![]() |
|
Zesta Vorster
|
Die wenners van die RSG Sanlam Radiodramaskryfkompetisie 2014 is pas bekendgemaak.
Naomi Meyer het die wenners oor hul radiodramas gevra. Hieronder is Zesta Vorster, wenner van die brons toekenning, aan die woord.
Vertel vir ons luisteraars wie jy is, asseblief.
Wie is ek? Ma en juffrou van altyd af – Afrikaans, Engels en Dramatiese Kunste. Kimberley gebore en getoë (ja, ek skree nog altyd vir die Griekwas). Op KOVSIES Drama gestudeer en toe begin skoolhou: konserte gehou en kinders vir die kunswedstryde afgerig. Later toe self beoordeel, by die ATKV-redenaars en debatte betrokke geraak as beoordelaar, en eksamineer tans ook vir die SA Kollege vir Spraak en Drama. Bedryf my eie ateljeetjie, Sterproduksies. Nou dink ek daaraan om te vryskut en te wag en sien wat die Liewe Vader oor my pad bring.
Kan jy ’n spesifieke vonk van inspirasie herroep, of het die verhaal op ’n ander manier (of meer as een wyse) tot stand gekom?
Die vonk van inspirasie was die RSG-radiodramaslypskool wat ek vroeg in die jaar bygewoon het – uiters leersaam, en daarsonder sou ek beslis nie die mas opgekom het nie. Ek kan nie juis praat van vaardigheid of ondervinding nie. Wat ek geweet het, was maar die basiese dinge wat ek my leerling geleer het. Ek is voorts ’n “geleentheidskrywer”, met ander woorde ek skryf in opdrag, of omdat die nood druk, soos byvoorbeeld redenaarstoesprake vir my leerlinge, of dramas vir die ATKV-Tienertoneel (onder ’n skuilnaam – oor ek nie wil hê my eie kinders of my leerlinge moet hulle vir my skaam as dit ’n “flop” is nie, en sodat die akteurs nie huiwerig sal wees om fel kritiek te lewer en hul eie idees en kreatiwiteit bandeloos in te span nie!). My dogter en ’n kollega van haar het my aangemoedig om aan die kompetisie deel te neem. Ek dink hulle dink ek gaan verveeld wees in my semi-afgetrede staat – verveeld is gevaarlik! Dus het ek die dag na die slypskool voor die rekenaar gaan sit en skryf (ek het reeds ’n duidelike idee gehad en geweet hoe ek die storie wou laat eindig) en ek het nie opgestaan voor hy nie klaar was nie. So ’n dag en ’n half lank geskryf, en toe nog net ’n bietjie gebeitel en geskaaf voordat ek hom ingestuur het.
Groot was my verrassing toe Kobus Burger my laat weet het ek is onder die eerste 15! Wat ’n bonus! Want ek het die skrywery reeds baie geniet toe die storie eers op koers gekom het. Toe word hy ingestuur om “gementor” te word, en Eben Cruywagen het ontsettend raak kritiek gelewer en die intrige beter opgesom as wat ek dit ooit sou kon doen! Toe dit dus lyk asof hierdie kenner positief voel oor die storie, het ek verder geskaaf en toe die finale produk ingestuur – en gehoop ek maak nie ’n gek van myself nie!
Die stuk is in sy geheel nie outobiografies nie, maar bevat sterk indrukke van mense en gebeure uit my eie verwysingsraamwerk. Jy kan maar sê dit was ’n "trip down Memory Lane". Terug na ’n besonderse era – die 60’s en 70’s - wat ek probeer vasvang het. Dit was ’n tyd toe my generasie baie onbesorg en voorspoedig in hierdie land gelewe het – ten spyte van die “army” en die grensoorlog. Ons het inderdaad die soete vrugte van die stelsel van daardie tyd gepluk. Ons was nie juis polities ingestel nie. Sharpeville, byvoorbeeld, het ongesiens gekom en gegaan. Musiek en garage-paarties was ons lewe. Ons het geluister na die “Drie B’s” die Beatles, Bee Gees en die Beach Boys, met ’n goeie skeut Rolling Stones (uit die bose!), Leonard Cohen, Moody Blues, CCR, Cat Stevens, ens. Ons het ons soos hippies gedra – hoofsaaklik ten opsigte van die lekker los modes en sekere ander lekker aspekte van hippie-wees – maar nie hulle hele filosofie nie. Toe kom 1994 en daarmee saam groot aanpassings en groot ontnugterings – vandaar my ontsettende deernis met die mense van my ouderdom (nou ooms en tannies bo 50) en dus ook die twee hoofkarakters in die storie, Emmarentia en Ferdinand. Dis met ander woorde maar die goed wat in jou hart broei wat uiteindelik ’n storie word wat jy moet uitskryf – en gevolglik ’n soortvan katarsis by die skrywer, sowel as die luisteraar, veroorsaak.
Die asemrowende, ruwe en genadelose Kalahari móés net die agtergrond van plek wees! Onder andere omdat ek ’n paar jaar gelede ’n skouspelagtige troue op die rooi duine beleef het! So is die mense van die Kalahari eg en gebrei en gelouter deur die ongenaakbare omgewing.
Dit was nou die “vonk” en ander katalisators. (Man, die prysgeld kom handig te pas – diep gate om toe te stop!)

Kan jy asseblief iets van jou radiodrama vertel sonder om die pret te bederf of te veel verrassings te verklap?
Ver in die ou Kalahari is ’n eenvoudige en bekende verhaal van ’n man en ’n vrou wat mekaar in hulle huwelik verloor en uitmekaar dryf, en uiteindelik in ’n situasie beland waar hulle gedwing word om behoorlik te kommunikeer - om mekaar weer te vind, of vir ewig te verloor. Die tema is Carpe Diem-erig., met ander woorde dit stuur die boodskap uit dat ’n mens die tyd moet uitkoop en die beste van elke kosbare lewensoomblik moet maak.
“Don’t sweat the small stuff!”
Lekker prysgeld, maar hoekom ’n radiodrama? Wat was vir jou opwindend en wat was uitdagend hieromtrent?
Alles het ongeveer gelyk gebeur: metode, storielyn, karakters. Ek het die “vryheid” en bykans onbeperktheid wat die medium bied, baie geniet, met die besef dat daar spesifieke, belangrike eise aan die skrywer , sowel as die luisteraar, gestel word. Die luisteraar volg die gebeure in sy (wonderlike, vrye) verbeelding, en kan dus na hartelus verbeel, toevoeg en saamspeel – maar hy moet sterk gelei word deur ’n stewige dramatiese struktuur, ’n boeiende intrige, duidelike, oortuigende en interessante karakters, sinvolle, tersaaklike, karakteropenbarende dialoog (“en kort en kragtig – less is more”, sou Kobus Burger byvoeg) en handeling, MILIEU, gepaste byklanke (ook stiltes) – trouens, al die noodsaaklike bestanddele van die drama. Musiek is ’n fantastiese hulpmiddel om stemming en atmosfeer te skep.
“Wees baie duidelik.”
“Terugflitse en vooruitspronge kan verwarrend wees .” (My storie maak sterk staat op terugflitse …!)
Ek dink die verhaal kan ’n tragikomedie genoem word, aangesien dar beide komiese en tragiese elemente teenwoordig is. Die karakters is almal redelik tipies; dog die hoofkarakters ondergaan ’n bietjie verandering. Dit is dié tipies-geit waarin die komiese hoofsaaklik lê, sowel as die dubbelsinnige en betekenisgelaaide dialoog, vol innuendo’s en (net-vir-die-Ferdinand-snaakse) spitsvondighede. (Oor die tragiese aspekte gaan ek liefs nie nou uitwei nie, reg?!) Ek het soms hardop vir my eie ou flou grappies gelag, sodat die kinders kom kyk het wat aangaan. Ek het ook oneindig hartseer gevoel oor Emmarentia en Ferdinand …
Laat ek net gou ’n gevolgtrekking deurgee: die radiodrama het ’n besliste voorsprong bo televisie, film en verhoog – te danke aan die “verbeelding”-ding.
Het jy doelbewus en eerste aandag gegee aan die metode om teater vir die blinde te skryf, of het die storie eerste ontstaan en toe eers pas jy dit aan vir die radio?
Ek kry nie lekker vatplek aan die beskrywing van radio as “blinde” medium nie, alhoewel ek goed verstaan dat dit te doen het met die feit dat die visuele element uitgeskakel word, en daar op die gehoorsintuig gekonsentreer word. Die luisteraar het egter ’n ander magtige visuele vermoë wat hy kan inspan – en dit is sy vermoë om te kan visualiseer! Die luisteraar moet al die gebeure, situasies, karakters, handeling (ook uiterlik) ten sterkste kan visualiseer. Die hoorspel moet steeds aksiebelaai wees!
Aksie is onontbeerlik om ’n boeiende, spannende, opwindende en vermaaklike drama te skep!
Ekself het in die skryfproses alles duidelik voor my geestesoog sien afspeel en die karakters in my kop hoor praat.
Ek sou graag die storie wou deel met mense wat daarmee kan identifiseer en dit sommer net saam met my (hopelik) sal kan geniet – en die boodskap so ’n bietjie sal oordink …
Lees 'n onderhoud met Ingrid Pentzhorn.
Lees 'n onderhoud met Martie Swanepoel.

Die vier wendramas van vanjaar se kompetisie word van April 2015 in Radioteater op RSG uitgesaai. RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2015 begin in April met die RSG Sanlam-wendramas, wat elke Donderdag om 20:00 gehoor kan word.


