Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Soos ’n diep waterkuil deur Peet Venter

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Peet Venter

Peet Venter is een van die vroeë voorlopers van Afrikaanse spanningsfiksie. Sy debuutroman, Die alleenlopers, verskyn reeds in 1978. Daarná volg nog 15 boeke, waaronder die Thys Krige-reeks. Venter se kort- en vervolgverhale verskyn ook in tydskrifte en saamgestelde bundels.

Venter se styl is visueel, gestroop en manlik, maar hy vermy opsetlik die stereotipe. Hy toets telkens uiterstes met sy karakters; van die wat die bose wil uitoorlê, tot dié wat bloot net boos gebore is.

Peet het gekwalifiseer en baie lank gewerk as ingenieur. Skryf is maar een van sy stokperdjies. Hy komponeer ook musiek.

Dié enigmatiese skrywer woon tans in ’n wildbewaringsgebied. Hy praat nie graag oor homself nie, maar enige een wat meer wil weet, kan sy LitNet | ATKV-Skrywersalbum besoek: https://www.litnet.co.za/peet-venter-1940/


Opsomming

Soos ’n diep waterkuil
Peet Venter 
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799388312

Toe Boel Helberg wakker gebel word deur die moordenaar, weet hy twee dinge:

- Een, heimlik wens die siek bliksem om gevang te word sodat sy  moordlus kan ophou.

- Twee: Die moorde gaan aanhou tot Boel hom vastrek.

Wat volg, is ’n sielkundige skaakspel tussen twee mense aan verskillende kante van die morele munt.

Die boek kom met ’n waarskuwing aan die leser: As jy eers saam met Boel gaan begin soek na die moordenaar, sal jy nie wil laat los nie!


Uittreksel

Sy hand vat die gonsende selfoon op die bedkassie raak voor hy heeltemal wakker is. Hy maak die ding stil, druk dit teen sy oor.

“Helberg.”

“’n Sedelose vrou is soos ’n diep waterkuil. ’n Verleidster is soos ’n put waaruit jy nie kan kom nie. Eers was daar een. Toe was daar twee. Nou is daar drie.” Die stem is skor en die elokusie dik, soos iemand met ernstige laringitis en ’n toe neus.

“Wat?”

“Wakker word, Boel. Volle aandag. Nie wat nie. Wie. Haar naam is Natalie Dixon. Jy sal haar in Wemmerpan kry. Aan die suidekant waar Forestweg doodloop. En ek stuur vir jou iets om jou te oortuig dis nie ’n gekskeerdery nie.”

Die verbinding word verbreek.

Helberg sit orent. Carrie roer hier langs hom. Hy swaai sy bene van die bed af.

“Wat is dit, Jaap?” vra sy slaperig.

“Niks, bokkie. Slaap maar.”

“Hoe laat is dit?”

“Amper drieuur.”

Hy staan op. Op pad kombuis toe vibreer sy selfoon weer. Hy skakel die kombuislig aan, kyk. ’n Boodskap. Hy maak oop. Dis ’n video. ’n Nabyskoot van ’n vrou se gesig. Sy is mooi, lyk nog jonk. Donker hare en oë. Sy kyk strak na die kamera, haar lippe effens oop. Dié beweeg skaars merkbaar, asof sy iets prewel. Klein open- af-bewegings van haar kop laat dit lyk of sy vinnig en vlak asemhaal. Die beeld verander van hoek, word wyer, wys haar lyf ook. Sy lê nakend op ’n bed. Arms na weerskante en effens boontoe uitgestrek. Bene wyd oop.

Die kamera beweeg weer nader, fokus op haar onderlyf. ’n Gedeelte van ’n arm verskyn in die beeld. Regterarm. Die hand wat ’n lang mes vashou, is in ’n geel handskoen. ’n Donkerblou mou is in die handskoen gedruk. Die materiaal lyk te grof vir ’n hemp. Tensy dit ’n denim is, maar dit lyk meer na ’n oorjas of oorpak. Die hand dryf die een brutale messteek ná die ander opwaarts tussen die vrou se bene in. Diep, ritmies, bykans tydsaam. Toe hou dit die mes soos ’n pen vas en sny iets in haar voorkop. Die effense onstabiliteit van die beeld sê die kamera, of stellig selfoon, word in die moordenaar se linkerhand vasgehou.

Die video eindig.

Oor meer as twintig jaar moes hy al meermale die resultate van skendmoorde aanskou. Jy raak nooit daaraan gewoon nie, maar bou mettertyd ’n buffer op. Om te sien hoe dit gepleeg word, is ’n ander storie. Dit skud hom soos die eerste keer toe hy ’n moordslagoffer gesien het.

Sy selfoon vibreer weer. Nog ’n boodskap. Hy maak oop. Dis ’n foto, nie baie duidelik nie, maar hy kan sien dis ’n liggaam wat in donker water dryf.

Hy maak die oproeplys oop, vergelyk die nommer van waar die foto en video gestuur is met dié van die oproep. Dit stem ooreen. Hy skakel dit.

En lui, twee. Drie luie.

“Hi. This is Natalie. Sorry, I can’t take your call right now. Please leave a message.” ’n Opgewekte vrouestem. Dis genoeg om hom te oortuig dat dit nie net ’n gekskeerdery is nie. Hy kanselleer die oproep.

Dit kan ’n lokval wees. Daar is vir seker genoeg skarminkels wat hy aan die pen laat ry het wat sy bloed soek. Maar daar is eenvoudiger maniere om dit te doen. Eintlik sal dit dom wees om dit só te doen. Te dramaties. Net iemand wat totaal naïef is, sal nie onmiddellik agterdogtig wees nie. Nee, iets anders lê daaragter en dis op hom, gemik. Hoekom?

Die inleiding klink soos ’n Bybelvers. Iets wat ’n man met oormatige ondervinding van vroue sou kwytraak. Soos Salomo. En dit verg nie ’n wetenskaplike om uit te werk wat die “eers een, toe twee, nou drie” beteken nie. Natalie Dixon is die derde slagoffer.

Dat die persoon weet wat sy selnommer en bynaam is, sê nie veel nie. Sy selnommer lê die wêreld vol. Deel van sy werk. Ongelukkig. En die meeste mense waarmee hy te doen kry noem hom Boel. Hy noem homself so.

Hy skakel ’n nommer.

“Johannesburg Central Police. Constable Mhlangu speaking.”

’n Vrouestem.

“It’s Detective Warrant Boel Helberg.” Hy het al geleer om Afrikaans te praat is net tydmors. “Dispatch a patrol to Wemmerpan. South side, where Forest road ends. Tell them to wait for me, I’m on my way. Got it?”

“Yes, Warrant.”

“Jaap, wat gaan aan?” vra Carrie agter hom.

Hy draai om. “Gaan slaap, bokkie.”

“Wie het gebel?”

Wat beteken sy is nie van plan om terug te gaan bed toe voor sy ’n verduideliking gekry het nie. En dit help nie om ontwykend te probeer wees nie. Sy is ’n aanklaer; jy is in ’n hoek nog voor jy ’n woord gesê het.

“Iemand wat sê daar is ’n lyk in Wemmerpan.”

“Wie is die iemand?”

“Ek weet nie. Hy het nie gesê nie.”

“Hoekom bel hy jou en nie die noodnommer nie?”

“Ek weet nie, bokkie.”

“Ek hou nie daarvan nie.”

“Ek ook nie.”

“Gaan jy ry?” vra sy.

“Sal moet.”

Sy redeneer nie verder nie. Dis nie die eerste keer dat hy in die nag moet uitgaan nie.

“Ek gaan tee maak.” Sy tap water in die ketel, skakel dit aan. “Wil jy hê?”

Tee? Hierdie tyd van die nag? In Carrie se geval is dit seker verskoonbaar. Haar ma se wortels is diep in die Engelse kultuur verstrengel.

“Koffie sal lekker wees.”

“Koffie hierdie tyd van die nag is nie goed vir jou nie.”

Sy haal twee koppies uit ’n kas. Teekoppies. Van daardie tweeslukgoetertjies. Met pierings. Wat beteken hy gaan tee drink. Laat dit liewer daar. Drieuur in die nag is nie die aangewese tyd om oor die meriete van koffie of tee te debatteer nie.

“Ek gaan solank aantrek.”

“Moet ek ook aantrek?” vra ’n vakerige stemmetjie. Ellie staan in die gangdeur, teddiebeer teen haar bors vasgedruk.

“Nee, Eleanor,” sê Carrie. “Gaan doedoe maar weer.”

“Gramma het gesê ek moet vroeg kom. Ons gaan koekies bak.”

“Dis nog heeltemal te vroeg, liefie,” sê Carrie. “Ons sal jou betyds wakker maak.”

“Kom, poppie.” Helberg tel die warm lyfie op. “Jy moet genoeg slaap kry as jy ouma Eleanor met die koekies wil help.” Hy kry dit nog nie reg om skoonma sonder die kwalifikasie van haar naam as Ellie se ouma te erken nie. Dit sal wees soos om sy oorlede ma se reg op medegrootouerskap te misken.

Hy dra Ellie na haar slaapkamer, sit haar in die bed, leun oor en soen haar voorkop. “Toe, doedoe nou maar weer.” Hy streel haar hare saggies tot sy insluimer en wegraak.

Ellie se geboorte het ’n heel nuwe dimensie aan sy lewe gegee, wonderlik en skrikwekkend in ’n gelyke mate. Saam met die ongelooflike wonder om die pa van so ’n perfekte mensie te wees, het die dieper en swaarder besef van verantwoordelikheid gekom. En daarmee saam ’n vrees dat wat hy met ander kinders sien gebeur, met haar ook kan gebeur. Om bykans daagliks eerstehands te sien wat grootmense aan mekaar kan doen, is al erg genoeg, maar om te sien wat grootmense aan kinders kan doen, is erg verby. Niks kan dit buffer nie.

Ellie is vier jaar oud, onskuldig, pragtig. Hy wil haar sien grootword en ontwikkel tot ’n mooi en suksesvolle vrou soos haar ma. Sy is bedags veilig in haar ouma se sorg en snags en oor naweke hier by hom en Carrie. Maar oor drie jaar gaan sy skool toe. Naas pretparke en winkelsentrums, is dit gesogte plekke vir die drek wat op kinders jag maak. Kinderontvoerders, pedofiele. Hulle is oral, altyd op die uitkyk vir prooi. Hulle kan kennisse wees, kollegas by die werk, bure. Van hulle kan familie wees. Niemand weet wie hulle is nie, tot een van hulle ’n buurkind of een in die familie bykom. Dan is almal geskok en kan nie verstaan hoe dit onder hulle neuse kon gebeur nie.

Elke keer as hy na ’n kinderlykie kyk, wil hy meer doen om te keer. Dit dryf hom.

Hy loop badkamer toe. Was sy gesig met koue water. Droog af. Verfris sy mond met tandepasta. Hy beskou sy baardstoppels in die spieël. Daar is nie nou tyd om te skeer nie.

Sommige nadele het ook hulle verborge voordele. Mense is geneig om te dink hy is dom omdat hy so groot en lelik is. Carrie sê hy is nie lelik nie, net robuus. Volgens tesourusse se omskrywing van die woord kan ’n gorilla ook as robuus geklassifiseer word. Of ’n Oshkosh- vragmotor. Hy het dit nageslaan. Gevolgtrekking: Óf Carrie se woordkeuse óf haar sin vir estetika óf beide is twyfelagtig. Na sy mening, wat nie altyd ooreenstem met hare nie. Maar hy weerhou hom liewer daarvan om oor hierdie punt verder met haar te debatteer. Sy sal wel ’n antwoord hê, soos vir alles. Byvoorbeeld, dat dit nie die uiterlike is wat tel nie, maar die innerlike. Wat net sal bevestig dat hy lelik is en sy diplomaties. ’n Man kan ’n goeie hart hê, maar steeds lelik wees.

Daar is dinge waaroor jy liewer nie te veel moet wonder nie. Veral as jy ná vyf jaar nog nie mooi weet hoe dit gebeur het nie. Jy aanvaar en hou jou bek, want die waarskynlikheid dat jy só met jou gat in die botter kan beland soos hy met Carrie is bitter skraal. Dis soos om die boerpot te wen; al rol jy in die geld, is dit vir jou moeilik om dit te glo.

Die meganika van die onverwagse wendings in mens se lewe is een van daardie ewige misteries. Soos om op ’n spoegafstand van veertig en ná ’n paar onsuksesvolle verhoudings, jou daarmee te versoen dat jy ’n losloper gaan bly tot jy die dag groet. Waarom nog bodder? Dis net moeite om die hele storie elke keer van voor af te begin. Nee wat, jy het jou nis in die lewe gevind en is heel gemaklik daarin.

Tot jy saam met ’n mooi aanklaertjie aan ’n saak moet werk. Die manne wat al saam met haar gewerk het, waarsku jou om lig te loop, sy is ’n rissie. Maar julle kliek van meet af aan. Julle gaan eet saam, bel mekaar, gesels lekker en jy begin wonder oor die losloperlewe. Daar is net een probleem: sy is soveel jonger as jy. As jy voelers uitsteek, sal sy jou stellig afjak, of erger, jou uitlag.

Maar die ding knaag aan jou en op ’n dag raak jy die moontlikheid so liggies aan, hipoteties, en sy sê vir jou jy is die man wie se kinders sy wil hê.

Jy skrik jou gat af, want jy weet nie of sy aan trou, of net die gebruik van jou saad dink nie. En jy weet nie hoe om haar te vra nie. Want sy is ’n aanklaer. Dit maak nie saak wat jy sê nie, jy is verkeerd. As jy haar gaan vra of sy trou in gedagte het, gaan sy vir jou vra hoekom jy nog vra. Wil jy nie met haar trou nie? As jy haar gaan vra of sy kunsmatige inseminasie in gedagte het, gaan sy vir jou vra wat jou so laat dink. Wil jy nie met haar trou nie? Of so iets. Dis verskriklik ingewikkeld.

Wat volg, is vaag, want jy is net ’n bystander met geen sê nie en jy bring baie meer tyd as gewoonlik in die kamertjie van afsondering en stank deur omdat jou maag skielik om die een of ander rede alles wat jy hom voer, versap en so vinnig as moontlik daarvan ontslae wil raak.

Dan is alles skielik verby en in die maande wat volg, spits jy jou daarop toe om by jou nuwe lewe aan te pas. Jy sorg dat jy nie ’n kleintoontjie verkeerd sit nie, want jy wil haar nie die geringste rede gee om te begin wonder of sy nie dalk ’n fout gemaak het nie.

Tot sy vir jou sê sy is swanger. Dan skrik jy jou gat heeltemal af, want jy besef jy gaan wees wat jou pa vir jou is en jy het nie die vaagste benul hoe om dit te wees nie.

“Ou grote?” Carrie staan in die badkamer se deur.

“H’m?”

“Die tee is reg.” “O. Dankie.”

Slaapkamer toe. Trek vinnig aan. Kombuis toe. Carrie sit by die tafel, koppie in die hand. Syne staan gereed. In ’n piering.

“Wil jy nie eers iets eet nie?”

“Nie tyd nie, bokkie. Miskien sal ek betyds terug wees vir ontbyt.”

“As jy nie is nie, kry dan asseblief net iets om te eet.”

“Ek sal.”

“Nie ’n pak slaptjips nie.”

“Slaptjips word van ertappels gemaak. Dis gesondheid uit die grond uit.”

“Iets gesonds, Jaap. Vrugte en jogurt. Ek is te jonk om ’n weduwee te wees en wil Eleanor nie alleen grootmaak nie.”

Hy kan seker iets sê. Soos dat vrugte nie kos is nie en dat jogurt melk met ’n infeksie is. En dat so ’n mooi, jong weduwee maklik ’n jonger en aantrekliker man kan kry. Maar liewer nie. Sy het perke op sy aweregse sin vir humor geplaas. Omdat sy nie verstaan dat dit vir hom ’n manier van oorlewing is nie. Anders weet hy nie hoe hy dit deur hierdie ingewikkelde lewe sal maak nie.

Hy maak die teekoppie met een sluk leeg. Ter wille van goeie betrekkinge. En gedagtig aan sy oorlede ma se raad wanneer daar kasterolie gedoseer moes word: “Sluk dit net vinnig, dan is dit verby.” Die verskil is net dat sy ma agterna ’n pepermentjie vir hom gegee het. Maar nou ja, Carrie is sy kind se ma, nie syne nie.

“Dankie, bokkie. Sien later.” Hy soen haar, maak die agterdeur oop. “Sluit die deur, Carrie.”

“Ek sal.”

“Nou.”

Hy gaan uit, wag tot hy hoor sy sluit die deur.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top