
Foto: Canva
Waverley, Bloemfontein
9 September 2025
Haar Deurlugtige Hoogheid: Prinses Charlene van Monaco
Die Prinslike Paleis
Place du Palais
98000 Monaco
Monaco
Geagte Prinses Charlene
Ek hoop my brief vind u en u gesin in goeie gesondheid. Hiermee my tweede brief.
Ek het in Februarie 2022 wéér ’n groot operasie ondergaan, wéér aan my buik.
Ek moes plat op my rug lê en TV kyk en skryf. Ek was daarna nog broos en het probeer om so min moontlik regop te kom. Om regop te kom sonder om stremming op die lang operasiewond en buikspiere te plaas, was, soos in 2021, ’n moeisame proses. Ek moes eers op my regtersy draai, dan my bene van die bed laat sak en dan d-r-u-k ek my bolyf regop met my linkerarm. Dan sít ek darem al. Om regop te staan, het laaste gebeur en was die maklikste.
Hierdie keer was daar iets bykomend: ’n breukgordel, van rek en girtsstroke. Dit het my ondersteun en ek moes dit vir ses weke dra.
U wonder dalk hoe dit gebeur het.
Wel, ek het dit nie in my vorige brief genoem nie, maar hier teen November 2021 het ek ’n klein breuk in my buik opgemerk. Ek het intussen al goeie vordering gemaak met my herstel van depressie. Ek is na my chirurg toe en nadat hy die effense bollinkie op my buik bevoel het, het hy ’n klein operasie aanbeveel. Hy sou ’n kort snit in my buikwand maak en ’n spesiale klein membraan, wat blykbaar amper nes ’n valskermpie lyk en werk, daarin laat sak. Dié sal dan oopskop en “na drie dae” sou ek weer perdfris wees.
Ek wou egter nie die operasie aan die einde van 2021 laat doen nie, want ek wou eers seker maak ek is grootliks oor my depressie. Ons het ook ons kinders oor die Kerstyd ontvang. Ek het op 10 Januarie 2022 besluit. Dit sou my chirurg se eerste operasie van die jaar wees, nogal, en daar het ’n onaangename verrassing op ons gewag.
........
Ek het op 10 Januarie 2022 besluit. Dit sou my chirurg se eerste operasie van die jaar wees, nogal, en daar het ’n onaangename verrassing op ons gewag.
........
Ek is die Maandagmiddag opgeneem. My vrou, Elmarie, het my sommer voor die hospitaal afgelaai en ek het nog gesê ek sal haar laat weet wanneer sy my weer kan kom haal.
Omdat dit so ’n klein operasie sou wees, het ek, om eerlik te wees, nogal uitgesien na die narkose. Ek is gek oor die wegsweef wanneer die narkose inskop. Nou nie soos in Michael Jackson-gek nie, maar ek sou, indien ek kon kies, graag onder narkose wou sterf. Eendag, nie nou al nie ...
Hulle stoot my toe die teater binne en ek vra vir die narkotiseur: “Hoe gaan die dokter weet waar om te sny?”
“Hier is hy,” antwoord hy, “vra hom sommer self.”
Die chirurg druk-druk so oor my buik.
“Maar hierdie breuk is mos nou baie groter as toe ek jou laas gesien het.”
Hy skree vir die narkotiseur: “Wag eers!”
Te laat. Ek voel hoe ek wegsweef, salig onbewus van die drama wat sou volg.
Met my terugkeer na die land van beproewing en swaarkry, is ek begroet deur intense pyn en die nuus dat dit ’n gróót operasie was – groter as die eerste een. Die chirurg moes my buik weer eens oopsny om ’n stuk chirurgiese maas van 10 by 15 sentimeter tussen die buiklae vas te werk. Waar hy tydens die eerste operasie net ’n enkele lang snit van bo na onder gemaak het, moes hy tydens hierdie operasie ook kante toe sny om die lae van mekaar te skei, sodat hy die maas behoorlik kon plaas en vaswerk. Porieë in die maas stel weefsel in staat om daardeur en daaraan vas te groei – ’n proses wat maande sou duur.
In plaas van Dinsdag, is ek toe eers Donderdag ontslaan, want die wond moes eers dreineer en my ingewande moes weer met peristalse begin.
Ek vra om verskoning dat ek oor hierdie dinge aan ’n prinses skryf, maar ek glo u sal verstaan ná u middelooroperasies in Augustus en September 2021. Is u al oor alles – en was die operasies suksesvol?
Ek was só verlig en dankbaar toe u in November 2021 kon terugkeer Monaco toe. Ek lees egter u was in 2021 in die Paracelsus Recovery-kliniek weens “diepe moegheid”. Is dit waar – en u voel sekerlik stukke beter?
Ekskuus dat ek vra, maar was u al depressief? Indien wel, wil ek u verseker dat u en u gesin in my gebede is en dat hier iemand in Suid-Afrika is wat volkome verstaan.
Ek is seker u kry genoeg oefening – soos mens van ’n superatleet soos u sou verwag. Oefening, lees ek, is beter behandeling vir depressie as enige medikasie. Ek kan tans 210 opsitte doen om my kern en die spiere rondom die maas te versterk. Ek ry ook twee maal ’n week 25 kilometer op my padfiets en oefen met gewiggies. En strek.
Ek vertel in my volgende brief van die boek wat ek tans lees.
Met vriendelike groete en agting
Jannie
Lees ook:

