4 September 2025: ’n brief aan prinses Charlene van Monaco

  • 1

Foto: Canva

Waverley, Bloemfontein
4 September 2025

Haar Deurlugtige Hoogheid: Prinses Charlene van Monaco

Die Prinslike Paleis
Place du Palais
98000 Monaco
Monaco

Geagte Prinses Charlene

U sal sekerlik verbaas wees om ’n brief van my te ontvang – en dan nogal in Afrikaans. Verskoon my dat ek nie in Engels skryf nie, maar wanneer mens vir ’n prinses skryf, moet jy jou beste voetjie voorsit en jou beste taal benut – en ek is bevrees ek kan dit nie behoorlik in Engels doen nie. Ek is daarom verlig dat u wel Afrikaans magtig is en dus my brief sal kan lees.

My naam is Jannie Pretorius en ek is ’n medeprofessor in Opvoedkunde aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Hoekom, wonder u seker, skryf ek aan u?

Wel, ek neem in die eerste plek vrymoedigheid om aan u te skryf omdat daar ’n klein periode in my lewe was toe ek besonder begaan was oor u. Laat my verduidelik.

Dit was gedurende die laaste ses maande van 2021, toe u in Suid-Afrika gestrand was weens daardie vreeslike oor-, neus- en keelinfeksie. Ek weet nie wat die detail van die behandeling wat u ontvang het, was nie, maar ek weet wel dat u weens die operasies nie kon terugkeer na Monaco, na Prins Albert, Prinses Gabriella en Prins Jacques nie.

Dit het my hewig ontstel: die idee dat u nie kon terugkeer huis toe, na u familie toe nie. Want, het ek benoud gedink: Wat as die probleem chronies raak, sodat u nooit kan terugkeer nie? Die idee dat u met ’n gerieflike boot sou kon terugkeer het nooit by my opgekom nie, om ’n rede wat weldra duidelik sal raak.

Voeg daarby die tallose skinderberigte – kennelik vals – wat in die pers verskyn het in daardie tyd – en ja, werklikwaar tot nou toe. Ek weet joernaliste karring al vir jare aan u huwelik en soek na die geringste aanduiding dat daar iets verkeerd is tussen u en Prins Albert. Ek sien juis ’n paar weke gelede moes u weer u liefde vir en ondersteuning van Prins Albert verklaar. U is dalk al gewoond daaraan, maar ek is bevrees dat die nydigheid ongekende laagtes bereik en ek wonder of dit nie déúr u emosionele pantser dring nie. U is ná alles net ’n gewone mens. Wel, soort van.

Die tweede rede hoekom ek aan u skryf, is, as u my so ’n selfsugtige motief sal verskoon, dat ek deurlopend probeer om behoorlik na my eie emosionele welsyn om te sien. Skryf is ’n vorm van terapie en ek het woorde op papier altyd dringend nodig. Dis of ek moet skryf om uit te vind wat ek dink. Dit het my nog altyd vertroos, wat ook die rede is hoekom ek al vir langer as 20 jaar ’n dagboek byhou. Dalk weet u, maar daar is ’n Latynse spreekwoord wat lui: “Verba volant, scripta manent” – die gesproke woord is vlietend, maar geskrewe woorde is standvastig. Vir my bied hulle emosionele vastigheid.

U wonder dalk wat die brief met my emosionele welstand te make het.

My verhaal begin in Februarie 2021.

Ek het toe ’n groot operasie aan my kolon ondergaan. Weens gedurige, bykans chroniese infeksies moes die laaste gedeelte van my kolon, ’n stuk van ongeveer 60 sentimeter, verwyder word. Die operasie staan bekend as ’n hemikolektomie. Die oorblywende dele van die spysverteringskanaal word dan weer aanmekaargeheg.

Dis ’n lewensgevaarlike operasie met verskeie potensiële komplikasies, soos bloeding, infeksies en selfs lekkasies. Ek was dus vir nege dae in die hospitaal en was gelukkig dat daar geen komplikasies was nie. Ek het volkome herstel en is vandag nog infeksievry.

Ek sal nou terugkeer na die laaste ses maande van 2021, toe ek so begaan was oor u, soos genoem, en die periode sonder u familie (hoewel hulle wel kom kuier het, as ek reg onthou). Ek het op ’n stadium besef dat dit op emosionele vlak nie goed met my gaan nie. Of dit as gevolg van die emosionele impak van die operasie was, weet ek nie regtig nie, maar daar is so ’n moontlikheid.

Ek is dus in Augustus opgeneem in Bloemcare, die bekendste psigiatriese hospitaal hier in Bloemfontein. Ek was vir 10 dae daar. Dit was van die wonderlikste dae in my lewe, maar toe ek daar uitstap, het ek myself belowe ek keer nooit weer terug daarheen nie.

........
Ek is destyds gediagnoseer met depressie en iets buitengewoons: atraksie. Dis die onvermoë om jou bewegings te beheer as gevolg van ’n senusiekte.
........

Ek is destyds gediagnoseer met depressie en iets buitengewoons: atraksie. Dis die onvermoë om jou bewegings te beheer as gevolg van ’n senusiekte. Ek kon om die dood nie stilsit nie, selfs nie toe ek my psigiater vir die eerste keer in haar spreekkamer gesien het nie. Ek het opgespring en die hele tyd heen en weer voor haar geloop.

Ek het haar om verskoning gevra vir my lopery, maar sy het my verseker dis in orde, want die vorige dag het een pasiënt haar gevra of hy in die hoekie langs haar stoel kon gaan lê tydens die konsultasie. My heen-en-weer lopery was dus ’n welkome verandering, sê sy toe: Dit was die eerste keer dat dit vir haar gevoel het of sy na ’n tenniswedstryd in haar spreekkamer kyk.

As u my sal verskoon, dink ek dit sal goed wees om as agtergrond die aanloop tot en moontlike oorsake van my uiteindelike opname in Bloemcare na te speur. Die rede hoekom ek dit sê, is ook die derde rede hoekom ek aan u skryf: Dalk beteken dit iets vir iemand?

As ek terugkyk, was daar vooraf verskeie tekens dat my emosionele welsyn agteruit gegaan het. My klere het my skielik só begin knel dat ek benoud geraak het en gesukkel het om behoorlik en ontspanne asem te haal. My asemhaling het vervlak.

Ek kan die spesifieke datum onthou dat my emosionele trauma begin het: 3 Junie 2021. Dit was die dag dat ek skielik begin hoes het. Toe dit nie ophou nie, is ek dokter toe en hy het vir my antibiotika voorgeskryf. Hy het sinusontsteking by my gediagnoseer. Die kursus antibiotika wat hy voorgeskryf het, het nie die probleem opgelos nie – en ook nie die drie daaropvolgende kursusse nie.

My neus was teen dié tyd chronies toe. Geleidelik het hierdie geblokte neus met my slaap begin inmeng. Ek het begin om snags gereeld benoud wakker te skrik. Bedags was ek dus moeg. My dokter het ’n nebuliseerder voorgeskryf en ek moes drie keer per dag in die masker sit en asemhaal – vir 25 minute lank.

Tydens dié bedroewende tyd het ek boonop tandpyn ontwikkel. My tandarts het ’n tand wat reeds jare gelede ’n wortelkanaalbehandeling ondergaan het, as sondaar uitgewys. In my sinusse, het die X-strale gewys, was daar bo-op dié tand ’n klein blasie vloeistof. Ek is na ’n oor-, neus- en keelspesialis verwys.

Dalk laat die term oor-, neus- en keelspesialis u koue rillings kry. Kan u dus verstaan dat ek in daardie maande besonder na aan u gevoel het en soveel simpatie met u gehad het?

........
Kan u dus verstaan dat ek in daardie maande besonder na aan u gevoel het en soveel simpatie met u gehad het?
........

So het ek van die een mediese afspraak na de volgende gesteier.

My tand is op Maandag 26 Julie 2021 getrek. Dit het nie dadelik verligting gebring nie en ek het besluit om seelug te gaan opsoek in Hermanus, waar my jongste dogter woon. Daar is ek ook desperaat hospitaal toe en toe die dokter aan diens met my praat, het ek gebieg: “Ek wil nie meer leef nie, dokter.” Toe ek by die hospitaal uitstap, het ’n groep gelowige bruin mense my die hande opgelê en vir my gebid.

Een oggend, toe my dogter by die skool waar sy skoolhou was, het ek op die wandelpaadjies by Hermanus se ou hawe gaan stap en die sterk drang, bykans onbeheerbaar, ontwikkel om by die kranse af te spring. Al wat my gekeer het, is dat ek my dogter nie die verleentheid wou aandoen nie. Die verganklikheid van mense en dinge het my swaar op die hart gelê. Té swaar.

Ek het dus teruggejaag Bloemfontein toe en is, soos u nou reeds weet, in Bloemcare opgeneem. Op daardie stadium was ek van een ding seker: My lewe, soos ek hom geken het, was finaal verby. Ek sou van voor af moes begin leer om te leef.

........
My wonderlike psigiater het vir my medikasie voorgeskryf en ’n halfuur nadat ek dit afgesluk het, het ek vir die eerste keer in maande kalm en ontspanne op my bed gelê.
........

My wonderlike psigiater het vir my medikasie voorgeskryf en ’n halfuur nadat ek dit afgesluk het, het ek vir die eerste keer in maande kalm en ontspanne op my bed gelê.

Hiermee, vir nou, die einde van my eerste brief. Ek weet nie of u dit gaan lees nie, maar ek hoop u sal wel.

Ek bid u en die prinslike familie alle seën en voorspoed toe.

Met hoogagting,

Jannie

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top