Afrikaans as onderrigtaal: ’n spesiale "vergunning"?

  • 2

HP van Coller

In ’n onlangse artikel op Knack het Yves T'Sjoen en Wannie Carstens geskryf oor die vryheid om in jou moedertaal onderrig te word, asook die situasie ten opsigte van universiteitsonderrigtale in Suid-Afrika. Lees die artikel hier, asook ’n gesprek wat hieruit voortspruit.

HP van Coller gee hieronder sy mening: 


Die antwoord van proff Van Haute, Praeg, Ruttkamp-Bloem en Kirstner aan die adres van proff Carstens en T’Sjoen gaan in verskeie opsigte mank aan historiese en aktuele besef én logika.

      1. Die hoogleraars stel die retoriese vraag waarom daar vir Afrikaans ’n spesiale “vergunning” moet wees om as onderrigtaal gebruik te word in die hoër onderwys, maar dan nie vir die orige nege van die elf amptelike tale nie. “Worden de grondrechten van wie deze talen spreek dan niet evenzeer geschonden?” Die antwoord daarop is eenvoudig: Ja, inderdaad, indien hulle reeds hierdie reg verwerf het én dit graag sou wou behou. Die feit is egter dat daar géén ander tale – naas Engels en Afrikaans – nog ook volledig onderrigtaal (en wetenskapstaal) was of die vermoë daartoe ontwikkel het nie. Dit is ook nie die fout van die vorige apartheidsregering nie: die beleid toe was juis om apartheid te bevorder, onder meer met onderwys in elkeen van die inheemse tale.

        Die feit is dat daar geen algemene behoefte by die verskillende taalgroepe bestaan om in hul eie taal onderrig te word nie. Swart mense het ook verkies om in die laat-primêre en sekondêre onderwys onderrig in Engels te ontvang. Hierdie besluit het nare gevolge gehad vir swart leerlinge, wie se slaagsyfer in veral wiskunde en wetenskap besonder sleg is. Dit word deur kenners direk herlei na swak begrip van, en swak beheersing van, Engels. Om dus te verwag dat swart tale meteens wat betref terminologie op universiteit gebruik sou kon word, is wensdenkery. Tog geniet ontwikkeling van dié tale (en hul terminologie) wel aandag. Afrikaans is oor jare tot wetenskapstaal en onderrigtaal ontwikkel.

      2. Die finansiële verknorsing waarin Suid-Afrikaanse universiteite verkeer, kan direk teruggevoer word na die regering se subsidiebeleid. Dat daar jaarliks minder geld bestee word aan hoër onderwys, is nie slegs te wyte aan die verhoogde steun aan primêre en sekondêre onderwys nie – dit is goed en verstaanbaar in ’n ontwikkelende land. Die oorsaak daarvoor is veral korrupsie, veeleisende vakbonde en swak bestuur. Die verwagte rommelstatus waarmee Moody’s al lank dreig, sal die laaste beleggers afskrik en geld die land laat uitvloei. Die finansiële verskoning vir eentaligheid is dus gewoon vlieëvangery en sou goedskiks op enige meertalige land van toepassing gemaak kon word – veral as sy regering ook geld verkwis en steel.

        In die brief word dit gestel dat dit by implikasie onbillik is om “blanke, Afrikaanssprekende studenten in klein(ere) groepen” te onderrig in Afrikaans “terwijl hun zwarte collega’s in oorvolle zalen worden gepropt”. Ek begryp hierdie logika (?) moeilik. Met die Afrikaanssprekendes daarby word die lesingsale tog net nog voller, of hoe? Dan word beweer dat dit “toch een merkwaardig gebrek aan historisch inzicht en aanvoelen [is] om niet onmiddellijk te begrijp welke duistere herinneringen dit bij de meerderheid van de bevolking oproept”. Nêrens in die hoogleraars se reaksie verreken hulle die feit dat die meerderheid sprekers van Afrikaans bruin is en nie blank nie. Juis hulle wat uit armer huishoudings en swakker skole kom, word direk nadelig geraak deur die regeringsbesluit om net in Engels onderrig te gee.

      3. Met mense wat nie demokraties ingestel is en moedertaalonderrig as ’n fundamentele reg beskou nie, val eintlik nie te redeneer nie. Om mensepotensiaal verlore te laat gaan is in terme van finansiële (en ander) koste veel groter as wat dit kos om enkele lesings te dupliseer. Dat die Afrikaanssprekendes moet instaan vir die voorsiening van hoër onderwys (soos in die geval van Akademia), is ’n vreemde redenering wat die staat se verantwoordelikheid in hierdie verband buite rekening laat. Dan moet jy ook redeneer dat ook ander taalgroepe moet instaan vir onderwys in hul eie taal, ook op laer- en hoërskool. Én dat mense maar self hulle reëlings moet tref om hulle eie veiligheid te waarborg, of self moet begin om stede skoon te maak, paaie self te onderhou, krag self op te wek, briewe self te verstuur, self ’n lugdiens moet begin én hospitale self moet in stand hou! En net vir alle duidelikheid: dit is wat die afgelope jare toenemend gebeur met munisipaliteite wat vou, Eskom wat steier, die SAL wat bankrot is, Telkom wat disfunksioneel is en padinfrastruktuur wat intuimel. Dit alles weens vrot bestuur en korrupsie. Miljarde rand wat so verlore gegaan het, kon veel beter vir die onderwys – op alle vlakke – benut gewees het: ook vir tweetalige hoër onderwys.

      4. Ten slotte begryp die geleerde hoogleraars min van die geskiedenis en weet skynbaar nie dat die Afrikaanssprekende ná die Anglo-Boereoorlog verarm was met afgebrande plase, met duisende vroue en kinders wat in konsentrasiekampe gesterf het én dat daar sistematies teen hulle (en hulle taal) gediskrimineer is nie. Hulle nasionale stryd en hulle opheffing toon inderdaad merkwaardige ooreenkomste met die verarmde Vlaminge se taalstryd. Die verskuiwing van die Franse gedeelte van die Katholieke Universiteit van Leuven was ’n direkte gevolg van taalwetgewing en het geensins beteken dat Franse onderrig gestaak is nie.

      5. Die briefskrywers konsentreer net op hoër onderwys en verloor uit die oog dat daar in die afgelope jare verskeie pogings was om Afrikaanstalige skole te omvorm tot tweetalige skole óf eentalig-Engelse skole. Daar is oorvloedige bewyse dat daar ’n stryd teen Afrikaans woed; dalk ten dele begryplik in ’n bepaalde perspektief wat uit die oog verloor dat Engels op presies dieselfde wyse as Afrikaans baat gevind het by apartheid én dat ’n taal nooit (behalwe in ’n diktatuur) pa kan staan vir sondes van (sommige van) sy sprekers nie. Dan was daar vandag geen Duits meer nie, en Russies sou ’n vergete taal gewees het; maar veral Engels – die taal waarin kolonialisme op die mees verbete wyse gevoer is – sou dan nie meer bestaan het nie.

  1.  

https://www.litnet.co.za/category/menings/universitysa/

 

Universiteit van Pretoria: Marionette of realiste op die pad na eentaligheid?

Engels nou amptelik UP se enigste taal van onderrig

Afrikaans is a major African asset – Dele Olojede The more we eliminate this diversity, the lesser we become, says Africa’s first Pulitzer Prize winner

Die US draai sy rug op Afrikaans as doseertaal

  • 2

Kommentaar

  • Die feit dat die betrokke persone, wat hulle brood verdien met filosofie, hulle skuldig maak aan "mank" logika soos hier uitgelig word, is skandalig. Die poging is so power, dat selfs die sofiste van ouds hulle daarvoor sou skaam.

  • Een woord as reaksie op hierdie skrywe: Briljant!
    Die hooggeagte Nederlanders en Vlaminge het met respek nie 'n idee waarvan hulle praat nie; omrede hulle DUIDELIK 'n oppervlakkige kennis van Suid-Afrika en sy geskiedenis het (klink nl baie soos die wat gepropageer word deur ons "goeie vriende" by die Afrikaanse Nasionale Kongres - hoe ironies is die woordspeling nie! - en behoorlik mank gaan aan 'n diepgaande/liggende, goeddeurdenkte insig.
    Ek beveel dringend aan dat proff Van Haute, Praeg, Ruttkamp-Bloem en Kirstner Jaap Steyn se briljante Tuiste in Eie Taal en dan veral sy Trouwe Afrikaners lees, indien hulle dit ooit sou ag as wetenswaardige kennis en as 'n leersame ondervinding, en indien hulle die behoefte voel om darem vir 'n wyle van daardie yslike oogklappe ontslae te raak!
    Die verstom my dat mense van nasiestate wat gewaag het om sanksies teen ons eertydse regering toe te pas (oor 'n binnelandse probleem en die hantering daarvan), en wat onder andere 'n kulturele boikot teen ons Afrikaanses gevoer het (welke boikot hulle skynbaar nou ontken ooit gebeur het) en wat teen 'n snelle pas besig is om hul universiteitswese (vir redes wat seker NOOIT verstaan sal word nie) te VERENGELS die vermetelheid kan hê om, nadat ons ons oorgegee het aan die eise van die Westerse liberale state en tou opgegooi het en waarlik, waarlik geboet het en swaargekry het nou sal verwag dat ons OOIT onse pragtige moedertaal Afrikaans in die steek sal laat en gelate sal aanvaar dat haar vyande haar oorrompel, NA ALLES wat reeds in die stryd gewerp is om haar te laat blom en asemhaal! Werklik, ek is ontnugter.
    AFRIKAANS LEEF!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top