Aardklop 2018 – ’n oorsig

  • 0

Is teater, en daarmee saam die kunstefeeste in Suid-Afrika, ’n spieëlbeeld van dít wat in ons samelewing aangaan? Is die kwessies wat nuwe dramas aanspreek, dit wat ons dink, oor bekommerd is, oor praat? Ons diepste versugtinge? Indien wel, dan is daar, te oordeel aan die toneelstukke wat vanjaar by Aardklop op die planke was, twee dinge wat voorop in ons gedagtes is: grond en verhoudings.

Op die toneelfront was daar veral vier debuutstukke wat feesgangers aan die praat gehad het:

Toutjies en Ferreira, ’n nuwe stuk deur Saartjie Botha, is as’t ware twee toneelstukke in een. In die eerste deel sien die gehoor, met die huisligte aan (met ander woorde die ligte in die teater is aan sodat almal almal kan sien), hoe daar voorberei word vir ’n toneelstuk. Dit is baie komies met die spelers, onder meer Antoinette Kellerman, Esther von Waltsleben, Geon Nel, Anthea Thompson, Malan Steyn en Wolf Britz, wat wys wat die uitdagings is wanneer ’n stuk op ’n fees opgevoer word: logistiek, onkunde, ’n gewarrel en ’n gesoek na ’n leer wat lank genoeg is.

Die spelers in die tweede deel, Joanie Combrink, Frank Opperman en Aphiwe Livi, is in die eerste deel as die akteurs te sien en in die tweede deel, ná ’n kort pouse, is dit hulle wat die stuk opvoer waarvoor daar voorberei is. As jy fyn kyk, sal jy egter sien dat die twee stukke in gesprek met mekaar is – die klok en die teepot, taal en grond, jou en jou medeburgers se plek in ons land, hoe daar gepraat en geluister word, die gesoek na ’n plek waar jy hoort, ons afhanklikheid van mekaar.

Behalwe die paneel waarop ek dien, was my 16-jarige seun Zac my feesgenoot. Ná die stuk het ons kar toe gestap en hy wou iets vra oor die stuk. Ek het begin praat. Gestop. “Mamma kan nie nou praat nie,” sê ek. Want indien Mamma sou praat, sou sy heel moontlik in die parkeerarea snikkend en snottend aan die ween gegaan het.

Toutjies en Ferreira se teks gaan na my mening in die toekoms as ’n stuk letterkunde behandel word en dit is sekerlik nie meer lank voor Saartjie Botha die Hertzogprys as dramaturg gaan wen nie. Hierdie stuk, wat twee uur lank is, verveel nie vir een enkele oomblik nie, en wanneer die gehoor die teater verlaat, gaan elkeen iets met hulle saamneem.

“Consider the public. Never fear it nor despise it. Coax it, charm it, interest it, stimulate it, shock it now and then and then if you must, make it laugh, make it cry, but above all never, never, never bore the living hell out of it.” – Noël Coward

Huishou is ’n nuwe stuk deur die jong dramaturg en regisseur Philip Rademeyer. Rademeyer het egter die regieleisels aan Nico Scheepers oorgegee. In die rolle as die twee geliefdes was Cintaine Schutte en Nadia Valvekens. Die gode wat by rolverdeling betrokke is, was in ’n baie goeie bui toe hierdie besluit geneem is. Rolverdeling uit die hemel uit. Dis moeilik om te dink dat enige ander twee aktrises hierdie twee rolle met soveel oortuiging sou kon speel. Hulle is ook al twee, met reg, as beste aktrise op die fees benoem en dit was Valvekens wat op die ou end die toekenning gewen het. Hulle is egter op die verhoog soos twee kampioentennisspelers wat hou vir hou saam speel en nooit terugdeins vir die ander een nie; waagartieste wat die ander een nooit sal laat val nie. Dit was ook duidelik dat hierdie stuk ingeoefen was, en selfs met die eerste vertoning was daar nie ’n woord, ligdompeling of asemhaling wat nie perfek was nie. Net ’n regisseur wat weet wat hy of sy doen, kan dít regkry.

Huishou is baie meer as net ’n stuk oor twee vroue in ’n gekompliseerde huwelik en hul plan om ’n kind aan te neem. Dit is ’n stuk oor verhoudings, hoe jou verlede jou beïnvloed en ja, ook oor hoe hierdie land elkeen van ons in ’n rigting stuur.

Hierdie twee spelers, met Scheepers se hand duidelik te bespeur, het die gehoor stíl gespeel en dit is ’n stuk wat hopelik nog lank en ver gaan reis. En Pippa, koebaai. Dit was gaaf om jou te ken, maar Nadia het nou ander werk om te doen.

“There is an old theatrical saying: Lose yourself, lose your audience. Even in an emotional part, you’ve got to be aware with one part of your mind that the audience is there. You have to be attentive. Listen to those coughs. They mean you either have to play more softly or hurry the scene a bit. You must regulate the audience as well as play the character.” – Noël Coward

My seuns, met Christo Davids as regisseur en skrywer, is ’n stuk geïnspireer deur Arthur Miller se All my sons. Dit het ’n hele kaggelrak vol toekennings by Aardklop gewen, onder meer as beste algehele aanbieding en beste nuwe teks. Die vervaardiger van die stuk was Aardklop, maar die stuk is ook ’n NATi/Feesforum-produksie, wat beteken dat dit ook by die ander groot feeste te sien sal wees.

Dit is die dag van Ouma (Sandra Prinsloo) se verjaardagpartytjie. Haar seun (André Odendaal) wag om te hoor of hy as ’n regter aangestel gaan word. Sy vrou (Sandi Schultz) probeer die vrede bewaar tussen haar man en sy ma, haar man en hulle seuns (Edwin van der Walt en Donovan Pietersen), asook haar seun se meisie (Buhle Ngaba) en haar skoonma.

My seuns is ’n familiedrama met ’n hoofletter F en sal gehore om meer as een rede na hul asems laat snak.

“The only advice I ever give actors is to learn to speak clearly, to project your voice without shouting – and to move about the stage gracefully, without bumping into people. After that, you have the playwright to fall back on – and that’s always a good idea.” – Noël Coward

Bloed en bodem deur Marina Albertyn, wat verlede opspraak gewek het met Melk en vleis, spreek eweneens die grondkwessie aan. Jana (Carla Smith) kom besoek haar pa (Albert Pretorius) op hul familieplaas. Haar oom (Stian Bam) boer langsaan, maar moet ooghou oor haar pa, aangesien hy ’n duidelike drankprobleem het. Haar jeugvriend Sibongile (Obed de Koker), ’n jong man wie se ouers en voorouers al jare op die plaas werk, se rugbydrome is aan skerwe en hy begin aan sy toekoms dink. Elkeen van die vier karakters dra aan hul eie bagasie – van wit voorreg tot skuldgevoel oor die Grensoorlog. Pretorius het die toekenning as beste akteur gewen en Marthinus Basson is vir sy regie as beste regisseur benoem.

Dit is ’n stuk wat nie ewe hard met almal gaan praat nie en dit sal beslis afhang van aan watter kant van die heining jy staan.

I think the primary purpose of the theater is entertainmentIf by any chance a playwright wishes to express a political opinion or a moral opinion or a philosophyhe must be a good enough craftsman to do it with so much spice of entertainment in it that the public gets the message without being aware of it” – Noël Coward  

Op die komediefront was daar gemengde resultate. Ludwig Binge, De Klerk Oelofse en Roeline Daneel het gesorg vir die debuut My mense is die kluts kwyt. Dit is ’n sketskomedie, uit die pen van Binge, met hope potensiaal. Dis tyd dat ons die wag voor ons mond so nou en dan die dag afgee sonder verduidelikings of verskonings.

Die gegewe in die ander debuut, Lykskou – ’n broer en suster wat hul pa se begrafnisonderneming erf – is ’n goeie een, maar hierdie stuk moet nog sy lêplek kry.

Van die ander komedies, soos Operasie Holm (Marion Holm), Drie susters (met Margit Meyer-Rödenbeck, Lizz Meiring en Nicole Holm), Snorseun (Schalk Bezuidenhout) en Bal-Oog en Brommel: Moord in Ixiastraat (met De Klerk Oelofse, Richard September en Gertjie Besselen), het gewys waarom hulle van die groot verkopers by ander feeste was.

Die musiekaanbod by vanjaar se Aardklop was baie goed, en veral die klassieke musiek wat in die Konservatorium opgevoer is, was ’n plesier. ’n Pluimpie vir die samestellers van hierdie deel van die program. Nie dat die ander musiek op die program daarvoor teruggestaan het nie. Dit is duidelik dat die mense by Aardklop weet hoe om die beste van die bestes te keur.

Die span van DEURnis, die een-tot-een-teaterstukke wat verlede jaar vir die eerste keer Aardklop toe is, was weer vanjaar daar. Daar was ook ’n nuutjie in DEURnis 20-voor-2, waar twee spelers voor ’n gehoor van 20 speel. Daar was vier produksies van 45 minute elk wat as twee pakkette opgedis is.

Vir diegene wat DEURnis verlede jaar al beleef het, is die andersheid (ek wil nie eintlik die woord “foefie” gebruik nie) nou weg en dit gaan dus baie sterk tekste, regie en spel verg om die aandag jaar na jaar te behou. Die span van DEURnis gaan moet kyk na die samestelling van die program. Daar is net soveel keer dat ’n gehoorlid op geskreeu kan word, beskuldig kan word of ingesleep kan word in iemand anders se dramas voor jy belangstelling gaan verloor. Van die 12 stukke was daar net een “lag met ’n traan”, wat dan ook my persoonlike gunsteling van al die stukke was.

Volle naaktheid – twee mans en een vrou in drie verskillende produksies as iemand wil boekhou – was te sien en ek sal nooit weer dieselfde na aartappelslaai kan kyk nie.

“I will accept anything in theatre, provided it amuses or moves me. But if it does neither, I want to go home.” – Noël Coward

Toe ons ná ons laaste DEURnis ry, het my seun gesê: “As iemand my vra wat ek alles by die fees gesien het, gaan ek sê tieties, totties en familiedramas.”

Op dag 3 van Aardklop het ek begin wonder of ons nie dalk te veel wroeg nie. Ek wou op ’n stoel spring en skreeu: “Kaptein, span die seile!”

“What I adore is supreme professionalism. I’m bored by writers who can write only when it’s raining.” – Noël Coward

Ja, veral toneel moet belangrike kwessies aanspreek en met gehore praat. Hulle koppe oopblaas en denke verbreed. Feesgangers wat moontlik net een keer per jaar ’n toneelstuk of drie sien, anders na dinge laat kyk. Ons het nuwe stemme oor die hele spektrum van ons land nodig. Ons het gevestigde stemme nodig om meer te skep, meer by te dra. Maar is dit dalk die Pollyanna in my wat hoop dat daar iewers in die nabye toekoms so ’n bietjie lig in die donker gaan wees?

Ns. Hierdie opmerking het werklik niks met Aardklop of die gawe mense van Potchefstroom te doen nie, maar as Kapenaar kon ek nie anders as om steeds in my waterskaarste-psige te bly nie. By die gastehuis waar ons tuisgegaan het, was daar elke oggend ’n nuwe stel skoon handdoeke. In die oggende het ek my handdoek mooi opgehang om later weer te gebruik, maar as ek my oë uitvee, is daar ’n nuwe stel. Skitterwit en skoon. Is dit net ek of moet ons nie maar almal kyk na water asof dit ’n skaars hulpbron is nie?

Nns. So gepraat van skitterwit. Ek sou hier iets oor skitterwit en feesgehore kon sê, maar weet nie of dit my plek is nie en gaan dit dus aan ander oorlaat.

  • Ilza Roggeband is op die Fiëstas-paneel.

Lees ook:

Aardklop-toekennings 2018: Wenners bekendgemaak

Lees en luister: ’n onderhoud met Alexa Strachan oor Aardklop 2018

Groot feeste meet die "temperatuur" van die land

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top