7 Oktober 2025: ’n brief aan prinses Charlene van Monaco

  • 0

Foto: Canva

Waverley, Bloemfontein
15 September 2025

Haar Deurlugtige Hoogheid: Prinses Charlene van Monaco
Die Prinslike Paleis
Place du Palais
98000 Monaco
Monaco

Geagte Prinses Charlene

Dis ’n sonnige lentemiddag in Suid-Afrika. Dit voel darem of die koue sy greep op ons verloor het.

Ek het weer sinusontsteking gehad, maar sonder dramatiese gevolge. Ek het gesorg dat ek genoeg oefening kry, genoeg slaap en my neus gereeld spuit. Nou’s ek oor die ergste.

Ek mis die koekoeke in die wintermaande. My spesifieke gunsteling is die diederikkie. Hulle is eintlik klein rakkers, want hulle maak mos nie hulle eie kinders groot nie. U weet waarskynlik, maar koekoekmannetjies lok ander broeivoëls uit hulle neste, waarna die wyfie háár eiers in die arme soogouers se nes lê.

Die klein koekoekie se ontwikkeling begin reeds in sy moeder se liggaam, sodat hy ’n voorsprong het op die soogouers se eiers: Hy breek vroeër uit sy dop en stoot dan dadelik die soogouers se eiers of kleintjies uit die nes uit. Die arme soogouers het dan al hulle dae om die gulsige klein parasiet se maag vol te hou. Hy’s naderhand groter as húlle, verbeel jou!

Ek het altyd gewonder waar die koekoeke oorwinter, tot ek onlangs ontdek het dat hulle na Midde-Afrika migreer. Europese spesies doen dieselfde.

Ek mis hulle lang fluite soos hulle deur die lug wegvlug. Dis gerusstellend vir my – van kindsdae af.

Dit sommer terloops. Ek is steeds met Frankl besig.

Ek hoop nie u sug nie. Ek sal dit kort hou.

In my vorige brief het ek die vraag gevra of die sterf aan die self ter wille van ’n ander nie presiés is wat Jesus van ons verwag nie.

Frankl skryf so ’n uiteindelike sin buite ons lewens op aarde oorskry die intellektuele kapasiteit van die mens. Hy beskryf dit in die konteks van ’n supersin.

Persoonlik koop ek in daarop, maar gestel die emosionele eise wat deur die besluite en voornemens gestel word, die sterf aan die self, oorskry jou emosionele kragte? Sê nou jy is byvoorbeeld vasberade om ter wille van jou kinders te volhard in ’n loopbaan waarin jy hoogs ongelukkig is, maar depressie oorval jou?

........
Persoonlik koop ek in daarop, maar gestel die emosionele eise wat deur die besluite en voornemens gestel word, die sterf aan die self, oorskry jou emosionele kragte? Sê nou jy is byvoorbeeld vasberade om ter wille van jou kinders te volhard in ’n loopbaan waarin jy hoogs ongelukkig is, maar depressie oorval jou?
........

Terugskouend was die woorde van ’n sielkundige by Bloemcare vir my deurslaggewend. Hy moes opgemerk het dat ek ’n ongesonde vrees vir die dood het tydens ’n gesprek oor my pa.

My pa is op 49-jarige leeftyd, toe ek 17 was, met chroniese leukemie gediagnoseer. Hy het met niemand daaroor gepraat nie, maar ek het dit geweet. Toe ek drie jaar later op universiteit was, was hy gereeld siek en per geleentheid bitter naby aan sy dood.

Is almal van ons nie permanent in dieselfde situasie nie – naby aan die dood?

Ek onthou hoe ek snags in die hospitaal by hom gewaak het. In Februarie 1985 – 40 jaar gelede – is hy oorlede.

Aan sinusontsteking.

Hierdie intense ervaring van die jarelange agteruitgang van my pa moes, besef ek al hoe meer, ’n baie groot invloed op my gehad het, want ek het oor die jare myself op allerlei filosofiese maniere probeer voorberei om emosioneel gereed te wees om op enige denkbare manier te sterf.

Hokaai, sê die sielkundige toe: “Tot hoe ver in die toekoms in wil jy jouself voorberei op die dood?”

Ek kon hom nie antwoord nie.

Hy sê toe: “Onthou, genade word nie vooruit uitgedeel nie, maar wat wel gegee word, sal genoeg wees vir elke dag.”

Dis soos die manna in die woestyn: Daar was genoeg vir elke dag, maar jy mag nie vir môre ook optel nie.

Die sielkundige, wat self in 2021 amper dood is aan Covid, het met my gedeel dat hy die idee gekry het dat die dood maklik sal wees. Hierdie lewe en die lewe na die dood is ’n eenheid – ons sal bloot per afspraak van die een na die ander oorbeweeg.

Ek dra hierdie mededelings van hom steeds soos kosbare kleinode saam met my.

Ons hoef nie die dood te ignoreer nie – inteendeel, mens moet die afskeid deurpraat. Ek het egter geleer om my nie te veel te bekommer oor goed – siektes, ongelukke – wat moontlik kan gebeur nie. Hoe meer ek dit doen, hoe groter raak my angs en – uiteindelik – depressie. Leef in die hier en die nou, het die sielkundige my aangeraai, want te veel stres gaan jou doodmaak.

Is dit nie ironies dat die bekommernis oor die dood jou kan doodmaak nie?

Die hede is al wat ons het en, in my geval, sit ek tans in ’n heerlike wiegstoel wat ek self gemaak het. Wat meer is: Ek sit en skryf. My skryfgereedskap is ’n pragtige, fyn Parker-potlood met B-grafietpunte in. Die papier waarop ek skryf is by ’n skryfbehoeftewinkeltjie in Nice, Frankryk gekoop. Dié drie dinge – die stoel, die potlood en die papier – tesame met die heerlike wete dat ek reeds my oggendrit op my Trek-fiets gery het, verskaf my groot genoegdoening. Ek leef in die hede, deur dit.

Dié gevoel van plesier word verder verhoog deur die bewustheid dat ek aan u skryf. Wie skryf nog briewe vir prinsesse? Wat ’n voorreg!

Terloops, ek, my vrou en ons jongste dogter was in 2019, tydens die besoek aan Nice, ook in Monaco by die paleis. Wat ’n glorieryke geskiedenis wat oor 700 jaar strek! Die idee dat ’n mens deel raak van so ’n grootse dinastie klink vir my beide opwindend en skrikwekkend. Ja, ’n mens word deel van iets groter as jyself, soos Frankl voorstel, maar in ’n sekere sin word die sin van jou lewe ietwat van buite bepaal – dalk deur jou vermoë om die volgende geslag koninklikes voort te bring of om koninklike funksies te verrig.

Die druk wat dít meebring is treffend deur die tragiek rondom Lady Diana geïllustreer en ons weet almal wat die uitkoms daarvan was: Na sy voldoen het aan die verwagting, is sy opsy geskuif en het sy “misbaar” geraak.

Hoe vind mens dán sin in jou lewe en in die koninklike bestaan?

Ek het u en u gesin reeds geruime tyd op my gebedslys.

Met durende agting en bewondering

Jannie

Lees ook: 

4 September 2025: ’n brief aan prinses Charlene van Monaco

9 September 2025: ’n brief aan prinses Charlene van Monaco

15 September 2025: ’n brief aan prinses Charlene van Monaco

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top