Peet Venter oor Ou Bloed, boosheid en oorbodige woorde

  • 1

Titel: Ou bloed
Skrywer: Peet Venter
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799361292

Koop Ou bloed by Kalahari.com.

Die misdaadroman leen hom by uitstek tot vinnige, volgehoue aksie en spanning. ’n Mens moet jou storie ken om dit reg te kry. Jy moet jou leser binne die eerste sin of twee vasvang, en nie weer laat los tot die einde nie. Dit is Peet Venter, skrywer van Ou Bloed wat onlangs bekendgestel is, se siening.
Thys Krige is ’n goeie speurder met hang-ups, innerlike konflikte en onortodokse werkswywes. Krige, die hoofkarakter in Peet Venter se Ou Bloed en Dieper as die bloed, wat hoogs intelligente en onwaarskynlike reeksmoordenaars vaskeer, glo aan wat hy doen. En hy wil dit reg en so goed moontlik doen.

Chanette Paul sê Venter het “’n lekker sterk, manlike en op-die-man-af-skryfstyl”.

Peet Venter, die skrywer, beskryf Krige so:

Hy maak mense dood, maar hy maak die regte mense dood; om sy eie lewe te beskerm. Die feit dat hy nie veel daaroor wroeg nie, is een van die dinge waarmee hy innerlik stoei. Sy pa was ’n harde, genadelose man wat oor mense geloop het om te kry wat hy wou hê, maar hy het darem nie so ver gegaan om mense dood te maak nie. Is hy soos sy pa, maar net op ’n bloedige manier? Is gewelddadigheid deel van sy psige? Is daar ’n diep, donker plek in hom waar boosheid broei?

Dít is van die verontrustende gedagtes wat Krige teister.

Carla van der Spuy, die skrywer van Mens of Monster, het met Peet Venter gesels.

C: Hoekom die misdaadtema? Wat trek jou daarnatoe? Ons weet misdaadboeke – fiksie sowel as niefiksie – is deesdae baie gewild en verkoop goed. Was dit vir jou ’n bepalende faktor om die boek te skryf, of fassineer misdaad of die psige van die misdadiger jou maar net, soos vir so vele van ons?

Jy is ook al soos volg aangehaal: “Ek hou van die riller-genre, maar ek is versigtig om my te laat vasbind in net een spesifieke genre. Ek hou myself oop en wil nie vasgepen word as 'n skrywer wat net in een styl werk nie.”

P: Ek bly steeds by my standpunt dat ek nie aan ’n spesifieke genre gebind wil wees nie. Sedert my debuut in 1979 het ek behalwe speur- ook spanningsavontuur, geskiedkundige, fantasie, misterie/riller en humor agter die blad. Die meeste van my stories behels wel speurspanningsverhale, maar ek sal graag weer ‘n misterie en ‘n lekker grugriller of twee wil doen, omdat dit soveel meer beweegruimte aan die verbeelding bied. Tyd is egter ’n faktor. Wetenskapfiksie trek my ook sterk aan, om dieselfde redes as fantasie. Ek kry egter die indruk dat die mark vir laasgenoemde in Afrikaans nog onseker is. Ek en my uitgewer (Cecilia Britz) het al tentatief daaroor gesels om so ’n kans te waag. Ek dink daaraan om in ’n toekomstige Thys Krige-storie op subtiele wyse ’n tikkie wetenskapfiksie in te bring, en te kyk hoe dit werk.

Dit is juis hieroor dat Krige in Ou Bloed uit die speurdiens bedank het. (Hy weet dit nog net nie.) In die roman waaraan ek tans werk, beweeg hy nader aan die “ongewone/onverklaarbare”.

Die feit dat speur-/misdaadromans tans gewild is en goed verkoop, is seker wel ’n faktor, maar nie ’n oorweging nie. Ja, ek hou van dié genre, omdat dit lekker breinoefening is. En omdat dit so na aan die werklike lewe is, moet ’n mens se navorsing deeglik wees. Dit is ook die rede waarom ek huiwer om te diep ondersoek na die psige van die misdadiger in te stel. Dit is ’n baie gespesialiseerde veld, en ek het nie genoeg kennis daarvoor nie. Ek verkies om net aan die basiese innerlike van die moordenaar te raak, en sy dade verder te laat spreek. Die res laat ek aan die leser oor.

C: In Ou Bloed sowel as Dieper as die bloed skryf jy oor reeksmoordenaars. Ons weet dat veral Amerikaners gefassineer is met reeksmoordenaars. Jy kry “serial killer groupies” in dié land, webtuistes waar jy aandenkings van reeksmoordenaars kan koop, soos byvoorbeeld Charles Manson se hare, en daar is selfs in ’n stadium resepteboeke uitgegee van reeksmoordenaars se laaste maaltye voor hulle tereggestel is. Titels soos Meals to die for. Hoekom hou reeksmoordenaars soveel fassinering vir mense in?

P: Reeksmoorde skep, in teenstelling met ’n eenmalige moord, daardie gevoel van afwagting. Twee moorde waarvan die modus operandi ooreenstem, word kort ná mekaar gepleeg. Was dit dieselfde moordenaar? Wanneer en hoe gaan die polisie besluit hulle het met ’n reeksmoordenaar te doen? Gaan hy nog moorde pleeg? Wanneer gaan die volgende een plaasvind? Waar? Wie gaan die slagoffer wees? Hoe lank gaan dit die polisie neem om hom vas te trek? Is die gemoeide ondersoekers opgewasse vir die taak, of is die moordenaar te slim vir hulle?

C: Jou reeksmoordenaars is verfynde, geleerde en beskaafde mense. Glo jy dat die meeste reeksmoordenaars intelligente mense is – vandaar die feit dat hulle keer op keer met hul misdade wegkom?

P: Nee, nie alle reeksmoordenaar is intelligent nie. Dink maar aan plaaslike gevalle. Dit is egter dikwels ook so dat die ondersoekers nie as so intelligent beskou word nie. Ek dink Charles Manson was meer charismaties as intelligent. Hy het geweet hoe om op die gevoelens van kwesbare, miskien minder intelligente, mense te speel. Andersyds lei ek af dat Jeffrey Dahmer, wat ’n alleenloper en introvert was, weer nogal heel intelligent was.

Ek maak my reeksmoordenaars intelligent en gesofistikeerd om die psigiese kontraselement meer dramaties te maak: die konflik in die beskaafde, hoogs ontwikkelde brein waar daardie barbaarse geweldenaar ook skuil. Wat maak dat die dier die mens op die agtergrond stoot? Dit sal seker ook werk as die moordenaar ’n doodgewone, vaal ou is wat heeldag in ’n kantoor sit, en by die huis sit sy vrou op sy kop. Maar vir my is dit net soveel lekkerder as hy ’n professor of rekenaarfoendi is. Dit is net soveel lekkerder as so ’n slim moordenaar daardie een foutjie maak wat Krige uiteindelik raaksien. Dit is so lekker soos ’n taai toffie wat aan jou tande vassit as Krige weet daardie foutjie moet daar wees, maar hy sukkel om dit raak te sien.

C: Izak de Vries skryf onder meer oor jou boek, en vra met verwysing na die walglike pedofiele oor wie hy sê ons wil almal sien “hoe die bliksems tronk toe gaan” of ons dan opgewonde moet raak oor diegene wat die reg in eie hande neem. Ons voel almal immers soms verby moedeloos oor geweldsmisdade wat nie opgelos word nie. Weerspieël die reeksmoordenaar se dade, deurdat hy reg in eie hande neem, nie maar talle mense se gevoel van magteloosheid met geregtigheid wat nie altyd in Suid-Afrika seëvier nie? Hier kan ’n fiktiewe reeksmoordenaar darem wraak neem om van die booswigte ontslae raak. Dalk neem die leser of die skrywer ook op hierdie amper wensdenkerige wyse wraak? In ’n stadium sê jou speurder, Thys Krige: “Moordenaars het dieselfde regte as hul slagoffers.” Voel jy ook soos talle ander dat moordenaars nie hard genoeg gestraf word in Suid-Afrika nie? En hoe voel jy oor die doodstraf?

P: Ja, dit is bloot menslik vir ’n skrywer om in sulke situasies deur die karakters en gebeure uiting te gee aan sy eie gevoelens. Dit moet egter versigtig hanteer word. Ons kan ons vergeldingsdrome droom en ons wraakfantasieë koester, maar moet nooit ons etos vergeet nie. Die frustrasie en gevoel van magteloosheid is wel daar; om grondige redes, maar om die reg in eie hande te neem is verkeerd. Die enigste wat daardeur bereik kan word, is om ons nóg verder in die moeras van anargie en barbaarsheid in te sleep. Ons het ’n regstelsel, hoe verwarrend ook al. Laat ons dan liewer ons energie aanwend om deur die regte kanale weer orde uit die verwarring te probeer skep. Hoe? Deur minder apaties te wees, en proaktief te wees. Dit raak ons almal. Daar is meer aan die lewe as eet, slaap, werk en speel.

My etiek sê vir my die doodstraf, al dra dit sogenaamd wetlike goedkeuring, lê op dieselfde vlak van barbaarsheid as moord. My gemoed sê: hang die wetter, veral as kinders die slagoffers is. Ek is sensitief oor kinders. Dit was vir my swaar om die onderwerp van veral kinderhandel te hanteer. Pedofilie het mos deesdae ten minste die verskoning dat dit ’n “sielkundige afwyking” is. Vir mensehandel is daar geen verskoning nie. Dit is bloot barbaarse winsbejag. Hoe dieper ek navorsing gedoen het, hoe meer het ek begin twyfel of ek kan voortgaan daarmee. Hoe behou ’n mens objektiwiteit? Is dit hoegenaamd moontlik om objektief te bly? Dit is die rede waarom ek in Ou Bloed nie te veel op die daad spesifiek uitgebrei het nie, dit so bondig en op die man af as moontlik gestel het, en meer gekonsentreer het op die invloed wat dit op naasbestaandes het. Wat Krige oor die regte van moordenaars sê is eintlik sarkasties (sinies) bedoel.

C: Krige is nie ’n karakter sonder foute nie, maar hy is vreesloos en vir hom bly ’n moordenaar ’n moordenaar wat aangekeer moet word. Daar is nog baie goeie polisiemanne oor. Dalk breek jy hier ’n lansie vir die toegewyde polisiemanne? Hulle kry so baie onverdiende kritiek.

P: My seun was in die polisiediens, en moes die vernederende proses van regstellende aksie deurloop voor hy bedank het. Maar dit het nie sy lojaliteit geknou nie. Hy skerm steeds vir die polisie in hierdie tye van negatiewe mediadekking. Ja, daar is beslis steeds goeie polisielede van alle rasse in die diens. Ek het empatie met hulle elke keer as ek die negatiewe berigte lees of sien. Maar ongelukkig is dit as gevolg van politiek dikwels gegrond. Die probleem lê by regstellende aksie en die media se eensydige gejag na sensasie.

C: Die lewensfilosofie van die interessante, afgeleefde karakter van die gesoute koerantman Boonzaaier in jou boek wat hy vir homself uitgewerk het, is

... dat dit oor etiek teenoor moraliteit gaan, eerder as etiek en moraliteit. Hoewel die twee kontekstueel nefies is, is dit vir hom in werklikheid so ver van mekaar verwyder as in ’n standaardwoordeboek; ongeveer honderde bladsye. Kortom, in die praktyk het moraliteit meer te doen met verbondenheid, plig, en gevolglik onafwendbare skuldgevoelens. Dit ruik na sonde en boetedoening. Met ander woorde, sosiale plig, lojaliteit, onderwerping. Etiek het meer te doen met ’n man se innerlike, sy unieke, selfverworwe sin vir waardes. Selfrespek.

Het ’n gebrek aan etiek meer met misdaad/geweldsmisdaad/moord te doen as met ’n gebrek aan moraliteit, of omgekeerd?

P: Nie net misdaad nie. Dink maar aan vandag se politiek, waar moraliteit holrug gery word vir eie gewin, maar etiek nie toegepas word nie. So gaan dit in meer sektore van die samelewing, selfs die georganiseerde godsdiens, wat in sommige gevalle ’n winsgewende besigheid geword het in stede van ’n stil en veilige hawe vir die siel. Moraliteit word versmoor, etiek word vermoor. Misdadigers, veral moordenaars en mensehandelaars, het in elk geval geen begrip van een van die twee nie. Etiek is vir my meer ’n selfverworwe kode van waardes deur eerlike en diep introspeksie, terwyl moraliteit meer te doen het met die sosiale tendense van die dag, byvoorbeeld die steeds meer toeskietlike siening van menseregte. Etiek is my persoonlike siening. Moraliteit is die algemeen aanvaarde norme.

C: In ’n stadium vertel die moordenaar vir Boonzaaier: “Gaan die ondersoekers die insig hê om te sien dit het met geregtigheid te doen? Geregtigheid wat gefaal het. ’n Tegniese vermoeide regstelsel wat seniel geraak het. Howe wat uitsprake lewer op grond van sekere regspunte. Appèlhowe wat die howe se uitsprake tersyde stel op grond van ander regspunte.” Jou siening oor geregtigheid wat nie altyd geskied nie?

P: Vroeër in die storie, in hoofstuk 3, haal Borijn tydens sy gesprek met Boonzaier in die kroeg aan wat Boonzaaier in sy jongste boek geskryf het: “[H]ofsale het die speelveld geword van egosentriese advokate en onbevoegde aanklaers. Die bal is die klaers en die aangeklaagdes. Die skeidsregters is regstegniese aspekte, nie meer die regters nie.” Ek dink dit sê genoeg, en hopelik raak, wat ons regsoningeligtes voel as ons sien hoe baie hofsake verloop.

C: Jou dialoog, die taal wat tydens ondervraging gebruik word, hoe speurders dink en optree (daardie alomteenwoordige adrenalien wat daar moet wees met die ondersoek na ’n reeksmoordenaar), is so oortuigend dat ek gewonder het of jy dalk self ’n oudpolisieman is. Waar het jy jou inligting gekry? Het jy pelle in die polisie of het jy navorsing daar gedoen? Of is jy ’n baie goeie waarnemer?

P: Soos gesê, my seun was in die polisie, en is dus ’n waardevolle bron van inligting. Die res kom bloot uit waarneming: speurflieks, ander skrywers se boeke, en ‘n redelike mate van kreatiewe verbeelding.

C: Jy is al beskryf as ’n skrywer van “min woorde maar diep insig”. Sal jy asseblief kommentaar lewer?

P: Ek is self lief vir lees. (’n Skrywer wat nie lees nie, maak ’n groot fout.) Maar ek het ’n ongeduld ontwikkel met skrywers wat mens laat verdrink in ’n vloed van onnodige woorde – seker omdat my leestyd so beperk is. Toe ontwikkel ek ’n manier om boeke te kies. Eerstens moet die titel my aandag trek, maak nie saak wie die skrywer is nie. Dan haal ek die boek van die rak af en lees die eerste twee sinne. As dit my nie boei nie, gaan die boek terug op die rak. As die eerste twee sinne my boei, lees ek die eerste twee bladsye. As ek dit wat die skrywer in twee bladsye sê, in twee of drie paragrawe kan sê, gaan die boek terug op die rak. As ek dit nou wragtag nié in minder as ’n bladsy en ’n half kan sê nie, al probeer ek, koop ek die boek. Dus, in my eie skryfwerk waak ek gedurig teen oorbodige woorde.

Diep insig? Sjo! Ek luister na wat mense sê, hoe hulle dit sê. Ek kyk na hul lyftaal. Verder is dit seker maar ‘n kwessie van lewensondervinding.

C: Daar is geen prekerigheid en die uitryg van derms oor morele kwessies nie, maar dit word tog subtiel aangespreek. Ou Bloed is al vergelyk met die skets van ’n rolprent vir die leser. Tog lewer jy kommentaar teen rassisme tussen beide wit en swart, omgekeerde rassisme, regstellende aksie en vergrype van die kerk om homself te verryk, asook priesters se misbruik van kinders. Wou jy doelbewus op subtiele wyse oor hierdie omstrede kwessies kommentaar lewer? Of is dit maar hoofsaaklik deel van ’n lekker storielyn?

P: Wie is ek om my siening aan ander te wil opdring? As ’n skrywer wil derms uitryg oor moraliteit, politiek, godsdiens, dan moet hy ‘n niefiksie-boek of tesis loop skryf. Afgesien daarvan dat dit weer eens oor oormatige woorde gaan, het die meeste stories die werklike lewe as verwysing. Dinge wat daagliks om en met ons gebeur, is van toepassing op die karakters en storielyn. Om dit in ’n storie totaal te vermy, kom neer op kosmetiek. Dit mag mooi wees, maar dit is vals. Laat dit met die karakters gebeur, laat hulle daaroor praat en dink, maar nie tot kotsens toe nie. Dieselfde geld vir vloek. Sommige mense vloek, of ons nou daarvan hou of nie. Punt.

C: Jy is ’n raadgewende ingenieur van beroep, maar jy skryf, skilder, komponeer en doen ook beeldhouwerk. Dink jy nie ook dat ingenieurs eintlik baie kreatiewe mense is nie? Hulle skep immers goed wat ons almal se lewens vergemaklik?

P: Ja, natuurlik is ingenieurswese ’n skeppende veld. Veral nou, in die seniorjare, dink ek terug en wonder hoeveel van die “meganiese monumente” wat ek ontwerp het, en toesig gehou het oor hul oprigting, staan in hierdie land van ons. Van ’n eenvoudige deursluitmeganisme tot massiewe graansilo’s en vervoerstelsels, pompstelsels vir hidroëlektriesekragopwekking, lugversorgingstelsels vir wolkekrabbers, ens. Meer as vyftig jaar.

Die vele talente kan ook ’n frustrerende probleem word. Tyd. Ek moes noodwendig begin kies. Beeldhou en musiek het in die slag gebly. Ek bepaal my nou by skryf, met ’n bietjie skilder tussenin.

C:Dit klink ook of jy eerder aan die introvert-kant is? ’n Misdaadskrywer wat ook niefiksie-misdaadboeke skryf, het vir my vertel dat haar ekstroverte kant in die skryfproses uitkom.

P: Mense vra dikwels hoekom is ek so stil. Miskien is ek tot ’n mate ’n introvert – ek weet nie. Maar dit gaan darem nie so ver as antisosialisme nie. Ek kom gemaklik met mense oor die weg, kan gesprekke voer, selfs laf raak. Ek dink dit gaan meer daaroor dat daar vir my nie eensaamheid in alleenheid is nie. Ek geniet die “regte” geselskap, maar mis dit ook nie as dit nie daar is nie, want eintlik is my gedagtes die beste geselskap. (Klink dit kinky?)

C: Chanette Paul het oor Ou Bloed gesê jou hoofkarakter en storie boei mense enduit. Hoe voel jy oor hierdie kommentaar, en natuurlik die gunstige resensies?

P: Ek is baie aan Chanette Paul en Jeanette Ferreira verskuldig – het in ’n kort tyd baie by hulle geleer. As gevolg van omstandighede het baie skryflose jare verloop tussen As die regters swyg, Diep moord, en die onlangse herskryf van Dieper as die bloed, waarop Ou Bloed gevolg het. Hulle is die twee wat my wakker geklap het. “Nee kyk, Oom, dis nie meer hoe dit gedoen word nie. Deesdae vertel jy nie meer ‘n storie nie; jy wys hom. Laat jou karakters die vertel doen; jy bly weg uit jou storie.”

Positiewe kommentaar en resensies is lekker, maar mens moet dit nie kop toe vat nie. Negatiewe kritiek is net so belangrik: ’n mens leer daaruit. Dit sluit natuurlik die snotterige aftakeling van sommige kritici uit. Hulle is gewoonlik dié wat woorde gebruik wat mens moet gaan opsoek, en kleinhuisiemetafore. ’n Mens leer maar so met die tyd om hulle van ’n afstand raak te sien. Die ware kritikus wys die goeie en slegte uit én staaf dit. Die ware kritikus onderrig en bou op. Die een wat ’n persoonlikheidsprobleem het, verkleineer en breek af.

C: Jy is nou al 73, as ek jou geboortedatum reg het. Skryf jy nog naweke en snags?

P: Ja, die jare stap aan. Ek het in 2010 al afgetree, maar die firma waaraan ek verbonde was, het gevra dat ek op ’n kontrakbasis aanbly. Die werkslas is nie meer so erg nie, en ek kry darem tyd om sommige weeksdae ook te skryf, nie net snags en naweke nie.

C: Jy het jare gelede gesê: “Ek wil oor die mens skryf en oor die heroïese in hom. Ek wil sinvol en volwasse skryf, want ek self en my naam is onlosmaaklik aan my werk verbind.” Het ons nodig om helde te hê?

P: Met die klem op “jare gelede” ... Toe was ek nog windgat. Maar ek het intussen grootgeword. Ek het al dinge geskryf, veral kortverhale, waarvan ek myself vandag graag sal wil distansieer. Maar dit is water onder die brug. Gelukkig is ek trots om my naam aan die meeste verbonde te hê, want hulle kom uit die siel. Elke mens kies sy of haar eie helde. Ek kies die heroïese van Victor Hugo, Ayn Rand, Bach, Mozart, Beethoven, Brahms, Da Vinci, Van Rhyn, Van Wouw, Pierneef, en ander. Die verheerliking van die “antiheld” – Dostoevsky, Salman Rushdie, Etienne Leroux, Van Gogh, Picasso, Preller, ens – laat my koud. Dis nie te sê ek het in die ou dae vasgeval nie; daar is baie moderne skrywers, komponiste, beeldende kunstenaars wat heroïese werk lewer. Ja, ons het helde nodig, nie “idols” nie.

C: Ek hou van die wyse waarop jy Robyn, die vryskutjoernalis, uitbeeld. Joernaliste het mos die beeld dat hulle gevoellose mense is.

Robyn vra vir Boonzaaier: “Hoe hou mens jou afstand Mnr Boonzaaier? Kry mens dit ooit werklik reg?” En dan staan daar: “Hy teug uit sy glas, steek ’n vars sigaret aan. ‘Jy kweek ’n sinisme teenoor die samelewing en die lewe. Jy begin mense minag. Jy verwag enigiets van enigiemand en niks van niemand. Wanneer jy die punt bereik dat mense ongemaklik raak in jou geselskap, jou begin vermy, dan weet jy jy het dit reggekry.’”

Sy vra dan of ’n mens so kan leef, waarop hy antwoord: “Kyk na my, maar dit het sy prys.”

Hier sit Boonzaaier nou en besef hy het afstand met perspektief verwar. Hy het gevoelloosheid gekweek en die vermoë om te verwerk en te aanvaar, versmoor. Is dit die risiko wat joernaliste en speurders loop?

P: Ja, dit is ongelukkig so. Geen mens wat daagliks met moord te doen kry, sal dieselfde bly nie. Maar ek sou liewer dink hulle leer om ’n sekere afstand te hou eerder as om gevoelloos te word. Ek glo dit is dieselfde met dokters, verpleërs, paramedici, wat daagliks verminking en dood sien. Afgesien van sy sinisme, het Boonzaier drank ook ingespan. Robyn is nog jonk en betreklik onervare, daarom worstel sy nog daarmee. Sy vra Boonzaaier se raad, en hy besef hy moet keer dat sy nie dieselfde fout as hy maak deur sinisme aan afstand te verbind nie. Sinisme is ’n teelaarde vir onttrekking, uitsluiting, gevoelloosheid; afstand sonder sinisme gee perspektief.

Ek ken mense wat hul loopbane gewórd het. Dit is nie net joernaliste en speurders met wie dit gebeur nie. Ek was een van hulle, maar het gelukkig betyds my fout agtergekom. As jy jou loopbaan geword het, dan is dit al wat jy is: net ‘n loopbaan. Niks meer nie.

  • 1

Kommentaar

  • Hello. Ek het nou net Dieper as die Bloed klaar gelees en is baie bly om te sien daar is 'n opvolg! Waar kan ek Ou Bloed kry??? Ek het dit baie geniet en kan nie wag om te sien wat volgende gaan gebeur met Thys.

    Dankie.

    Groetnis. 

     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top