Onderhoud: Peet Venter

  • 1
peetventer400

Peet Venter (foto: Izak de Vries)

Peet Venter is ’n man wat ’n barshou kyk. Vra maar enige fotograaf. Om “cheese” te sê is gewoon nie in sy posbeskrywing nie. Tog, onder daardie kyk is ’n fyn mens, ’n musikant en kunstenaar.

Iets van daardie barshou kom ook voor in Thys Krige, die speurder wat vir Peet Venter bekend gemaak het met die vier boeke wat by LAPA verskyn het en nou ook, meer onlangs, in Lemmer Bosman, die hoofkarakter in Lem. Lemmer is ’n spesmagteman op wie se kop ’n prys geplaas word. Die speurder in Lem, Chris Watts, is boonop ook ’n besonder interessante individu.

Peet Venter se naam was al 33 keer op die Nielsen Top 100 het sedert Ou Bloed ongeveer twee jaar gelede verskyn het.

Peet word op 3 Oktober 75 jaar oud, maar in plaas van om vir hom blomme en kaartjies te gee, het Carla van der Spuy, die skrywer van Mens of monster en Bloed op haar hande, en Izak de Vries, ’n kranige leser van krimi’s, so ’n bietjie “good cop, bad cop” gespeel met Peet – wat steeds aanhou skryf.

Carla: Kom ons begin by Thys Krige. Thys is nie jou stereotiepe speurder nie. Hy huiwer nie om self te moor wanneer hy dit nodig ag nie. Tog, hoe lyk die stereotipe speurder en hoe verskil Krige van hom? Ons weet Thys is ryk, jonk, aantreklik, netjies, fiks, enkellopend en nugter. Mens lees dikwels van hierdie middeljarige, verwaarlooste speurders met die drank- en liefdesprobleme. Hulle kan ook nie juis met ’n indrukwekkende banksaldo spog nie.

Voeg geskei en owerspelig by die stereotipe, en jy het die volle prentjie. TV-reekse en monteerbaanspeurboeke loop oor van hulle. ’n Resensent het Krige onlangs met ’n Gotiese antiheld vergelyk. Dis in die kol. Dis wat hy is: ’n alleenloper, ’n jagter met ’n missie om reg te maak waar die reg faal. Die reg het hom gefaal toe mense na aan hom vermoor en ontvoer is. Dit het ’n koue, harde ding in hom gelaat. Daar is nie plek vir bagasie nie, nie tyd vir suip en kafoefel nie.

Dis oor die ongeregtigheid dat hy besluit het om ’n speurder te word; om reg te maak wat verkeerd is, maar binne die beperkinge van die polisiediens kan hy nie doen wat hy die beste doen nie. Dus het ek hom uit die milieu van die polisiediens gehaal juis om hom te kan laat doen wat hy die beste doen. Hy neem die gereg in eie hande waar die verbrokkelende stelsel faal. Ek verkies ook om nie meer in ’n milieu te skryf waarin dit gaan soos wat dit deesdae gaan nie. Dit laat my skuldig voel teenoor al die goeie polisielede wat nog oor is.

Krige huiwer nie om mense seer en dood te maak nie en soms selfs met misdadigers indaba te hou waar dit nodig is nie. Sy enigste “hang-up” is eenvoudig. Hy wroeg nie oor die reg of verkeerd van wat hy doen nie. Hy wroeg eerder daaroor of dit wat hy doen, ’n gevaar vir mense na aan hom inhou. Dit maak hom ’n alleenloper.

Krige het ’n agtergrond in wetstoepassing en weet hoe om die regte teikens uit te soek. Die vraag is: Wat is reg – om misdadigers te laat kry wat hulle toekom, of om hulle vry te laat rondloop? Ek dink vandag se omstandighede in ons land gee die antwoord. Ek het nog nie klagtes gekry oor wat Krige doen nie. Dus, hy moet iets reg doen.

Carla: Nee, wag. Thys het deur die vier boeke ’n metamorfose ondergaan van ’n speurder na ’n soms koelbloedige moordenaar. Is daar nie lesers wat hieroor kla nie? Mens soek mos ’n goeie ou sonder bloed op sy hande as die held? Of aan die ander kant, is dit nie juis wat jou boek anders maak nie – die held met die donker kant?

Wie van ons kan eerlik sê hy of sy het nog nooit gedink “daardie mens mag nie leef nie”? Dink aan die verkragting van babatjies.

Ek is aan sy kant omdat hy vír my moor. Punt. Maar hy maak die regte mense dood. Wie nie aan sy kant is nie, is aan die misdadigers se kant. Dis die wêreld waarin ons leef. Misdaad raak ons elke dag, direk of indirek. Daar is nie meer ’n draad om op te sit nie. Dis lankal gesteel en verkoop vir dwelms of om ’n ontvoerde meisie mee vas te bind en ’n seksslaaf van haar te maak. Hy sal tronk toe gaan, ja. As hulle hom kan vang. Nie solank ek die sê het nie.

Die punt is, ek het ’n karakter geskep. Lesers kan van hom hou, of nie. Ek gebruik hom nie om die een of ander kant te propageer nie. Ek vra net: Wat is reg, wat is verkeerd? Kan mens iets wat so verskriklik verkeerd is, laat weggaan deur aan te hou anderpad kyk, die ander wang te draai? Elke leser moet self besluit.

’n Mens se eie stel waardes is al waaraan jy nog kan vashou in ’n wêreld waar etiek en moraliteit daagliks tot in die hoogste gesagskringe verkrag word. Hoe en wat mens regverdig, is vir jou eie gewete. Elke mens het sy donker kant. Miskien vergestalt Krige dit.

Izak: Ek gaan dit sterker stel: ’n mens sou vir Thys nou selfs as vigilante kon beskou. Hoe voel jy daaroor?

Laat my toe om voorbarig aan te haal uit Lem: "Vir hoeveel van hulle is dit ’n roeping, en vir hoeveel bloot ’n werk?" Ja, ek voel diep, het net bewondering vir die vele goeie polisielede wat in vandag se gemors vassit. Daar is grond vir bitterheid.

Krige kan met reg as ’n vigilante bestempel word. Hy gooi reëls oorboord, heul selfs met misdadigers om sy doel te bereik. Hy wil net reg laat geskied. Hoe anders doen mens dit as reëls net ’n woord geword het, en misdadigers aan die roer van sake staan?

Ek lug my magtelose frustrasie deur Thys Krige, en stellig dié van vele lesers en polisielede. Maar dis nie die hulpkreet van ’n drenkeling in ’n oorweldigende donker vloed nie. Dis ’n woedeskreeu wat in rebellie gewortel is. As ek Thys Krige nie gehad het nie, sou ek lankal in tronk gesit het.

Carla: So, jy hou van Thys? En sou ’n sielkundige hom kon psigo-ontleed, wat dink jy sou die persoon vind?

Ja, ek hou van Krige. Hy is ’n gewone ou wat net reg wil maak wat verkeerd is. Ek dink ’n “shrink” sal seker kopkrap oor die geweldspotensiaal in so ’n man, en na sy teksboeke gryp, maar hy het nie die pille nodig nie. Hy is gevaarlik net as met hom geneuk word.

peetventer_drieboeke

Izak: Thys was ’n baie ongewone speurder; in Lem het jy die ongewone nog ’n stappie verder geneem met speuradjudant Chris Watts. (Ek is mal oor haar.) Sy val ver buite die stereotiepe speurder wat suip en sy vrou slaan. Chris is ’n vrou wat soos ’n man aantrek, sy ondersteun haar man … Waar kom jy aan haar en hoekom voel Chris sy moet meer man wees as die mans?

Chris kom uit 'n polisiefamilie, het redelik butch grootgeword, maar bly vrou. Al wat sy van jongs af wou wees, is ’n speurder. Nou bevind sy haar in die wêreld van (tradisioneel) mans. Sy is bewus daarvan dat sy daar verdra word omdat daar ’n kwotastelsel is wat dit vereis. Sy wil haarself teen elke prys bewys, en oorkompromitteer daarvoor. Dit plaas haar in ’n innerlike konflik, wat soms tot selftwyfel lei. Tot sy aan die einde, eintlik by verstek, dit regkry om te wys wat sy kan doen, en sy besef sy hoef net vrou te wees.

Waar kom ek aan haar? Ek het jare lank in die tradisionele mansmilieu van ingenieurswese gewerk en gesien hoe vroue wat dit gewaag het om as ingenieurs te kwalifiseer (sommige met meestersgrade), 'n stryd om aanvaarding moes stry. Sommige het dit reggekry, ander nie.

Izak: Kom ons praat oor manlikheid. Thys Krige en Lemmer Bosman is albei sterk, alleenlopende ouens. Hulle is manlik, maar hulle is lief vir kuns en musiek en is albei outydse gentlemen as dit kom by vroue. Daar is iets van ‘n Jin en ’n Jang in hierdie twee – is ek reg?

Ja dit is so, in die opsig dat beide hul ma's vroeg verloor het. Maar Thys het die herinneringe van 'n ma wat lief was vir hom ten spyte van haar swakheid. Lemmer, daarenteen, het die herinnering van 'n ma wat hom verwerp het, as gevolg van haar swakheid. Hy het dus alle rede om bitter teenoor vroue te voel. Fleur Bloem is die reddende faktor in sy lewe. Beide Thys en Lem begryp die kwesbaarheid van vroue en kinders. Krige het te doen gekry met die ontvoering van jong meisies, onder ander sy halfsuster. Bosman het in die DRK te doen gekry met die verkragting van ’n jong meisie. Beide het gedoen wat mans veronderstel is om te doen: red en beskerm. Bosman moes 'n duur prys daarvoor betaal. Krige is ryklik beloon. That's life.

Izak: Die ma, dan. Thys word groot sonder ’n ma. Lemmer se ma, Fleur, is baie sterk teenwoordig en is ’n baie interessante, baie sterk vrou. Anders as Chris is sy vroulik – en gebruik sy haar vrouelyf om te kom waar sy moet wees. Was jy aspris om ’n tweede baie sterk vrou in Lemmer se lewe te plaas?

Peet. Ja, dit was vir my 'n interessante oefening. Irma Storm, die beskermde, bevoorregte een aan die een kant. Fleur Bloem wat alles teen haar gehad het aan die ander kant. Christine Watts, wat 'n doodnormale jeug gehad het, in die middel. Irma probeer haar sexy lyf as anker gebruik, maar dit sink haar. Sy probeer Lem Bosman se storie as reddingsboei gebruik, maar vind dit is nie 'n pad uit nie. Nog 'n eksamen gedruip. Terug klip toe. Chris steek haar vroulikheid weg, maar haar sterk wil dra haar deur. Nie nodig om te kompromitteer nie. Fleur Bloem het haar eie lewe gemaak. Skuld niemand niks, vra niemand niks. Sy het baie om te gee, maar kies vir wie sy wil gee. As kind is sy deur die samelewing uitgespoeg. Sy kan die samelewing nie uitspoeg nie, maar laat dit op haar eie voorwaardes in haar lewe toe.

Izak: Jy debuteer in 1978 en sê toe aan die pers: “Ek wil oor die mens skryf en oor die heroïese in hom. Ek wil sinvol en volwasse skryf, want ek self en my naam is onlosmaaklik aan my werk verbind.” Hoe voel jy vandag daaroor?

Ja, toe was ek nog windgat. Maar intussen het die lewe gebeur en het ek uitgevind mense voel basies vere vir wat ek dink. Hulle het uiteenlopende sienings van die heroïese. Ek staan nog daarby, kruip nie agter ’n skuilnaam weg nie, maar deesdae laat ek liewer my karakters vir my praat. Dis veiliger, jy weet? Dis nie ek wat so gesê het nie! Dis daai windgat in die storie. Voel jy my?

Carla: Dis maar ’n onvermydelike vraag in watter mate (uitgesonderd die miljoene) daar ooreenkomste tussen jou en Krige is. As mens lees hoe Krige in die hartjie van die natuur woon, sy liefde vir stilte, die feit dat hy nie besonder spraaksaam is nie – is dit nie maar jou eie kenmerke wat na vore kom en waaroor jy skryf nie? Hoe identifiseer jy met hom en hoe verskil jy van hom?

Dis maar ’n kwessie van selfdissipline. Natuurlik word die skrywer se sienings, gevoelens, voorkeure en renonse in die karakters geprojekteer, maar dit moet so gedoen word dat dit hulle eie word deur dialoog, gedagtes, handelinge. Laat hulle die storie vertel. Dis nie altyd maklik nie, maar met ondervinding leer mens om uit jou storie te bly sonder om daarvan verwyder te wees. Wat ’n leser van die skrywer uit sy stories kan agterkom, hang af van hoe diep die storie is en hoe diep die leser lees. Dis seker onafwendbaar dat iets van die skrywer in sy karakters geprojekteer word. Onvermydelik sal daar iets van my in Krige wees, anders sal hy nie vir my lééf nie. My innerlike verwysingsraamwerk is sy bloudruk, plus ’n paar dinge wat ek graag sou wou wees as ek die moed gehad het. En ja, minus die voorkoms, jeugdigheid en welvaart.

Ek dink hoeveel van die skrywer ingebou word – goed en sleg – en hoe openlik en eerlik dit gedoen word, bepaal tot ’n groot mate die geloofwaardigheid van die karakters. As ek as skrywer nie met ’n karakter kan assosieer nie, hoe kan die leser?

Dus, ja, daar is heelwat van my in Krige. Die stil geaardheid, die denker, die keuse om afgesonderd in die natuur te woon en die onwrikbare geloof in geregtigheid. Miskien verskil ek van hom wat die geweld betref, maar as ek deesdae so na die nuus kyk, is ek ook nie meer altyd so seker daarvan nie. Daarom dat ek ’n afleier soos hy het. En ek is oud, lelik, en arm.

Izak: Kom ons praat oor jou ander lewe. As ingenieur was jy by ’n groot firma en julle het enorme projekte gebou. Wil jy dalk vir ons ’n idee gee hoe jy voel as jy by ’n bekende baken verbyry waarin jy gewerk het?

Ek wonder hoeveel mense besef wat alles in geboue aangaan om dit te laat werk. Die argitek ontwerp die sigbare onderstel en bakwerk. Die bouer bou dit. Ons, die ingenieurs, sit die enjin in, die wiele aan, die ontstekingstelsel, laat dit werk. Dis vir my soos ’n monument wat ek vir myself gebou het, maar net ek weet daarvan omdat dit vir ander meestal onsigbaar is. Dit maak die trots net soveel meer intiem. Soos in, ek weet wat ander nie weet nie, sien. Nie vermakerig bedoel nie. Dis net … spesiaal. My eie. Mense aanvaar die hysbakke, roltrappe, lugversorging, elektrisiteit, kommunikasie, water, riolering, brandbeveiliging as vanselfsprekend. Hulle is reg. Maar ek weet ek het dit daar vir hulle gesit – vir hulle gemak en veiligheid. Daar is dinge waarvoor geld nie kan betaal nie.

Izak: Watter ingenieursprojek staan vir jou uit as jy oor jou loopbaan moes terugkyk?

Oor ’n loopbaan van bykans 50 jaar vergeet ’n mens noodwendig heelwat van wat agter lê. Deels omdat nie almal “monumentaal” was nie, deels omdat daar voortdurend nuwe uitdagings voorlê. Die een wat my die naaste aan die hart lê, is die Staatsteater in Pretoria. Dis nie ’n gebou wat mense insluk en agt, of meer, ure se werk van hulle vereis nie. Dis ’n plek wat mense verwelkom, hulle gemaklik laat voel, en ’n paar uur se genot aan hulle verskaf, iets moois vir hulle gee; soos ’n elegante gasvrou.

peetventer_tweeboeke

Izak: Jy is ook ’n baie goeie musikant en beeldhouer.

Jack of all trades … Dis ek daai. Dit klink indrukwekkend, maar glo my, dis nie lekker nie, want dis nie waar die gesegde ophou nie. Die master of none-gedeelte kom nog by, sien. Dan moet ’n mens realisties wees en keuses maak. My eerste liefde lê by musiek, maar ek is net nie goed genoeg daarmee om ’n lewe daaruit te maak nie. Daar bly musiek toe in die slag. Ek skilder en maak beelde van wat ek sien, soos ek dit sien. Ek weet nie hoe om emosionele boodskappe daarin te sit (kodeer?) nie. Ek kyk na ander kunstenaars se werk en dis vir my mooi of lelik. Punt. Daar bly skilder en beeldhou in die slag.

Om ’n lewe te maak, wend ek my toe na my tegniese aanleg, en na skryf om sinvolle uitdrukking – wat ek ook verstaan – te gee aan al die strooi hierbinne. Beide skeppend. Genoeg vir my.

Izak: ’n Ingenieur doen baie projekbestuur. Toe jy by ’n vierde boek van die Thys-reeks kom, moes jy seker fyn begin bestuur aan Thys en sy trawante?

Glo my, ’n opvolgreeks ontwikkel meer slaggate as ons strate en paaie, maar ek moes klaarmaak wat ek begin het. Thys het begin, gegroei, en hy moes afgerond word. Deur die vier boeke was daar die een los draad in sy lewe: Karen. Sy is die een wat hom voltooi.

Carla: Kan ons nog boeke in die Thys Krige-reeks verwag en sal daar ooit weer romantiese liefde vir hom wees?

Ja, daar kom nog Krige-stories. Iets meer in die lyn van politieke rillers. Hy kan dalk weer die romantiese sy probeer, soos die geval met Robyn was, maar dit kan nie werk nie, omdat hy doen wat hy doen en dit sal aanleiding gee tot huismoles wat hom dalk na drank sal dryf. En dan is ons terug by die stereotipe, en kan hy maar net sowel teruggaan polisie toe.

Izak: So, daar is goeie nuus vir Thys se aanhangers?

Daar wag nog heelwat werk vir Thys. Hy moet nou weer sy gat in rat kry. Maar nou gaan hy te doen kry met meer komplekse – en gevaarliker – dinge. Politieke sameswerings, insypeling van vyandige elemente, wapensmokkel, kubermisdaad, ens. Ek dink dit sal sy vlak van intelligensie beter pas as die "hoofstroom" speurwerk. Ek is bykans klaar met Kontinuum. Dan is Thys weer aan die beurt.

Izak: Jy skryf filmies – ek kan die gebeure voor my oë sien afspeel. Hoe kry jy dit reg?

Die maklike antwoord is, dis maar soos ek is.

Maar om te ontleed: ek dink dit het te doen met my aanlegte. Verbeelding, waarneming en aanvoeling is onderliggend. Om ’n meganiese stelsel te kan ontwerp moet ek dit eers in my geestesoog kan sien. Dieselfde met karakters en hulle handelinge. Ek moet hulle kan sien, hoor, voel.

En dan moet jy verskriklik oortuigend kan lieg. Jy moet in Pixar kan lieg. Dit het ek, as die jongste van vier seuns, vroeg in my lewe geleer.

Besoek Peet Venter se ATKV-skrywersalbum op LitNet: http://www.litnet.co.za/peet-venter-1940.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top