Afrikaans/Afrikaaps-gehoorgesprek tydens die Innie Shadows-bekendstelling: ’n perspektief

  • 2

Die spreekwoord lui: “Spyt kom altyd te laat” en hierdie was ware woorde toe ek die Kaapstad-bekendstelling van Olivia M. Coetzee se Innie Shadows gedek het.

Kort ná die gesprek tussen Olivia en Barbara Boswell, het ek die tripod weggepak, die kamera om my nek gehang, rondbeweeg en begin foto’s neem. Een vraag vanuit die gehoor het ’n wonderlike gesprek oor Afrikaaps, Afrikaans en ander variëteite van Afrikaans begin. Hierdie gesprek het ek nie op film vasgelê nie (jammer!).  

Ek het onlangs baie taalgesprekke bygewoon, veral omdat die oorlewing van Afrikaans na die Konstitusionele Hof-uitspraak ’n baie aktuele saak is. Dié gesprekke laat my dikwels geïrriteerd of teleurgesteld, want dit kan baie vinnig in ’n rasse-gesprek ontaard.

............

“Is ons as kallits (die rasbeskrywing wat ek verkies) skaam omdat ons nie ‘standaard’ of ‘suiwer Afrikaans’ praat nie?”

............

Tydens die bekendstelling het ek egter die gesprek as oop, vry en eerlik ervaar. Niemand was aanvallend of verdedigend nie, en ek het soms vergeet om foto’s te neem, want die gesprek was boeiend en het tot baie van my eie ervarings en vrae gespreek.

Olivia skryf gereeld rubrieke vir LitNet in Kaaps, en is tans besig om die Bybel in Kaaps te vertaal. ’n Lid van die gehoor het gevra hoe lede van die bruin gemeenskap reageer op dié vertalings.

“Hulle reageer nie regtig op die vertaalde werke nie,” het sy erken. “Dis nogal disappointing, want hier skep jy ’n werk vir mense in hul taal en hulle engage nie daarmee nie.”

“Dink jy dis omdat hulle skaam is oor hul Afrikaans?” het hy gevra en dié kommentaar het ’n gesprek geopen oor Afrikaans en skaamte in die bruin gemeenskappe. Is ons as kallits (die rasbeskrywing wat ek verkies) skaam omdat ons nie “standaard” of “suiwer Afrikaans” praat nie? Dis ’n tema wat ek ’n keer of wat raakgeloop het, asook self ervaar het.  

Ek onthou baie duidelik een geleentheid tydens universiteit waar ek van iets gepraat, en een van my medestudente laggend gevra het of die woord “regte Afrikaans” is. Ek onthou glad nie wat die woord was nie, maar ek onthou die skaamte, die frustrasie omdat ek nie ’n geskikte “regte Afrikaanse” sinoniem kon kry nie.

Om te sien dat ander dit ook ervaar het, het ’n helende effek gehad. ’n Gevoel dat om skaam te wees, selfs vir ’n oomblik, nie van my ’n slegte kallit maak nie. Dit is oukei om te leer om trots te wees op my kultuur.

............

“Hoewel ek Afrikaaps geniet, wonder ek soms hoe sal my Afrikaans ervaar word? Moet dit ’n titel kry om dit meer geldig te maak? Sal dit ook verwelkom word of nie?” 

............

Die gesprek het ook gegaan oor hoe Afrikaaps tans “toegelaat” word in tradisionele Standaardafrikaans-spasies. ’n Opkomende digter, Shaun Warner, dig in Standaardafrikaans, wat hy die “baas se taal” noem, en in Afrikaaps. “Ek verkies om in beide tale te dig, maar ek vind dat meeste mense reageer as ek in Afrikaaps dig. Die reaksies is gewoonlik iets soos ‘oulikkies’ of ‘cute’,” het hy gesê en die gesprek het gelei na hoe Afrikaaps soms as iets oulik of as anders afgemaak word.

Barbara Boswell, ’n professor in feministiese letterkunde aan UWK, het lekker bygedra tot die gesprek deur te praat oor die effek van die White gaze en hoe ons dit binne onsself moet uitroei. 

Een van die treffendste oomblikke vir my was toe Lueen Conning, skrywer van die A Coloured Place-teaterstuk, gesels oor haar ervarings van Afrikaans. Sy is van Durban, en haar Afrikaans verskil van Afrikaaps. “Ek praat nie Afrikaaps nie, dit is vir my mooi. Maar ek praat dit nie en weet nie regtig hoe om mý Afrikaans te noem nie,” was haar woorde toe lede van die gehoor gevra het wat sy haar Afrikaans noem.

Ek weet self ook nooit wat om my “weergawe” van Afrikaans te noem nie. Ek kan redelik goed Standaardafrikaans praat, maar wanneer ek gemaklik of emosioneel voel, begin ek ’n Afrikaans praat wat nie as “suiwer” beskou word nie.

Ek noem soms hierdie taal kallitkaans of beskryf dit as Oranje-Afrikaans as iemand vra waarvandaan ek kom. Dit pas egter nooit in ’n bestaande beskrywing nie of die beskrywings vang nooit my taal lekker vas nie.

Hoewel ek Afrikaaps geniet, wonder ek soms hoe sal my Afrikaans ervaar word? Moet dit ’n titel kry om dit meer geldig te maak? Sal dit ook verwelkom word of nie? Dit was gerusstellend om te sien dit is ’n stryd waarmee baie mense sukkel.

Lees ook 

Innie shadows: ’n onderhoud met Olivia M Coetzee

Job 1: Bybel in Kaaps

  • 2

Kommentaar

  • Cliffordene, dankie dat djy daa was. En dankie vi dit wat djy hie geskryf het. Soes ek nou oppad is na nog 'n interview toe sit ek met reeds wee'eens met daai vrees om 'reg' te klink. Wan dit raak nou 'n normaal van Standaard Afrikaans om te sê/vra maa dis mossie Afrikaansie.

    Maa soes ek myself oek ken, wiet ek daai vrees van om 'reg' te klink gat my nooit trug hou nie.

    Ek wil net sê oek dat ek is mal oo jou skryfstem, en hoep om in toekoms oek na jou boek launch toe te kô.

    #Vorentoe

    Dankie oek an Litnet vi die coverage en onnesteuning vi Innie Shadows en vi Kaaps!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top