Kirby van der Merwe (gebore: 1960’s)

  • 1

Gebore en getoë

Kirby van der Merwe is in die 1960’s in die Paarl gebore. Sy oupa was Hendrik van der Merwe, ’n blacksmith van beroep, wat iewers uit die Ceres-Karoo of Kouebokkeveld gekom het, vertel hy aan Leandi Claasen. (Rapport, 24 Februarie 2013)

Hy is een van ses kinders en was ’n tipiese middelkind – altyd hartseer en ontevrede. Sy ma, Rosa, was ’n kleremaker van formaat. Hy wou altyd skep en het vroeg saam met Ma Rosa leer kosmaak en tuinmaak – groente- en blomtuin. Hy ontwikkel ’n verbondenheid met die aarde wat met die jare groei en later neerslag in sy skryfwerk vind, vertel hy aan Hettie Scholtz. (Insig, Februarie 2000)

Kirby vertel aan Hein Willemse (Tydskrif vir Letterkunde) van sy ouers: “Eugene (hoofkarakter van Kirby van der Merwe se tweede roman Eugene) se ouers is losweg op my eie ouers gebaseer. Hulle het egter nie soos Eugene se ouers in ’n motorongeluk gesterf nie. Hulle was wat vandag as entrepreneurs bekend staan. Destyds was hulle net mense wat met enige ding sou handel dryf soos Eugene se ouers. Hulle het hulle hande stomp gewerk, soos hulle sê. My ouers se leuse was: Niemand het nog ooit van werk doodgegaan nie. En vandat ek ’n kind was, moes jy werk, want wie nie werk nie, kry nie kos nie.”

Kirby begin sy skooljare in die Paarl aan die Laerskool Ebeneser en toe hy tien is, verhuis hulle na Franschhoek vir twee jaar. Hierdie tydperk laat ’n blywende indruk op sy lewe en is die mees vormende tyd van sy kinderlewe, vertel hy aan die Afrikaanse Skrywersvereniging. Dit is veral te danke aan die uitstekende onderwysers wat daar onderwys gegee het. Hulle is terug na die Paarl, waar Kirby aan die Hoërskool Noorder-Paarl matrikuleer. Kirby vertel dat sy kinderjare in die Paarl ook heelwat daartoe bygedra het dat hy ’n kunstenaar en skrywer geword het: “Jou sintuie word so gebombardeer dat jy ’n bietjie skeppend moet wees. Die lig is kenmerkend en uniek. Wanneer die son sak en jy die berge sien verkleur en verander, lyk selfs die skaduwees of ’n nat pad mooi.” Daar is ook die geluide van die deel van die Paarl waar hy grootgeword het. “Ek het in die jare 60 grootgeword met sulke klanke uit die Tweede Wêreldoorlog soos sirenes en skroefvliegtuie,” vertel hy aan Roline Norval. (Die Burger, 4 Mei 2000)

Hy wou altyd boeke versamel, en sy groot ideaal was om eendag sy eie biblioteek te hê. Hy onthou dat hy eendag in standerd vyf ’n dik Tolstoi uit ’n onderwyser se boekrak vasgelê het om by sy versameling te voeg.

In 2012 bring Kirby ’n besoek aan die Johannesburgse stadsbiblioteek en, skryf hy in Die Burger (26 Mei 2012), dit het hom terug laat dink aan sy heel eerste besoek aan ’n biblioteek in die laat 1960’s: “Ek was in standerd drie op Franschhoek en die dorpsbiblioteek het die bruin kinders op Saterdagoggende toegelaat om boeke uit te neem by ’n kamer wat spesiaal – en uitsluitlik – vir dié doel gebruik is.

Die plek was silwerskoon en die boeke nuut en netjies op die rakke gepak. Die jong vrou wat ons gehelp het om boeke te kies, ’n juffrou Pheiffer, was stug en haar ore gespits vir enige klank harder as ’n fluister. Sedert daardie dae het ek ’n heilige ontsag vir ’n bibliotekaresse.”

Kirby toon ook van kleins af ’n aanleg en liefde vir grafiese kuns. In standerd nege en tien neem hy kuns as ’n vak en was hy ook vir ’n jaar by die Michaelis-kunsskool ingeskryf.

Verdere studie en werk

Na matriek is Kirby na die Hewitt-kollege, en hy begin onderwys gee – in uiteenlopende vakke soos onder meer taal, kuns en biologie. Hy werk ook as kabinetmaker en kunstenaar en is ’n ywerige stapper en rotsklimmer. Die natuur raak vir hom al hoe belangriker.

Later wend hy hom tot die joernalistiek en doen hy joernalistieke werk vir Huisgenoot, Insig en Media24 se koerante.

Hy was getroud en is die trotse pa van drie dogters.

Dit het nooit by Kirby opgekom om te skryf nie, en dit was eers toe hy as jong kunstenaar (skilder, beeldhou- en keramiekwerk) op Onrus by mense soos Uys Krige en Jan Rabie betrokke geraak het, dat hy begin het om gedigte te skryf. In 1993 skryf hy sy eerste gedig en van sy gedigte is later opgeneem in die bundel Nuwe stemme 1. Hy lewer ook bydraes tot Groot Verseboek en Gerrit Komrij se bundel De Afrikaanse poëzie in duizend en enige gedichten. Hy sou graag wou poësie skryf, maar volgens hom lees mense dit nie en sal hy nou maar tussenin hardloop deur beeldende prosa te skryf.

Kirby skryf ook kortverhale wat opgeneem is in Die stukke wat ons sny en Vonkfiksie. Hy was ’n finalis in RSG se radiodramakompetisie met Vis en vleis, asook in De Kat se Vonkfiksie-kompetisie met “Brand”.

En toe kom Klapperhaar slaap nie stil nie, wat in 1999 deur Kwela gepubliseer is. Die basiese manuskrip is binne twintig dae voltooi, vertel hy aan Stephanie Nieuwoudt. Maar toe het die harde werk eers begin. Hy noem dit ’n “sprong die donkerte in – soos sy verwysings na gekanoniseerde skrywers van die Afrikaanse letterkunde”.

Hierdie verwysings, verduidelik hy aan Stephanie Nieuwoudt, is “moedswillige kommentaar op mense soos die resensent Marius Crous, wat in 1998 in ’n resensie oor Nuwe stemme 1 geskryf het Van der Merwe probeer te hard om welbelese voor te kom”.

Kirby se kommentaar hierop: “Dit was ’n rassistiese opmerking van iemand wat waarskynlik verwag het dat ek net struggleverse skryf. My gedigte het weggebreek van dié stereotipe. Ek skryf teen die reëls en vooroordele in.”

Die boek handel oor Kinta Januarie, ’n begaafde meisie wat uit die strikke van die sukkelbestaan op die “Vlakte” probeer ontsnap en haar eie pad begin loop; sy is ’n regsgeleerde  wat probeer vrykom van haar agtergrond. Sy is nie die stereotipe nie en het die grens oorgesteek na ’n groter wêreld, alhoewel sy steeds aan die een waaruit sy kom verbind is.

Kirby vertel aan Roline Norval (Die Burger, 4 Mei 2000) dat in sy grootwordhuis was vroue die sterkste persoonlikhede en het hy daarom nie geskroom om sy hoofkarakter ’n vrou te maak nie. “Daar is mans, ek is een van hulle, wat emosioneel en op ander gebiede die fyn aanvoeling van vroue het, maar ek het gevoel dit sou beter werk en meer aanvaarbaar wees as ek die hoofkarakter ’n vrou maak. Ek het myself emosioneel ontbloot in die karakter van Kinta.”

Wat vir Lucas Malan (Rapport, 18 Januarie 2004) van Klapperhaar as ’n eerste roman beïndruk het, is Kirby van der Merwe se raak “sintuiglike waarneming, vaardige taalgebruik en beeldende vermoë is. Ook toon Van der Merwe sy poëtiese knapheid wat meebring dat daar dwarsdeur die roman baie mooi frases en reëls is wat tot die emosionele samestelling van die roman meewerk.

Lizette Potgieter (Die Burger, 1 Maart 2000) beskou Klapperhaar as ietwat onrustig, maar wat tog algemene en tersaaklike probleme aanspreek. Die lewe op die Kaapse Vlakte word baie raak en lewendig beskryf.

Fanie Olivier (Beeld, 1 Maart 2000) is dankbaar dat daar eintlik ’n jonger roman is wat geen toegewens maak teenoor politieke korrektheid nie. Die skrywer het ’n storie gehad om te vertel en dít het hy gedoen. Die naam Kirby van der Merwe gaan meer van gehoor word.

Elmari Rautenbach skryf in haar resensie in Volksblad (1 November 1999) dat Klapperhaar gelees moet word deur almal wat ’n stuk persoonlike bagasie met hulle saamdra; vir diegene wat dit ken om afvallig te raak van jou afkoms, jou familie en jou verlede; vir diegene wat ’n ander pad wil loop, maar wat tog nog met deernis terugkyk na die einste verlede. Wat hierdie boek verrassend maak, is die eerlike uitbeelding van Kinta en haar agtergrond. Dis ’n realistiese prentjie van die dilemma van vandag se jong, opgevoede bruin mens in Suid-Afrika wat na beter streef, maar dan agterkom dat sy familie nie daardie pad met hom of haar wil loop nie.”

Oor die varkslagtoneel in die boek sê Kirby dat dit deel is van sy kinderjare. Hulle het langs ’n slagpale vir varke gewoon. “Die varke het regdeur die nag geskree. Eers wanneer die laaste varke geslag is, het dit stil geword en dan het ek en my broer geweet dis opstaantyd,” vertel hy aan Roline Norval. (Die Burger, 4 Mei 2000)

Klapperhaar slaap nie stil nie se titel was aanvanklik Duskant die Liesbeeck, maar die uitgewers het gevoel dat dit te literêr klink en mense sal afskrik van wat in werklikheid ’n lekker leesboek is.

Kirby vertel aan Herman Wasserman (Die Burger, 13 April 2000) dat hy juis ’n boek wou skryf wat die hele ding op sy kop keer. “Daar’s steeds die idee dat bruin mense koddig moet wees. As jy nie dreadlocks het nie, of jou voortande is nie uit nie, of jy speel nie kitaar nie, wil hulle nie van jou weet nie. My hoofkarakter is dus vir mense moeilik om aan te kou; ’n gesofistikeerde, middelklas bruin vrou. As ’n bruin skrywer wil skryf, moet jy jou beperk by sekere dinge. ’n Mens kry die idee dat mense net bruin mense se stemme wil hoor as hulle nie ‘oorlams’ is nie.”

Kinta, die hoofkarakter in Klapperhaar slaap nie stil nie, probeer wegbeweeg van haar verlede en haar herkoms. Hieroor sê Kirby aan Marguerite Black op LitNet dat Kinta die toonbeeld is van daardie bruin mense wat goed gekwalifiseer is en wat na skool verder gaan studeer het, maar hulle eie mense minag hulle steeds en hulle word veroordeel op hulle voorkoms en hulle spraak. “Ek hou self nie daarvan om gekategoriseer te word nie en in boksies geplaas te word nie.”

George Weideman het op LitNet se Seminaarkamer ’n uitgebreide bespreking van Klapperhaar slaap nie stil nie gedoen. Hy het gemeen dat daar sekere “buite-artistieke” sake is wat na vore gekom het met die publikasie van Klapperhaar, naamlik die ras van die skrywer en die geskiedkundige konteks waarbinne hy skrywe.

Weideman het gemeen die rasse-saak is op die voorgrond gebring in Lucas Malan se resensie (Rapport, 14 November 1999) wat na Kirby van der Merwe verwys het as ’n skrywer uit die “grootliks versweë of swyende gemeenskap”.

In ’n onderhoud met Daniel Hugo op die radioprogram Leeskring, het Weideman voort geskryf, het Kirby van der Merwe “tereg daarop gewys dat hy in die eerste instansie kunstenaar is; dat hy nie graag gekategoriseer sou wou word nie. En inderdaad dra Van der Merwe hom nie, soos baie ander, dood aan die bagasie van die apartheids- en struggle-jare nie. Dit is egter ’n voldonge feit dat skrywers in die ou Suid-Afrika op grond van ras gemarginaliseer is; so is ’n patroon van bevestiging en ontkenning geskep waaruit ons almal sukkel om los te kom. (…)

In sy radiorubriek in Die Burger het André Blom pas ná die onderhoud juis daarop gewys dat die agterflapfoto (van die skrywer) ras by die saak insleep, of jy dit nou verkies of nie. Goed, dan kan ’n mens nóg redeneer: Gestel daar was nie ’n foto nie? Dan is die skrywer maar net nog ’n Van der Merwe, een met ’n Engelse voornaam.” (…)

Die volgende kwessie is die tyd van geweld waarin ons leef, het Weideman geskryf. “Dis ’n gemeenplaas om te sê dat geweld die moderne samelewing oorheers. Die droom (of illusie) dat jy daarvan kan ontsnap, word in Klapperhaar deur bepaalde ruimtelike metafore oorgedra. Hoedat mense van ’n uitkykpunt af waarneem – of hulle nou panoramies kyk of voyeur speel – bepaal ook regdeur die boek hul ‘verbondenheid’ met dit wat voor of agter hulle lê. Op dieselfde wyse word die varkslag-episodes as ’n byna groteske ‘viering’ van geweld uitgebeeld, terwyl die magsinvloed van bendes die leser ook voortdurend aan ’n samelewing van geweld herinner. (…)

Hoe hanteer ’n debuutskrywer só ’n formidabele gegewe? En wat verwag ’n mens van ’n debuutroman? Om by laasgenoemde te begin: ’n Mens verwag waarskynlik dat die skrywer jou moet bekoor met die diepte, die meervoudigheid van outentieke ervarings; met trefsekere taalgebruik, met skerp ruimtetekening, met mense wat nie gefabriseerd lyk nie; met ’n sterk storielyn. En dit is wat Van der Merwe regkry: Om die identiteitskrisis van ’n enkeling teen die agtergrond van ’n geweldkultuur só te teken dat dit jou bybly. (…)

Klapperhaar het álles wat ’n mens van ’n debuutroman verwag – en veel meer. Dis ’n hoogs leesbare boek, dit bevat wonderlike oomblikke van suiwer poëtiese magic en dit gee op ’n vars manier uitdrukking aan die partymaal onverstaanbare smeltkroes wat Suid-Afrika op die ou end is. Dis ’n boek van die tyd van oorgang waarin ons ons (nog ’n geruime tyd gaan) bevind; soos die simbool van die Maleise kris wat Kinta aan Gustav present gee, is daar veel te leer van aanpassing en van die soeke na ’n nuwe soort suiwerheid. Presies dít waarmee Suid-Afrika in hierdie oorgangstryd worstel. Die boek laat ’n mens opnuut nadink oor die mens se strewe na vryheid en die vele vorme van slawerny waaraan gees en vlees (steeds) onderworpe is; dit speel visueel ongelooflik sterk met die tekens van verval en die wil tot herstel, tot oorlewing en groei (subtiel, byvoorbeeld wanneer Kinta se sublieme bergklimervarings teenoor die patetiese hoerjaery van haar pastoor-broer Abe gestel word).

Die roman is seer sekerlik nie sonder leemtes nie. Hier en daar draal die storielyn ietwat (episodes ‘herhaal’ mekaar, of lyk nie altyd so noodwendig nie). Maar in wese is dit klein besware. Klapperhaar slaap nie stil nie is ’n besonder sterk debuut.”

In 2002 word die M-Net Beurs vir Skeppende Skryfwerk aan Kirby toegeken, wat hom in staat stel om ’n MA in Skeppende Skryfwerk onder leiding van Etienne van Heerden te voltooi.

Kirby is ook bekend as kunstenaar (beeldhouwerk) uit eie reg en in 1998 ontvang hy ’n merieteprys in die Bellville-Kunsvereniging se Nuwe Handtekeninge Kompetisie vir kunstenaars wat nog nie alleen uitgestal het nie. In 2000 is hy die wenner van die beeldhouwerk-afdeling.

As joernalis en rubriekskrywer blink Kirby ook uit. In 2002 word hy benoem vir die Mondi-toekennings in die kategorie sake-artikels vir “As diewe mense word”. In 2004 is hy die Mondi-wenner van die beskrywende-artikel-afdeling (“Features”) met sy artikel “Terug na Brandfort” wat in Insig verskyn het. Hy word weer aangewys as finalis met sy artikel “Paraat! In Dainfern”, wat ook in Insig verskyn het. In 2007 word hy deur Beeld se hoofredaksie aangewys as die wenner van die beskrywende artikel van die jaar vir die reis na Zimbabwe en terug wat hy met ’n taxi onderneem het.

Die ATKV bekroon Kirby in 2009 met ’n ATKV-Mediaveertjie in die kategorie Diepte-artikels / Ondersoekende Joernalistiek vir sy artikel “Die swart en wit van Swartruggens”, wat in BY verskyn het.

In 2010 is Kirby aangewys as die naaswenner van die glansartikel-joernalis van die jaar van Media24. Ook in 2010 is Kirby aangewys as een van die finaliste vir ’n ATKV-Mediaveertjie in die kategorie indiepte-artikel/ondersoekende joernalistiek vir sy artikel “So waai die wind in Richmond”. Hy was uiteindelik die wenner van die Veertjie.

In 2000 neem Kirby deel aan Die Burger se lesingreeks “Hoekom trek die kinders van apartheid hul skouers op?” tydens die KKNK en doen hy ’n beroep op voorheen agtergeblewenes om nie agterryers van wit skrywers se taalstryd te word nie, maar om hul eie stories oor hul apartheid-ervarings te skryf en ’n eie boekebedryf op die been te bring. “Hulle, die wit skrywers, het klaar die apartheidstema in romans, die poësie en die teater deurgewroeg, hul skuld bely, die toekennings gekry. Daar is nie nou tyd vir mense wat ou koeie uit die sloot wil grawe nie. Nou is alle taalgenote nodig om skouer aan die wiel te sit. (...) Want waar is die stories, die manuskripte? Hoekom is die oes so skraal? Ons moet rolmodelle vir die nuwe geslag wees, boodskappers, rigtingwysers, gewetenswakkermakers. Ons moet ons geïnternaliseerde woede, sinisme en pessimisme in ’n kreatiewe krag omskep. En met oortuiging kan sê: Ons is geen reggesteldes nie, of kwota dit of kwota dat nie, of touleier of agterryer nie. Ons sit agter die stuur van ons eie ryding.” (Die Burger, 1 April 2000)

Kirby lees eerder Afrikaanse as ander Suid-Afrikaanse literatuur, maar het ’n groot liefde vir skrywers uit voormalige kolonies van die Weste, soos Arundhati Roy, Ben Okri en Salman Rushdie. Op ’n vraag watter boek sy gunsteling is, antwoord hy dat daar ’n ellelange lys is, met skrywers soos Grass, Nabokov en Garcia Marquez, maar dat hy graag One hundred years of solitude sou wou geskryf het. (aan Lezel Amoraal, Die Burger, 8 Maart 2003)

Kirby het in 2012 as deel van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) ’n slypskool in kreatiewe joernalistiek met die tema “’n Kirby-plan” aangebied. Hy het gefokus op die skryf van artikels en rubrieke.

Ook in 2012 (Oktober) was Kirby een van die lede van die paneelbespreking “Lojale verset” wat deel was van die Melville-poësiefees.

In September 2014 is die eerste Week van die Afrikaanse Roman in die Lae Lande aangebied. Ingrid Glorie was een van die organiseerders en Kirby van der Merwe was saam met Etienne van Heerden, Irma Joubert, Sonja Loots en Marita van der Vyver die skrywers wat formeel deel van die projek gevorm het.

Kirby van der Merwe was saam met Ronelda Kamfer, Jeremy Vearey, Lynthia Julius, Nathan Trantraal en Ryan Pedro die suksesvolle kandidate van die skrywersresidensie van die Jakes Gerwel-stigting. Hulle is genooi om vir ongeveer ’n maand in die Gerwelhuis in Somerset-Oos tuis te gaan om aan hulle manuskripte te slyp. PEN Afrikaans het die skrywers se onkoste vir die maand betaal.

In Mei 2017 is ’n radiodrama van Kirby van der Merwe op RSG uitgesaai onder die titel Krokodil. Die Suid-Afrikaanse grensoorlog is die agtergrond vir hierdie drama wat handel oor twee oudlede van die Weermag, Pelser en Droskie, wat ’n nostalgiese besoek aflê aan die gebied waar hulle in die grensoorlog diens gedoen het. Saam met hulle gaan ’n klompie vriende in ’n afgeleefde vierwielaangedrewe voertuig wat die gees gee in Katima Mulilo waar ’n Suid-Afrikaanse weermagbasis was in die dae van die grensoorlog. ’n Motorwerktuigkundige word ontbied en terwyl hulle wag, kom ’n klompie dinge na vore wat, “as dit algemeen bekend sou word, die dinamika van hierdie vriendekring permanent en ingrypend sou verander”. (Beeld, 25 Mei 2017)

Kirby was al voorheen ’n finalis van TSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie met Vis en vleis.

En toe in 2023, 23 jaar ná die publikasie van Klapperhaar slaap nie stil nie, word Kirby se tweede roman, Eugene, by Human & Rousseau uitgegee. Hierdie roman wen vir Kirby die derde prys in NB Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2021. Die manuskrip het die titel Eugene X gehad. Die roman palm ook die Eugène Marais-prys in 2022 in, asook twee Rapport-pryse in 2023 – die kykNET-Rapport-prys vir fiksie en die Jan Rabie-Rapport-prys vir debuut- of tweede werke.

Die uitgewers van Eugene skryf as volg oor die roman: “Eugene ken van skollies, gangsters, muggers en crooks, al lyk hy nou soos iemand uit die middle-class. Hy kom immers uit die ghetto se killing fields – krotbuurte, vuilhoeke en agterjaarts van die 60’s, 70’s en 80’s. Maar nou is dit jare later en die ou alliances met sy kindervriende Allan, Huey en Jenny ná alles destyds in Hillbrow tussen hulle skeefgeloop het, bestaan nie meer nie, en Eugene word aangekla van moord… Dit is ’n aangrypende, priemende roman oor vriendskap en verraad.”

Kirby vertel aan Rapport (24 September 2023) wat die mees verrassende ding was wat hy met die skryf van Eugene oor die skryfproses en oor homself geleer het: “Dat ek in interessante tye geleef het. Dit is wat die skryf van Eugene moontlik gemaak het. Ek kon die karakter plaas in ’n wêreld en milieu wat, sover my kennis strek, nog nie van in Afrikaans vertel is nie. Die roman bestryk

n stuk geskiedenis en leefwêreld wat ek móés dokumenteer, en daarom was die skryf moeilik, bloedsweet en trane. Dit moes uit my gestel kom sodat ek myself kon bevry om ander skryfwerk te voltooi waarmee ek besig was. Eugene het homself aan my opgedwing.”

Die paneel (Valda Jansen, Alida Potgieter en Herman Wasserman) wat in beheer was van die toekenning van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd het in hulle commendatio van die manuskrip geskryf (Rapport, 21 Maart 2021): “Hier word ’n ervaringswêreld aan bod gebring wat nog veels te min in Afrikaans ontgin is. Sowel die geweld van apartheid as die stryd daarteen word in herinnering geroep en die roman maak ’n belangrike bydrae tot nuwe insigte in die wonde van die geskiedenis wat steeds leef in die meerderheid van die Afrikaanse taalgemeenskap. ’n Vergange era word vir die nageslag vasgevang voor dit in die vergetelheid verdwyn. Die ‘taal van die ou dae’ wat in hierdie storie verlewendig word, bring ’n verryking van die Afrikaanse letterkunde.”

Die gepubliseerde boek het egter ietwat verskil van die oorspronklike manuskrip, het Kirby aan Hein Willemse in Tydskrif vir Letterkunde vertel: “Struktuurgewys, aanvanklik, het ek Bertolt Brecht se vervreemdingstegniek ingespan, aangesien ek sy gedig ‘Van arme BB’ as motto gebruik. Die manuskrip is met dié vervreemdingstruktuur ingedien vir NB-uitgewers se 2021 Groot Afrikaanse Romanwedstryd. Dit het in dié vorm die derde plek in die kompetisie gehaal. Dié struktuur was volgens ’n eerste leserverslag egter té vervreemdend en ek en my uitgewer Nèlleke de Jager het besluit om so ver dit moontlik sou wees die struktuur lineêr te maak om lesers tegemoet te kom. Ek wil tyd spaar. Jy kry die skrywers wat die redakteurs tydsaam probeer oorreed, ’n láng tyd voor hy uiteindelik sy darlings skiet. Ek sê net, ék doen die skryfwerk. Dink julle dit werk nie? Klaar. Uit en gedaan. In dié proses is ’n paar tonele rondgeskuif en ’n paar sterk tonele is uiteindelik weggelaat. Dié stukke is nie verlore nie. Dit kan net so as kortverhale gepubliseer word. Ek glo skrywers moet hul redakteur ten volle kan vertrou en ek respekteer die uitgeeproses, laat die proses vlot verloop en spaar my eie en die redakteur se tyd. Ek sit net voet neer indien redakteurs die pad byster raak.”

Hein Willemse stel dit aan Kirby dat die element van verraad ’n tematiese element in Eugene is en wou weet wat dit is omtrent verset en verraad wat hom wat Kirby is, getrek het: “Verraad is ’n universele tema. Die noodlot, byvoorbeeld, het my ’n streep getrek deur my in ’n huis sonder boeke te plant. Dit was ’n soort verraad. Pa is sub B uit die skool en Ma is st 5 uit om te gaan werk. Ek sê dit met binnepret en humor, maar ek sou kon doen met ryk boekgeleerde ouers. Eugene besef van jongs af dat hy niemand kan vertrou of staatmaak nie. Hy word dan self soos die spreker in ‘Van arme BB’: ‘Hier het julle iemand op wie julle nié kan vertrou nie.’ Dit word ’n leitmotif van verraad.

Een van die temas in Eugene is verraad tussen boesemvriende en oud-politieke aktiviste. Nou, al het ek in ’n revolusionêre dampkring en die struggle grootgeword en vriende gehad wat later as aktiviste landuit is, én al was ek as student en later by die meeste massavergaderings, studente sit-ins behalwe begrafnisse in Crossroads omdat ek nie eie vervoer gehad het nie was ek nooit by enige politieke sel of organisasie betrokke nie. En ek gaan myself nie nou betrokke skryf nie.”

Oor Willemse se vraag of hy ’n voorbok was, antwoord Kirby: “Ek was ’n doodgewone tiener en jong volwassene wat polities aware was en totaal ingekoop het in die idees van die Black Consciousness Movement. Ek was by mass meetings, massaoptogte, by reggae en jazz festivals ... eintlik vir die plesier en die girls as enige politieke drif. Maar ek moet eintlik self na die teks kyk om te sien wat nog daaruit kom. Hoekom is daar ’n beheptheid met verraad? Ek kan nie vir jou volle antwoorde deurgee nie. Dit is vir my nodig om dit te gaan soek.”

Ryan Pedro was op die beoordelaarspaneel vir die Jan Rabie-Rapport-prys en in sy commendatio op LitNet het hy as volg gesê: “Kirby van der Merwe se Eugene is ’n roman wat skok, vermaak, uitdaag en meesleur. Hier word talle teenstrydighede moeiteloos bymekaargebring: die hede teenoor die verlede, die stedelike teenoor die plattelandse, die suburbs teenoor die ghetto’s, Standaardafrikaans teenoor niestandaardvariëteite teenoor flaaitaal teenoor sleng, liefde teenoor haat, vertroue teenoor verraad. Die resultaat? ’n Komplekse netwerk gegewens en gebeure wat van begin tot einde soos die drade van ’n spinnerak styfgespan lê, en hiermee saam, dinamiese karakters wat dié fyngesnaarde storiewêreld laat vibreer wanneer hulle die geringste beweging maak. En wat ’n tekstuurryke, veelvlakkige wêreld is dit nie.

Wat Van der Merwe hier vermag, is om die tyd en ruimte tot in die fynste besonderhede raak te skryf. Die krotbuurte, jaarte, sypaadjies, straathoeke voel alles polsend, tasbaar. Die taalgebruik is so plofbaar en robuus dat dit byna hoorbaar oorkom. En al die gebeure voel na aan die lyf. Veral indrukwekkend omdat die taalgebruik deurgaans ekonomies bly, en die teks deurlopend gestroop voorkom.

Dieselfde aandag aan besonderhede is in die titelkarakter te sien. Met sy naam alleen aktiveer Eugene reeds sy verwantskap met bekende/berugte naamgenote in die geskiedenis, politiek en literatuur. Maar dan word hy ook vroeg ’n ‘gentleman-skollie’ genoem, en later ook ’n ‘urban cowboy’ – dit word dus vroeg duidelik gemaak dat dié protagonis nooit nét één ding is nie. Hy tree op vanuit die kantruimtes, maar is nooit in die duister nie. Hy kan beskryf word as liminaal, maar blyk altyd agentskap te hê. Van der Merwe se Eugene is sy eie man wat volgens ’n unieke stel waardes en sosiale kodes leef, en hy is die draer van komplekse politieke oortuigings en erge trauma. Dié twee stap hand aan hand gegewe die sosiopolitieke konteks waarin die narratief gesitueer is. Eugene se psigiese toestand (wat ook as die kollektiewe psigiese toestand gelees kan word) word toegeskryf aan die onderdrukking en die ontmensliking wat die gemarginaliseerde individu ervaar het onder die apartheidsregime. Die metafoor van die bobbejaan (wat net in oomblikke van nood kop uitsteek) is ’n onverwagse, speelse en treffende manier om Eugene se geestestoestand en gedrag op toonaangewende tonele in die roman aan te dui.

Op dié magies-realistiese bobbejaan kan daar natuurlik verder uitgebrei word. En op Eugene se trauma waarskynlik nóg meer, maar kom ons volstaan met ’n laaste stelling: Eugene is ryk grond vir ’n waardevolle studie oor manlikheid, veral marginale manlikheid, en hoe geestesgesondheid en trauma mans vorm en posisioneer in ’n heteronormatiewe samelewing. Dit is natuurlik ook dié einste kennisraamwerk wat ou en bekende temas in die literatuur, soos liefde, haat, vertroue, verraad en vergifnis afstof, poets en as splinternuut aanbied vir lesers.

Eugene is ’n plofbare dog elegante teks wat uit die staanspoor hoë eise aan sy lesers stel, maar wat met elke lees dieper en dieper bevredig. As lesers, kritici, medeskrywers en literatore wil ons nie weer meer as 20 jaar wag vir een van Afrikaans se belangrikste bydraers om te publiseer nie. Maar as dít die resultaat is van so ’n lang stilswye, is dit beslis die wag werd.”

In sy commendatio vir die Eugène Marais-prys het Thys Human (ook op LitNet) geskryf: “Hoewel die eienaamtitel van sy tweede roman ’n rykdom verwagtings en assosiasies (veral binne die sosiopolitieke konteks van Suid-Afrika) aktiveer, slaag Kirby van der Merwe in Eugene daarin om lewe aan ’n besonder unieke titelkarakter te gee, waardeur hy vooropgestelde idees uitdaag en maklike veralgemenings slim weerlê.

Eugene is ’n suksesvolle joernalis in sy middeljare; welbelese en gesofistikeerd – ’n ‘gentleman-skollie’ gevorm en gebrei deur die uitdagende omstandighede in die Bolandse ‘kampong’ waarin hy as kind grootword, die geweld en verraad waaraan hy as politieke versetstryder in Hillbrow uitgelewer is, asook die uitdagings wat hy tydens sy terugvlug na die Kaap moes oorkom. In die hede van die roman dra hy, metafories gesproke, ’n bobbejaan op sy rug. (…)

Wanneer Eugene in die hede van die roman verraad vermoed, lei dit daartoe dat hy sy vroegste grootwordherinneringe én die ‘moerse ineengestrengelde back story’ van sy verhouding met Alan en Jenny tydens die struggle op bykans inkantatiewe wyse begin oprakel. Een van die tergendste aspekte van die roman is dat die leser nooit heeltemal seker is tot watter mate Eugene as verteller vertrou kan word nie. Is Eugene byvoorbeeld doelbewus besig om sekere dinge te verswyg? Of is hy eerder besig om dinge op só ’n wyse in die romanhede te onthou dat dit vir hom meer aanvaarbaar is? Of is sy geheue permanent verwring deur die trauma wat hy ervaar het? Hoewel ’n mens deurgaans wonder oor Eugene se betroubaarheid as verteller, twyfel jy nooit aan die dodelike erns van sy verwonding en verwording nie.

Eugene is ’n waagmoedige roman (nie net wat taalgebruik en tematiek betref nie, maar ook vanweë die volgehoue, nie-ironiese gebruik van die bobbejaanmetafoor). Enersyds maak dit die leser getuie van Eugene se eiesoortige metamorfose van Bolandse seun tot ‘full-on urban cowboy’ en ‘laid-back Linden lover’. Andersyds vang dit met verrassende gevoeligheid die kompleksiteit van ’n hele geslag mense se lewens onder die radar vas. Dit is ’n roman wat net so veelkantig en kompleks as sy enigmatiese titelkarakter is, en ’n besonder waardige wenner van die Eugène Maraisprys vir Prosa.”

Ook die resensente was dit eens dat Eugene ’n waardige wenner is van al die pryse. In Rapport (13 Maart 2022) skryf Louise Viljoen: “Die roman het ’n pakkende begin wat jou volledig meesleur totdat jy besef jy moet die inset herlees om te snap watter leidrade daar alles vir die res van die roman geplant word. (…)

Die roman het ’n uitermate ryk vertelstruktuur. Hoewel Eugene die hoofkarakter is, word dit ook die verhaal van die menigte mense met wie hy in aanraking kom in die plekke waar hy woon. (…) Soms swaai die vertelling weg van die fokus op Eugene om ook die stories van die mense rondom hom te vertel, waarskynlik in ’n poging om vergete geskiedenisse te dokumenteer. (…)

Eugene is ’n karakter en ’n roman wat ’n mens nie moet misloop nie. Dit is geskryf in ’n taal wat nie huiwer om woorde soos vuishoue te plant nie; tog slaag dit daaraan om met besonderse gevoeligheid die kompleksiteit van ’n hele geslag mense se lewens vas te vang. Kirby van der Merwe is terug op die Afrikaanse literêre toneel en met méning.

En in sy samevatting van sy uitgebreide bespreking vir leeskringe van Eugene skryf Chris van der Merwe: “Dit was 23 jaar gelede dat Kirby van der Merwe se debuutroman, Klapperhaar slaap nie stil nie, verskyn het. Ons het lank gewag vir sy tweede roman, Eugene, en ons is met hierdie pragtige werk beloon. Dit bevat ’n uiters geloofwaardige uitbeelding van mense en plekke, van die mense van die ghetto’s sowel as die aktiviste van Hillbrow. Hierdie ‘plaaslike’ milieus word op boeiende wyse verbind met breër temas van geweld en verwonding, van liefde en verraad, van die skadusy van die mens wat bevry en bedreig, en wat betekenis kry deur die vertel van ’n storie.” (LitNet, 31 Augustus 2022)

Dewald Koen bespreek Eugene vir Tydskrif vir Letterkunde (2022) en hy sluit af: “Op vernuftige wyse slaag die verteller daarin om gestalte te gee aan die hoofkarakter se ervarings, maar skep tegelykertyd twyfel by die leser rondom die karakter se fiksionele wêreld teenoor sy verbeeldingswêreld. Wat is werklik en wat is moontlik verbeel weens die effek wat trauma en skuldgevoel op Eugene as karakter uitgeoefen het? Op dié wyse word Eugene se verhaal die verhaal van ’n getraumatiseerde individu wie se geestesgesondheid met tye die leser tussen feit en fiksie, werklikheid versus die realiteit, asook trauma versus moontlike skisofreniese gedrag laat wonder.

Die slot van die roman is myns insiens bot. Alhoewel die narratief op verrassende wyse afgesluit word, het dit dié leser met ’n gevoel van onvergenoegdheid gelaat. Heel moontlik het die skrywer doelbewus die slot op so ’n wyse beplan dat dit die leser met meer vrae laat omtrent die misterieuse Eugene-karakter. Ten spyte van laasgenoemde opmerking is Eugene ’n boeiende roman en ’n welkome toevoeging tot Kirby van der Merwe se literêre oeuvre. Dit is een van daardie tekste wat die leser sonder twyfel tot nabetragting stem.”

Oor mense wat ’n invloed op sy lewe gehad het, vertel Kirby van der Merwe aan Hein Willemse (Tydskrif vir Letterkunde): “Ten spyte van sy arrogante narsistiese self, was (Richard) Rive ’n groot invloed. Hy was sonder twyfel die beste onderwyser, dosent wat ooit my pad gekruis het. Ek was sku vir klasse, so nou en dan gesig gewys, want die lewe buite was baie interessanter. Ek was meer gereeld in die Kismet bioscope in Athlone en in pubs al het ek tot vandag toe nooit alkohol gedrink nie. Rive het gedink dié onverantwoordelikheid was baie snaaks. Ek het hom beïndruk met ’n kortverhaal wat ek geskryf het, wat hy afgemaak het as average, natuurlik, maar in die personeelkamer, hoor ek, vertel hy van die wonderlike talent. Hy het my ingespan om te help met die transkribering van Olive Schreiner se handgeskrewe briewe vir sy boek oor Olive Schreiner: Letters 1871-1899. Ek het toegang tot sy boekery gekry en swart Amerikaanse en Karibiese skrywers en digters ontdek, van Langston Hughes tot Aimé Cesaire. En hy het my voorgestel aan skrywers soos Jan Rabie, Uys Krige, Elsa Joubert en haar man [Klaas Steytler], Jack Cope, Guy Butler en ander.”

Kirby van der Merwe vertel aan Beeld (13 November 2000) die storie van ’n boek wat sy lewe verander het: “Miskien een keer in jou lewe beleef mens werklik ’n magiese oomblik. So ’n oomblik was een aand aan huis van Richard Rive (…). Hier het ek vir die eerste en enigste keer in my lewe ’n skrywer en sy boek belééf: Aimé Césaire, digter van die eiland Martinique se Return to my native land. Beleef hoe twee mense, albei met heldeverering en passie vir dié besonderse werk van Césaire, mekaar as ’t ware in die digterlike wêreld aantree: ’n Franssprekende (Frankofiele) Wes-Afrikaan (wie se naam my ongelukkig ontglip het) en die Engelssprekende (Anglofiele?) Richard Rive.

Stel jou voor: twee baie donker mans met passie vir die poësie en die talent om dit voor te dra, eintlik te perform. Elkeen met ’n kopie van die boek (uit Richard se boekrak) in die hand; een die oorspronklike Franse uitgawe Cahier d’un retour au pays natal, die ander met die Engelse vertaling Return to my native land.

“‘At the end of dawn…’ kom dit van Richard. ‘Au bout du petit matin…’ sy Franse weerklank. Twee wêreldtale wat met mekaar in gesprek tree, mekaar die stryd aansê op die sitkamer se bruin mat. Watter ervaring! Twee stemme, twee tale wat mekaar afwissel. Plek-plek uit die boek, maar meestal uit die hoof aangehaal. Met die ritme, musikaliteit, herhalings, patrone en die passie wat ek glo Afrika is. Magies. Dit het jou koue rillings gegee.

Vandag weet ek ek was gelukkig. Dít was Negritude. Wat ek beleef het, was die twee manne se laaste eerbetoon aan die kort, dog kragtige beweging in die letterkunde.

Maar wat my veral geboei het, was die dele wat my lewe aansny, dele van my kinderdae letterlik verwoord:

And my mother, whose limbs, in the service of our tireless hunger, pedal, pedal, day and night, I am awakened at night by those tireless limbs which pedal the night, by the bitter punctures in the soft flesh of the night made by the Singer machine my mother pedals, pedals for our hunger day and night.”

Kirby van der Merwe het aan Insig (September 1999) vertel watter boek op die regte tyd in sy lewe gekom het: “As ek net een kan kies? Ongetwyfeld The story of an African farm. As ’n standerd sessie is ek een aand naarstiglik op soek na boeke, enige Engelse boek om op my leeslys in te vul. Om net die flapteks te lees en dan voor te gee dat ek al die boeke gelees het, verder te hoop dat die onderwyser nie uitvra nie. Benoude spronge, en met dié grawe ek uit: The story of an African farm deur Ralph Iron. Die enigste Engelse boek wat my ma, Rosa, van ’n Engelse boervrou gekry het. Sonder stofomslag en flapteks. Toe móés ek lees, vinnig scan.

En daar kon ek dit nie neersit nie. Later die week selfs my hand opgesteek in die klas sodat ek kon praat oor die boek. Vandag wonder ek of dit nie dalk ’n kosbare eerste uitgawe van Olive Schreiner se werk was nie.

Olive Schreiner. Vir my was sy ’n skrywer wat diep kon voel. Wat karakters kon skep met wie se vrese en kwellings ek as tiener werklik kon identifiseer, probleme wat ek kon verstaan, soos dié van die arme Waldo. Lyndall se lewe en dood. Liefde: Gregory Rose met sy vreemde liefde wat homself as vrou vermom, ’n vrou word om Lyndall aan haar einde te versorg. En seker die mooiste sterwenstoneel in enige boek. Die liriese beskrywing van die Karoo. Om as kind te besef die lewe is ’n brose ding, soos ’n dynserige Karoo-landskap.

Die eerste ding wat ek gedoen het toe ek begin werk het, was om besoek af te lê by Olive Schreiner se graf in Cradock, ’n soort pelgrimstog. So behep was ek destyds daarmee dat ek dele uit die boek begin illustreer het. So word ek in 1980 naaswenner in die Artvision-kompetisie wat deur die UWK geloods is, met ’n pen en ink skets van die Hunter (Athol Fugard se gesig met ’n gedig van Roy Campbell, ‘Buffel’s Kop’).

Ja, soms kom die regte boek op die regte tyd na jou toe, soos die geheimsinnige vreemdelinge wat in die verhaal van Waldo en Lyndall verskyn het.”

Publikasies:

Klapperhaar slaap nie stil nie

1999

0795700873 (sb)

Kaapstad: Kwela

Roman

Geen

Geen

  • De Roubaix, E: Klapperhaar slaap nie stil nie. Kaapse Bibliotekaris, Januarie/Februarie 2000
  • Hattingh, Marion: Identiteitskrisis belig. Insig, Februarie 2000
  • Klapperhaar slaap nie stil nie. Egoli, 2000-2001
  • Le Roux, Marina: Klapperhaar slaap nie stil nie. Sarie, 26 Januarie 2000
  • Malan, Lucas: Welkom! Sê ’n mens graag van Van der Merwe se debuut. Rapport, 18 Januarie 2004
  • Olivier, Fanie: Knoop dié naam maar iewers vas. Beeld, 3 Januarie 2000
  •  Potgieter, Lizette: Relevante, universele kwessies geraak. Die Burger, 1 Maart 2000
  • Rautenbach, Elmari: Debuutwoorde sing en steek. Volksblad, 1 November 1999
  • Van Wyk, Steward: Identiteit en seksualiteit in die debuutromans van Kirby van der Merwe en Clark Accord. Stilet, Maart 2003
  • Weideman, George: Ras, geweld en die kwaliteit van klapperhaar. OuLitNet, Februarie 2001

 

Eugene

2022

9780798182645 (sb)

Kaapstad: Human & Rousseau

Roman

  • 2021 derde plek NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd
  • 2022 Eugène Marais-prys
  • 2023 kykNET-Rapport-prys vir fiksie
  • 2023 Jan Rabie-Rapport-prys vir debuut- of tweede werke

Geen

  • Boek Eugene deur Kirby van der Merwe. Maroela Media, 6 April 2022
  • Dubbele vreugde vir Kirby van der Merwe se Eugene. Maroela Media, 23 September 2023
  • Glorie, Ingrid: Kirby van der Merwes “Eugene” was het wachten waard! Het Zuid-Afrika-Huis, 13 Junie 2023
  • Human, Thys: Akademie-pryse 2023: Eugène Maraisprys vir prosa – Kirby van der Merwe. LitNet, 1 September 2023 [commendatio]
  • Kirby van der Merwe gesels oor twee Eugenes
  • Koen, Dewald: Eugene (Kirby van der Merwe). Tydskrif vir Letterkunde, 2023
  • Kotze-Myburgh, Suzette: Skrywers en Boeke 20 April 2022
  • Nuwe boeke. Rapport, 16 Januarie 2022
  • Pedro, Ryan: Jan Rabie-Rapport-prys 2023: Eugene deur Kirby van der Merwe. LitNet, 23 September 2023
  • Pietersen, Jeffrey: Paarl boorling stel boek by Taalmonument bekend en Kirby van der Merwe se “Eugene” wyd geloof! Afrikaanse Taalmonument, 6 Junie 2022
  • Steenkamp, Aletta: Kirby van der Merwe en Eugene – ontvanger van die gesogte Eugène Marais-prys. Paulet House Stories, 11 Mei 2023
  • Van der Merwe, Chris: Eugene deur Kirby van der Merwe: ’n leeskringbespreking. LitNet, 31 Augustus 2022
  • Van der Merwe skryf 2 kykNET-Rapport-boekpryse los. Netwerk24, 23 September 2023
  • Viljoen, Louise: “Eugene” plant woorde soos vuishoue. Rapport, 13 Maart 2022
  • Willemse, Hein: ’n Onderhoud met Kirby van der Merwe oor Eugene. Tydskrif vir Letterkunde, 2022

 

Kirby van der Merwe as vertaler

Artikels oor Kirby van der Merwe

’n Keur van artikels deur Kirby van der Merwe:

  • A­­_rika_ns, o­_s pêr­_l v_n gr__t w__rde. Die Burger, 15 Oktober 2011
  • Beeld, 14 Desember 2007
  • Almal het ’n prys betaal. Insig, Augustus 2002
  • Amos met die klein mondjie. OuLitNet
  • As die sneller se tyd reg is: middagete met Allister Sparks. Volksblad, 15 Desember 2012
  • As jy saam met sportgeesdriftiges is, luister elkeen tog net na sy eie stem. Die Burger, 29 Mei 2001
  • As Mimi weer sestien kon wees (onderhoud met Mimi Coertse). Die Burger, 14 Junie 2008
  • Bacher 69*. Die Burger, 26 Februarie 2011
  • Beeld, 5 Desember 2009
  • Biddend hemel toe. Beeld, 12 Oktober 2009
  • Biltong, brood, woord & Robert Sobukwe. Beeld, 11 Maart 2008
  • Blomme-bie: die lang roete van mark tot pot. Volksblad, 18 Mei 2013
  • ’n Boek wat my lewe verander het. Beeld, 13 November 2000
  • Boetie se dae op die border. Die Burger, 16 Oktober 2010
  • Brug na die eilande (onderhoud met Stephen Gray). Beeld, 7 April 2008
  • Cornelius se beendere kom huis toe. Beeld, 14 Desember 2007
  • “Daai aand kon jy da’m mense hoor bid!” Beeld, 26 Oktober 2009
  • Daai man met die pruik (onderhoud met Morné Malan). Die Burger, [datum onbekend]
  • “Daai mooi basis, daar is niks, niks, niks”. Die Burger, 9 Februarie 2008
  • Daar sal nog stories wees. Beeld, 1 Maart 2009
  • Dáárom is ek ’n All Black. Volksblad, 4 Mei 2013
  • Die Burger, 31 Maart 2007
  • Die draad. Beeld, 24 Mei 2008
  • Die eeuwording van Timeless Norman. Die Burger, 10 Desember 2011
  • Die groot donkietrek. Die Burger, 30 Augustus 2008
  • Die jakkals het gebloei soos ’n vark. Volksblad, 28 Maart 2009
  • Die lewe sonder Vetkat. Die Burger, 26 Mei 2007
  • Die magnaat, die sendingkerk en die vervalste skildery. Die Burger, 2 November 2013
  • Die onwaarskynlike vreemdeling (onderhoud met prof Adam Habib). Beeld, 18 April 2013
  • Die opvolgers van die jappies (onderhoud met Johann Rossouw). Beeld, 14 Desember 2007
  • Die Oscars van kuns. Die Burger, 12 Junie 2011
  • Die Pikkie wat die weermag pak: middagete met Pikkie Greeff. Beeld, 11 Mei 2013
  • Die Rastas krap in die slaai (Kosflopse). Insig, Desember 2000
  • Die regte boek op die regte tyd. Insig, September 1999
  • Die reiniging van Pik se gat. Die Burger, 18 November 2007
  • Die Richtersveld. Die Burger, 21 Julie 2007
  • Die Vuilvoete van Newlands. Die Burger, 19 Januarie 2007
  • Die Ware Jakob: Kirby “Kasparov” van der Merwe vs. Die Burger, 15 Januarie 2011
  • “Dis brahmaan se kind daai, Pappa!” Die Burger, 26 November 2010
  • Dis klaarpraat, my maat. Die Burger, 4 Junie 2011
  • Dit gaan alles oor horinglengte. Volksblad, 6 Oktober 2012
  • ’n Dorp kry skaam (oor Louisvaleweg). Insig, Maart 2002
  • ’n Duif wat altyd dans (onderhoud met Zubeida Jaffer). Beeld, 30 Maart 2009
  • Een Afrika, vele stemme. Rapport, 4 Februarie 2011
  • Ek het die vryheid om my eie kop te volg: middagete met Marc Lottering. Volksblad, 22 September 2012
  • “Ek het geweet, al van my veertiende jaar het ek geweet. En die Afrikaners om my het geweet”. Die Burger, 3 November 2007
  • “Ek sal nie meedoen aan dodedans rondom Afrikaans”. Rapport, 18 Januarie 2004
  • Ekskuus sê weer?!? Op soek na my wortels. Die Burger, 23 Oktober 2010
  • ’n Ekspert op bra en broek (Monduitspoel). Beeld, 17 Februarie 2007
  • Es’Kia se plek. Beeld, 23 November 2008
  • Gedig vir my suster in die gety van vinne [gedig]. Versindaba, 16 April 2023
  • Gesoek: ’n snor vir die Prez. Beeld, 9 Januarie 2010
  • “Go well” ... en bly weg. Die Burger, 5 Februarie 2011
  • ’n Graf in die gras. Beeld, 15 September 2012
  • Grense vir Kaaps. Beeld, 15 November 2013
  • Herinneringe wat ’n stad nie kan afskud nie. Die Burger, 28 Januarie 2012
  • Hoe kan jy sê jy moet ophou bely (onderhoud met Helena Gunter). Die Burger, 19 April 2008
  • Hoe slaap dominee dan? Die Burger, 26 Maart 2011
  • Hý’t Brakenjan gebring. Die Burger, 12 Julie 2011
  • “Ik heb jou gezegd moet nie ...”. Die Burger, 6 November 2010
  • Ikoon se hartland en plek van vrede. Beeld, 19 Julie 2008
  • In die broeiende hitte van die Amasone. Die Burger, 25 Julie 2007
  • In gesprek met Wilna Adriaanse
  • Indien moeg, stop, rus. Beeld, 19 Desember 2009
  • Beeld, 8 Junie 2008
  • Juanita – loflik en lieflik
  • “Julle kan maar New York toe gaan, ma’ ons bly hie innie Mêninburg”. Die Burger, 22 Mei 2001
  • Kalmerende leivore en vertroosting van blare daarin voor groot reën kom. Die Burger, 15 Mei 2001
  • ’n Kardoes vol kougoed. Die Burger, 11 Desember 2010
  • Karretjiemense van die Karoo. Die Burger, 21 April 2012
  • Kirby van der Merwe gesels met Kobus van Rooyen oor A South African censor’s tale. Sunday Times, 27 Julie 2011
  • Kirby van der Merwe se woord van die jaar 2015. LitNet, 2 Desember 2015
  • ’n Klein storie oor die liefde in die middeljare (Agterbladfiksie). Insig, Oktober 2002
  • Koffie op die Enterprise (onderhoud met Loftus Marais). Beeld, 17 Februarie 2009
  • Krokodil [radiodrama]
  • Kroniek van Kerkstraat. Beeld, 28 April 2013
  • ’n Kruistog ver. Die Burger, 18 Oktober 2008
  • Kry mense dan glad nie meer skaam nie? (Monduitspoel). Beeld, 22 Februarie 2009
  • Legende (onderhoud met Ben Dekker). Die Burger, 2 Augustus 2008
  • “Librithesaurus anima” self in die e-era. Die Burger, 26 Mei 2012
  • Liefde oor die lug (Blaaskans). Huisgenoot (1994)
  • Lig en skaduwee. Beeld, 31 Oktober 2009
  • Louis, die Laeveldwagter (onderhoud met Louis Olivier). Volksblad, 13 Julie 2013
  • Meneer Malan, ek is nié my pa nie. Die Burger, 14 April 2012
  • ’n Mens móét staan of val by beginsels: middagete met Mosiuoa Lekota. Volksblad, 17 November 2012
  • Met die reuk van petrol, teer en marmelade (onderhoud met Greg Mills). Volksblad, 2 Februarie 2013
  • Met ‘native’, setlaar en al tot reg in die leeukuil. Die Burger, 23 Junie 2007
  • Mevrou Katrina Taaispeen Cope saam. Volksblad, 10 Mei 2010
  • Mir se vernietiging het weer bewys hoe bang mense is vir wat van ‘buite’ kom. Die Burger, 3 Maart 2001
  • Mirakelland van oerwoud en vulkaan. Die Burger, 15 September 2012
  • Mite#3: Forelle is voorspelbaar. Beeld, 9 Junie 2012
  • Muse [gedig]. Die Burger, 23 Maart 2009
  • “My vreemde herkoms”. Insig, Julie 2002
  • Ná ’n week wat jy nooit sal vergeet, weet jy: die hel is ’n heldergroen plek. Die Burger, 5 Junie 2001
  • Nag van die lang messe? Volksblad, 3 Augustus 2013
  • “Nee, daai man is morsig”. Die Burger, 5 November 2011
  • NP wie? Wie? Wanneer? Waarom? Hoe? Waar? Wat? (onderhoud met Christi van der Westhuizen). Beeld, 13 Desember 2007
  • Onderhoud met PG du Plessis. Die Burger, 18 April 2009
  • Oom Paul se toordokter. Die Burger, 4 Augustus 2007
  • Oor ’n romantiese sonsondergang, Suidooster en dit wat in die lug hang. Die Burger, 6 Maart 2001
  • Oorlog op Loftus. Die Burger, 26 Januarie 2007
  • Op almal se lippe, maar. Die Burger, 17 Junie 2007
  • Op soek na skoonheid en troos in die afskuwelike (onderhoud met Berlinde de Bruyckere). Beeld, 18 Junie 2013
  • Pieringoog op die pad. Beeld, 21 Februarie 2009
  • **Sensor die opskrif**. Die Burger, 24 Junie 2011
  • Sinies? Vir wat?!! Die Burger, 5 Februarie 2011
  • Skepties oor Kaapse Forum [brief]. LitNet, 6 April 2022
  • Slawerny, SEB ... en sauvignon blanc. Die Burger, 21 Mei 2011
  • Slim vang sy baas. Die Burger, 2 Februarie 2007
  • Slumdog Swarup (onderhoud met Vikas Swarup). Volksblad, 24 Januarie 2009
  • Sokker saam met Mannetjies. Volksblad, 19 Junie 2010
  • ’n Stamboom deur die lens (onderhoud met Cedric Nunn). Die Burger, 12 Mei 2012
  • ’n Stem wat Beatty kon hoor (onderhoud met Paul Beatty). Beeld, 7 September 2017
  • Die Burger, 23 Februarie 2008
  • Syfers en bloed (oor Robert Strange McNamara). Beeld, 11 Julie 2009
  • Tussen wit en swart. Die Burger, 2 Oktober 2010
  • Twee rokers praat tesame (onderhoud met Pik Botha en Rian Malan). Beeld, 17 Januarie 2010
  • Uilspieël (onderhoud met Phyllis Green). Beeld, 17 Februarie 2007
  • Vakansiebestemming: Valsbaai. Afrikaans Vandag, November 2000
  • Van “Kapityt!” na aktualiteit. Die Burger, 4 Oktober 2013
  • Van Spilpunt tot malie-spoeg. Beeld, 24 Februarie 2013
  • Venesiese Biennale 2015: Ontug in die lug? LitNet, 21 Mei 2015
  • ’n Verdrinkte tafel en ’n stapel klippe. Beeld, 27 September 2008
  • Vir my ma op haar verjaarsdag in die gety van kanker [gedig]. Die Burger, 31 Oktober 2005
  • Die Burger, 10 Mei 2008
  • Waarheen gaan hulle? Die Burger, 20 Januarie 2007
  • Wanneer woorde spook (onderhoud met Danie Marais). Beeld, 14 Desember 2007
  • Wat die bakstene onthou. Die Burger, 7 Januarie 2012
  • Wie ore het om te hoor. Die Burger, 26 Januarie 2007
  • Wise Men se statige dodemars sou selfs ’n klip ’n traan kon laat afvee het. Die Burger, 13 Maart 2001
  • Witmeid [kortverhaal]. Rapport, 5 Januarie 2020
  • Ys vir die Brandberg (onderhoud met Johan Bakkes). Beeld, 15 Maart 2009
  • Zander was hier. En Langoor. Bosman ook. Beeld, 2 Februarie 2008
  • Zapiro stort sy hart uit oor Zuma. Beeld, 18 Februarie 2010

Kirby van der Merwe se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2014-05-20 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top