Wenners van Media24-boekpryse vir 2017 bekend

  • 2

Die wenners van die Media24 Boeke Literêre Pryse vir 2017 is vanaand (Donderdag, 22 Junie 2017) in Kaapstad bekend gemaak. Nagenoeg 80 boeke wat in 2016 by uitgewerye in die Media24-stal verskyn het, is ingeskryf in vyf kategorieë met ’n gesamentlike prysgeld van meer as R175 000.

Hier is die kortlys.

Die oorhandiging van die pryse het saamgeval met ’n groot mylpaal – die viering van 100 jaar van boekuitgewery binne die Naspersstal.

WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie (roman, kortverhale of drama)

Die wenner van die WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie is Dan Sleigh met sy historiese roman 1795, uitgegee deur Tafelberg. Dit is die derde keer dat Sleigh hierdie belangrike prys ontvang. 1795 is deur die keurders beskryf as ’n “ambisieuse museale roman waarin Sleigh se uitsonderlike kennis van die VOC-geskiedenis indringend verhaal word. Sleigh laat oortuigend sien dat gebeure uit 1795 relevant en aktueel is, veral wanneer dit gaan om verset teen verraad en korrupsie en om opstand teen die verlies van kultuur en taal.”

LitNet Akademies-resensie-essay: 1795 deur Dan Sleigh

Heilna du Plooy
Resensies

"Dit is ’n ryk roman wat eintlik 'in mondjesmaat' gelees moet word om die fyn afwerking van besonderhede en formulering tot sy reg te laat kom."


Recht Malan-prys vir Afrikaanse en Engelse niefiksie

Die ondersoekende joernalis en etnograaf Sean Christie het die Recht Malan-prys vir niefiksie verower met sy Under Nelson Mandela Boulevard: Life Among the Stowaways oor jong Tanzaniese skeepsverstekelinge wat onder ’n oorwegbrug op die Kaapstadse strandgebied woon. Dit is uitgegee deur Jonathan Ball Publishers. Under Nelson Mandela Boulevard is volgens die keurders ’n buitengewone prestasie en ’n verruimende leeservaring. “Met groot en uitdagende kwashale gee Sean Christie ’n verrassend vars en uitdagende blik op ’n stad wat iedereen gedink het hulle ken.”


Elisabeth Eybers-prys vir Afrikaanse en Engelse poësie

Bibi Slippers is met die Elisabeth Eybers-prys vir poësie beloon vir haar debuutbundel Fotostaatmasjien (Tafelberg), wat deur die keurders geloof is vir die omvang en verskeidenheid van die materiaal wat tot samehang gebring word en vir sy “innovering-met-gehalte”.

LitNet Akademies-resensie-essay: In die spieël met Bibi – Fotostaatmasjien (2016) deur Bibi Slippers

Jaco Barnard-Naudé
Resensies

"Hier het ons die digkuns van ’n fyn waarnemer en optekenaar van ons wonderbaarlike, dikwels skrikwekkende, eietydse menslike toestand op ’n planeet wat ons met soveel ander, menslik en dierlik, deel."


MER-prys vir Afrikaanse en Engelse jeugromans

Die MER-prys vir jeugromans is toegeken aan Edyth Bulbring vir Snitch, uitgegee deur Tafelberg.


MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke in Afrikaans en Engels

Die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke aan Ingrid Mennen en Irene Berg (illustreerder) vir Ink, ook uitgegee deur Tafelberg. Dit is die tweede keer dat Mennen en Berg hierdie prys wen.

Ink deur Ingrid Mennen, ’n resensie

Anke Theron
Resensies

"Hierdie boek bied ongetwyfeld iets nuuts vir die klassifisering van prenteboeke. Buiten die postmodernistiese aard kan dit gebruik word om ’n leeskultuur by jong kinders te bevorder."

Die keurders was:

  • WA Hofmeyr-prys: Ena Jansen, Danie Marais en Francois Smith
  • Recht Malan-prys: Jean Meiring, Elsa van Huyssteen en Max du Preez
  • Elisabeth Eybers-prys: Henning Pieterse, Louise Viljoen en Marius Swart
  • MER-prys vir jeugromans: Louise Steyn, Verushka Louw en Wendy Maartens
  • MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke: Lona ­Gericke, Paddy Bouma en Magdel Vorster.

Die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie is nie vanjaar toegeken nie en staan oor tot volgende jaar.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top