kykNET Silwerskermfees 2014: Trippie

  • 0

Trippie draai van 27 tot 30 Augustus op die kykNET Silwerskermfees. Die film is gegrond op die teater-busrit deur Nicola Hanekom.

Naomi Meyer het vir Nicola Hanekom gevra hoe die ongemak wat die interaktiwiteit van daardie busrit meebring op ’n skerm vertaal kan word. Die gehoor (deelnemers?) se reaksie is sekerlik aanvoelbaar en onmiddellik. Maar as mens die film opneem, hoe en wat is vir haar as akteur verskillend?

Trippie as toneelstuk was baie gewaagd vanweë die intiemheid met die gehoor. Dis iets wat in film nie vreemd is nie. Die kyker is gewoond aan nabyskote en kan die volume op die televisie harder draai of kanale verander as die spel hom verveel. In daardie opsig was en sal die toneelstuk altyd opwindender en gevaarlik wees, want dit loop 'n groot risiko. Enigiets kan gebeur. Met die film het ek ander risiko’s geneem. Uit die staanspoor het ek vermoed dat Trippie as 'n film 'n uitdaging sou wees, omdat dit op 'n toneelstuk gebaseer is. Ek het met moeite gesnoei tot die 26-minute-beperking en was baie bewus van die groot uitdaging om my eerste kortfilm op 'n bewegende bus te doen met 'n begroting wat eintlik te knap om 'n bus pas.

Ek dink tog Trippie is 'n offer. Dis iets anders. Dit word steeds deur spel en woorde gedryf in 'n medium wat meer hou van aksie en prentjies, maar ek is bly ek het dit so gemaak. Dis eintlik 'n egte weerspieëling van waar ek as regisseur staan. Ek wil my swaar, teatrale hand leer om fyner te werk en een treetjie gee na die wêreld van film. Dit met min kennis maar baie nuuskierigheid en passie. Daarom is ek dankbaar vir die waardevolle leerskool. Ander mense gaan na AFDA; ek het na Aurora gegaan.

As aktrise was dit vir my ontsettend moeilik, omdat ek ook die regie-hoed gedra het en ons allerlei teenspoed gehad het, waaroor ek nie nou wil uitwei nie. Ek is bang ek vernader in 'n klakous as ek eers begin. Ek wil eerder net dankie sê aan my wonderlike medespeler, Stian Bam, wat soos 'n rots onskuifbaar staan in die middel van vele aardbewings.

Foto's verskaf.

Kyk wanneer jou gunstelingfilm by die kykNET Silwerskermfees draai.

Lees 'n gesprek oor Suurlemoen!

Lees nog oor Agterplaas.

Lees ook oor Totsiens, Pa.

Lees ook oor Iemand anders.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top