Aan Gerrit Brand – namens die Afrikaanse Taalraad

  • 0

Die Afrikaanse Taalraad treur oor die heengaan van ’n gewaardeerde kollega en medewerker. Gerrit was tot verlede jaar ’n toegewyde lid en direkteur van die Taalraad en het, waar dit enigsins moontlik was, op ’n landwye basis deelgeneem aan die liggaam se bedrywighede. Die direksie was bewus van gesondheidsprobleme, maar kon op deurlopende basis op sy wyse raad en bystand reken.

Hy was die formuleerder van die ATR se visie en het hom beywer vir ’n regverdige taalbedeling vir almal in Suid-Afrika en het daarby sy moedertaal, Afrikaans, gekoester. Hy was ook die kommunikasiekundige in ons midde en het gesorg dat die ATR se skakeling na buite – met die media – korrek, ewewigtig, eerlik en betroubaar was. Waar openbare kritiek gelewer moes word, het hy gesorg dat dit met oorgawe maar met billikheid gedoen is.

Gerrit Brand was die man van die intellek. Daarvan getuig sy loopbaan as joernalis en akademikus. Hy het op jeugdige leeftyd sy doktorsgraad behaal. Sy raad en advies by die totstandkoming van die Afrikaanse Taalraad in 2008 was kosbaar en onontbeerlik – daarsonder kon die ATR nie gevorder het tot waar hy nou is nie. Hy was ook vaardig met die pen.

Toe die ATR verlede jaar in Oktober sy direksie moes herkies, was daar geen twyfel dat Gerrit as hoog gewaardeerde medewerker eenparig deur die jaarvergadering herkies sou word nie. In teologiese terme het die direksie hom toe, vanweë gesondheidsprobleme en vanweë baie werksverpligtinge, met teësin van sy roeping onthef. Hy het egter met oorgawe onderneem om steeds as kundige advies te verleen waar hy kon.

Die verlies is groot vir die ATR – maar baie groter is die verlies vir sy gesin, sy eggenote en kinders. Mag die Here hulle bewaar, troos en seën in hierdie moeilike tyd.

Lees ook hierdie huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Vincent Brummer se huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Christo van der Rheede se brief aan Gerrit Brand.
Lees George Claassen se huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Robert Vosloo se huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Pieter Duvenhage se huldeblyk aan Gerrit Brand.

'n Begrafnisdiens vir Gerrit Brand vind plaas op Saterdagoggend 9 Maart 2013 om 10:00 in die NG Moederkerk Stellenbosch.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top