
Antoinette Louw is vanjaar bekroon as beste aktrise by die Suid-Afrikaanse Film- en Televisietoekennings vir haar rol in Deon Meyer se Die Laaste Tango. Nou vertolk sy een van die hoofrolle in die film Totsiens, Pa wat vanaf 27 tot 30 Augustus 2014 by die kykNET Silwerskermfees te sien is. Voorheen was sy ook te sien in die teaterstuk Nag, Ma teenoor Sandra Prinsloo.
Naomi Meyer het vir Antoinette gevra: Onafwendbaar weens die titels sal mens wil vra hoe die delf-in-die-familie-film Totsiens, Pa van Nag, Ma? se inkyk op die familie verskil? Jou karakters in albei produksies vlek dinge oop – maar wat is vir jou eenders en wat is anders?
In Totsiens, Pa speel ek die jongste van vier sussies wie se pa op sterwe is. Hulle het vier jaar laas met mekaar gepraat, en word nou gedwing om bymekaar te kom. Dit klink vreeslik dramaties, maar eintlik is die fliek 'n swart komedie (hoe dan anders met komiese aktrises soos Marion Holm en Helene Truter wat van die ouer susters speel?) En hier lê die grootste verskil tussen Totsiens, Pa en Nag, Ma – die genre. En ja, alhoewel die tema donker is en die karakters familiegeheime oopvlek, is die aanslag komies en die einde positief en vol hoop.
Kyk wanneer jou gunstelingfilm by die kykNET Silwerskermfees draai.

