RSG Sanlam Radiodramakompetisie: Onderhoud met Ingrid Pentzhorn

  • 0
Ingrid Penzhorn

Die wenners van die RSG Sanlam Radiodramaskryfkompetisie 2014 is pas bekendgemaak.

Naomi Meyer het die wenners oor hul radiodramas gevra. Hieronder is Ingrid Pentzhorn, wenner van die goue toekenning, aan die woord.

Vertel vir ons luisteraars wie jy is, asseblief.

Ek werk tans as ’n dokter by ’n staatshospitaal. Dit betaal vir vakansies en katkos en jogaklasse. Al is dit ’n voorreg om in so ’n vertrouensberoep te staan, is ek steeds op soek na die regte holte vir my voet; ’n werk waar ek dalk iets kreatiefs met die wetenskap van medisyne kan kombineer.

Kan jy ’n spesifieke vonk van inspirasie herroep, of het die verhaal op ’n ander manier (of meer as een wyse) tot stand gekom?

Die storie haak aan by een wat ek twee jaar gelede vir RSG geskryf het (Vlug). Ná Vlug uitgesaai is wou vriende en familie weet: wat nou? Ek het besluit om hierdie jaar weer ’n drama te skryf en het toe weer die hoofkarakter, Anja, se storie opgetel. Die drama het tot 'n groot mate self ontvou. My enigste doel was om die hooftema rondom verslawing te bou. Dis iets wat persoonlik na aan my hart is.

Kan jy asseblief iets van jou radiodrama vertel sonder om die pret te bederf of te veel verrassings te verklap?

Anja is 'n jong dokter in Kaapstad. Sy is onlangs geskei en probeer die stukke van haar lewe bymekaar hou.

Lekker prysgeld, maar hoekom ’n radiodrama? Wat was vir jou opwindend en wat was uitdagend hieromtrent?

Ek dink ek kan radiodrama skryf, juis omdat ek nie 'n skrywer is nie. In radiodrama moet jou sinne baie keer stomp wees. Dis nie mooi, poëtiese, beskrywende paragrawe nie. Dit gaan soms teen jou grein in, maar dis hoe ons praat.

Dis opwindend dat mens glad nie deur stelle of milieus (en dus begroting) beperk word nie. Jou karakters kan enigiets aanvang, op enige plek.

Dis nogal uitdagend om vir jou karakters elkeen ’n unieke stem te vind - omdat jy nie op voorkoms of maniërismes kan staatmaak om hulle van mekaar te onderskei nie.

Vir my, wat nie besonder rekenaarvaardig is nie, is dit ook altyd ’n uitdaging om die formaat reg te kry, sonder om my rekenaar uit frustrasie in die see te slinger. Eben Cruywagen het my gelukkig hierdie jaar aan die “macro” bekendgestel, wat die proses baie vergemaklik het.

Het jy doelbewus en eerste aandag gegee aan die metode om teater vir die blinde te skryf, of het die storie eerste ontstaan en toe eers pas jy dit aan vir die radio?

Die storie het beslis eerste ontstaan. Nadat ek aan my storie en karakters begin dink het, het ek wel my gedagtes laat gaan oor klanke wat interessant sal klink. Mens wil nie elke toneel binne in ’n hysbak laat afspeel nie.

Wat vir my die belangrikste was, was dat ek die luisteraars iets wou wys van die lewe van ’n verslaafde. Dit kan so baie vorme aanneem, en ons almal ken iemand wat daarmee worstel. Tog is dit steeds so ’n skande, iets waarop ons neersien en veroordeel.

Lees 'n onderhoud met Martie Swanepoel.

Lees 'n onderhoud met Zesta Vorster.

Die vier wendramas van vanjaar se kompetisie word van April 2015 in Radioteater op RSG uitgesaai. RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2015 begin in April met die RSG Sanlam-wendramas, wat elke Donderdag om 20:00 gehoor kan word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top