Universiteit van Pretoria: Marionette of realiste op die pad na eentaligheid?

  • 13

Die besluit van die bestuur van UP om Afrikaans uit te faseer is, om die minste te sê, betreurenswaardig. Dis nie net ’n verkwisting van kosbare bates ter opbou van ons land nie, maar ook ’n patetiese poging om die regerende party gedienstig te wees en hulle vuilwerk te doen. Die regering hoef dus nie die land te verengels nie, want hulle het bondgenote om dit vir hulle te doen. Die hegemonie van Engels wat hulle in hulle ideologiese dokumente uiteensit, word dus hier sonder slag of stoot toegepas.

Dit was nog altyd duidelik dat die huidige regering verengelsing voorstaan om te verseker dat hulle ideologie makliker gepropageer kan word. Die beste manier om dit te verseker, is om een taal af te dwing. Dit was presies wat die Nasionale Party wou doen, en nou vind die regering uit dat dit nogal sin maak! As jy mense van hul moedertaal beroof, dan maak jy hulle basies dood en ontmagtig jy hulle. Fishman, ’n bekende taalsosioloog, het eenkeer gesê dat as jy ’n taal van ’n nasie wegneem, dan is hulle net ’n halwe nasie. Die moedertaalsprekers van Afrikaans, wat vier miljoen bruin mense, meer as drie miljoen wit mense en byna 700 000 swart mense insluit, word die geleentheid misgun om die beste opleiding, kulturele oordrag, denkvermoë, skeppende vermoë en geleenthede vir verdere ontwikkeling moontlik te maak.

Afrikaans het as een van die handjievol moderne tale die vermoë om ons jongmense in staat te stel om hulle vir ’n menigte beroepe te kwalifiseer. Dit kan meehelp om die vaardighede wat ons in ons land nodig het, aansienlik aan te vul. Kan enige land dit bekostig om meer as 20% van sy inwoners die geleentheid te misgun om die land te help opbou? As dit nou met Afrikaans gebeur, is dit neusie verby om ons ander inheemse tale tot waardige akademiese tale te ontwikkel. Kan ons toelaat dat hierdie nuwe beleid van die universiteit net so onbeveg gelaat word? Ons vra slegs ’n 50-50-benadering by minstens twee inrigtings. Is dit regtig te veel gevra? Ek verwag nie ’n antwoord nie, aangesien dit nou verkiesingsjaar is en alle politieke partye ons nou hemel toe vat en nie tyd vir hierdie netelige kwessie het nie. Daar is genoeg dosente (dosente wat by hierdie Afrikaanse universiteite gestudeer het en nou skielik as pionne vir Engels dien) wat hulle bevoegdheid te danke het aan Afrikaans wat tweetalig is by hierdie universiteit. Kan die groot finansiële ondersteuners van hierdie instelling toelaat dat hulle nasate die geleentheid misgun word om hulle drome in hulle moedertaal te verwesenlik? Moet hierdie universiteit dieselfde paadjie loop as die ander wat om dieselfde rede boedel oorgegee het, byvoorbeeld UV, UJ, US en UWK? Gaan ons hier ook Afrikaans verkoop vir ’n bord lensiesop?

Suid-Afrika gaan maar net nog deel word van ons Afrikalande waar die koloniseerders se tale die inheemse tale tot uitwissing gedwing het. Dink aan die Franstalige lande soos Ivoorkus en Senegal. In Senegal het Frans die twee grootste inheemse tale, Wolof en Serer, verdring. In Mosambiek is die moedertaal van kinders deesdae Portugees! Die onderwysstelsel in Namibië is ook in ’n krisis, en volgens die media en by monde van die onderwysowerhede aldaar, is taal ook ’n groot remmende faktor. Engels is die enigste amptelike taal in Namibië.

Die grootste tragedie is dat hierdie skaamtelose en ongevoelige taalmoord in die VN se jaar van minderheidstale gebeur. Ons moes ons veeltaligheid landwyd gevier het. Hoe kan ons regering daaraan deelneem as hulle later met net een koloniale taal sal sit terwyl ander tradisies en storieskatte en wyshede wat oor duisende jare opgebou is, nie meer gaan bestaan nie? Die tandelose organisasies soos PanSAT kan maar net toekyk hoe hierdie misdaad teen die inheemse tale gepleeg word. Ons het onlangs toegelaat dat ’n spreker van een van ons oudste tale sterf sonder dat sy die taal aan haar nageslag kon oordra. Ons is nou veel armer, want die inheemse kennis en wysheid waaroor sy beskik het, is saam met haar graf toe.

Die grootste faktor wat bydra tot ons swak skoolstelsel is die feit dat kinders gedwing word om te leer in ’n taal wat nie net vreemd is nie, maar swak ondersteun word. Moenie eers praat van die onderwysers wat nie behoorlik in die koloniale taal opgelei is nie! Die oningeligte ouers van ons kinders kan nie eers ondersteuning by die huis gee nie, want hulle het, terwyl hulle weet dat hulle nie die koloniale taal magtig is nie, tog hulle kinders doelbewus verontreg. Die Minister van Basiese Onderwys het selfs haar misnoeë uitgespreek teen die besluit van UP, wat prysenswaardig is, want iemand sien die lig wat UP verduister. Selfs die Minister van Finansies het hulle besluit betreur. Die grootste aantal slagoffers is die bruin kinders wie se toegang tot tersiêre opleiding die ergste benadeel word, ten spyte van die feit dat dit die meeste se moedertaal is en minder as drie persent op tersiêre inrigtings is. Hoe kan die regering dit aan jongmense doen as hulle eerlik teenoor die bruin mense wil wees? Is taal nie ook die faktor wat veroorsaak dat omtrent 50% van ons kinders langs die pad na matriek uitval as gevolg van die oningeligte, ondeurdagte taalbeleid van die regering nie?

Ek is ’n produk van die bruin Afrikaanse gemeenskap wat my opleiding in Afrikaans vanaf sub A tot tersiêre vlak in Afrikaans gekry het. Ek het my kwalifikasies suksesvol verwerf en was selfs in staat om, soos baie ander Afrikaanssprekendes, nagraadse studie in die buiteland suksesvol te voltooi. Ek glo nie dat ek dit sou gemaak het as ek in ’n taal anders as my moedertaal geleer het nie. My Griekwa-voorouers se taal, Gri, is feitlik al dood. Ons moes toe meehelp om die alternatiewe kommunikasiemiddel, Afrikaans, te help bou. Ons is in die Wes-Kaap eers uit UWK na Stellenbosch gedwing. Waarheen nou?

Ek glo nie dis die einde van Afrikaans by tersiêre inrigtings nie. Ons moet net verseker dat ons gedurig op die regering en sy meelopers/marionette se gewetens hamer dat hulle taalmoord pleeg en die geskiedenis hulle sal oordeel. Ons moet die skynheiligheid ontmasker by inrigtings wat voorgee dat hulle omgee vir ons mense. Hoe kan jy jongmense bedrieg en hulle laat glo dat hulle toekoms gewaarborg is om moedertaalonderrig te kry? Wil ons ’n gemeenskap hê wat nie behoorlik kan dink, droom, bid, skinder, sing en skryf nie, want ’n taal is meer as ’n instrument wat net ’n transaksionele funksie het; dit het ook ’n skeppende of poëtiese dimensie.

Ek hoop my medemoedertaalsprekers van Afrikaans het die moed van hulle oortuigings om hande op te steek en hande te vat om ons stemme te voeg by diegene wat ons ryke verskeidenheid help bewaar, beskerm en bevorder vir die toekoms.

Gee Afrikaans sy volwaardige plek sodat hierdie mooi taal wat, soos een vriend van my gesê het, gebore is uit die some van vele nasies, die versoeningsrol speel wat hy kan.

Hendrik Theys
Foto: Naomi Bruwer

Hendrik Theys is verbonde aan die Afrikaanse Taalraad en Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans.

Lees ook:

Engels nou amptelik UP se enigste taal van onderrig

Die tameletjie van veeltalige universiteite

  • 13

Kommentaar

  • Mnr Theys- jy is in een woord: wonderlik!

    Ons het mekaar BITTER NODIG in die geveg om ons gemeenskaplike pragerfenis- Afrikaans! Kom ons doen dit!

    Dankie, dankie, dankie!

  • Mooi gestel, mens moenie doekies omdraai oor hierdie nonsens nie. Ek is taamlik nuuskierig om 'n artikel te lees oor stryd wat die Afrikaanse departemente by UP en ander universiteite gevoer het, om dit waarmee hulle hulle brood verdien te verdedig.

  • Johnnes Comestor

    Ek onthou dat Hendrik Theys 'n lid van 'n afvaardiging van vier was wat 'n aantal jare gelede 'n vorige rektor van die Universiteit Stellenbosch oor die toekoms van Afrikaans gaan spreek het. Twee van die afgevaardigdes het sonder meer die valse versekeringe van die rektor aanvaar. Theys en die vierde afgevaardigde het geweier om hulle om die bos te laat lei. Theys openbaar taalgetrouheid waar dit saak maak maar wat deesdae selde by Afrikaansdosente aangetref word. Ek het groot waardering vir hom en sy standpunt.

  • Hierdie tirade, hoewel seker maar welbedoeld, verwar verskeie kwessies wat bydra tot die lot van Afrikaans by universiteite. As 'n dosent by die UP weet ek dat die grootste regverdiging (afgesien van die amptelike redes) vir die afskaf van Afrikaans as onderrigtaal is dat studente eenvoudig nie meer klas loop in Afrikaans nie. Die redes hiervoor is sekerlik kompleks, en nie in 'n klein mate nie te wyte aan die staat wat enige ernstige pogings tot nasionale veeltaligheid lank reeds agter gelaat het. Al sou daar by twee universiteite 'n Afrikaanse aanbod bly, word dit eenvoudig nie gebruik nie. Ek moes al self vir klasse van 10 of 15 Afrikaanse studente klas gee, en op die selfde dag 'n klas van 400 studente in Engels sien. Dit is onregverdig om so 'n groot verskil in die studente-per-dosent-verhouding tussen die klasse te hê, en plaas ook 'n onregverdigbare las op die dosent. Dit is ten bate van veel meer studente om twee Engelse klasse te hê, terwyl die Afrikaanse student hulle onregverdige voordeel inboet.
    Die kwessie van "taalmoord" soos dit hier gestel word, is nie die aanbod nie, maar die vraag na Afrikaanse onderrig. Verengelsing is 'n wêreldwye verskynsel en om uit te vaar teen Universiteite op so 'n venynige wyse is onbillik. Universiteite in baie meer homogene taalgemeenskappe soos Nederland ondergaan die selfde prosesse, so mens moet versigtig wees om allerhande booshede en hul marionette die skuld te gee in Suid-Afrika, waar die taalverskille en -uitdagings veel, veel groter is.
    Wanneer daar allerhande retoriese vrae in hierdie stuk oor hoe ons jongmense versaak gevra word, is dit asof moedertaalsprekers maar ewe passief gedwing word om verengelsing te aanvaar deer hulle leerinrigtings. Uit my ervaring is dit juis dat jongmense self kies om hul wêreld in Engels te ervaar, en dit is tog logies dat hulle in Engels ook sal wil leer. Dit is kwaai paternalisties om so beterweterig te praat oor studente asof hulle geen agentskap in die saak het nie.
    Jongmense by UP het oor die afgelope 10 jaar al meer vir Engels gekies, ten spyte van kwaliteit Afrikaanse aanbod. Ons moet dit aanvaar, en nie die kar voor die perde probeer span nie. Niemand het jongmense (veral bruin jongmense) Afrikaans ontneem nie, die meeste van hulle het dit net op universiteitsvlak en in die werksplek afgesê.

  • Johnnes Comestor

    Lex, Theys se artikel is nie 'n tirade nie; eerder 'n pleidooi. Feitlik alle universiteite het 'n enkele onderrigtaal. Daarom behoort daar, soos voorheen, plaaslik sowel Afrikaanse as Engels universiteite te wees. Dit is omdat die regering nie twee onderrigtale aan dieselfde universiteit wil subsidieer nie dat al die plaaslike universiteite verengels. Daar word beweer dat studente met Afrikaans as moedertaal onregverdig bevoordeel word as hulle onderrig deur die medium van Afrikaans ontvang. Waarom word dit nie genoem dat studente met Engels as moedertaal onregverdig bevoordeel word as hulle onderrig deur die medium van Engels ontvang nie? Al is verengelsing 'n wereldwye verskynsel beteken dit nie dat alle universiteite moet verengels nie. Taal het kulturele waarde. Universiteite behoort sensitief te wees vir die waardes van die gemeenskap wat hulle bedien. Soos by skole sal Afrikaanssprekende universiteitstudente meer by onderrig baat as dit in Afrikaans geskied, op sowel voorgraadse as nagraadse vlak.

  • Lex,
    Dankie vir jou duidelike argumente. Ek wil jou egter daarop wys dat jy enersyds die "kompleksiteit" van die saak erken, maar andersyds 'n eenvoudige oplossing van 'n vereenvoudigde markkraggedrewe oplossing bied, wat berus op die "vraag" van die studente se kant af. Soos jy egter ook weet, word hierdie vraag gevorm deur 'n bepaalde opleiding en invloed wat jongmense ontvang, asook 'n taamlik negatiewe beeld wat rondom Afrikaans gedryf word. Dan natuurlik ook die kwessie van beurse en beskikbaarheid van studiemateriaal in Afrikaans. As dosent daar weet jy dat julle nie werklik oor die laaste paar jaar baie moeite gedoen het met die beskikbaarstelling van studiemateriaal in Afrikaans nie. Ek moes die terme self oorvertaal. Wat in Nederland plaasvind is 'n skande, en ek is bly dat Beter Onderwijs Nederland die saak aanpak. Die verengelsing van universiteite wêreldwyd is nie so "natuurlike" proses as wat mens kritiekloos kan aanneem nie, myns insiens nader aan wat van Wyk Louw destyds al genoem het "moderne barbarisme", waarin baie meer verlore gaan as wat gewen word. Julle neem die posisie van 'n besigheid in wat maar ewe onskuldig net die "vraag bevredig". Ek dink nie julle verstaan wat die woord "vraag" alles behels nie.

  • Die antwoord is eenvoudig net dat Afrikaners en Afrikaans-sprekendes hul eie universiteit stig. Dit bly die ENIGSTE rasionele alternatief. Die probleem is net dat die ekonomie en daarmee die arbeidsmark verengels. Dit veroorsaak dat baie ouers hul kinders Engels grootmaak. Afrikaanssprekendes sal moet verseker dat jy Afrikaans nog in die mark kan gebruik deur Afrikaanse besighede te stig.

  • Wilhelm Fourie

    Theys se artikel is 'n uitstekende analise van die situasie. Ek ken die situasie by Stellenbosch beter as by die Universiteit van Pretoria. Nogtans is daar ooreenkomste. Lex se argument dat studente nie in Afrikaans wil klasloop nie, het (beslis op Stellenbosch) met onderliggende intimidasie te doen. Dit laat 'n mens dink aan die mense in die Oosblok-lande wat op die oog af almal baie gelukkig was met die regimes, toe die kans ontstaan om daarvan ontslae te raak, het die Berlynse muur nogal vinnig geval. Die anti-Afrikaans-intimidasie op Stellenbosch is baie meer subtiel. Ek ervaar egter op die Stellenbosch-kampus meer anti-Afrikaanse vooroordele as wat ek al ooit by Wits, bv beleef het. Wanneer rektore (soos by Pretoria en Stellenbosch) dit duidelik maak dat Afrikaans op pad uit is, is dit nie verbasend dat studente Engelse strome kies nie. Verder het die US jare lank al uit hulle pad gegaan om nie-Afrikaanse studente te werf. Baie bruin Afrikaanssprekende studente uit die Bolandse platteland het al aan my genoem dat dit voorkom asof Engelssprekende bruin studente uit Kaapstad baie meer welkom is by die US as hulle. Die verengelsing aan die US (by Pretoria ken ek die situasie nie goed genoeg nie) is 'n poging van die top-bestuur om diegene wat ekonomies in Suid-Afrika bo uitgekom het af te skerm teen die res. Die ironie is dat dit op die rug van kwansuise toeganklikheid vir swart studente gedoen word. Baie wit Engelssprekendes (veral uit die Suidelike voorstede van Kaapstad) kom na Stellenbosch UCT vir hulle te "swart" is.

  • Hendrik Theys ons het meer moedertaalbeskermers soos jy nodig. Wat vandag se regering nie besef nie, is dat moedertaalonderrig die slaagsyfer in skole sal opstoot.
    Hier by ons op die Oosrand word Afrikaanse skole gedwing om meer Engelstalige leerlinge in te neem en in Afrikaans en Engels klas te gee. Behalwe vir die Babelse verwarring wat dit veroorsaak, het dit 'n besliste negatiewe impak op sulke skole se slaagsyfer. Diegene wat die ergste hieronder ly is die leerlinge.
    Die enigste manier om hierdie dwase plan van die regerende party teë te staan, is om die ANC sover moontlik te straf wanneer ons stembus toe gaan.

  • Lex, watter mentaliteit is dit wat van 'n universiteit 'n kêffie op die hoek maak: "ons hou net aan wat verkoop"? Daar is immers veel meer as aanvraag wat ter sake invloede is hier: politieke magspeletjies, doodgewone tydsgees, taalwaardes ens ens ens. Europese universiteite verengels nie álmal nie, ondanks die "wêreldwye verskynsel" van verengelsing; Suid-Afrikaanse universiteite wel.

  • Lex, wat doen die UP en sy dosente om ander tale te bevorder as onderrigtaal, moedertaal, kulturele erfenis en vaktaal? Bied die UP klasse in Zoeloe of Xhosa aan? Of is dit maar 'n kwessie van 'n bedekte politieke agenda, manipulasie deur 'n regering wie se eie moedertale nie eens Engels is nie? Engels, wat 'n koloniale taal is uit Europa. Afrikaans is hier gebore en gevoed uit 'n samekoms van plaaslike en Europese tale. Die voedingsbron is die probleem - skole het verengels, hoeveel skole in die land bied klasse in Afrika-tale aan? Ek wonder of daar 'n hand vol is. En 90% van skole is sg no fee-skole - dus omtrent 90% staatsgesubsidieer. Die verengelsing van skole veroorsaak die vraag na Engels op universiteit en dit word georkestreer deur 'n regering wat kolonialisme haat (?). Jy kan mos nie 'n koloniale taal omarm en uitbou as jy die eienaar en kultuur daarvan haat nie? Jy is dalk korrek met jou waarneming dat die vraag na Engels 'n verskuiwing na Engelse onderrig noodsaak (nie regverdig nie), maar dink bietjie wat die oorsaak is, en die gevolge op die lange duur.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top