriese baken is, die histeriese “unfriending” en algemene polarisering wat skynbaar van demokratiese dialoog ’n museumstuk maak.
Na baie dae se wroeging besef ek dat my week oue standpunt oor vriendeliker ideologiekritiek nie geheel na sy maai is nie. Inteendeel, die nuwe aktivisme van 2020 is aansienlik minder troebel as in 2015, omdat die ongemak onder ideologiekritici rakende die dinge wat in die naam van kultuurkritiek in die praktyk gedoen word, ’n gesonde verwikkeling is.
Sien, die ideologiekritiek het nog nooit rasionaliteit in beginsel afgeskryf nie. Bewysbare stellings en metodieke wat self aan rasionale kritiek onderwerp kan word, was nog nooit vreemd vir ’n gedissiplineerde, sistematiese en konsekwente toepassing van ideologiekritiese beginsels nie. Tweedens is dit nie die mikpunt van ideologiekritiek om demokratiese instellings totaal af te breek of om te keer nie. Die doel was eerder om instellings inklusiewer te maak, en demokrasie na te streef in die vorm van niegemonopoliseerde ekonomiese en politieke instellings. Laastens, en dalk mees vernaamlik, behoort ideologiekritici ’n afkeer te hê van ’n praksis, oftewel ’n uitvoer van ideologiekritiek, wat haar geldigheid uit die blote nadoen van vorige protesoptrede of trendy gesegdes put. So ’n benadering tot ideologiekritiek noem ek voorts “performatief” of op Engels, as tekenend van performativity. Die standpunt wat ingeneem word, put sy geldigheid uit die blote maak van gewilde stellings, of deur ’n prima facie-verskynsel van onreg as onweerlegbare getuienis daarvan te ag.
Sosiale media het die geleentheid vir ideologiekritici gebied om kritiese posisies na die hoofstroom te bring. Voorheen moes denkers hoofsaaklik op akademiese publikasies en die formele meningsmedia staatmaak om hul standpunte gelug te kry, wat dikwels die openbare diskoers gemis het deur te ingewikkeld voor te kom en verstrengel te raak in vaktaal. Die ironie daarvan dat middelklas- akademiese geleerdes vanuit hul ivoortorings maatskaplike kritiek lewer, het nie baie mense ontgaan nie.
Sosiale media het organisasie vergemaklik en eindelose geleenthede vir openbare verheldering gebied, iets wat gou as woke bekend geword het. Die gewone landsburger, die Jan op straat, het skielik toegang tot ’n voorheen onbekombare skatkis van goed-gefundeerde en empiries bewese krities-teoretiese raamwerke. Op kampusse, en onlangs in Suid-Afrika selfs op skoolvlak, het aktiviste daarin geslaag om hulself te bemagtig met die nuutste goedberedeneerde standpunte oor dekolonialisering, die opening van uitsluitende instellings en die identifisering van institusionele diskriminasie en ongelykheid.
Die nare nadraai is dat sosiale media telkens afwater tot ’n onverstaanbare geraas. Standpunte word met die druk van ’n knoppie wyer en vinniger gepubliseer as ooit vantevore. Die demokratisering van meningsuitdrukking het veroorsaak dat ons met ’n oorvloed inligting, fopnuus en kritiek in die vorm van monoloë te doen het, maar met weinig oorwoë dialoog. Ons is terug in die parlement van die ou Griekse stadstaat Sparta, waar die wenners van debatte geken is aan hul vermoë om hard genoeg te skree, sodat niemand anders iets kan uitkry nie. Deur die spreekruimte te oorheers, wen jy politieke veld. ’n Riller van ’n beginsel as ’n mens dink aan hoe Trump se verkiesingsveldtog juis die veldslag om aanlyn inhoud gewen het en sodoende mense se infodieet gebruik het om beduidende getalle draadsitterkiesers in sy guns te draai.
Tussen al die geraas deur word ook ideologiekritiese teoretiese raamwerke, wat ironies genoeg op die demokratisering van ook spreekruimtes toegespits is, as ’n tipe aanlyn “straattaal” aangewend. Pleks daarvan om die voormalige grense van Westerse rasionaliteit uit te daag en die perke van kenbaarheid te verskuif, word die terminologie uit die kritiese skole goedsmoeds in die aanlyn wêreld uitgespuug. Dis asof daar ’n enorme hubris, ’n pseudogeleerde arrogansie ontstaan het om teoretiese konstruksies ten alle koste soos gietvorme op elke denkbare kulturele moment met mag en mening te maak pas.
Die aanlyn massas is blykbaar onder die indruk dat die blote uitroep van ’n ideologiekritiese begrip die oordeel finaal vel, so asof die verbaliteit daarvan ’n magiese spreuk is wat die realiteit afskaaf om binne die spreker se vooropgestelde gevolgtrekking te pas. Dit roep as’t ware die beeld op van karakters uit die Harry Potter-reeks, wat met ingewikkelde towerwoorde hul omgewing kan manipuleer.
Ideologiekritiek het nog nooit sonder rasionele metodiek te werk gegaan nie. Diegene wat reken die ideologiekritiek probeer Westerse konstruksies van rasionele redevoering uit die weg ruim, maak ’n fout. Hulle verwar die kritiese dissipline se pogings om die kanons van tradisionele (lees: wit modernistiese) rasionaliteit inklusief te verbreed met ’n totale vernietigende aanslag teen die begrip van redelike metodiek: ’n besliste misverstand wat dalk juis deur die gebruik van “straatlangse kritiese teorie” aangevuur is.
Dit is juis die sistematiese en getuienisgebaseerde werkswyse van ideologiekritici so ver terug as Jean-Jacques Rousseau, Frederic Bastiat, Karl Marx en 20ste-eeuse kritici soos Theodor Adorno, Herbert Marcuse, Simone de Beauvoir, Noam Chomsky, Jacques Derrida en (meer onlangs) Judith Butler wat die respek van kritiese teorie vir rasionaliteit illustreer. Of hierdie denkers altyd die beste praktyke voorgestel het vanuit hulle teoretiese bevindinge, is geheel ’n ander vraag as hulle vertroue in sistematiese en versigtige redenasie. Dit is juis daardie metodiek wat staan agter elke klip wat hulle in die bos van menslikekultuurstudies sou werp.
Die leerskares op Twitter en Facebook, wat sonder om behoorlik te luister of selfondersoek in te stel, die woorde van ideologiekritiese meningsvormers in die skeppers se eie monde verdraai deur dit soos towerspreuke rond te slinger, is onverantwoordelik en afbrekend. In die aangesig van kompleksiteit en die tekort aan ’n ewige, universele en doodsekere verwysingspunt waarvolgens ons menslike kultuur maklik kan rig, is die mens gedwonge om vanuit die hart ons gemeenskappe die perke en reëls van ons sosiopolitieke en ekonomiese instellings te stel. Dit is nie ’n proses wat kan toelaat dat sekere partye deur blote performatiewe taal en gedrag groot gevolgtrekkings namens almal maak en voorskrifte ter verandering beveel nie. Kompleksiteit vereis, in die taal van die ontslape dekonstruksiekenner en kompleksiteitsteoretikus Paul Cilliers, ’n modieuse of ’n “nederige” posisionering teenoor groot vraagstukke. Dit vereis ’n openheid om standpunte aan rasionele uitdaging te onderwerp en binne die reëls van diskursiewe spel te werk, selfs al vra ideologiekritiek dat ons die spelreëls van rasionaliteit verbreed om interne teenstrydighede wat ingeburgerde hiërargie en vooroordeel veroorsaak, op te los.
Performatiwiteit is ’n siniese pseudo-ideologiekritiek. Vir persoonlike en selfs politieke gewin maak performatiewe meningsvormers van openbare platforms gebruik om vakterminologie sonder rasionele struktuur aan te wend, en in weerwil van demokratiese prosesse wat bestaan om mag en oorheersing uit die staanspoor hok te slaan of ten minste om billikheidsredes uit te balanseer. Daar is geen aspirasie na ’n beter toekoms waar ongelykheid uitgeskakel is nie, eerder net ’n religieuse soeke na die voorbepaalde en arbitrêre wanoptrede van ander. Standaarde van aanvaarbare gedrag is vir buitefigure onbekend en amper enige uitspraak of gedrag kan deur middel van blote veroordeling tot morele taboe geslaan word. Dit herinner aan die vroegste regsprosesse in Antieke Rome, waarvolgens geldige eiendomsoordrag of die geldigheid van kontrakte bloot op grond van die uitspreek van sekere semimagiese spreuke gewaarborg is, eerder as deur rasionele ondersoek na konsensus tussen die partye of na die wettigheid van ’n kontraksbeding.
In die laatkapitalistiese stadium van verhandelbare reputasies, sosiale-media-influencers en bemarkbare sosiopolitiek waarmee jy bo jou markopposisie kan uitstyg, vervlak performatiwiteit die ideologiekritiek tot ’n kompetisie oor wie die vinnigste die meeste bitsige veroordelings neer kan vel. Performatiwiteit vereis nie konsekwentheid of ’n redelike verduideliking van standpunte nie; die uiter van ’n aantyging is genoeg om aan te dring op die agentskap om die ratwerke van openbare instellings volgens die spreker se oordeel te manipuleer. Sodoende word uitsprake wat “die kollektief” kwansuis ter wille is, gerig volgens die wil en weë van trendy (dikwels wit Engelssprekende of Amerikaanse) individue wat kommentaar lewer uit die skemer van hul slaapkamers.
Die toets wat ons almal aan die dag kan lê om siniese en aandagvraatsige performatiwiteit van nuttige ideologiekritiek te onderskei, is om die dialogiese aard van ’n openbare mening te bekyk: Is daar ruimte vir argument? Probeer die spreker sy gevolgtrekking geldigheid gee deur die blote uiter van ’n modieuse stelling of die nadoen van aanlyn gedrag, of voorsien hy ’n rasionele argument?
Ideologiekritiek het die doel om hubris oor standaarde en stelsels in die samelewing aan te vat. Ons moet dus baie bedag wees op performatiewe gedrag wat so selfingenome is dat die soeke na morele verbetering in ’n komplekse wêreld nie meer volgens rasionele en dialogiese belyning plaasvind nie.
Lees ook:
Kommentaar
Ek dink ook aan intellektuele aktivisme oa Montesqieu, Voltaire (JJ Rouseau soos genoem) gerugsteun deur 'n ideo-kritiese en substansiële denkwyse, uiteindelik performatief.
Terug is in Sparta, hoe kan die eensydige kollektiewe gedrewe motief nadoen as die rasioneel 'n vakuool sonder enige logistiese ballas is? Frederik?
Huh?
Die groen tee het helaas nie hierdie in verteerbaarheid omgesit nie. Indien iemand 'n vertaling na Afrikaans iewers vind, laat my weet. Ek leer graag.
Ek dink dis Pinkerton wat die die 'Vloek van Kennis' genoem het. Miskien sal dit 'n goeie oefening wees vir so 'n slim geleerde om sy skrywe te 'vertaal' in gewone taal sodat meer mense (insluitende sy kollegas) dit kan lees. Dit sal ook sommer van hom 'n baie beter skrywer maak.
Ag, ek weet nie waar die ton vandaan kom nie. Ek het bedoel Pinker.
Ek vermoed die heer Brand het net ’n grappie probeer maak. Hy kon beswaarlik ernstig gewees het.