Biebouw-resensie: Waar boosheid broei deur Peet Venter

  • 0

Titel: Waar boosheid broei
Outeur: Peet Venter
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799368499

Koop Waar boosheid broei by Kalahari.com

Alhoewel Peet Venter dalk nie so bekend onder lesers mag wees soos misdaadskrywers Deon Meyer, Karin Brynard en Chris Karsten nie, het hierdie besonderse skrywer se fiksionele wroegings met die bose en die donker kant van die mens se psige die nodige lyf en oortuiging om groot indruk te maak. Bloed as simbool van beide liefde en haat, as verpersoonliking van die bose, as simbool van verbinding en verwantskap, en as teken van skuld, is nog altyd deur Venter sodanig met groot vrug ingespan.

Venter se debuutwerk, Dieper as die bloed, het die moeilike, hardvogtige dog innemende Thys Krige aan lesers bekendgestel, met die dood van Krige se pa, ’n man wat rykdom en weelde geniet het en ander met minagting bejeën het, wat sentraal staan.

In hierdie donker, grinterige roman is Krige herhaaldelik deur ’n duistere figuur aangemoedig om “dieper as die bloed” te kyk, beide in sy eie lewe en in die Rossouw-dossier wat hy ondersoek. Venter se vervolg, die werklik uitstekende Ou bloed, het Krige se worsteling met sy pa se invloed op hom en op sy eie familie-intriges heelwat trappies verder geneem, met die speurder wat nie net ’n moordenaar van pedofiele en ’n sindikaat van menserowers moet vastrek nie, maar ook die geheime rondom sy pa se “ander familie” moet uitsnuffel.

Krige is ’n bloedhond, ’n man van min woorde. Teen die einde van Ou bloed weet die leser alte goed dat ons hier met ’n besonderse tipe antiheld te doen het, een wat tot die einde sal stoei met die boosheid in homself en die boosheid wat oral om hom ’n verskyning maak. Hierdie uitmergelend-lekker misdaadroman het egter uitgeroep om ’n vervolg, die derde in die Thys Krige-reeks, en dis waar Venter vir lesers sy mees mistroostige, donker en genadelose meditasie op die bose bied: Waar boosheid broei.

Anders as soveel onlangse resensies van genrefiksie, waar daar na my mening eenvoudig gans te veel van die betrokke teks se plot en gebeure vir lesers weergegee word – die sogenaamde spoilers wat werklik afbreuk doen aan die voornemende leser se vlak van intrigue en genot met die lees van die boek self – wil ek hier so min as moontlik verklap. Die geraamte van Waar boosheid broei sien egter so daar uit: eerder as om weer eens reeksmoordenaars aan die kaak te stel soos in die vorige twee aflewerings, kry Krige die geleentheid om as “eie baas” (nadat hy uit die polisiediens bedank het) ondersoek in te stel na verneemde menseslagting in Zimbabwe. Aan die een kant word Henk Human ’n sleutelfiguur, andersyds moet Krige die aanslag van die geheimsinnige antagonis Hugo Mentz en sy invloed op Robyn, Krige se “nie heeltemal meisie nie”, die hoof bied. Een ding is dié keer seker:

Venter wil die leser se vermoë om tussen reg en verkeerd, goed en kwaad, boosheid en goedheid te onderskei, met ’n besliste aanslag omverwerp en beproef.

Aangesien Venter reeds teen dié tyd vir lesers ’n presiese padkaart met sy vorige romans gebied het van wat om te verwag – verwikkelde spanningslyne, ’n uiters onheilspellende atmosfeer, oortuigende, fyngepoleerde dialoog, klipharde en meedoënlose sielkundige beskouings van die bose, ’n getraumatiseerde dog hardgebakte protagonis wat sukkel om iets meer te doen met sy seksuele verhouding met die verslaggewer Robyn, ’n fyn aanvoeling vir nuanse wat menslike gedrag betref, en die bereidwilligheid om karakters tot op breekpunt te dryf met geloofwaardige dog moeisame fisieke en veral sielkundige uitdagings – sal dit deug om hier slegs te noem dat Venter “meer van dieselfde” vir sy lesers bied.

Dis egter besonder opvallend presies hoe genadeloos die teks Krige se sielkundige aftakeling met baie kort, kragtige sinne weergee en op ’n uiters minimalistiese dog geslypte verstelstyl staatmaak. Waar Ou bloed meer afwisseling gebied het, is Waar boosheid broei op die man af, uitdagend en seningrig gespierd in sy benadering. Dis dalk net genoeg om menigte lesers onder hul kussings te laat inkruip, en om ’n tikkie ligte humor hier en daar te smeek, maar vir ’n genrehardebaard soos ek was dit baie geslaagd.

Ons het hier met meer as net genrevermaak te doen. Daar is weinig kans vir die leser om asem te skep soos wat Venter die spreekwoordelike vuishoue op die leser laat reën. Etiek, moraliteit en geregtigheid, tesame met die aard en betekenis van die bose, is die gewigtige onderwerpe wat hierdie gerekende skrywer geslaagd ondersoek. Hierdie keer is dit dalk nie so ’n grusame en brutale geestesaanslag soos die geval was met Ou bloed, waar Krige se familie-intrige dalk tog daardie ietsie ekstra bied wat nie altyd hier te bespeur is nie, maar Waar boosheid broei is steeds ’n roman wat sielkundige ondersoek en sosiopolitieke kommentaar net so hoog ag as om lesers te vermaak. Glad nie maklik nie, maar hier is die stryd gewonne.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top