RSG Sanlam Radiodramakompetisie: Onderhoud met Martie Swanepoel

  • 0
Martie Swanepoel

Die wenners van die RSG Sanlam Radiodramaskryfkompetisie 2014 is pas bekendgemaak.

Naomi Meyer het die wenners oor hul radiodramas gevra. Hieronder is Martie Swanepoel, wenner van die silwer toekenning, aan die woord.

Vertel vir ons luisteraars wie jy is, asseblief.

Ek is al 36 jaar joernalis en die afgelope twee jaar ook lektor in Engelse letterkunde. Ek woon in Parys en doseer in Potchefstroom en skryf vir rooi rose.

Kan jy ’n spesifieke vonk van inspirasie herroep, of het die verhaal op ’n ander manier (of meer as een wyse) tot stand gekom?

'n Vriendin het my 'n ruk gelede die verhaal vertel van 'n pianis uit die Oosbloklande wat as kind gemolesteer is deur haar klavieronderwyser. Sy het jare nie aan 'n klavier geraak nie tot sy haar ma se klavier geërf het. Haar liefde vir musiek het uiteindelik oorwin. Dit was vir my 'n pragtige storie. Ek het vroeër die jaar as joernalis 'n onderhoud met Deborah Steinmair gedoen en ons het gesels oor hoe sy dit verwerk het ná sy as kind gemolesteer is. Dit het my geïnspireer om te skryf oor die onreg wat kinders aangedoen word en die invloed wat molestering op die res van 'n slagoffer se lewe het. Ek het die pianis se storie as basis gebruik en elemente soos konflik met geloof, middel-afhanklikheid, selfskending en selfdoodpogings ingewerk.

Kan jy asseblief iets van jou radiodrama vertel sonder om die pret te bederf of te veel verrassings te verklap?

'n Bejaarde pianis is aan die beginstadium van Alzheimer se siekte en vertel haal lewensverhaal vir oulaas aan haar versorger voor die groot vergeet oorneem. Sy is as kind gemolesteer en die gevolge het haar lewe en loopbaan diep geraak. Dit is nie luisterstof vir sensitiewe mense nie en daar is 'n paar tonele wat ontstellend was om te skryf en ek glo ook ontstellend gaan wees om na te luister, maar dit was nodig om eerlik te skryf.

Lekker prysgeld, maar hoekom ’n radiodrama? Wat was vir jou opwindend en wat was uitdagend hieromtrent?

Ek was op skool en op universiteit verknog aan letterkunde. Veral die genre van die drama fassineer my. As dosent giggel my studente soms as ek oordramaties in die klas raak as ek aan hulle probeer verduidelik hoekom 'n drama soos Arthur Miller se Death of a salesman of Samuel Beckett se Waiting for Godot geslaagd is. (Hulle deel nie altyd my geesdrif nie). Ek wou laasjaar al inskryf, maar daar was net nie tyd nie. Dié jaar het ek ook min tyd gehad, maar myself gedwing. As ek skryf en ek raak so effe in 'n beswyming, weet ek die storie werk. Tog het ek tot die einde getwyfel omdat die radioteks vir my 'n vreemde medium is.

Het jy doelbewus en eerste aandag gegee aan die metode om teater vir die blinde te skryf, of het die storie eerste ontstaan en toe eers pas jy dit aan vir die radio?

Ek skryf al 36 jaar vir 'n leser. Om skielik vir 'n luisteraar te skryf, was 'n aanpassing. Ek moes leer om spaarsaming met woorde te werk en om in die gesproke taal te skryf.

Intussen moet mens goed soos byklanke in ag neem. Dit was 'n uitdaging.

Ek het gelukkig 'n baie ryk verbeelding en ek kon die kerkorrel en klavierspel deurentyd in my kop "hoor" terwyl ek skryf. Ek het van die begin in die radiodramavorm geskryf en 'n paar keer herskryf as tonele nie werk nie. Dit het gehelp as ek die dialoog vir myself hardop lees. Ek kyk nooit TV nie en het die afgelope twee jaar nie een radiodrama gemis nie. Dit help beslis as jy met aandag na die tegniese aspekte luister. Die medium fassineer my. Ek kan nie wag om te hoor hoe my drama lewe kry nie.

Lees 'n onderhoud met Ingrid Pentzhorn.

Lees 'n onderhoud met Zesta Vorster.

Die vier wendramas van vanjaar se kompetisie word van April 2015 in Radioteater op RSG uitgesaai. RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2015 begin in April met die RSG Sanlam-wendramas, wat elke Donderdag om 20:00 gehoor kan word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top