ATKV-Skrywersalbum | Writers

 
Peet Venter (1940–)

Sêgoed van Peet Venter:

In 1978: “Ek wil oor die mens skryf en oor die heroïese in hom. Ek wil sinvol en volwasse skryf, want ek self en my naam is onlosmaaklik aan my werk verbind.”

“Ek hou van die riller-genre, maar ek is versigtig om my te laat vasbind in net een spesifieke genre.”

In 1997: “Wanneer ek aan ’n boek werk, hou ek daarvan om in ’n styl te skryf wat in daardie stadium in my kop is. Disa DISA is byvoorbeeld nie net ’n riller nie. Daar is ook romanse in. Ek hou myself oop en wil nie vasgepen word as ’n skrywer wat net in een styl werk nie.”

Gebore en getoë

Petrus (Peet) Venter is op 3 Oktober 1940 op Krugersdorp gebore as die jongste van vier seuns, met een jonger suster. Sy pa, WF Venter, was ’n predikant daar. Hulle het in 1943 na Louis Trichardt verhuis, waar hy “mens geword” het. Hy is in 1947 Op Louis Trichardt skool toe.

In 1949 het Peet se pa ’n beroep na Pretoria-Noord aanvaar en sedertdien is hy ’n Pretorianer. Hy het sy laerskoolloopbaan aan die Voortrekker Eeufees Laerskool in Pretoria-Noord voortgesit. Daarna is hy na die Hoërskool Wonderboom, waar hy in 1958 gematrikuleer het.

Sy liefde vir die letterkunde dateer reeds uit sy kinderjare en sy ouers het hierdie liefde vroeg besef en sy verjaardaggeskenke het gewoonlik uit boeke bestaan. “Ek was van jongs af lief vir lees. My ma het my baie aangemoedig om te lees. En in ’n stadium begin ’n ou drome droom oor wat jy wil word, en ek wou ’n skrywer wees.”

Peet se eerste tree op die skrywerspad het hy in standerd vyf gewaag toe hy ’n pryswenner was in die jaarlikse opstelwedstryd wat die destydse Suid-Afrikaanse Vlootbond gereël het, maar hy het eers later ernstig begin skryf.

Verdere studies en werk

In 1959 skryf hy in by die destydse PU vir CHO (vandag Noordwes-Universiteit) op Potchefstroom vir die BMus-graad aan die Konservatorium vir Musiek, maar slaan in sy tweede jaar oor na die natuurwetenskappe.

In 1964 het Peet as tegnikus in diens van die destydse Departement van Landbou-Tegniese Dienste getree en in 1971 het hy as ontwerptegnikus by ’n raadgewende ingenieursfirma in Pretoria aangesluit en was later daar werksaam as medewerker in die meganiese spesialiteitsrigting.

Peet se eerste roman, Die alleenlopers, is in 1978 by Perskor gepubliseer. Dit is beskryf as ’n sterk verhaal wat vierkant geplant is in die onrustige, veranderende milieu van Suidelike Afrika van 1978. Dit vertel die storie van Anton Vermeulen se soeke na sy pa en na homself. Volgens sy oupa en ouma wat hom grootgemaak het, is sy ma verkrag en is hy die produk van die verkragting. Hy word taamlik “skeef” groot en sy hele lewe is ’n soeke na identiteit.

Hy word ’n suksesvolle advokaat met ’n mislukte huwelik agter die rug. Vermeulen hoor van ’n jagter (vermoedelik sy pa) wat in die noorde van Transvaal woon en werk. Hy gaan soontoe om met sy pa af te reken en daarna met homself.

Hier kom al die bestanddele van ’n avontuurverhaal bymekaar: twee mooi nooiens, ’n wapensmokkelaar, ’n klomp swartes wat in opstand wil kom. Die alleenlopers van die verhaal is Vermeulen en Omata Oshinga, die terroris.

PH Roodt meen dat die verhaal plek-plek ’n lekker avontuurverhaal word, maar dat daar ’n lastige neiging tot diepdoen by die verteller is, veral in die uitbeelding van Anton. Die verhaal van Omata en die stam is veel meer oortuigend en dit getuig van goeie kennis van die swart man, en die vertelling is hier knap en selfs boeiend. Venter het iets om te vertel en soms doen hy dit heeltemal bevredigend, maar goeie redigering kon heelwat van die struktuurfoute voorkom het.

Peet het lank aan Die alleenlopers gewerk, meestal snags, want hy is ’n besonder veelsydige mens. Sy skeppende talent begin en eindig nie by skryf nie: hy skilder graag en doen ook baie goeie beeldhouwerk. Die indrukwekkende gedenkpaneel in Delmas se stadsaal was sy handewerk en sy skilderye is ook baie gewild.

Terwyl Peet ’n intense belangstelling in die werk van die groot filosowe, van Plato en Aristoteles tot Nietzsche, het, het hy ook ’n besondere voorliefde vir motorfietse en een van sy grootste plesiere was om teen 200 km/h op ’n groot fiets te jaag (dit was in 1978).

Hy het in Ayn Rand die antwoord gevind op sy lewensfilosofie wat so deur die jare opgebou het. Sy het ’n besliste invloed op sy werk gehad.

’n Verskeidenheid van sy kortverhale het onder andere in die tydskrif Keur verskyn, asook in bundels wat deur JP van der Walt uitgegee is, soos Naglopers, Kortetjies vir die katel, Vangnet, Die goeie gety, Bloudruk, Drif en Dwalers.

Na die publikasie van Die alleenlopers in 1978 het 17 jaar verloop voor Peet se tweede boek in 1995 verskyn het onder die titel Die reuk van rose in JP van der Walt se Speur-/Spanningsreeks.

Die reuk van rose het ’n baie interessante intrige. Alles dui daarop dat die drie dienspligtiges wat duimry huis toe met ’n naweekpas, deur ’n reeksmoordenaar vermoor gaan word. Maar wat sou die motief wees? En dit is wat die briljante speurder, Thys Krige, en sy baie sexy, slim vrou moet uitvind. Om dié grieselige spulletjie vir Krige nog meer raaiselagtig te maak, word 'n wit roos by elke lyk gelaat. Renier Rossouw, 'n sielkundeprofessor, bied sy hulp aan met die ondersoek en dinge neem 'n aardige wending.

Dieper as die bloed (1996) is ’n vervolg op Die reuk van rose, maar die twee kan ook  onafhanklik van mekaar gelees word.

Nog ’n spanningsverhaal uit Peet se pen, Disa DISA, verskyn in 1996. Dit speel af teen die agtergrond van die Knysna-woud. Net so sinister as wat die woud kan wees, net soveel misterie tref Matt le Roux aan wanneer hy terugkeer om van die erfplaas Donkerhoek ’n spogplaas te maak. En hy is feitlik oortuig daarvan dat sy eie broer, die aantreklike Jean-Roux, iets met die bose kring te make het. Onopgeloste moorde, wreedaardige aanranding, onderduimsheid en die eienaardige manier waarop Jean-Roux mense manipuleer, laat Matt tot die oortuiging kom dat daar meer as net ’n bolangse stryd tussen die bose en die goeie op Donkerhoek en die omliggende plase aan die gang is.

Volgens Marianne Breytenbach sal lesers wat van okkultiese ondertone in hul leesstof hou, van Disa DISA hou. Elk van die 448 bladsye spreek van jare se beplanning, navorsing, oordenking en herskryf. Maar dis nie ’n mak boek nie. Benewens die okkulte is daar ook effe kru taal en ’n warm sekstoneel of twee.

Oor Disa DISA het Peet in 1996 by die Leeskringseminaar op Welkom die volgende gesê: “Die onderstroom van Disa DISA kan met die eerste interpretasie gesien word as die ou konflik tussen goed en kwaad. Hoewel dit basies reg is, is dit nie volledig nie, en miskien ietwat simplisties. Die onderstroom van die onderstroom gaan oor daardie mistieke, daardie instink wat in die mens was van sy vroegste, primitiefste bestaan as denkende wese, en waaruit juis die begrip van goed en kwaad ontstaan en ontwikkel het – eers as net ’n heel grondige onderskeid tussen wat as mens teenoor mens in ’n samelewing reg of verkeerd is, tot wat ons vandag ken as ’n uiters verfynde en verweefde etiese en morele kode.

“Ek het in Disa DISA die mistieke nie alleen doelbewus grondliggend tot konflik gemaak nie, maar dit ook as die samebindende faktor probeer gebruik, nie alleen tussen die versoenbare nie, maar ook tussen die konflikterende.

“My keuse om van Disa DISA ’n lekkerleesstorie – maar geensins ’n oppervlakkige een nie – te maak, was nie gegrond op ’n vrees vir of onvermoë tot die swaar filosofiese werk nie. Ook nie op die feit dat dié genre al redelik holrug gery is nie.

“Ek het my om verskeie redes weerhou om die bose met die taamlike tradisioneel mistieke onderstroom, in direkte konflik te plaas met byvoorbeeld ’n sterk teenstellende Christelike oortuiging. Die groot rede is dat die Christelike of enige ander aanvaarbare godsdienstige geloof, ook maar ’n sterk mistieke onderstroom het. Sou ek die twee teenoor mekaar stel, sou ek maar net die konflik verdiep het na die mistieke vlak.

“Daar is rillerelemente, want ons leef in ’n riller. Daar is humor, vreugde en tragedie, en ook witwarm seks en tere romanse. Daar word skreiend gevloek. Wat kan ek sê? Dit is nie my skuld as mense so lelik praat nie. Ek is maar net ’n eerlike skrywer. Daar word gelieg en bedrieg, en daar is rugstekery, want die politici sal maar altyd met ons wees.”

Disa DISA het groot genot aan F Vorster verskaf in die opsig dat dit ’n afwisseling bied van die meeste destydse werke wat primêr om die politieke situasie verweef was. Die roman skop af met ’n aanhaling uit Raka van NP Van Wyk Louw wat vooruit wys na die oeroue tema wat hier vergestalt word, naamlik dié tussen goed en kwaad. Ook in hierdie stryd speel liefde ’n belangrike rol in die poging wat aangewend word om die bose te oorwin.

Die karakters is almal pionne, soos in die legende van die enkeltweeling met die tweelingsiel waar ’n tweeling by geboorte geskei word. Een van die tweeling word as menslike offer gebring. Die oorlewende word dan binnegedring deur die siel van die geofferde – vandaar die uitdrukking “die enkeltweeling met die tweelingsiel”. Die legende word in die voorwoord vertel en verskaf daardeur die nodige agtergrond vir die leser.

Naamgewing is ’n verdere bevestiging van die legende se invloed op die karakters en intrige wat vergestalting vind in ’n sirkelgang wat telkens terugkeer na die Grot van Stemme waar voorspellings en waarskuwings aan karakters gegee word. Al die karakters is op een of ander wyse eg menslik vasgevang in sekere beperkings soos talent, onbeantwoorde liefde, wellus en moordgenot. In die epiloog bind die skrywer alle loshangende drade tot eenheid en skep boonop ook die moontlikheid van ’n opvolg.

’n Bundel ligte kortverhale getiteld Die koeël is deur die kerk word in 1997 gepubliseer. Hierin herroep ’n predikantseun sy kinderdae, tot groot vermaak, skryf Jeanette Ferreira. Soms word ’n lagwekkende situasie dalk ’n bietjie ver gedryf, sodat die kinkel verlore gaan. In sommige verhale is dit duidelik dat Venter nie uit sy pad gaan om polities korrek te skryf nie, hoewel dit seker ook as ’n stukkie realisme uit die vroeëre Boereplatteland beredeneer sal kan word. Wat Venter se stories so ’n heerlike stuk humor maak, is dat die verteller met groot deernis na sy karakters kyk wanneer hy skryf oor swakhede en strewes eie aan die plattelandse, Calvinistiese Afrikaanse kultuur. Lesers wat aanstoot neem oor seksuele insinuasies of kragwoorde, mag geïrriteerd raak, maar dis alles in ’n goeie gees.

Henk van de Graaf meen dat Venter die vermoë het om uitdrukkings en woorde nuwe betekenis te gee en dat sy manier van stories vertel, pittig is. Volgens Van de Graaf is Die koeël is deur die kerk ’n aanwins vir die boekrak.

Thys Krige, die speurder van Die reuk van rose, maak in latere boeke van Peet weer sy opwagting, soos in Nag van die narre, waar hy weer met ’n reeksmoordenaar te doen kry – hierdie keer is die toneel vir hierdie lekkerleesriller ’n universiteitskampus en al die slagoffers is studente.

By die universiteit se mediese skool wag die eerstejaars snags angstig vir nog ’n sarsie in die ontgroeningsproses, wanneer senior studente, almal gesigloos agter klapmusse, soms genadeloos op hulle toeslaan. En sommige knak onder die aanslag. In die kliek van die uitgesoekte seniors is die sogenaamde narrekring, waar dinge soms te ver gevoer word. Dan kap iemand terug en van die narre word vermoor.

Met die honderdste herdenking van die Anglo-Boereoorlog in 1999 publiseer Van der Walt Peet se Vlieg, duifie, vlieg!. Dit handel oor die Villiers-gesin van Boesmanskloof naby Aliwal-Noord wat deur omstandighede buite hulle beheer in die Boere se stryd teen die Engelse ingedwing word. Dis ’n oorlog wat die gesin uitmekaar skeur en Chrissie Villiers weerloos laat teen groter vyande as die Britse soldate op die vernielde Boesmanskloof.

Chrissie word, soos baie ander Afrikaners in die Kaapprovinsie, vasgevang in die oorlogsnet. Toef Taljaard wil nie gaan veg nie, want dis nie die Kaapse Afrikaners se oorlog nie. Marcel gaan wel, en Jan Lotriet weet wat hy wil hê – in oorlog geld verraad ook. Maar op die ou end lei alle paaie terug na Chrissie. Dit is ’n opwindende historiese roman met genoeg romanse en avontuur om lesers te boei en wat goed aansluit by die res van die lektuur oor die Anglo-Boereoorlog.

Met In kringe: ’n verhaal in drie stemme wat in 1999 gepubliseer is, het Van der Walt Uitgewers ’n interessante eksperiment gedoen. In 1956 verskyn GA Watermeyer se enigste novelle onder sy eie naam: Waar die Vuurpyle Vlam. Dit het indertyd in die tydskrif Die Lewe verskyn.

Die verhaal is oerbekend: ’n man (Douw) verdink sy vrou (Myrna) van huweliksontrou met Jacques. Haar verweer is dat hy gewoon net haar sportafrigter is. Op haar beurt wil sy nie swanger raak nie, want haar sportloopbaan is belangriker (in hierdie stadium) as haar moederskap. Myrna is dus ’n bevryde vrou en haar tyd ver vooruit.

Joan Hambidge skryf dat die waarde van die novelle in die vermoë lê om subteks te hanteer. Onder meer die kernpassasie wanneer die hings getem word, en Douw daarna vir Jacques opdrag gee om die perd te skiet, is gelaai met seksuele implikasies.

’n Mens lees jou soms vas teen die taalgebruik van die vyftigerjare wat ’n bietjie steurend mag wees vir die moderne leser, maar Watermeyer se goeie hantering van die simboliek vergoed hiervoor.

Tipies postmodernisties antwoord twee ander skrywers Watermeyer, en die publisiteitstuk wil dan Watermeyer tot Douw verklaar; Estelle Marais tot Myrna; en Peet Venter tot Jacques. Hierom heet die teks dan In kringe.

Hambidge meen dat puriste waarskynlik die piep sal kry, maar dat dit tog ’n interessante literêre eksperiment is. Of die twee aanvullers daarin slaag om Watermeyer se subtiele aanslag vol te hou, moet die leser maar self besluit.

Die sluimerende populêre aanslag in die Watermeyer-verhaal (wat terloops relevant is om vanuit ’n psigoanalitiese perspektief te ontleed) word in die pen van Estelle Marais blatant, dikwels banaal en uitgesponne. Die volgehoue implikasies word nou uitgespel. ’n Mens sal dus nooit weer die Watermeyer-novelle met ’n ongeskonde oog kan lees nie.

Onder meer hou Myrna in Marais se verhaal ’n dagboek. Hierdie belydenistegniek is by uitnemendheid geskik om al die intieme besonderhede aan die leser bekend te maak wat andersins onbekend sou bly. Maar verskeie passasies kon maar aan die lesers verbygegaan het.

Peet Venter se weergawe is eweneens vanuit ’n Freudiaanse perspektief geweldig interessant. Hy aktiveer die Oedipale struktuur (die jong kind sien hoe die vader sy minnares verlei) en hy raak later as professor betrokke by ’n jong student. Sy is weer, op haar beurt, verlief op Douw se seun. Dit blyk later dit kon nie Jacques se kind wees nie, want hy blyk onvrugbaar te wees.
Die bloedskendige word hier geaktiveer, en volgens Freud is dit onderliggend aan die sogenaamde “familieromanse” wat gebaseer is op Sofokles se Koning Oedipus.

Dieselfde besware as wat teen Marais uitgespreek is, geld hier. Interessante idees word so sleg vertel, en in sulke hoogdrawende taal aangebied, dat die leser (en hier by name Hambidge) met ’n rooi pen sit en tik-tak. Kan iemand nie asseblief ’n embargo op die woord “bruusk” plaas nie? Om nie te praat van “honger” nie!

Vir Hambidge is dit jammer dat ’n vertelling met soveel moontlikhede verongeluk het. ’n Beter redakteur kon beslis meer met In kringe uitgerig het.

Aan die positiewe kant: ’n student wat wil navorsing doen vir ’n postmodernistiese projek kan al die aanhangsels bestudeer. En sig miskien afvra of die eerste verhaal nie reeds al die implikasies dra wat die ander uittamboeryn nie? En navorsers in populêre fiksie kan eweneens die taalgebruik nagaan, en die leë metaforiek van liefdesverhale.

Peet se volgende boek word eers weer in 2009 gepubliseer. Met Slang – die onbesonge held bied Venter heerlike ligte vermaak en word die verhaal van Slang Slabbert, die onbesonge held, op kostelike wyse vertel. Hy is eintlik Josias Slabbert gedoop, maar omdat hy haarloos gebore is en so geruisloos beweeg het, het almal hom Slang genoem.

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog was Slang in sy twintigs en ’n goeie skut, ruiter en ’n uitstekende verkenner. Maar hy kon nie op kommando bly nie. Die kommandant het hom huis toe gestuur na sy weduweema Sanna toe. Die rede ...

“Die kommandant het hom vir die nag ingerig onder sy velkombers. Hy het pas sy snorkritme gekry toe hy, soos in ’n droom, bewus word van ’n tweede teenwoordigheid saam met hom onder die kombers ...

“’naand, Oom,’ sug Slang vertroulik in sy oor.

“‘O, jou ... se ...!’ gil die kommandant. Hy glip onder sy kombers uit soos ’n katowadruif uit sy dop. ‘Slang!’ gil hy van waar hy etlike treë verder in sy flennie-onderbroek en hemp staan.

“‘O, jou ... se ...!’ koor die manne. ‘Wáár, Kondant?’ terwyl hulle so in die donker na gooibare klippe soek.”

Ter wille van die verdere ordelike historiese verloop van die oorlog is Slang toe maar huis toe gestuur. En dis eintlik dáár waar sy heldhaftige en onverskrokke dade ’n Skot se hele lewensverloop verander het en die Boerkrygers een van die treffendste veldslae gelewer het.

Peet woon sedert 1982 op sy plaas, Seringveld, in die Pretoria-omgewing, waar hy al sy liefhebberye kan beoefen soos die tyd dit toelaat.  Hy komponeer ook musiek op sy rekenaar. Hy is getroud met Jauna van Loggerenberg en hulle het twee kinders, Witze en Andrea.

Publikasies:

Publikasie

Die alleenlopers

Publikasiedatum

1978

ISBN

0628013671 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekker-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Publikasie

Die alleenlopers

Publikasiedatum

1978

ISBN

0628013671 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekker-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Publikasie

Die reuk van rose

Publikasiedatum

1995

ISBN

0799322466 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Publikasie

Dieper as die bloed

Publikasiedatum

1996

ISBN

0799323241 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Publikasie

Disa DISA

Publikasiedatum

1996

ISBN

0799322636 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Die koeël is deur die kerk

Publikasiedatum

1997

ISBN

0799323497 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Publikasie

Middernagblou

Publikasiedatum

1997

ISBN

0799324132 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Publikasie

Nag van die narre

Publikasiedatum

1998

ISBN

079932499X (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Publikasie

Vlieg, duifie, vlieg!

Publikasiedatum

1999

ISBN

0799326259 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Publikasie

In kringe: ’n verhaal in drie stemme. [*SUG*] Saam met GA Watermeyer en Estelle Marais

Publikasiedatum

1999

ISBN

0799326852 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Slang, die onbesonge held

Publikasiedatum

2009 (Grootdruk)

ISBN

Nie bekend

Uitgewer

Nie bekend

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Artikels oor Peet Venter beskikbaar op die internet:

Bygewerk: 2012-06-14
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address