Afrikaans by die Universiteit van Fort Hare maak sy deure toe

  • 14

Universiteit van Fort Hare, Oos-Londen-kampus (Foto: UFH)

Luidens ’n berig in Die Burger van 30 April (“Fort Hare ontken dat hy Afrikaans-departement gaan sluit”) haal die joernalis ’n personeellid by Fort Hare aan wat “gerugte dat sy Afrikaans-departement gaan sluit, as vals en misleidend afmaak”.

LitNet het aan Renuka Vithal, visekanselier vir akademiese aangeleenthede, en vir Tandi Mapukata, direkteur van institusionele bevordering, by Fort Hare versoek om op Susan Smith se stuk hier onder te reageer.

Tans is daar aanduidings dat Afrikaans steeds as onderwysvak aangebied sal word, vandaar LitNet se versoek om verheldering. Wanneer, of indien, die antwoord kom, sal dit prominent geplaas word. Susan Smith se “lykrede” gaan oor die verlies van “haar geliefde departement” en die gepaardgaande statusverlies van die vakgebied, soos duidelik in die stuk vermeld. Daar is dus ’n verskil tussen die bestaan van ’n selfstandige Departement Afrikaans en die aanbied van Afrikaans as onderwysvak binne ’n ander departement, byvoorbeeld Opvoedkunde.

(Bygewerk op 30 April 2021 deur Izak de Vries.)

...
Die gevolge van die besluit is verreikend vir die Oos-Kaap-gemeenskap en die implikasie vir Afrikaans in die breë.
...

“My hartseer ken geen perke nie.”

Te midde van rou oor boeke en biblioteke, oor verlore taalgeskiedenisse en oor verlies aan taalvryheid skryf ek vandag my eie lykrede vir my beroep en vir my Afrikaans-departement.

Want die Universiteit van Fort Hare (UFH) het oor ’n tydperk van maande, en met heelwat konsultasie, die besluit geneem om die Afrikaans-departement te ontbind as gevolg van krimpende studentegetalle en die finansiële nielewensvatbaarheid. Fort Hare is sedert 2019 onder administrasie en die sluiting vorm deel van ’n groter proses waarin die finansiële krisis waarin die universiteit sigself bevind, aangespreek word. Die sluit van die Afrikaans-departement hier kom as nog een van ’n reeks kishoue wat Afrikaans toegedien word.

Die gevolge van die besluit is verreikend vir die Oos-Kaap-gemeenskap en die implikasie vir Afrikaans in die breë. Nie net is Afrikaans as medium van onderrig in die afgelope jare toenemend in die spervuur nie, maar die sluit van die departement by Fort Hare, op die hakke van soortgelyke of voorsienbare aftakelings van Afrikaans-departemente by ander universiteite, beklemtoon die kritieke situasie waarin Afrikaans sigself bevind.

En so kom ons vandag te staan voor die skrif aan die muur: Dit gaan nou nie meer net oor Afrikaans as medium van onderrig by ’n laaste bastion van Afrikaans nie; dit gaan oor die voortbestaan van Afrikaans as akademiese vakdissipline op tersiêre vlak in Suid-Afrika. Met die uitsondering van enkele universiteite, is bykans alle Afrikaans-departemente onder druk.

...
Op persoonlike vlak is die verlies onbeskryflik. Ek voel ontheem; ek is in rou.
...

Op persoonlike vlak is die verlies onbeskryflik. Ek voel ontheem; ek is in rou. Vir my is Afrikaans nie net nog ’n vakdissipline nie – dit is my lewe, my identiteit. My lewe is ingeploeg in die beskerming en grootmaak van hierdie baba. Ek identifiseer met die departement wat ek saam met my kollegas opgebou het; ek identifiseer met elke stukkie vakinhoud; as ek voor ’n klas staan, lewe ek. My lewensvreugde is die vonk van kennis en insig wat ek aansteek. Ek identifiseer met elke jongmens wat voor my gesit het; ek het hulle by die naam geken. Hulle staan in die klaskamers voor jou kinders, hulle leer jou kinders Afrikaans praat.

’n Mens kan die rede vir die kwynende studentegetalle op verskeie gebiede gaan soek, en as akademikus begin jy by jouself: Waar het ek fouteer? Hoe kon ek hierdie sluiting voorkom het? Het ek genoeg skole besoek? Het ek met genoeg ouers en onderwysers gepraat oor Afrikaans? Hoe kon ek groter geloofwaardigheid gegee het aan ’n vak wat deur al minder jongmense as ’n toekoms gesien word? Want steeds, ten spyte van alles wat gesê en gedoen is, staan Afrikaans as smetnaam in die oë van baie Suid-Afrikaners, het ek hierdie week weer ervaar toe dit die heel eerste sogenaamde feit is wat opgehaal word vanuit die bykans hoogste bestuurstoel. Wáár begin die herstelproses as jy nie eens op hierdie vlak ’n verskil kan maak en die feite reggestel kry nie?

...
“Ons taal.” Maar wie is ons? Hoe sluit ons in, hoe sluit ons steeds uit?
...

“Ons taal.” Maar wie is ons? Hoe sluit ons in, hoe sluit ons steeds uit? Ons wat Afrikaans praat, is lankal nie meer dieselfde ons as wat baie mense in hul kop het nie. Die statistieke toon vir lank reeds dat die grootste persentasie Afrikaanssprekers nie wit nie nie, maar bruin is. Dat ons ’n gedeelde taalgeskiedenis het, wortels wat in hierdie aarde eerste uitloopsels begin maak het.

En hoe staan dit met Afrikaans in die gewone daaglikse lewe, buite die politiek, buite die akademiese vuishoue? Dis tog waaroor dit gaan, reg? Ons praat die taal – solank ons die taal praat, gaan niks verander nie. Reg?

Verkeerd. In Afrikaans-gemeenskappe se gesprekke word jy op die skouer geklop oor die “goeie werk” wat jy daar doen om Afrikaans lewend te hou; dis wonderlik dat daar sowaar ’n Afrikaans-departement by Fort Hare in die Engelse Oos-Londen is. Hou so aan! Jy hou ons taal lewend hier in Oos-Londen. En hier by die huis praat ons Afrikaans.

Maar hier en daar het alles met mekaar te doen.

Want sien, daar is ’n kringloop in al hierdie dinge, ’n ragfyn web van verbinding: As jy jou kind na ’n Engelse voor- of laerskool stuur, bly sy plek leeg in die Afrikaanse skool om die hoek; en die graad 8’ie gaan mos natuurlik saam met sy maats hoërskool toe, Engelse skool toe. Om beter voorbereid op die lewe te wees, maak jy die saak uit. Jy steur jou nie aan jare lange navorsing wat wys op die kognitiewe-ontwikkelingswaarde van moedertaalonderrig nie. Jou kind is mos slim. En per slot van rekening: Julle praat mos nog steeds Afrikaans in die huis. Niks gaan verlore nie. Sê jy vir jouself. As voorskoolse mamma vertel jy trots en met humor hoe jou man ekstra Engelse klasse neem sodat hy darem ’n gangbare Engels met julle kind kan praat. Want sien, julle praat net Engels met haar. Dis hoe julle haar help. Julle wil net die beste vir haar hê. En jy is verbaas as ek voor al jou vriende ontplof.

Moenie jouself bluf nie: Het jy agtergekom dat jou kind se Afrikaanse woordeskat krimp, dat hy nie meer idiome ken soos jý dit geken het nie; dat haar vermoë tot beeldspraak en abstrakte denke ingekort is; dat sy punte vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal maar middelmatig is in die Engelse skool? Nee wat, jy sien dit nog nie raak nie. Julle praat mos Afrikaans in die huis. Julle gaan kyk na Afrikaans is Groot; julle sing lekker saam met Afrikaanse musiek. Miskien lees julle selfs so dan en wan ’n Afrikaanse boek. Dalk kóóp julle selfs ’n boek. En as jy nou regtig van iets hoor wat jy wil lees, kopieer jy dit sommer gou. Selfs jou kinders se voorgeskrewe gedigte kopieer jy – dit werk baie goedkoper uit as om die handboek te koop. Jy self het in matriek laas ’n gedig gelees. Maar jy is lief vir Afrikaans. Jy glo dat Afrikaans gaan voortbestaan. Dis julle huistaal.

En om terug te keer na die Afrikaanse laerskool om die hoek: Die kinders word minder, die klasse kleiner. Die Afrikaans-juffrou verloor haar pos. Nog minder kinders bereik die Afrikaanse hoërskool. Die klasse word kleiner, onderwysers minder. Engelsmedium word ingevoer. Gou is Afrikaansmedium in die weegskaal. Minder voornemende studente registreer vir Afrikaans – dit is nie die vak wat hulle meer wil neem nie. Wat gaan jy daarmee doen in ’n kwynende Afrikaansonderwysmark, in ’n krimpende joernalistieke mark. En eintlik is jy nie meer tuis daarin nie. Minder studente kies om Afrikaansmedium-onderwysers te word. Ouer Afrikaans-onderwysers tree af; al minder Afrikaans-onderwysers is beskikbaar. Afrikaanse skole maak hul deure toe. En so voort.

Die Afrikaans-departement by Fort Hare se voorgraadse studente was grootliks opvoedkundestudente wat besig was om hulle te bekwaam vir die onderwyssektor, en die Afrikaans-departement was betrokke by die onderrig van Afrikaans as moedertaal, as eerste addisionele taal en as kommunikasietaal. Dit het meegebring dat studente uit ’n breë taalverspreiding blootgestel was aan Afrikaans as keusevak en dat talle huidige onderwysers in Oos-Londen en omgewing oor die jare hul opleiding by hierdie departement ontvang het. Nagraadse studente was meestal voltydse onderwysers wat hul kwalifikasies wou verbeter en vernuwing wou teweeg bring. Ja Prof, dit maak ’n verskil aan hoe ek nou klasgee, sê die vakhoof van Afrikaans by een van die vooraanstaande skole in Oos-Londen.

...
As niemand meer die taal op enige hoër vlak as opvoedkundegerigte Afrikaans neem nie, wie is die toekomstige opvoeders van die opvoeders?
...

Een van die gevolge van die departement se sluiting is die reikwydte van dit wat oorbly van Afrikaans in Oos-Londen, in die Oos-Kaap. As niemand meer die taal op enige hoër vlak as opvoedkundegerigte Afrikaans neem nie, wie is die toekomstige opvoeders van die opvoeders? Dit word ’n afwaartse spiraal van wydte en diepte van kennis wat verlore gaan, ’n afgewaterde leivoortjie van Afrikaans. Hoe voed ons Afrikaans hiermee?

In die klemgreep van die ekonomie, die mag van rand en sent wat harder praat as enige kultuur of taal of enige intellektuele fokus, en wat die vertrekpunt in elke gesprek is oor Afrikaans se “voortbestaan” by die meeste universiteite, raak die stem van rede en wysheid verlore, raak die stem van Afrikaans verlore, en uiteindelik selfs die voortbestaan van individuele Afrikaans-departemente. Hoe lyk ’n vakdissipline wat uiteindelik net aan drie of vier universiteite aangebied word? Wat is die uiteindelike lewensvatbaarheid van hierdie departemente? Gaan daar nog nagraadse studie onderneem word? Wat is die beroepsmoontlikhede van sulke studente? En ironies genoeg is dit ook steeds die wisselvallige posisie van die ander inheemse tale by baie universiteite, terwyl Engels koloniaal van krag tot krag gaan en loshande voor is as dit by inkomstegenerering kom.

Ek het nie antwoorde nie. Ek weet nie waarheen ons op pad is nie. Wat ek wel weet, is dat met die sluit van hierdie departement, my hart in rou gedompel is oor my Afrikaans.

lykrede vir ’n taal aan die vergete kant van die land

aan hierdie kant van die land op die derde vloer van die caxtongebou wat ook
die elcogebou was op die derde vloer op dieselfde derde vloer waar vóór 94
die veiligheidspolisie se kantore was waar iemand tydens ondervraging
deur ’n venster

splinternuut in 2005 chris hani herdoop in hoop en ywer deur ’n herbenoemingskomitee gedekoloniseer nooit gerealiseer op enige muur teen enige ingang
op enige dokument nie het hani wéér gesterf dié keer deur onverskillige
hande van eie comrades in akademia ongeraak alles net futlose retoriek

in kerkstraat bly die afrika-universiteit koloniaal getrou aan engelse heerskappy
want wat is die gewig van ’n naam die gewig van omgee immers? en kom en
gaan soos seegetye die heerskappye van opeenvolgende besture in korrupsie
en selfverryking geldkoffers stroop

maar op hierdie derde vloer kamer 304 was daar afrikaans eenmaal vir 17 jaar lank
skryf dit neer dat dit nie vergeet kan word nie eenmaal vir 17 jaar lank eenmaal
geglo dat dit in die son en wind teen die see en die loei van ’n mishoring sommige
dae oorkant die grou gebou waar ’n vragskip dan en wan in vuil ruite reflekteer
die hawe invaar die see die wind altyd daar anders kon wees met ’n taal uit hierdie
aarde ’n taal wat die skuld afskud tussen swart kollegas swart studente wat my wit
hande vat wat ’n nuwe pad stap

op die derde vloer met die afskilferende mure verrottende vensterrame stukkende
hysbakke vuil badkamers plafonne wat plek-plek inval duiwemis en stof sif oor
swakverligte lesinglokale gebreekte banke swart en bruin studente gelate aanvaar
dis hoe dit is tot die volgende vonk #allmustfall ontbrand dat dit anders kon wees

anders kon wees het ek geglo die klein blink houtjies neergelê vir taal en poësie
sorgvuldig uitgepak gestapel lewensvonke aangesteek dat alles nuut kom word
en blink oë van jongmense dat ons mekaar tot in mekaar se siele vir die eerste
keer sién luister na jong bruin digterstemme omarm die afrika-oorsprong van taal
verstaan die skuld op die derde vloer waar ek geglo het woorde maak ’n verskil ook
aan skuld aan wit medeverantwoordelikheid op die derde vloer

waar dit alles tot niet kom word het

aan die ander kant van die land brand groter vure harder loei die winde aan
die anderkant van die land brand dit by die mooi wit dorp oor taal brand dit by
die biblioteek teen die berg en ’n land roep uit en rou      aan hierdie kant die vergete
kant sterf ’n taal stilweg bladsy vir bladsy word ’n paar duisend Afrikaanse boeke
stilweg geoormerk vir pulp het ’n departement op die derde vloer in die gebou
langs die see se lyk reeds ontbind

Lees ook:

Wat verdedig ons? Die Afrikaanse kampus as fabriek

Luister bo kibbel bou inklusiewe akademiese gemeenskappe

Uit die argief, US-taaldebat 2021: Referaat: Die impak van taalpolitiek op universiteite in Suid-Afrika – die geval Afrikaans

burning bright

US-taaldebat 2021: Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch

  • 14

Kommentaar

  • Kan die biblioteek tog gered word vir diegene wat nie hoop opgegee het oor die voortbestaan van Afrikaans nie?

  • Thomas Deacon

    Wat 'n ramp! Hoe kan dit toegelaat word? Maar niks sal ons taal kan vernietig nie. Swart tale sal verdwyn as gevolg van die feit dat swart mense verkies om Engels bo hulle eie tale te verkies. Maar Afrikaans? Nooit!

  • Bernard Odendaal

    Ek rou saam met jou, Susan, en al jou kollegas en oudstudente en studente van tans. Ek rou saam met jou. Ons rou.

  • Well, no wonder at all given that in the eyes of millions of blacks it remains language of the oppressor for decades to come, if not forever. The bulk of sentient white SA's will understand this perfectly and it is such a pity that Afrikaans, a beautiful language once to be reckoned with now has to go down the tubes as one to be harshly dealt with.
    Such a massive but understandable mistake by Afrikaner forefathers who opted for separation given their struggle for a place in the sun, ring-fencing themselves and clutching the entire country to own chests but for a few tracts of land as scraps for the rest. Doomed to failure, refusing the blacks a rational future eventually brought Afrikaner aspirations to its knees.
    Even critical realities of a fractured history fending off so many setbacks leading to Apartheid as a striving for Afrikaner freedom came to nothing. The winner always takes all.
    Its down to the wire now, and those who continue the fight for preservation of the language will have to chew on an already stripped bone for any form of sustenance and strength.
    Such a massive pity, as it could all have been so different with a sense of reason, now completely beyond grasp.
    Sadly, die wat nie wil luister, moet voel.

  • Dorothea Pienaar

    Daar moet 'n manier wees waarop almal kan saamstaan om ons mooi taal lewend te hou. Ek wil dit bly glo.

  • Bou 'n Akademia en Sol-Tech soos die Afrikaners in die Noorde gedoen het. Anders is ek bevrees loop Afrikaans die gevaar om uit te sterf in die Kaap en slegs 'n kuriositeit aldaar te word.

    Indien dit nie gedoen word nie, gaan die diversiteit en veelheid van Afrikaans daaronder ly en stelselmatig verdwyn, synde dat die grootste deel van die Afrikaanses, die bruin mense, se bydrae en aandeel dan ook daarmee heen sal wees. Wat 'n skande sal dit nie wees nie.

    Wanneer gaan die Kapenaars by hul Noordelike broers en susters leer hoe dinge gedoen word? Of verkies hulle om dit maar net daar te los en op gee?

    As Solidariteit dit kan doen kan die welaf Kaap met sy groot getal relatief welgestelde Afrikaanse inwoners dit definitief dupliseer. Maar weereens, bestaan die werklike, opregte entoesiasme en wilskrag daarvoor, of is dit maar net 'n geval van 'n geween en gekners van tande?

  • Hendrik Jansen van Rensburg

    R van Druten: By your reasoning, English, with its unbearable baggage of having been the language of the British Empire and Cecil John Rhodes ‒ but one amongst many other oppressors of "the blacks", as you refer to them ‒ should have gone to the garbage dump long before Afrikaans. Ek sê maar net ...

  • Marianne de Jong

    Vir jou wat ook in Afrikaans dig en akademies publiseer moet dit 'n pynlike en persoonlike verlies wees. Ek het in die tagtigerjare Afrikaans doseer by Fort Hare-universiteit. Met die lees van jou stuk het ek gewonder of 'n soort historiese studie van hierdie departement wat Fort Hare sou insluit nie ter sake sou wees nie. Dit sal polities en krities moet wees - ek was daar toe Fort Hare nog onder Broederbond-bewind was, maar dit het nie verhinder dat ek oor Heyermans se sosialisme en Breytenbach se politieke gedigte klas gee nie. Dalk 'n projek vir 'n student? Ek is bly dat jy die persoon is wat hierdie tradisie en geskiedenis afsluit, Susan.

  • Dorothea Pienaar

    Dit is so goed om jou opinie ook te hoor, Marianne. Ons was ook destyds by Fort Hare - ek was toe bekend as Dollie van der Zee. Ek onthou hoe ons poësie-aande by jou huis gehou het. Ek het ook vir 'n kort rukkie Afrikaans by Fort Hare doseer - net vir die Regstudente wat Afrikaans moes hê.

  • Marianne de Jong

    Ek onthou jou en die byeenkomste. In daardie tyd het wyle Rike Olivier ook Afrikaans kom doseer by Fort Hare.

  • HJvR, no doubt about your assertion, Hendrik, but the big difference is the question of misery entrenched by virtue of legislation separating the masses a la the system of Apartheid and its absurd attempt to disenfranchise the majority in so many ways. That bred deep hatred for Afrikaners and their realities, not the least of which is the language retained as a permanent reminder of the aforesaid.
    Much of what has happened in SA society since the ANC took power by way of setbacks can be attributed to a majority of cadres who have never lost an opportunity to seek revenge. That will not abate for decades yet, while there remain reminders of so many harsh times suffered during Apartheid.
    Have you noticed the rapid upsurge of transformative measures now being taken to rid SA of its past Afrikaner generated oppression?.
    That signals much more to come, and with elections just around the corner State television is again building momentum to show the usual struggle movies with the obvious message being for its supporters that 'whatever you may think of our mistakes and errors and downright corruption, never forget we provided your liberation so just vote with your hearts, notwithstanding the realities of social destruction you may perceive'.

  • Henning Janse van Vuuren

    Sonja Loots skryf in vandag se 'Rapport' oor apatie, daai onverskilligheid wat heelparty wesens ook jeens my moedertaal ervaar: “Daar is al opgemerk dat apatie dikwels deel uitmaak van skisofrenie, parkinsonsiekte, progressiewe supranukleêre verlamming, huntington-siekte, alzheimersiekte, vaskulêre demensie, frontotemporale demensie, ernstige depressie en bipolêre versteuring. ‘It’s a disease,’ skryf Richard Yates oor apatie in Revolutionary Road. ‘Nobody thinks or feels or cares anymore; nobody gets excited or believes in anything except their own comfortable little goddamn mediocrity.’ ” (https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/sonja-loots-smeulende-skade-van-die-mensdom-se-gebrek-aan-voel-20210509)

    Ek glo dit moet bevrydend wees om jouself in jou moedertaal te kan uitleef. Vir Engels sal dit bevrydend wees om soos die Duitser en Afrikaner om verskoning te kan vra vir foute van die verlede. Skisofrenie meng boonop in die gebak en flop, want die dag as almal op Aarde Engels vlot praat, skryf en lees, gaan dit nie die Engelse taal wees wat daaronder ly nie.

    Afrikaans verdien al lank nie meer om die speelbal van korrupte kripvreters te wees omdat “elections just around the corner” is nie; vir die insiglose maaifoedies elders koester ek nie langer hoop nie. Die goeie nuus is dat Afrikaans steeds in die werksplek gedy: https://www.youtube.com/watch?v=KAvqDF3Wujc

  • The misery and poverty caused by the ANC and its cadres are quickly exceeding that caused by the previous political dispensation. The past is used to keep the soustrein moving, but I m afraid it is going slower each year and once it stops the ANC will burn it down. Look at the recent past if you want to talk about oppression of their own people. And Afrikaners are not going down that easily, history has proven that. Eg, if the ANC breaks down our language at public universities (for which we also pay tax and study fees), we build private universities and colleges. Will the ANC also break down those? Probably.

  • Gerrit Boonstra

    Dat 'n taal die sondebok gemaak word vir politieke wandade, wat uitsluiting en minagting van medeburgers beheld, is 'n wanassosiasie van beleid. Die simplistiese feit is dat daar fascistiese Afrikaanssprekendes is, daar geen bewys is dat hulle waansin die gevolg is van hulle moedertaal nie. So 'n afleiding is logies totaal irrasioneel. Diegene wat sulke onsin verkondig, se argumente is so gebrekkig dat dit eintlik lagwekkend is. Maar hoekom dit voor die deur van die swartmense plaas: ons eie mense sing voor in die koor. Gaan kyk maar net hoe die rektore van die Universiteit van Stellenbosch (waar ek in die sestigerjare Afrikaans Nederlands as hoofvak gehad het), op die voorpunt is om Afrikaans te begrawe. Maar gelukkig draai die wiel, en sal die Wim de Villierse van hierdie aaklikge tydvak lank voor die taal se begrafnis deel van die vergetelheid wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top