Suurlemoen! draai van 27 tot 30 Augustus op die kykNET Silwerskermfees en open landswyd op 12 September. Die film is gegrond op die blitsverkoper-jeugroman van Jaco Jacobs. Vickus Strijdom was egter draaiboekskrywer en ook medevervaardiger én regisseur.
Naomi Meyer het vir Jaco Jacobs gevra oor hoe hy voel omtrent sy skepping in 'n ander se hande, oor die "oorgee"-proses.
Miskien moet ek sommer hier aan die begin een ding duidelik maak: terwyl ek hier skryf, het ek nog nie die fliekweergawe van Suurlemoen! te siene gekry nie.
Môreoggend vlieg ek en my vrou Kaap toe om Donderdag se première by die Silwerskermfees by te woon. Dit op sigself het nogal ’n magdom reëlings geverg, want dit beteken ons tweejarige en ons vier maande oue baba moet vir die eerste keer ’n nag lank by hul ouma van Warden deurbring. “Dis hoog tyd dat julle ’n bietjie alleen wegkom en die kinders by iemand los,” verseker ’n vriendin ons. “Julle sal verbaas wees hoe goed die twee sonder julle regkom.” Maar dis nie so maklik nie – veral nie as die tweejarige boonop skielik ’n snotneus en hoë koors ontwikkel nie, met kiestande wat dreig om uit te kom.
Maar terug by die fliek.
“Hoe voel jy oor die vooruitsig om dit die eerste keer te sien?” wil ’n klomp mense weet.
Opgewonde, natuurlik.
En ’n bietjie benoud ook.
Boeke is stil, beskaafde goed. Hulle sit iewers op ’n rak en wag tot iemand hulle in stilte lees. Flieks, aan die ander kant, is groot en raserig en jy kan dit nie miskyk nie. Nou die dag toe ek in die Mimosa Mall hier in Bloem rondloop en skielik ’n groter-as-lewensgroot advertensie vir Suurlemoen! sien, een van daardie pragtige, fancy uitgesnyde goed, was my eerste reaksie om iewers weg te kruip. Die meeste skrywers is nie gewoond daaraan dat hul maaksels daardie soort aandag kry nie. Elke keer as die Silwerskermfees op kykNET geadverteer word en Suurlemoen! genoem word, roep my vrou my opgewonde om te kom kyk. Ek maak so half of ek dit nie hoor nie en kyk anderpad.
Daar was jare gelede, kort ná die verskyning van Suurlemoen! in 2007, al die eerste keer belangstelling van ’n rolprentmaatskappy om die boek te verfilm. ’n Opsie is toegeken en het verval. Nog ’n maatskappy het belang gestel. Nog ’n opsie het later verval. Elke keer was ek heimlik baie opgewonde; elke keer was ek heimlik baie teleurgesteld as dinge nie uitgewerk het nie. Elke keer het my ore getuit as ek hoor hoeveel geld dit verg om selfs net ’n laebegrotingfliek te maak.
Ek het uit die staanspoor vir my uitgewer gesê ek stel nie daarin belang om self die draaiboek te skryf nie.
Die feit dat ek op universiteit eenkeer ’n draaiboekskryfkursus bygewoon het (by so ’n olierige skepsel van wie ek nog nooit gehoor het nie, maar wat Hollywood-name links en regs soos hondehappies vir ’n klomp honger straatbrakke laat val het), het dalk iets daarmee te doen gehad. Die man het gedink my poging is swak. Toe kry ek in my honneursjaar van Afrikaans en Nederlands weer die kans om ’n draaiboek te skryf, vir ’n uiters irriterende gasdosent uit Nederland. Byna al die ander studente in die klas het die makliker uitweg gekies en ’n opstel oor die Russiese formalisme geskryf, maar ek het deurgedruk en Chris Barnard se Bos tot draaiboek verwerk. My departementshoof was baie beïndruk met my poging – ek dink ek het dit nog iewers op skrif. Die Nederlandse gasdosent ongelukkig nie. Selfs die afgejaagde opstel oor die Russiese formalisme wat ek inderhaas een middag vir ’n pel direk uit ’n bron oorgeskryf het, het beter punte gekry.

Ek het dus met min huiwering Suurlemoen! se draaiboek in die bekwame hande van Vickus Strijdom oorgelaat. Buitendien, ek is ’n groot fliekaanhanger, en alles wat ek tot dusver gelees het oor boeke wat verfilm word, dui daarop dat die skrywer verkieslik so ver moontlik van die proses moet wegbly. Ek dink die afstand tussen Bloem en Johannesburg het goed gewerk.
En toe, einde verlede jaar, begin dinge skielik gebeur. Toe ek my oë uitvee, het Suurlemoen! Die film ’n Facebook-blad en Volksblad en OFM bel my om te vra wanneer die fliek uitkom. Verfilming het Februarie vanjaar begin.
Ek het ’n dag op die fliekstel deurgebring en was totaal en al oorbluf deur die hoeveelheid werk wat in een enkele toneel ingaan. Ek en my uitgewer het byna ’n uur in ’n seunsbadkamer deurgebring terwyl Tiaan Kelderman, wat die hoofrol speel, ’n toneel verfilm waar hy van die toilethokkie na die wasbak stap en sy hande was. Ek was die heeltyd so half lus om vir almal jammer te sê oor die groot klomp moeite wat my storie hulle kos – mense soos Chris Chameleon en Anna Davel en Jürgen Hellberg wat al van sesuur die oggend sit en wag om te skiet; kameramanne en klankmense en kontinuïteitsmense en nog hordes ander mense wat goeters doen wat ek nie verstaan nie en baie besig lyk.
Die videomateriaal wat ek tot dusver van die fliek gesien het, lyk ongelooflik. Die musiek klink beter as wat ek my in my wildste drome kon voorstel. Ek is ewig dankbaar aan mense soos Niel van Deventer (vervaardiger), Vickus Strijdom (draaiboek en regie) en instansies soos die ATKV, LAPA Uitgewers, kykNET en ’n rits ander wat hierdie fliek moontlik gemaak het. (Hei, dit klink asof ek ’n Oscar-toespraak oefen!)
Vickus het my twee weergawes van die draaiboek laat lees. Die eerste was baie getrou aan die boek. Die tweede en finale een het, op aanbeveling van keurders en raadgewers, in ’n hele paar opsigte van die boek afgewyk.
En ek dink dis ’n goeie ding. Ek hoop die rolprent gaan nie voel soos ’n boek-wat-beweeg nie, maar soos ’n regte, egte fliek. Groot en lawaaierig en flippen amazing,soos die fantastiese lokprent en die reusagtige promosieplakkaat belowe.
Die belangrikste vir my is dat die karakters dieselfde gebly het. Tiaan en Zane en Liezl en Bongi was in elke weergawe van die draaiboek steeds my karakters – vier van die karakters van wie ek, ná meer as honderd boeke, steeds die meeste hou.
En as ek Donderdag in die fliekstoel neersak en hulle die eerste keer op die grootskerm sien, is ek van plan om dit met ’n oop gemoed te doen.
Partykeer moet ’n mens bereid wees om jou kinders by iemand anders te los en te kyk hoe goed hulle sonder jou regkom.
Kyk wanneer jou gunstelingfilm by die kykNET Silwerskermfees draai.


Kommentaar
Ek het die boek lank gelede gelees. Die fliek was pragtig. Inspirasie vir jong kinders met drome en ook onderwysers wat naby aftrede is.