Adam Small-fees 2019: Adam Small se nalatenskap herleef op Pniël

  • 0

Thuli Madonsela
Foto: Suki Lock

’n Filosoof, digter, toneelskrywer, skrywer, maar bo alles ’n stem wat dapper en aanhoudend die krag van waarheid verkondig het.

So het die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, die ikoniese digter Adam Small opgesom tydens die eerste Adam Small-gedenklesing wat by die jaarlikse Adam Small-fees op Pniël gehou is.

Madonsela het ’n helde-ontvangs in die skilderagtige dorpie gekry. Pniël se inwoners en ander feesgangers het haar in die Congregational-kerk se saal toegesing voordat sy haar toespraak gelewer het, asook na die tyd.

Dit was vanjaar die derde Adam Small-fees ter viering van Small se nalatenskap, maar die eerste Adam Small-gedenklesing wat by die fees gehou is. Die fees vier Small se lewe en werk en gee ’n stem aan elkeen op wie sy nalatenskap ’n indruk laat. Hy het Afrikaans bemagtig, bevorder en beskerm, en Suid-Afrika en die Afrikaanse letterkunde is armer na sy dood in 2016. Hierdie fees word deur sommige beskryf as een van die blinkste skatte in ons feesskatkamer.

Madonsela sê Adam Small is deel van die galery Suid-Afrikaners wat die land van die afgrond help red het en op die verhoog van hoop geplaas het.

Met sy opvoeding en betreklik middelklas-agtergrond het Small ’n mate van mag en bevoorregting geniet wat nie beskore was vir die breër swart gemeenskap (bruin, swart en Indiër) nie, het Madonsela gesê. Tog het sy velkleur hom steeds verhoed om aan die universiteit van sy keuse te gaan studeer of in die woonbuurt van sy keuse te woon.

Hy wou graag aan die Universiteit Stellenbosch (US) verder studeer, omdat Afrikaans sy moedertaal was. Omdat bruin studente destyds nie by dié universiteit toegelaat is nie, moes hy uiteindelik in Engels aan die Universiteit van Kaapstad verder studeer. Die ou HB Thom-teater by die US is verlede jaar na die Adam Small-teaterkompleks herdoop.

Small was ’n voorloper van ’n hele generasie Afrikaanse digters en iemand wat in sy leeftyd ’n belangrike bydrae daartoe gelewer het om ’n bewustheid te kweek van die wel en wee van die onderdruktes en die werkersklasgemeenskap waarin hy geleef en gewerk het. Hy het dikwels satire gebruik om die onhoudbaarheid van die destydse stelsel uit te wys. Op Afrikaans.com word hy beskryf as klein van gestalte maar ’n reus onder sy tydgenote en in die geskiedenis van die land en die Afrikaanse letterkunde.

Adam Small se oorkoepelende nalatenskap is volgens Madonsela die leierskapskeuse wat hy uitgeoefen het tussen slagoffer en hoop en tussen liefde en vrees. Sy sê Small het hoop gekies in plaas daarvan om ’n slagoffer te wees, en liefde bo vrees.

Madonsela het aangehaal uit sy gedig “But o!” en gesê dit vertel alles van Small se onherroeplike selfbestemming.

if it comes to that
you can even stop me hatin’
but o
there’s somethin’ you can never
never never do –
you can’t
ever
ever
ever stop me
loving
even you!

Sy benadering in die nastreef van ’n regverdige en demokratiese gemeenskap waar almal se menswaardigheid en selfrespek bevestig word, was doelgerig en eties gedrewe, het Madonsela gesê. “Dit was geanker in sy gewete en ’n verbintenis om die mensdom te dien ongeag die verskille.”

Madonsela het ook verwys na Hugh Masekela se inspirerende lied “Thuma mina” (“Stuur my”) as die kuns hoe om jouself en ander te inspireer om op ’n sekere manier te dink en op te tree. Die “Thuma mina”-manier, wat ook deur Cyril Ramaphosa gebruik is as motivering tydens sy eerste toespraak as staatspresident in die parlement, is volgens Madonsela almal van ons se verantwoordelikheid.

Thuli Madonsela en Marlene le Roux
Foto: Suki Lock

Die Adam Small-fees in Pniël is ’n gepaste viering van Adam Small se nalatenskap. Die program het vanjaar weer soos ’n liefdesbrief vir Afrikaans gelees. Dit was propvol boeke, skrywers, storievertellers, meningsvormers en musiekmakers.

Feesgangers kon vanjaar skouers skuur met mense soos Rita Gilfillan wat gesels het oor haar nuutste kortverhaalbundel, Wanneer die bloekoms dans. Lynthia Julius het gesels oor die drama Orange earth, wat nou ook in Afrikaans gedruk word. Hierdie werk word beskou as een van Adam Small se mees intieme literêre werke en vra wat presies in gedrang is wanneer dit kom by taal, godsdiens en ons land.

Michael le Cordeur het gepraat oor die Kaapse Klopse. Kirby van der Merwe, Gaireayah Fredericks, Howard Feldman en Peter Braaf was ook gedurende die fees aan die woord. Ander bekende deelnemers was Marlene le Roux wat gepraat het oor hoop, ook ’n nalatenskap van Adam Small. Diana Ferrus en joernalis/skrywer Julian Jansen het vanjaar ook hulle buiging by die fees gemaak.

Die man wie se breinkind die fees was, Darryl David, het feesgangers verras toe hy aankondig dat hy beplan om hom eersdaags permanent in Pniël te vestig. Hy is organiseerder van verskeie literêre feeste oor die land heen, en tans dosent aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. David is einde verlede jaar deur drie mans by sy huis in Howick, KwaZulu-Natal aangeval, en het dit ernstig oorweeg om na die buiteland te verhuis. Hy het egter besluit om Pniël toe trek en sê binnekort kry die dorp ’n blas Engelse inwoner by, want dit is sonder twyfel die mooiste plek op aarde.

 

Lees ook

Adam Small-fees 2019: Adam Small se profetiese stem is steeds relevant

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top