15 September 2025: ’n brief aan prinses Charlene van Monaco

  • 0

Prent van blomme: Canva

Waverley, Bloemfontein
15 September 2025

Haar Deurlugtige Hoogheid: Prinses Charlene van Monaco
Die Prinslike Paleis
Place du Palais
98000 Monaco
Monaco

Geagte Prinses Charlene

My jaar het sover heel aangenaam verloop. Hierdie September het ’n volle vier jaar verloop sedert ek in Bloemcare opgeneem is en ek voel deesdae meesal soos my ou self. My psigiater het dit voorspel.

Nou kom ek by die boek wat ek lees: Viktor Frankl se Man’s search for meaning. U het dit waarskynlik reeds gelees, want dit is al vir dekades een van die wêreld se gewildste boeke, maar ék lees dit eers op ouderdom 61.

Wat ek lees, het nietemin ’n diepgaande invloed op my lewe en hoe ek my swaarkry die afgelope vier jaar interpreteer.

Frankl, soos u waarskynlik reeds weet, was tydens die Tweede Wêreldoorlog in verskeie Nazi-strafkampe en het intense swaarkry oorleef om sy storie te vertel. Dit het hy veral in Man’s search for meaning, maar ook ander boeke gedoen. Dit wat hy in hierdie strafkampe beleef het, het ’n diepgaande invloed op sy siening betreffende die sin van die lewe gehad.

Die mens se soeke na sin, sê Frankl, is sy primêre motiverende krag. In mooi Afrikaans sou mens kon sê dis die mens se primêre dryfveer. Hierdie “sin” is uniek en spesifiek in die opsig dat dit slegs maar op individuele vlak volvoer of verwesenlik kan word, want slegs dán bereik dit ’n uniek individuele betekenis wat die mens se drang na betekenis bevredig. Hierdie drang is baie diep in die wese van die mens geanker, sê Frankl.

Waar sou die mens na die sin van sy of haar lewe gaan soek? Frankl argumenteer met oortuiging dat dit alleen buite ’n mens te vinde is. Die fokus moet dus nie op introspeksie wees om die blote drange en instinkte van die mens te bevredig nie; dit is méér as aanpassing by die gemeenskap en die omgewing, méér as selfverwesenliking.

Daar moet ’n sekere interne spanning geskep word eerder as ’n interne ekwilibrium: Die mens moet bewus wees van die potensiële sin van sy of haar bestaan en wat nog gedoen moet word om daardie sin te ervaar of te bereik. Daar is niks in die wêreld, sê Frankl, wat ’n mens so doeltreffend kan help om te oorleef as die wete dat daar sin in die ou lewe is nie. Hy haal die bekende woorde van Nietzsche aan om sy punt te illustreer: “Hy wat ’n ‘hoekom’ het om voor te leef, kan byna elke ‘hoe’ verduur.”

In die Nazi-konsentrasiekampe kon Frankl duidelik waarneem dat diegene wat geweet het dat daar ’n taak vir hulle gewag het om te vervul, meer geneig was om te oorleef. Wat homself betref, is ’n manuskrip wat gereed was vir publikasie by sy aankoms, gekonfiskeer. Dit was dalk ’n bedekte seën, want hy is oortuig daarvan dat die diep begeerte om die manuskrip van nuuts af te skryf bygedra het tot sy oorlewing.

Toe hy byvoorbeeld in ’n kamp in Bavaria tifuskoors opgedoen het, het hy op stukkies papier baie notatjies begin neerskryf wat hom sou help om die manuskrip te herskryf. Hierdie rekonstruksie van sy manuskrip in die donker barakke van die konsentrasiekamp het hom gehelp om kardiovaskulêre ineenstorting te oorkom.

In Frankl is daar dus die nodige spanning geskep tussen wat hy reeds bereik het en wat hy nog behoort te bereik, of ’n gaping tussen wat hy wás en wat hy nog moes wórd. Dié spanning is, soos ek reeds genoem het, inherent aan die mens en daarom onmisbaar vir geestelike welsyn. Aan die een pool van dié situasie is die sin wat vervul moet word en aan die ander pool die mens wat dit moet vervul.

By mense wat nié hierdie spanning in hulle lewens het nie, tree verveeldheid en ’n eksistensiële vakuum in. In moderne samelewings, lyk dit vir my, kom dit by ’n groot persentasie mense voor. Daar is ’n emosionele leegheid by talle hedendaagse mense. Die gevolge daarvan kan depressie, aggressie, verslawing of selfs nihilisme wees.

Terwyl ek dit lees, het ek besef wat een van die oorsake van my eie depressie was: Omdat ek tydens Covid vir byna 18 maande geen studente en min ander mense gesien het nie, het daar ’n eksistensiële vakuum in my ontstaan. Daar was geen spanning tussen die mens wat ek was en die een wat ek nog moes word nie.

Ek was net ’n paar jaar van aftrede af en my loopbaan in diens van ander mense was so te sê verby. Ek het chronies siek geword en moes ’n groot operasie ondergaan. Die dood het skielik vir my ’n werklikheid geword en ek was nog nie gereed daarvoor nie.

Die vraag is nou: Hoe kan ek by hernuwing ’n nuwe interne spanning in myself skep? Hoe kan ek uitvind hoe die mens wat ek tans is, herskep moet word om deur ’n proses van vernuwing te gaan? ’n Heroriëntasie van my menswees?

Hierdie vrae, sê Frankl, kan deur niemand anders as ekself beantwoord word nie. Dié vrae kan nie in algemene terme geformuleer of beantwoord word nie, want elke situasie in die lewe bied ’n uitdaging aan my en verteenwoordig ’n individuele probleem om op te los. Die sin van mý lewe verskil dus nie net van dié van elke ander mens nie; dit verskil ook van dag tot dag, selfs van uur tot uur. Dit is soos ’n skaakwedstryd, sê Frankl: Daar is doodeenvoudig nie één beste skuif in die wêreld nie. Elke skuif hang van die spesifieke situasie op die skaakbord en jou opponent se persoonlikheid af.

Die beste manier om die sin van die lewe uit te werk is om “vooruit” te leef: Hoe sou jy dit wat jy nóú doen en besluit, beoordeel as jy dit op tagtigjarige leeftyd, ná alles menslik gesproke verby is, moes doen? Was ek verantwoordbaar teenoor my gewete en teenoor my gemeenskap?

Daar is ’n voorbeeld hiervan in Frankl se boek. ’n Moeder van ’n seun wat op die ouderdom van 11 jaar gesterf het, is in die hospitaal opgeneem na ’n selfmoordpoging. Toe sy haar storie tydens groepterapie vertel, het dit geblyk dat sy alleen gelaat is met ’n tweede, ouer seun, wat aan ’n rolstoel gekluister was en wie sy moes versorg.

Sy het teen haar lot gerebelleer, maar toe sy saam met haar seun wou selfmoord pleeg, het hy haar gekeer. Vir hóm het die lewe sinvol gebly. Hoe sou sý weer sin in haar lewe kon vind?

Frankl draai toe na ’n ander vrou in die terapiegroep en vra haar hoe oud sy is.

“30,” antwoord sy.

“Nee, jy is nie 30 nie, maar 80 en jy lê op jou sterfbed. Nou kyk jy terug op jou lewe, ’n lewe wat kinderloos was, maar vol prestige en finansiële sukses.”

Hy nooi haar toe uit om haar in te dink hoe sy in daardie situasie sou voel: “Wat sal jy daarvan dink? Wat sal jy vir jouself sê?”

“O, ek is met ’n miljoenêr getroud, ek het ’n gemaklike lewe vol rykdom gehad en ek het dit opgeleef! Ek het met mans geflankeer; ek het hulle uitgelok! Maar nou is ek 80; ek het geen kinders van my eie nie. As ek as ou vrou nou terugkyk, kan ek nie sien waarvoor dit alles was nie. Om die waarheid te sê, was my lewe eintlik ’n mislukking!”

Frankl nooi toe die moeder van die gestremde seun uit om dieselfde te doen en op háár lewe terug te kyk.

“Ek wou graag kinders hê en daardie wens is my toegestaan; een seun is oorlede; die ander een, die kreupel een, sou na ’n inrigting gestuur word as ek nie sy versorging oorgeneem het nie. Hoewel hy kreupel en hulpeloos was, is hy tog my seun. En so het ek ’n voller lewe vir hom moontlik gemaak. Ek het ’n beter mens van my seun gemaak.”

Sy bars toe in trane uit en gaan al huilende voort:

“Wat myself betref, ek kan in vrede terugkyk op my lewe, want ek kan sê my lewe was vol sin en ek het hard probeer om dit te vervul; ek het my bes gedoen – ek het die beste vir my seun gedoen. My lewe was nie ’n mislukking nie!”

Frankl beklemtoon dat, deurdat hy verklaar dat die mens verantwoordelik is om die ware sin van sy of haar lewe te verwesenlik, daardie sin in die wêreld eerder as in die psige van die mens gevind kan word. Hy noem dit die “self-transendensie van die menslike bestaan”.

Dit beteken dat mense altyd gewys word, of gerig word, na iets of iemand anders as die self. Hoe meer jy jouself vergeet – deur jouself aan ’n roeping of ’n ander mens toe te wy – hoe meer menslik raak jy en hoe meer verwesenlik jy jouself.

Selfverwesenliking, soos gesê, is geensins ’n bereikbare doel nie, vir die eenvoudige rede dat hoe meer mens daarna streef, hoe meer sal jy dit mis. Met ander woorde, selfverwesenliking is slegs as ’n newe-effek van self-transendensie moontlik.

........
Frankl argumenteer dat die sin van die lewe altyd verander, maar dat dit nooit ophou bestaan nie.
........

Frankl argumenteer dat die sin van die lewe altyd verander, maar dat dit nooit ophou bestaan nie. Hy stel voor dat mens die sin van die lewe op drie maniere kan ontdek:

  1. deur ’n werk te skep of iets te doen;
  2. deur iets of iemand te ervaar of teen te kom;
  3. deur die houding wat ons het teenoor onvermybare swaarkry.

Die eerste manier, deur middel van prestasie of om iets te bereik, is voor die hand liggend. Vir my sou dit byvoorbeeld beteken om ’n meubelstuk uit hout te maak. Dit het my nog altyd groot bevrediging verskaf.

Die tweede manier om die sin van die lewe te vind is deur iets – soos goedheid, waarheid of mooiheid, of die natuur – te ervaar. Dit kan ook gevind word deur ’n ander mens in sy of haar uniekheid te ervaar – deur hom of haar lief te hê. Seks, sê hy terloops, is ’n uitdrukking van die uiterste vorm van saamwees – om lief te wees vir jou eggenoot.

Ek vra verskoning, Prinses, omdat ek so lank vat om by die punt te kom, maar ek is in die eerste plek besig om Frankl se insigte aan myself te verduidelik en dit van toepassing op myself te maak. Durf ek hoop dat dit vir u ook iets sal beteken? Ek hoop en bid werklik dat dit die geval sal wees.

Ek kom dus uiteindelik by die laaste manier waarop die sin van die lewe ontdek kan word, naamlik onvermydelike swaarkry. Wanneer ’n mens gekonfronteer word met ’n hopelose situasie, soos wanneer jy ’n ongeneeslike kanker opdoen en geen behandeling of operasie moontlik is nie, sê Frankl, is die uitdaging om ’n persoonlike tragedie in ’n oorwinning of triomf om te skakel. Die uitdaging dán is om onsself te verander; jou houding teenoor die swaarkry moet verander.

........
Wanneer ’n mens gekonfronteer word met ’n hopelose situasie, soos wanneer jy ’n ongeneeslike kanker opdoen en geen behandeling of operasie moontlik is nie, sê Frankl, is die uitdaging om ’n persoonlike tragedie in ’n oorwinning of triomf om te skakel. Die uitdaging dán is om onsself te verander; jou houding teenoor die swaarkry moet verander.
........

Hy beskryf weer ’n voorbeeld: ’n Bejaarde algemene praktisyn het hom oor ernstige depressie kom sien. Sy vrou, wat hy bo alles liefgehad het, het hom twee jaar tevore ontval. Frankl vra hom toe: “Dokter, wat sou gebeur het as u eerste gesterf het en jou vrou moes jou oorleef?”

“O,” sê hy, “dit sou verskriklik vir haar gewees het; hoe sou sy gely het!”

Frankl sê toe: “Jy sien, Dokter, so ’n lyding is haar gespaar en dit was jy wat haar hierdie lyding gespaar het – teen die prys dat jy nou moet oorleef en oor haar treur.”

Die pasiënt het niks verder gesê nie, maar sy hand geskud en sy kantoor kalm verlaat. Op ’n manier, sê Frankl, hou lyding op die oomblik as dit sinvol word, soos die sin in opoffering.

Frankl sê vervolgens ’n paar interessante dinge. Die eerste is dat die mens se hoofbesorgdheid nie is om plesier te hê of pyn te vermy nie, maar eerder om die sin in sy of haar lewe in te sien. Dit is waarom die mens selfs bereid is om swaar te kry – op dié voorwaarde dat die swaarkry sin het.

Hy maak dit wel honderd persent duidelik dat swaarkry op geen manier noodsaaklik is om sin te vind nie. Hy hou slegs vol dat sin moontlik is ten spyte van swaarkry – op voorwaarde, sekerlik, dat die swaarkry onvermydelik is.

As dit egter wel vermybaar was, sê Frankl, sou die sinvolle ding om te doen wees om die oorsaak daarvan te verwyder, synde die oorsaak psigologies, biologies of polities mag wees. Dan sê hy, wat my betref, iets waarby ek wil stilstaan, dalk om effens van hom te verskil: Hy sê naamlik dat om onnodig swaar te kry masochisties eerder as heroïes sou wees.

Hier wil ek ’n oomblik verpoos om rustig oor Frankl se stellings en voorbeelde te dink. Ek wil terugkeer na sy voorbeeld van die vrou met die kreupel seun. ’n Gedeelte van daardie vrou se swaarkry lyk vir my nie noodwendig onvermydelik nie.

Aan die dood van haar gesonde seun kon sy skynbaar op geen wyse iets doen nie. Daardie swaarkry was inderdaad onvermydelik. Sy het egter nie, soos die afgetrede mediese dokter, die sin in haar lewe gevind deurdat sy hom oorleef het en hom sodoende die gemis aan haar gespaar het nie. Sy het haar sin gevind in die versorging van haar gestremde seun.

Die opsie om dié seun in ’n inrigting te plaas was egter deurentyd tot haar beskikking. Haar gewete of moedersinstink mag dit miskien onmoontlik gemaak het, maar sy het nietemin ’n bewustelike keuse uitgeoefen om na haar kreupel seun om te sien.

Sy het die opsie van swaarkry verkies en dit was, sover ek kan sien, nie masochisties nie. Hoe dit ook al sy, sy het wel sin geskep deur iets te doen en dít deur die tweede manier wat Frankl voorstel: deur haar seun lief te hê.

In hierdie opsig is of was sy, wat my betref, ’n heldin, want dit sou noodwendig met groot opoffering gepaard moes gaan. Dit is natuurlik as sy dit wel op onselfsugtige wyse, sonder enige verwyte gedoen het. Sy het inderdaad, soos die Bybel voorstel, gesterf aan die self en vir iemand anders begin leef.

Nou, dink ek, is daar ’n oorvleueling tussen die tweede en derde manier waarop sin volgens Frankl gevind kan word: die liefde vir ’n ander persoon en swaarkry. Persoonlik dink ek dat om swaarkry bewústelik te kies, is méér heroïes as die triomf oor onvermydelike swaarkry. Die voorwaarde, natuurlik, is dat jy nie ’n slagoffermentaliteit, of bitterheid, mag ontwikkel nie.

Ek beweer geensins dat dit in alle gevalle wenslik of moontlik is nie. Neem maar net ter illustrasie die vrou (en daar is baie van hulle) wat deur haar man aangerand word. In so ’n geval móét die oorsaak van die swaarkry verwyder word.

Gestel egter een van twee huweliksgenote is as kind emosioneel verwaarloos en misken. Nou, in die huwelik, is so ’n persoon afsydig en nie in staat om liefde of emosionele warmte te betoon nie. Fisiese kontak en seks is geensins prioriteite vir so ’n persoon nie.

Hy of sy huweliksmaat is egter bewus van hierdie ongelukkige geskiedenis. ’n Skeiding kan verwoestende skade aanrig – of dalk nié. Sou die potensiële broosheid, die emosionele weerloosheid, van die een huweliksmaat nie aan die ander die krag gee om oor die swaarkry te triomfeer en vir die ander een te leef en te sterf nie?

Is dit nie presies wat Jesus gedoen het nie? Is dit nie onder andere wat dit sou beteken om Jesus slaafs na te volg nie?

Hierdie brief was besonder lank, dalk onnodig so. Ek skryf in ’n volgende brief verder, Prinses.

Met durende agting en bewondering

Jannie

Lees ook:

4 September 2025: ’n brief aan prinses Charlene van Monaco

9 September 2025: ’n brief aan prinses Charlene van Monaco

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top